Toyota US Woordfees 2020 Instagram-resensie: Valsrivier

  • 1
 

Dominique Botha het in 2014 die plaaslike boekemark getref met haar debuutroman, Valsrivier, en dié coming-of-age storie (geskoei op haar eie grootwordjare op die plaas Rietpan in die Vrystaat) het verskeie welverdiende toekennings ingepalm. Die ontsporing van Dominique se ouer broer en held, Paul, staan sentraal tot die Botha-gesin wat te midde die apartheidsregime, hulle kinders verlig dóg streng grootmaak. Paul, sy ma se oudste, slimste en mooiste, rebelleer van meet af teen als – skool, weermag en die meeste konvensies. Hy breek keer op keer sy ouers én die leser se hart. Jy hoop vir ’n mooi en gelukkig einde, maar jy weet heimlik dit is bloot wensdenkery. Valsrivier is ’n ontsaglike en roerende boek oor verlies.

Om dan ’n boek van dié statuur in ’n drama te verwerk, sit nie in enige man se broek nie, maar gelukkig het die taak ’n bekwame vrou te beurt geval. Saartjie Botha kry dit reg (soos wat sy maar doen) om hierdie stuk liriese prosa in ’n beelskone teaterervaring te verander. Die karakters kry lewe in die baie veilige hande van die regisseur Janice Honeyman en die sterk rolverdeling, waaronder Anna-Mart van der Merwe en Tinarie van Wyk Loots. Robert Hindley as Paul is relatief onbekend, maar hy steel sonder twyfel die show. Die kyker het dadelik deernis met dié sensitiewe, gebroke siel. Na dié huilmooi vertolking gaan die aanbiedinge vir dié jong man waarskynlik teen ’n tempo instroom. (Nog ’n pluimpie gaan aan Wolf Britz, wie se stel en beligting soos gewoonlik ’n uitstalplek vir sy onuitputbare bron van kreatiwiteit is. Dis altyd lekker om te sien hoe hierdie teaterman se kop ’n storie sien.) As Valsrivier jou nie laat huil nie, is jy dalk van klip gemaak. Hierdie produksie is, volgens hierdie kyker, ’n instant classic.

#valsrivier #instagramresensie
@woordfees @theatrerocketsa @roberthindley @janice_honeyman @wolfbritz (✏Nadine Petrick @nakadien)
(📷 Lindsey Appolis @appster )

  • 1

Kommentaar

  • Gretha Aalbers

    Dit was inderdaad ’n aangrypende toneelervaring, maar ek sou dit nie as “beeldskoon” beskryf nie. Beeldskoon verwys na ’n besonder mooi voorkoms, spesifiek van ’n persoon. Dit was weliswaar ’n besonder vindingryke en meesleurende produksie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top