Touch: Sex, sexuality and sensuality
Saamgestel deur Tiffany Kagure Mugo en Kim Windvogel
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795710087
Na die eerste paar hoofstukke het ek net een gedagte gehad: Ek het geen plek hier as wit middeljarige cisgender vrou nie. Dit was gou vir my duidelik dat ek nie die vaagste idee het waardeur enige een van die LGBTQ-lede of mense van ’n ander ras moet gaan as dit kom by seks, liefde, verhoudings of om bloot die lewe te navigeer nie.
Geen clue nie.
Kom ons haak nog ’n bietjie by my vas – as iemand wat haar seksualiteit ontdek en ontwikkel het in ’n baie streng Calvinistiese en patriargale omgewing in die sewentigs, tagtigs en negentigs, was ek wel geskok om te besef hoe min dinge eintlik ten goede verander het rakende patriargie en seksualiteit.
Vroue word nog steeds (indien nie meer nie) gesien as seksvoorwerpe en daar was ’n sterk narratief – by skrywers van oor al die kleurgrense heen – van die realiteit dat ’n vrou net daar is vir die manlike oog en manlike bevrediging. Maar wat duidelik is, is dat hierdie nuwe geslag begin het om hul seksuele stem dik te maak en te laat geld.
Nou, meer oor die boek: Hierdie is ’n boek wat fokus op die LGBTQ-kant van die slaapkamer. As jy ’n boek vol stomende fantasieë verwag, soos Nancy Friday se My secret garden of ’n kortverhaalbundel vol erotika, gaan jy met ’n hand vol droë sneesdoekies opeindig.
Tiffany Kagure Mugo en Kim Windvogel, wat dié bundel saamgestel het, wou – in hul eie woorde – ’n antologie van emosies, idees en veronderstellings saamvat. Hierdie is meer ’n filosofiese benadering tot seks, geskryf met die simboliese pen gedoop in sweet, menstruasiebloed, trane en orgasmiese kom.
Vir die leser is dit ’n voyeuristiese ervaring, ja. Vir die eerste keer het ek ’n kykie gekry in wat tussen die lakens en in die emosionele binnekamers gebeur van mense met ’n ander seksuele oriëntasie as ek.
En ja, dis anders. En ja, dis dieselfde.
Wat deur elke vertelling loop, is die draad van emosie. Dikwels is liefde, verwerping en gebroke harte die gom wat die vertellings bymekaartrek.
Baie van die vertellings volg die “ek”-dagboekinskrywing tipe formaat. So word die leser in die rol geplaas van sielkundige of priester wat luister na ’n ontboeseming, ’n geheim, ’n onthulling.
Die boek is geslagskorrek met verwysings na “they” in plaas van “he, she, him, her” en daar is ook “snellerwaarskuwings” vooraan elke hoofstuk indien die geskrewe enige verwysings na dwelms, verkragting of drankmisbruik vervat wat die leser kan “trigger”.
Dus, ’n politiek korrekte boek, maar vol hartroerende vertellings van mense wat die slagoffers is en was van politiek inkorrekte denkwyses. Seks word dan ook bespreek in die konteks van verkragting, aborsie, vigs, pyn, ras en politiek, maar daar is ook dié vertellings wat borduur word met die rooi en silwer drade van wellus en liefde.
Alhoewel daar wel bekende skrywers en joernaliste onder die bydraers is, soos Nakhane, Mia Arderne, Efemia Chela en Jamil F Khan, is daar ook navorsers, spiritualiste, akademici, kampvegters vir LGBTQ-regte, akteurs, rolprentvervaardigers, hekse, sangers en sekswerkswinkelfasiliteerders.
Daar is verskeie treffende seksuele en emosionele beskrywings in die boek:
- “I dove in and tasted my future inside of her” en “He was a rampant romping red flag, and I was the soldier ticking his flags over every inch of my body for everybody to see.” – Kim Windvogel
- “Healing is on the list of foreign languages I will never be fluent in.” – Mia Aderne
- “We did everything. Every. Thing. Our space was not vanilla. It was a place where two people came together and made a dance so infernal and so infuriatingly inflaming.” – Ava Mason
- “Grieving can look like anything. It doesn’t have a single aesthetic. It isn’t a linear journey.” – Mamello Sejake
- “I think of my menstruation, as a living part of myself. Almost like a second conscience.” – Eliana N’Zualo
- Sosiale en dikwels skokkende kommentaar is daar ook, soos dié van Jamil F Khan: “Per society girls aren’t sexual and don’t demand much for themselves – we are here to serve. I am 30 fucking years old, enough of this shit”; “Whether coerced, or forced, sex was validated by desire and intent, not consent”; en “Queers are more palatable when they can be predicted.”
Dan is daar Nakhane oor seksuele trauma in die kinderjare en die reaksie daarop: “They perform what was done to them with whomever will allow them, while seeing sexuality and public displays of love and tenderness represented only by whiteness, and only in the English language.”
En: “Yet, since as far back as humans can remember, women have been sexualised. However, we are not allowed to sexualise ourselves.” – Uvania Naidoo
Uitstaande vertellings is dié van Siv Greyson, waar die verteller geselsies en argumente aanknoop met sy ander innerlike karakters: Prof S Greyson, sy innerlike ouer, en Sivuyile, heel moontlik sy innerlike kind. Dis komies, insiggewend en veral hartroerend. Dis die storie van ’n persoon se innerlike stryd met depressie, hulself en seksualiteit:
… they throw a hoodie on. It’s not cold or anything, it’s just easier that way. It has become less about how people see them and more about how they don’t see themselves.
Gevuur met ’n komiese koeël wat sekuur tref, is Janine Samuels se “Strokes”, wat kyk na die wese van begeerte as die afwesigheid van iets en wat dan onder meer wonder oor die moontlikheid van engel-seks: “Biblical angels were mostly eyes and wings, so it is physically difficult to think of them as both horny and horrifying.”
Dan is daar ook die insiggewende bydrae (in rymvorm) wat geskep is in ’n werkwinkel van SW Theatre SA, “fuckable money” deur Ruvimba Tenga, oor agt sekswerkers en die vernietigende invloed van Covid-19 op hul beroep.
Ook uiters treffend is Githan Coopoo se “P(r)EP talk” oor die “kas” waaruit geklim word:
… there is a lack of focus on where we are coming out of, and why we are in there in the first place. The closet in question stands quietly in the room, up against the wall, drawing little question to itself.
En dis hier waar ek besef het dat ek wel plek het in hierdie narratief. Aan die een kant is ek deel van die politiek inkorrektes van die samelewing wat skandelik maar min weet van die prys wat dit ander kos om hul seksualiteit uit te leef. Ek het letterlik daardie kas in die kamer vermy.
Maar aan die ander kant het elkeen van ons ’n kas.
As myself moes ek uit die kas klim as ’n vrou wat my seksualiteit en eie keuse vrylik wou uitoefen. Soos Coopoo dit stel: “The point I missed, and one I think we often miss, is that closets are born when we are so ashamed or scared of a part of us, that we need somewhere to permanently hide it away from the rest of our lives.”
Dit is hierdie kaste wat ons om onsself en ander plaas waaruit daar geklim moet word.
Waarmee ek – en ek dink alle lesers – kan vereenselwig, is die skrywers se soeke na aanvaarding, na bevrediging, na liefde. En die behoefte om raakgesien en aanvaar te word vir wie en wat jy is.
En saam met Ava Mason eindig ek dié resensie so af: “Everything comes to an end. Pain, suffering, joy, love, it all ends. What matters is how (and if) we mend ourselves when the moon bursts …”