Toyota US Woordfees | Bekroonde US Koor betower ook tydens Woordfees TV

  • 0

Foto: Nardus Engelbrecht

...
Woordfees TV 2021
...

Vandag is dit byna onmoontlik om te dink die Universiteit Stellenbosch (US) se raad het, nadat 63 jaar lank musiek gemaak is, in 1999 besluit om die US Koor te ontbind. Ná hewige teenkanting van koorlede, studente, alumni, skenkers, die media en die publiek, het die raad hierdie besluit teruggetrek. In 2000 het die koor ’n nuwe grondwet gekry en die koor se bestaansreg, toe nog onder leiding van Sonja van der Walt, het sedertdien so duidelik soos daglig geword.

André van der Merwe is al agttien jaar lank in beheer van koor en tans is hulle een van die US se beste uitvoerprodukte. Al die goeie nuus wat die US graag die wêreld wil instuur, moet dalk so verpak word dat die koor eindelik die boodskap oordra. Moet ’n nuwe navorsingsinisiatief lugtyd kry? Vind iemand om ’n komposisie aanmekaar te slaan en laat die koor sing oor datawetenskap en klimaatstudies!

...
André van der Merwe is al agttien jaar lank in beheer van koor en tans is hulle een van die US se beste uitvoerprodukte.
...

Van die koor se gewildste video’s op YouTube het al meer as sewe miljoen kykers gelok met baie positiewe kommentaar. Dit is meer as sommige gesoute internasionale popsterre wie se jong aanhangers waarskynlik na TikTok toe migreer het.

André van der Merwe (Foto: Nardus Engelbrecht)

Ander koorsangers, dirigente en aanhangers, wat die US Koor al by verskeie internasionale kompetisies en konserte raakgesing het, is nie skaam om op sosiale media hul kennismaking met die koor te deel nie:

  • “This choir makes me want to attend Stellenbosch University,” skryf Alex Moriarty, die gewildste kommentaar op een video.
  • “If there’s one thing I know South Africans can do better than anyone in the world, it’s form a choir,” skryf Olayinka Mobolaji uit Nigerië.

Gewildheid en gehalte is nie altyd mekaar se beste vriende nie, maar tog het die US Koor ’n balans gevind.

Ons almal leef deur hierdie pandemie-gemors en moes ander maniere van doen vind. Die TV-Woordfees is een voorbeeld daarvan en dit is ’n prysenswaardige inisiatief, maar om nie as ’n gehoorlid in ’n konsertsaal te kan sit nie, is frustrerend.

Jy kan jou net indink hoe die koorlede moet voel.

Langer as ’n jaar lank kon hulle nie saam sing nie. Stemgroep-sessies in aanlyn spasies, onbetroubare internetverbindings, ingewikkelde musiek wat jy op jou eie moet baasraak – dit is die soort goed waarvan nagmerries gemaak word.

Die punt van koorsang is dat dit iets is wat mense saam doen. Om alleen agter jou rekenaarskerm ’n bariton-stemlyn te oefen, bied geen tot nul plesier.

Tog het hulle dit reggekry om ’n Woordfees-program aanmekaar te sit wat ’n mens met bewondering na die studente en dirigent laat kyk het. Die konsert is in die buitelug by die Oude Libertas-amfiteater op Stellenbosch opgeneem. En of dit nou op ’n skerm was of nie, dit was lekker om dié groep weer te sien en te hoor sing.

In die lig hiervan moet ’n mens sommige van die “haakplekke” vergewe. Inteendeel, dit is eintlik ’n verligting as jy hier en daar ’n stem hoor uitstaan of die balans ’n mens bietjie uitgooi. Die moderne opnamebedryf, en spesifiek platforms soos YouTube, is vir koorentoesiaste ’n onuitputbare bron van topgehalte opnames waar professionele musici alle moontlike tegnologie inspan om perfeksie te bereik. Maar dit is ’n onhaalbare ideaal. Min kore of orkeste klink in konsertsale soos hulle tydens opnamesessies klink. En dit smokkel met moderne konsertgehore se ore. Dit was dus verfrissend om iets te hoor waaraan so min moontlik gekarring is. Dit sou wel lekker gewees het om dit in stereo te kon hoor en nie in mono nie.

Hoe dit ook al sy, eerste op die program was ’n verwerking van Joshua na die Reën se “Suiderkruis”. ’n Slim kontemporêre lied, gevoelvol uitgevoer.

Verskeie verwerkings deur Tom Anderson het gevolg: “Never Enough” uit The Greatest Showman, “Some Nights” van die groep Fun!, “Always Remember Us This Way” van Lady Gaga, en “Sogno di Volare” van die komponis Christopher Tin (ook verwerk deur Anderson).

Dit is met liefde en woema gedoen, maar hier is tog ’n punt van kritiek. Hierdie verwerkings neem ’n groot deel van die tydsduur in beslag, en hoewel indrukwekkend, begin dit soos sêr voel. Die rasionaal daaragter is waarskynlik dat mense ná die afgelope jaar iets nodig het om hulle te begeester, iets wat bekend klink, maar ná ’n ruk klink alles dieselfde.

Dit was nie die geval met Hendrik Hofmeyr se “Spokewals” nie. Van der Merwe is uiters ervare met dié Suid-Afrikaanse komponis se koormusiek. Destyds, toe hy nog die dirigent van die Pro Cantu-jeugkoor was, het dié ensemble ook van Hofmeyr se musiek uitstekend gesing.

Die US Koor se groot groep sangers – wat nog nie vanjaar saamgesing het nie – het die “Spokewals” rats uitgevoer en die karakter van die stuk goed vasgevang.

So ook die Ier Sean Doherty se komposisie “The Destroyer”, wat die koor se gemak met die intensiteit en dissonansie van hedendaagse koormusiek beklemtoon.

’n Verwerking van Master KG en Nomcebo se “Jerusalema”, sekerlik die temalied van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika, het die konsert gepas afgesluit.

Dit sal wonderlik wees om te sien wat Van der Merwe en die US Koor weer met Brahms, Rheinberger, Mendelssohn of Bruckner sou kon doen. Die hoop beskaam nie. Maar dit vir eers daar gelaat.

...
Die koor slaag daarin om gehore wêreldwyd weg te voer. Hulle sing in verskeie tale, ook in Afrikaans, en die koorlede praat verskillende tale. Meertaligheid is ’n prioriteit by baie universiteite landwyd, maar dit is iets wat koorsangers al jare lank organies doen.
...

Die koor slaag daarin om gehore wêreldwyd weg te voer. Hulle sing in verskeie tale, ook in Afrikaans, en die koorlede praat verskillende tale. Meertaligheid is ’n prioriteit by baie universiteite landwyd, maar dit is iets wat koorsangers al jare lank organies doen.

Die volgende Nederlandse gesegde is al dikwels aangehaal, maar dit bly waar: “Vrees niet waar weerklinkt het lied, slechte mensen zingen niet.” Die tweede deel is ook die titel van Philip McLachlan, die US-koorleier van 1955 tot 1976, se memoires oor sy ervaring met die koor. En as ’n mens so na die US Koor se Woordfees-optrede kyk, wil ’n mens dit van hulle ook glo.

Ná vanjaar het die US Koor nog baie om te vertel en ’n mens hoop hulle kry gou weer die geleentheid om almal onder een dak saam te sing.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top