Toyota Stellenbosch Woordfees: ’n Nuwe generasie vir taaltransformasie

  • 1

Op 2 Oktober het die diskoers-gesprek, “Gesprekke oor Afrikaans: ’n Nuwe generasie vir taaltransformasie” (aangebied deur Afrikaans Amptelik 100), by die Toyota Stellenbosch Woordfees plaasgevind. Danie Marais het met Marcelyn Oostendorp, Dylan Hess en Phillip Louw gesels. Jean Oosthuizen gee ’n oorsig van die gesprek.


Toyota Stellenbosch Woordfees: ’n Nuwe generasie vir taaltransformasie

Universiteite is besig om hulle plig te versaak wanneer dit by meertaligheid kom, en daar bestaan ook nie ’n politieke wil om meertaligheid in Suid-Afrika te bevorder nie.

So het die hoofredakteur en uitvoerende hoof van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), Phillip Louw, by die Toyota Stellenbosch Woordfees gesê tydens ’n paneelbespreking oor taaltransformasie en hoe taaldiversiteit eenheid kan bewerkstellig.

Louw sê alle universiteite in die land sukkel om ’n werkbare model vir meertaligheid daar te stel. Hy sê die nodige kundigheid bestaan wel om die tegnologie te skep om meertaligheid op tersiêre vlak te bevorder, maar die politieke wil om dit te doen ontbreek.

As die politieke wil nie gaan verander nie, is die land op pad na eentaligheid by al die universiteite, sê hy.

Louw meen daar behoort gekyk te word na die idee van streeksuniversiteite waar spesifieke provinsies voorsiening maak vir meertaligheid op streeksvlak, byvoorbeeld Afrikaans, Engels en Xhosa by ’n universiteit soos Stellenbosch waar hulle die drie grootste tale in die streek is.

Wat mens egter in KwaZulu-Natal en ander plekke vind, is dat die mense wat daar die werk doen, ondermyn word deur die bestuur en verhoed word om die volgende stap te doen.

Die gesprek by die Toyota Stellenbosch Woordfees was deel van ’n reeks gesprekke oor Afrikaans en die stand van Afrikaans.

Daar is gesprek gevoer met ’n nuwe generasie sprekers wat diversiteit en meertaligheid omarm. Sprekers uit verskeie streke van die land het onder andere besin oor taaltransformasie en hoe taaldiversiteit eenheid kan bewerkstellig.

Marcelyn Oostendorp, senior lektor in die Departement Toegepaste Taalkunde by die Universiteit Stellenbosch, sê taaltransformasie kan nie bestaan sonder sosiale transformasie nie. ’n Taal sonder sy sprekers is ’n dooie taal. Sy sê as transformasie nie iets vir die sprekers van die taal beteken nie, beteken dit niks nie. Om suksesvol te wees moet dit ook die omstandighede van die taal se sprekers verbeter.

Oostendorp, wat met ’n Sweed getroud is, se kinders se eerste tale is Sweeds en Afrikaans – sy praat Afrikaans met hulle kinders terwyl hulle pa Sweeds met hulle praat. Die kinders is in ’n Afrikaanse skool op Stellenbosch en in beide tale sosiolinguisties baie goed aangepas, en hulle lees ook Engels.

Omdat sy en haar man albei navorsing doen oor veeltaligheid en taalwetenskaplikes is, weet hulle dat veeltaligheid nie skade doen aan kinders nie. Dit veroorsaak ook nie taalvertraging of maak die kinders deurmekaar soos wat sommige onderwysers dink nie. Dit is nie skadelik vir kinders om in meer as een taal groot te word nie, sê sy.

Sy sê sy het nog altyd gevoel haar kinders moet Afrikaans praat. Dit is vir haar hartseer dat sommige mense in meertalige gesinne net Engels met hulle kinders praat. Sodoende word die grootouers dikwels uitgesluit in die gesprekke wat gevoer word tensy hulle ook Engels met die kinders praat.

Dylan Hess, wat tans besig is met sy M-graad in Klein Karoo-Afrikaans en junior mederedakteur by die WAT is, het vertel hoe hy aanvanklik ’n minderwaardigheidskompleks gehad het oor hoe hy praat toe hy by die UWK begin studeer het. Anastasia de Vries, wat onlangs oorlede is, het hom geleer daar is geen rede om minderwaardig te voel nie en dat al die sprekers van die taal ingesluit moet word ongeag ras, kleur of die variëteit wat hulle praat.

Hy sê daar is baie navorsing gedoen oor variëteite soos Afrikaaps of Kaapse Afrikaans, Namakwalandse Afrikaans en ander variëteite, maar nie oor Klein Karoo-Afrikaans nie. Hy wil graag hê dat Klein Karoo-Afrikaans ook saam met al die ander variëteite deel word van Standaardafrikaans.

Van links: Marcelyn Oostendorp, Dylan Hess, Phillip Louw en Danie Marais (Foto: Jean Oosthuizen)

Louw sê taaltransformasie moet reeds op skool begin. “Taaltransformasie gaan nie net oor Afrikaans nie. In die groter konteks van die land moet daar beweeg word na ’n meertalige bestel, want ons sit met ’n geletterdheidskris waar agt uit tien kinders nie in hulle moedertaal kan lees en verstaan wat hulle lees nie.”

Hy sê daar behoort baie meer bestee te word aan hulpbronne vir taaltransformasie, want die huidige stelsel werk nie.

Die skrywer en digter Danie Marais, wat die gesprek gelei het, het gesê as die variëteit of dialek van ’n taal as minderwaardig gesien word, die sprekers van daardie taal hulleself ook as minderwaardig ervaar.

Taaltransformasie gaan dus vir hom ook oor opheffing, en daar is verskeie plekke waar dit kan gebeur, soos die gebruik van die verskillende variante van die taal in die media en ook as onderrigtaal op skool.

Hy het onder meer verwys na die “vreugdelose leerplanne” van Afrikaans. Die paneel het gepleit vir verbeeldingryke maniere om Afrikaans in al sy verskillende variëteite deel van die leerplan te maak.

Oostendorp sê op skool het sy nie ’n enkele voorgeskrewe boek in Afrikaans gehad waarin die hoofkarakter nie gesterf het nie. Deon Meyer het haar weer teruggebring na die Afrikaanse letterkunde.

Louw sê uitgewers behoort by skole aan die onderwysers te verduidelik wat die waarde daarvan is om kinders ook bekend te stel aan boeke wat in ’n ander variëteit geskryf is, en dit moet vir die onderwysers makliker gemaak word om die ander variëteite deel te maak van die leerplan.

Hy sê daar bestaan soms ’n wanpersepsie dat onderwysers doelbewus teen ’n variëteit diskrimineer, maar dikwels is dit ’n geval dat daar nie moeite gedoen word om dit vir hulle makliker te maak om die verskillende variëteite by die leerplan in te sluit nie.

Oor die standaardisering van Afrikaans was die algemene gevoel dat sogenaamde Standaardafrikaans alle variëteite moet insluit.

Louw sê standaardtaal beteken dit is ’n taal wat  in formele geskrewe konteks gebruik word. Daarom is ’n koerant soos Son en boeke in Kaaps reeds Standaardafrikaans, want dit word in ’n formele konteks gepubliseer. Hoe meer daar in die verskillende variëteite gepubliseer word, hoe gouer sal daar outomaties ’n herstandaardiseringsproses wees, sê Louw. Die verantwoordelikheid is dan by die leksikograwe en taalkundiges om dit te kodifiseer en seker te maak die variëteite vind hulle weg na die woordeboeke en woordelyste.

Oor die vraag of Kaapse Afrikaans of Afrikaaps ’n aparte taal moet wees soos wat sommige mense voorstel, was die paneel baie skepties. Oostendorp sê sy voel ongemaklik as daar sommer besluit word om ’n ander taal te maak.

Sy glo die behoefte daaraan spruit uit die feit dat Kaapse Afrikaans in die verlede gestigmatiseer is. Van al die variëteite het dit volgens haar waarskynlik die swaarste gedra aan die stigma, omdat dit geassosieer is met bendes en kriminele aktiwiteite.

Louw meen ook dat diegene wat pleit dat Kaapse Afrikaans ’n aparte taal moet wees, twee maal moet dink, omdat hulle beter daaraan toe sal wees in die groter Afrikaanse kring met al sy hulpbronne.

  • 1

Kommentaar

  • Ek is ook sterk ten gunste daarvan dat gesinne met meertalige ouers, beide tale tuis moet gebruik. Dis baie jammer dat dit selde gebeur dat sulke kinders met goeie Afrikaanse en Engelse taalvaardighede grootword. Hulle is meestal Engelssprekend. Selfs Afrikaanssprekende ouers wie se kinders om een of ander rede na Engelse skole gaan, se kinders eindig eentalig.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top