Trane oorie veliede: die lied van ’n “nieblank”

  • 0

Ve’oggend sittie trane vannie veliede dik op my siel. Dis soes die asem wat ek in vat die pyn net hoёr in my keelgat opstoot, en daa is niks wat ek kan doen an die pyn wat ek voel en dra nie. Dis hier, present, reg om my droeme, en doele, en alles wat goed kan wies in my liewe te tackle. Die proebleem met die skeiding tussen rasse issie feit dat wittes hulleself nog net sien as wittes, hulle taal is hulle sinne, hulle kultuur is hulle sinne, hulle mense is hulle mense. En dit staan soe virrie res van ôs “nieblankes”. Wat ek geleerit van “nieblank” wies, is dat my kultuur is nie myne nie, en is oekie ʼn kultuur wat mense opbring om te gloe in hulleself en wat hulle kan create in die liewe nie. Ve’oggend try ek om te vestaan maa hoekô sit ek nog, ʼn vrou van ampe 40 jaa oud, sonne ʼn dak van my eie, of ienige besittings wat my ʼn liewe gie wat wittes by geboorte al gekry het. En dié gattie oo ras nie, dit gan oo wat wittes dink ek en my mense moet wies.

Ôs wôd gevra van wittes om te vegiet vannie veliede en fokus kry op wat ôs nou het. Dis mos nou demokrasie, ʼn liewe van vryheid wat ôs mossie vooheen gehad hettie, ʼn stem wat ôs self kan dik maak, sonne om te warrie oo baas en miesies se trugslag. Maa die ding is ôs het dittie. Hoeveel “nieblankes” moet nog elke dag skarrel vi brood, en assittie uit ʼn anner “nieblanke” antie se purse uit kommie, of uit ʼn asdrommie, dan kommit af van broes en sustes se rugte wat maa gat sloof byrie Baas en Miesies se huise. En reg genoeg, dis mossie net mee wittes wat Baas en Miesies speelie.

Maa hoekô skel en raas ek dan nou, wan ek het mos allie opportunity gekry van in ʼn niewe Suid-Afrika te bly.

Die niewe freedoms en alles wat ôs nou het, gannie oo wat ôs hettie. Intergenerational trauma, dis wat dit is. Maa ôs moet vegiet vannie veliede en ophou die land vekrag en plunder soes somme baie wittes dink en sê – gat lies maa die comments op Orania se Facebook-blad. Ek vestaan dat djy miskien nie my pyn kan vestaan nie, wan ek het mos nou alles wat ek moet het, my vryheid ingesluit. Maa wat van my land, my taal, my kultuur en wat vannie opsies wat ek nie het nie? Die intergenerational trauma is my waarheid, en soe baie anner soes ek. Wan dit gannie net oorie feit dat ek ʼn vryheid nou het wat ekkie 25 jaa geliede sou gehad hettie; dit gan oo wat ek sien wanne ek innie spieël kyk, wan dis wat die intergenerational trauma doen. Die skool wat my ma nie kon gannie, die skool en universiteit wat my anties, uncles, oumas, oupas nie kon loepie, die boeke wat my grootouers, my ma en pa, my anties en uncles, my oupas en oumas, die mense in my gemienskap nie kon gelies hettie, dis waa’oo die gan, wan die ding is ôs kan dit nog steedsie bekostigie. Dit maakie saak hoeveel “Books on wheels”-trokke daa kan rondry oppie paaie van Suid Afrika nie; om ʼn boek op te tel en te lies, om jouself te vebieter as mens lê dieper dan die vel wat djy dra. Intergenerational trauma – dis die draak se naam.

Ôs het mos nou kamstag alles wat ôs moet het, maa ôs môs mos alles op, soe ôs moet ôs bekke hou, en op ôs gatte sit. People, the rule of the wittes is not over, just because we have a few freedoms, like entering the city after 9 pm in the evening, like not being asked for a pass when walking in the “whites only” area, maa as ek dink an daai antie wat in Sea Point opgesluit was ommat sy selfies gevat het, dan wonner ek hoe welkom is ôs dan innie stad, of wanner ʼn mens nog steeds weggewys wôd op basis van velkleur en haartekstuur wanner ôs ansoek doen om ʼn plek te rent. Die goed gebee nog alles. My hart gat sak as ek die embarrassment sien op my vrou se gesig wanne sy praat hoe die wit man of wit vrou haa wee vedag innie gesig gevat het. My hart bars wanne ʼn wit man of wit vrou my ankyk soes hulle ʼn stink toilet ruik, en dan wil hulle die Bybel oplig en sê, “God sê soe!”

En ek vestaan hoe my trane niks annie hart van wittes sal doen, wan wittes gie nie om virrie pyn en leiding van “nieblankes”!

Assie skoen pas waa ek van “wittes” praat, dan praat ek met jou. Ek try nie om an jou te bewys hoe vekeerd jou liewenswyse issie; al wat ek sê is, 25 jaa issie genoeg vi my om my liewe te velos van wat die wittes, Boere, Engelse, Duitsers, koloniste, setlaars gedoen het an my naam, my van, my taal, my kultuurie. Ek wassie op die aare gesit om in ʼn sinkhokkie te bly en te sterwe nie. My van mag Coetzee wies, maa ek issie ʼn Coetzee nie, because djy sal nooit wil relate met die “nieblank” Coetzee nie.

My taal en my velkleur issie minner as joune net ommat djy gebore was met meer nie. Onthou van waa af djy kô, onthou wat jou voo’ouers gedoen het lat djy met geboorte in my wêreld kan stap soes dit jou eiendom is. En ek kan niks daa’an doenie, nie ees met allie vryheid wat ek nou hettie, wan ek moet nog steeds warrie waa ek wee môre moet skarrel vi ʼn brood se geld. Die feit dat daa “nieblankes” die land regeer, beteken niks, wan 25 jaa kan nie die die trane vannie veliede afvie nie, maa wittes garrit nooit soe sienie, wan die Bybel wat hulle sinne is gebruik hulle as wapen tienie “nieblankes”, en om hulle rassisme waarde te gie. Ek is moeg om te voel soes niks in jou oё, ek is moeg om te voel soes niks in my eie oё.

Ek wag virrie dag wanner ek kan staan en sê intergenerational trauma is iets vannie veliede vi my en my mense.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top