Toyota US Woordfees 2020 Instagram-resensie: Rustenberg-plaas: die skeppingsdrang en die druif

  • 2

Die Woordfees se aanbod is so oorweldigend, soms voel mens lus om eerder die berge in te hol. Maar, dan loop jy weer die gevaar dat FOMO gaan inskop en leef jy in vrees dat jy iets gaan misloop. Die ideale manier om dié krisis te pypkan is om na die Leefstyl-afdeling van die feesgids te blaai. Daar is ’n ruim verskeidenheid van ander feesaktiwiteite, wat nie noodwendig teatergebonde is nie, om by te woon.

Rustenberg Wines, in die Simonsbergvallei, bied hierdie jaar so ’n heerlike, rustige middag se buitelugplesier vir die vuisvoosfeesganger aan. Met net 16 plekke per sessie is jy saligheid gewaarborg. Die middag skop af met ’n wynproe onder die stokou eike. Wénèf du Plessis, die plaas se bemarkingsbestuurder, is ’n wynentoesias en hy vermaak mens met interessante staaltjies oor die plaas se geskiedenis. Daarna kry mens die geleentheid om saam met Rozanne Barlow (dié familie is sedert 1941 in besit van die plaas) deur die indrukwekkende tuine met die unieke labirint te stap. Ná die stappie is daar ’n oestafel vol kase en tuisgebakte brode en ’n verfrissende Muti gin en tonic om die hitte te besweer. Wyl mens teug aan jou drankie, verduidelik die energieke inwonende beeldhouer, Maritza Breitenbach, haar skeppingsproses. Koba Solms, Muti se moeder, vertel ook waar hierdie craft gin sy ontstaan gehad het.

Hierdie middag by Rustenberg voel soos ’n mini-vakansie en jy stap met totale genoegdoening daar weg. Oorweeg gerus een van die Leefstyl-items as afwisseling van die gewone feesplesier. Jou siel (en jou maag) gaan dankbaar wees.

#instagramresensie #woordfees2020 
@woordfees @rustenbergwines 
(📷✏Nadine Petrick @nakadien )

  • 2

Kommentaar

  • Baie dankie vir die pragtige resensie! Dit verskaf ons groot pret en plesier om hierdie produksie aan te bied. Besoek ons gerus by Brampton Bull Pens Art Studio vir ‘n glas wyn onder die bome - ook na afloop van die Woordfees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top