Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Vier Panado’s en ’n chardonnay – ’n Instagram-resensie

  • 0

Elsabé Zietsman in Vier Panado’s en ’n chardonnay (Foto via woordfees.co.za)

Ek loop uit by Vier Panado’s en ’n chardonnay met my grimering gesmudge en ’n rou gevoel in my bors. Ek is in ’n dwaal – verstom deur die kwesbare eerlikheid van Elzabé Zietsman wat nou net ’n stukkie van haar siel aan ons ontbloot het. My respek vir haar as ’n mens en ’n kunstenaar is hemelhoog. Daar is ’n baie goeie rede waarom sy ’n legende is, en met hierdie vertoning het sy weer eens ’n meesterstuk beet.

Zietsman en haar pianis, Tony Bentel, is treffend mooi in hul skitterende Cabaret-geïnspireerde kostuums. Hulle gemak met en vertroue in mekaar is duidelik en verfrissend. Tegnies is die musiek indrukwekkend. Zietsman se sang is diep, roerend en moeiteloos. Soms doelbewus nie-te-perfek-nie. Skrywer en regisseur Johan Slabbert het ’n ongelooflike teks geskryf wat klassieke treffers met persoonlike stories uit Zietsman se lewe kombineer. En al is sy oneindig eerlik (sy self verduidelik dat sy geen wag voor haar mond het nie), voel dit nooit bitter of wraaksugtig Eerder hartseer oor die oneindige weltschmerz (wêreldpyn – die feit dat niks is soos ons wens dit was nie).

Alles is flink saamgevleg om ’n string  politiese en morele kommentaar asook briljante komiese oomblikke vas te vang. Die stukke is uiteenlopend genoeg dat mens nooit verveeld is nie en nooit seker is wat volgende kom nie. En tog voel dit soos ’n eenheid, saamgebind deur die oorvleuelende tema: Die lewe is kak, en as daar nie ’n silwer randjie is nie, vind ons een. Of dit nou politiek, beurtkrag, oorlog of sosiale media is – niks is meer maklik nie. Maar as jy hier is, is dit darem seker iets. 

Lees ook:

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan – ’n Instagram-resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: The return of Elvis du Pisani – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Begin – ’n Instagram-resensie

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: The king of broken things – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Exit/Exist – an Instagram review

Hollywood at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Glitz, glam and razzle-dazzle – an Instagram review

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top