Totius (1877–1953)

  • 3

Gebore en getoë

Jacob Daniël du Toit (Totius) is op 21 Februarie 1877 in die Paarl gebore, die tweede seun van SJ du Toit, leier van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging, en Elizabeth Jacoba Joubert. Beide sy ouers was van Hugenote-afkoms. As kind is hy Japie genoem en sy oudste broer was Dawie. Twee dogters, Marié en Bettie, is ook uit die huwelik gebore. Uit SJ du Toit se tweede huwelik is ’n dogter, Magdalena, en ’n seun, Wynand, gebore.

Totius se ouers het met sy geboorte ’n vleuel van die Paarlse Gimnasium bewoon en dit is waar hy gebore is.

Joan Hambidge skryf in haar rubriek "Op my literêre sofa" dat Totius se suster Marié beskou kan word as die eerste Afrikaanse feminis. Sy was ook die skrywer van die eerste feministiese boek in Afrikaans, Vrou en feminis. Hambidge vertel van ’n berig wat in Die Burger van 28 Maart 1984 verskyn het waarin vertel word van hoe geskok die bure was oor Marié se gewoontes, soos fietsry, baadjiepakke dra en rook.

Totius het sy vroeë lewensjare deurgebring in die atmosfeer van die Patriot-manne in die Paarl. Toe hy drie jaar oud was, het hy in hulle agterplasie, waar die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) se drukpers in ’n klein buitehuisie gestaan het, gespeel.

In 1882 het die gesin na Pretoria verhuis waar sy pa vanaf 13 Maart aangestel is as superintendent van onderwys. In My jeugland het Totius hulle woonhuis en omgewing in Pretoria beskryf: "Die gebou was taamlik ruim, geleë ongeveer halfpad tussen die Kerkplein en die ou begraafplaas. Ek herinner my die situasie nog goed. Die huis was ’n entjie van die straat af weg, met die kombuis na die straatkant en die voorkant van die woning uitsiende op ’n lieflike blomtuin. My vader was ’n hartstogtelike liefhebber van blomme.

"Langs die straat was daar tralies, ondersteun deur groot wit pilare, waarop ek en my broer geklim het om die verbytrekkende burgers na en van Mapoch se oorlog gade te slaan. Aan die een kant van die huis was ’n geweldige roosheining waarin ons tonnels gemaak het. Aan die ander kant het oop saailande gelê.

"Aan die noordkant van ons huis was oop veld tot aan die volgende straat. In dié straat het die skool van mej Putzer gestaan. Daarheen is ek ook gestuur. Dit was my eerste skoolonderrig. Ek moet eintlik sê ek is daarheen gedra. Ek was naamlik onwillig om self met my boeksakkie te stap. Toe het die meidjie opdrag gekry om my skool toe te dra. Ek het haar darem nie te naby laat kom nie. Toe ek die kinders voor die skool sien speel, het ek gesê dat sy my asseblief moet neersit: ek sal self loop! En daarmee was die pad gebaan."

Die plaas waar die gesin gebly het, se naam was Rietfontein wat later ’n voorstad van Pretoria geword het. Die kinders het daar ’n goewernante gehad, mej Van Nierop, wat later met Oom Lokomotief getroud is.

Dit was in dieselfde huis dat sy moeder ongeveer ses maande nadat hulle in Pretoria aangekom het, oorlede is nadat sy nie eers vir ’n dag lank siek was nie.

Na sy moeder se afsterwe is sy pa in 1883 as lid van die Transvaalse afvaardiging na Europa en is Totius en sy broer teruggestuur na Dal Josafat naby die Paarl om by hulle ouma op die familieplaas te gaan woon. Hier was hy ’n leerling aan die bekende Gedenkschool der Hugenoten. Einde 1884 was SJ du Toit weer superintendent van onderwys en is die twee seuns en hulle susters terug na Pretoria. Saam met hulle is mej C Brünner, ’n Switserse dame wat hulle eerste moeder met die huishouding gehelp het. Sy het ook die twee dogters help versorg terwyl hulle by hulle ouma Joubert op Stellenbosch gebly het. "Inderdaad was sy ’n gesellige huisgenoot en lank het sy oor ons as moeder gewaak."

Op 8 Julie 1885 is SJ du Tout met Anna F Malan getroud, ook ’n dame van Hugenote-afkoms.

Vanaf 1888 tot 1889 het Totius en sy broer die Duitse kosskool van die Hermannsburgse Sendinggenootskap op Morgenzon naby Rustenburg bygewoon. Sy vader was beïndruk met die sendinggenootskap se godsdienstige beginsels, asook met die deeglikheid van die onderrig aldaar.

Oor hierdie skool het Totius in My jeugland vertel: "Daar het ons die Duitse taal geleer en kennis gemaak met die Duitse lied. Pastor Wickert, die hoof, was ’n uitnemende onderwyser. Met ’n dankbare hart dink ek nog aan die talentvolle man terug. Saterdags moes ’n aantal van ons die Latynse lesse volg, en Sondagvoormiddag was dit die tyd om die Evangelium op te sê. Ons was baie besig, maar ’n paar keer in die week het ons togte na die Magaliesberg (daar vlak by) georganiseer om byneste in bome en kranse uit te haal.

"Aangenaam en besielend kon mnr Wickert die Romeinse geskiedenis vertel, veral dié periodes waarin Hannibal teen Rome opgetree het. Buite skoolure het ons mekaar, op die gras uitgestrek, lê oorvertel die heldefeite van Hannibal. Ook pianospel het ons by pastor Wickert geleer.

"Maar ook hierdie periode het verbygegaan. Op ’n goeie dag het die veerwaentjie met vier osse skielik opgedaag. Ons moes huis toe gaan. My vader was voornemens om weer ’n Europese reis te doen. Die pad van die waentjie het oor Rustenburg gegaan. Volgens ou gewoonte het ons op die kerkplein voor die Indiër-winkel uitgespan. Daar is ’n bakkersbroodjie en ’n blik goue stroop gekoop – iets waarna ons uitgesien het. ’n Gawe maaltyd was dit."

Ná ’n oorsese reis saam met sy ouers het Totius teruggekeer na die Gedenkschool waar hy van 1890 tot 1894 leerling was, onder andere saam met AG Visser en DF Malherbe. FS du Toit was een van sy onderwysers. "Daar het ek toe ook die Elementêre, en die Skool-Hoër gedoen. Matriek het ek deur middel van private studie bereik. Vra nie hoe ek met die Arithmetic, Algebra, Geometry en Dynamics omgespring het nie!" Hy het sy matriek in 1895 geslaag.

Oor sy onderwyser ds FS du Toit het Totius aan G Dekker (Die Huisgenoot, 21 Februarie 1947) vertel: "Met ’n onuitsprekelike gevoel van piëteit en waardering denk die skrijwer van hierdie boek aan die onderwijser van sijn jeug, die man aan wie hij sijn grondvorming te danke het – ’n man van goeie geleerdheid, beslistheid en vaste beginsele, en tog innemend van aard, vriendelik en hartelik, die voorkomendheid en beleefdheid in persoon. Die skrijwer hiervan sien nog sijn korte, gesette gestalte, slaat nog gade sijn haastige, enigsins waggelende gang, grijp nog weer aan die korte, vaste hand, en kijk weer in die van gesondheid blosende aangesig. Hy denk aan die daë toe ds FS du Toit vir hom die modelmens was, aan die ure toen sijn meester hom geroep het om met hom in die studeerkamer te bid, aan die Sondagmôrens waarop ons sijn praktiese preke aangehoor het, vol lewenswijsheid wat nog naklink in die ore. Waarom kon nie alle Afrikaners sulke onderwijsers hê nie? Wanneer krij ons weer sulke meesters, en – súlke skole? Hoeveel manne, daar gevorm, is vandaag voormanne in die politieke en kerklike sake? Dit was ’n ware nasionale volkskool."

Verdere studie en werk

Hy wou ’n myningenieur word, maar nadat sy stiefmoeder hom oortuig het dat hy predikant moes word, is hy in 1896 na die teologiese kweekskool van die Gereformeerde Kerk op Burgersdorp in die Oos-Kaap. Hier het hy hom voorberei vir die Literariese Eksamen om tot die teologiese skool op Burgersdorp toegelaat te word. "Omtrent vier jaar het die voorbereidende en teologiese kursus geduur. Dankbaar is ek vandag nog vir die leiding van prof S Postma (lettere) en prof J Lios Cachet (teologie).

“Dit was die jare onmiddellik voor ons groot oorlog. Ek was redakteur van Die Studenteblad. Dit het maar warm toegegaan in dié blad. Dit was ook te verwagte in so ’n sentrum van nasionalisme soos die Albertdistrik was." (My jeugland)

Op Burgersdorp was prof Jan Lion Cachet, ’n Nederlander van Portugees-Joodse afkoms, sy leermeester. Op 14 Junie 1899 het hy sy proponentseksamen afgelê nadat hy belydenis van geloof in die Gereformeerde Kerk afgelê het. Saam met hom was sy vriend ds GHJ Kruger. Daarna is Totius na die Transvaal, waar hy op verskillende plekke gepreek het.

Toe die Anglo-Boereoorlog in Oktober 1899 uitbreek, is hy (teen die wil van sy vader) en Kruger saam met die Potchefstroomse en Heidelbergse burgers op kommando – Totius as prediker. Hulle is per trein na Volksrust en die eerste dag daar (12 Oktober 1899) het Totius ’n telegram van sy vader ontvang: "Verlaat onmiddellik die oorlogstoneel. Kom dadelik huis toe. Groete. Jou vader, SJ du Toit."

Uit sy dagboek blyk dit duidelik dat die jong Totius, behalwe die oorlogstryd, ook in ’n geweldige stryd gewikkel was om te kies tussen die Bybels opdrag dat jy jou vader en moeder moet eer en gehoorsaam moet wees en sy eie ideaal om saam met sy volksgenote vir persoonlike en volksvryheid te stry, skryf Martiens van Bart (Die Burger woongids, 4 Julie 1998).

Hy was deel van die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1889. Hy het egter ’n slegte maagaandoening onder lede gehad wat hom gedwing het om na Burgersdorp terug te keer.

Hy het vertel: "Ek het my eie koers gevolg. Ek noem hier as bakens: Dundee, Ladysmith, Modderrivier, Magersfontein, Colesberg, eindelik Bloemfontein. Hier was ek enkele dae by Oom Lokomotief tuis. Daarna het ek my troue wit perd op die trein gelaai en na Pretoria afgereis.

"’n Maand ongeveer het ek daar die dienste waargeneem vir ds P Postma. Toe het ’n aantal broeders, veral Nederlandse broeders, by my aangedring om na Nederland via Delagoabaai te gaan ten einde daar af te studeer aan die Vrye Universiteit, Amsterdam. Hulle het my ’n som geld ter hand gestel en verder deur briewe vir my die pad finansieel gebaan. Nog altyd voel ek dankbaar dat hierdie geleentheid vir my deur dié vriende berei is. Wat ’n wêreld van kennis en ervaring het ek opgedoen!"

Oor sy sewe maande as Kaapse rebel saam met die Boeremagte in die veld was daar nie altyd baie bekend nie. Maar sy destydse verloofde, Marie Postma (ook sy latere vrou) het hom gevra om dagboek te hou van sy tyd in die veld. Hierdie dagboek is in 1977 (met die eeufeesvieringe van Totius se verjaardag) deur Tafelberg uitgegee onder die titel 64 dae te velde: Totius se oorlogsdagboek, met aantekeninge deur VE d'Assonville.

Die Vrije Universiteit is deur dr Abraham Kuyper daargestel en is gegrond op Gereformeerde beginsels. In Amsterdam het Totius kontak gehad met al die belangrikste teoloë in Nederland. Uit ’n brief wat hy aan JA van Rooy, ’n medestudent op Burgersdorp, het dit egter geblyk dat hy nie heeltemal só opgetoë was met die gees van die teologie in Amsterdam en Kampen nie, en dat hy geglo het dat daar eerder in Suid-Afrika gewerk moes word om ’n eie Gereformeerde teologie daar te stel. In 1903 het Totius met lof gepromoveer met sy proefskrif “Het methodisme”.

Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy op 26 Augustus 1903 in die huwelik getree met Maria (Marie), die jongste dogter van prof Dirk Postma, die stigter van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Mione du Toit, aangetroude kleindogter van Totius, het aan Salomé Jacobsz (Beeld, 2 Februarie 1977) vertel dat ouma Marie baie spitsvondig was: "En sy het altyd die snaaksste sêgoed gehad. Haar troetelnaampie vir Totius was Jongie en die kleinkinders het hom later oupa Jongie genoem."

’n Suster van Totius het eenmaal gesê: "Marie is om Japie soos die heuwels om Jerusalem." Sy het hom baie goed verstaan en het geweet wanneer om te lag en wanneer om stil te bly. Totius was nie baie gesond nie en sy het nooit omgegee om haar spyskaart by sy eetgewoontes aan te pas nie. En sy kon ook altyd baie ligweg met sy erns spot en hom ook laat lag.

Hy het as volg oor haar gedig: "Sy skuif verby met mooie buig/ en stap met vlugge voetstap weg/ die vreemdeling sien skrams nog net ’n glimp – ’n glans en gouigheid/ maar nooit sal in sy lewenstyd/ dié ligbeeld uit sy siel verdwyn."

Uit hulle huwelik is twee dogters en vier seuns gebore. Wilhelmina, die oudste dogter, is op 31 Desember 1920 oorlede. Francois, die jongste, was net oor ’n jaar oud toe hy meningitis opgedoen het en is op 7 November 1920 daarvan oorlede. Totius het as volg oor Francois se afsterwe gedig:

Vier laaste snikkies
Van my sterwende wig! –
Wat hier al immer,
immer gebeur –
’k vergeet hul nimmer,
nimmermeer ...

In Desember 1920 het die gesin na die plaas Krugerskraal getrek. Op oujaarsaand 1920 was daar ’n geweldige donderstorm op die plaas en het ‘n weerligstraal een van die slaapkamers waar Wilhelmina en een van haar susters aangetrek het, getref. Wilhelmina is op slag dood. En weer het Totius gedig:

o Gee maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en sy
was nie dáár in die vreeslike stonde
toe die weerligstraal van ons dak sou gly.

o Gee my maar net ’n sekonde
van voorwetenskap, en ’k sal
van arg'lose wesens ontkoming verkonde
voordat nog die dood hul skielik oorval ...

As vader was Totius ’n liefdevolle man, maar baie streng, het sy dogter Bettie Smit aan Die Vaderland (8 Februarie 1977) vertel: "Een kyk van sy kant af het dieselfde uitwerking as ’n pak slae van my ma gehad. My moeder was wonderlik. Sy kon so baie dinge opoffer ter wille van my vader. Al die werk wat hy in ’n leeftyd verrig het, het hy aan haar te danke. Hy het altyd gesê sy is die minister van finansies, van binne- en buitelandse sake, naturellesake en nog justisie as die kinders baklei. (...)

"Hoewel hy baie hard gewerk het, het hy nooit ons gesin afgeskeep nie. Maaltye was altyd gesellig vir die hele gesin en Vrydagaande was daar speletjies, iets wat ons kinders baie geniet het. Ons het ook baie na vakansies uitgesein. Voor ons ’n rytuig gehad het, het ons vriende altyd ’n ossewa gestuur om ons te gaan haal. Dan het ons een aand in die veld geslaap.

"Wanneer ons toegelaat is om te swem, het vader altyd ’n stokkie in die dam gesteek en ons mag niks dieper ingegaan het nie. Dit was ’n bitter ding vir ons kinders om agter die stokkie te bly as al die ander kinders dieper ingaan."

Totius is in 1903 beroep na die gemeente Potchefstroom, wat amper die hele destydse Wes-Transvaal omvat het. Dit was ’n enorme taak om die gemeente te bedien, veral in die tyd na die oorlog toe armoede hoogty gevier het en daar nie eintlik betroubare vervoermiddels was nie. Totius het ook baie gou deel geword van die redaksie van Het Kerkblad – beide as redakteur en as gereelde medewerker. Hy was ook baie gewild as spreker, veral omdat hy die beginsel van Christelik-nasionalisme uitgedra het – op alle gebiede van die lewe, maar veral ten opsigte van die onderwys.

Totius is in 1911 aangestel as hoogleraar aan die Teologiese Skool, wat vanaf Burgersdorp na Potchefstroom verplaas is. Hy het self ’n groot aandeel aan hierdie verskuiwing gehad.

Vir die volgende 38 jaar (tot sy aftrede in 1949) het hy al die vakke in die teologiese skool aangebied, ook Hebreeus. Hy is erken as een van die kenners van die Gereformeerde leer en kerkreg en het as gevolg van sy kennis nie net in sy kerk die leiding geneem nie, maar ook daarbuite kundige raad gegee, veral in belangrike hofsake.

In Totius en sy verse beskryf LJ du Plessis die invloed wat Totius uitgeoefen het baie goed deur daarop te wys "dat Totius die Gereformeerde Kerk en sy Teologiese Skool verryk het deur die Afrikanerisme van die Genootskap van Regte Afrikaners, die Calvinisme van die Vrije Universiteit en die Anti-Rewolusionêre Party. Sonder hom sou die Gereformeerde Afrikanerdom veel minder veelsydig ontwikkel het onder die invloed van Afskeid en Reveil, soos verteenwoordig deur die professore Dirk Postma en Jan Lio Cachet."

G Dekker en JL de Villiers skryf ook in Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek (deel III): "Deur die verband wat bestaan tussen die Teologiese Skool en die Potchefstroomse Universiteitskollege, wat uit die Literariese Afdeling ontstaan het, kan die vurige yweraar (wat Totius was) vir ’n Christelike wetenskap ook hier ’n waardevolle bydrae lewer en word hy saam met prof F Postma die grondlegger van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en die eerste kanselier daarvan."

Totius was dus ook heel gepas die ontvanger van die eerste eredoktorsgraad wat deur die Potchefstroomse Universiteit toegeken is. Hy het hierdie graad op 21 Maart 1953 van die destydse kanselier, prof J van Rooy, ontvang. Vroeër, in 1934, het die Universiteit van Suid-Afrika, sowel as die Universiteit van Pretoria, eredoktorsgrade aan Totius toegeken. In 1937 is hy weer vereer deur eredoktorsgrade van die Gemeentelike Universiteit van Amsterdam en die Universiteit Stellenbosch. In 1948 het ook die Universiteit van Kaapstad aan hom ’n eredoktorsgraad toegeken, met die Universiteit van die Witwatersrand wat hulle in 1952 gevolg het.

Benewens Totius se digwerk was hy ook een van die vertalers van die eerste Bybel in Afrikaans. Hierdie belangstelling het hy van sy vader geërf. Hy het grootgeword in die tyd van die GRA met die taalstryd, die eerste koerante en sy pa se passie om die Bybel in Afrikaans te vertaal.

Totius het reeds as 19-jarige op 14 Oktober 1896 ’n lesing oor die Bybelvertaling in Afrikaans voor die Teologiese Skool van Burgersdorp gelewer. En reeds as jong man het hy onder andere twee vereistes vir so ’n vertaling gestel, naamlik die noodsaaklikheid dat dit in die jong Afrikaanse taal van die 19de eeu moes wees, en dat dit uit die oorspronklike Hebreeus en Grieks moes wees (Roeping en riglyne, Augustus 2008).

In 1923 het die Breë Kommissie van die drie susterskerke namens hierdie kerke op twee dinge besluit: eerstens sou twee voltydse vertalers aangestel word, naamlik JD du Toit (Totius) vir die Ou Testament en BB Keet vir die Nuwe Testament, wat ook die eindvertalers sou wees by wie die "eindbeslissing sou (...) berus”; en tweedens sou die vertaling uit die oorspronklike tale gedoen word.

Die vertalingswerk het tydens die volgende tien jaar gevorder totdat dit in 1933 afgehandel is. VE d'Assonville skryf in Roeping en riglyne (Augustus 2008) dat Totius hom in hierdie tyd feitlik voltyds afgesonder het op sy plaas Krugerskraal, wat 25 km vanaf Potchefstroom geleë is. Hier het hy vanaf 1924 tot einde 1932 die volgende Ou-Testamentiese boeke uit Hebreeus in Afrikaans vertel: Génesis, Exodus, Levitikus, Númeri, Deuteronomium, Job, Psalms, Jesaja, Jeremia, Klaagliedere en Esegiël. Vir hom was die moeilikste boek om te vertaal onteenseglik Job. Sy opmerking: "Job weier om Afrikaans te praat!" het later ’n gesegde onder die teologiese studente geword.

D'Assonville skryf verder dat Totius gewis ’n "toegeruste" vertaler was. Tydens sy studietyd in Amsterdam het hy by bekende akademici geleer en was hy ’n "buitengewone kenner van Hebreeus en Grieks. Vir sy doktorale eksamens in Dogmatiek by die bekende A Kuyper, het hy byvoorbeeld al die Skrifgegewens in die oorspronklike tale mondelings aangehaal. In hierdie tyd het hy die hele Nuwe Testament uit die Grieks ge-eksegetiseer, voorwaar ’n buitengewone taak!"

Gedurende sy leeftyd het Totius die Bybel 112 maal deurgewerk en hy kan as een van die grootste Skrifkenners in Suid-Afrika beskou word. Hy was nie net vlot in Duits nie, maar ook sy kennis van Latyn was uitstekend. Behalwe Engels kon hy ook Frans lees en het hy oor ’n briljante kennis van Hebreeus en ander Oosterse tale soos Arkadies, Aramees en Arabies beskik.

Wat hom verder geskik gemaak het vir die vertaling van die Bybel was sy kennis van, liefde vir en suiwer gebruik van die Afrikaanse taal.

Totius se presiesheid in die vertaling van die Bybel was buitengewoon, skryf d'Assonville in Roeping en riglyne. "Hy het met één enkele Hebreeuse woord tot op die been ingegaan totdat hy – soos wat hy gedink het – die presiese woord of die beste sinsnede in Afrikaans kon vind." Dit kan duidelik nagegaan word in sy korrespondensie met prof van Gelderen, kenner van Hebreeus in Amsterdam.

Totius was uiteindelik verantwoordelik vir die hersiening van die hele manuskrip van die Bybel in Afrikaans. Die Bybel is in Londen gedruk en daar het hy op die knoppie van Frans du Toit, Suid-Afrika se assistenthandelskommissaris, gedruk om nog die laaste foute in die proewe wat toe reeds by die drukker was, reg te maak.

Op 12 Januarie 1929 het Totius aan Frans du Toit geskryf: "Baie tyd is gegee aan revisie en proewe. Ekself het baie dae daaraan gespandeer om perikope in die Evangelies met mekaar te vergelyk. Nou is dit die vertalers se ernstige versoek of u so goed sal wees om verlaas toe te sien dat korreksies reg uitgevoer word voor afdruk." Op ’n aparte bladsy het hy lyste van die foute aangeteken en oor die feit dat die drukkers dalk ongeduldig sou wees met sy puntenerigheid, het hy geskryf: "Jammer dat ek u moet lastig val, maar ons (die vertalers) het probeer om hierdie eerste uitgaaf so goed moontlik te maak en hulle (die drukkers) moet dit maar verstaan."

Oor Totius se psalmberyming skryf WDJ in Oosterlig (27 Julie 1990) dat hoe langer ’n mens dit ervaar en daarmee saamlewe, hoe meer besef jy "dat ’n groot stuk van die digter se eie vroomheid en ervaring in hierdie werk neerslag gevind het. Die psalms het sy psalms geword. (...)

"Daarby kom nog dat Totius sy beryming nie as ‘n volkome oorspronklike werk gesien het nie. Hy het aangesluit by die Nederlandse beryming waarvan die woorde op talle plekke in Afrikaans oorgebring kon word, sodat die kontinuïteit met die Nederlandse psalms so ver moontlik bewaar kon word.

"En tog praat hierdie beryming op onmiskenbare wyse die taal van Totius met sy eie ervaring as mens, selfs die taal van sy Wes-Transvaalse wêreld. In die keuse van sy woorde en die hantering van bepaalde beelde word sy eie belewing van die omgang met God en sy eie verstaan van die evangelie sigbaar. (...)

"Totius het in die psalms dieselfde ervarings herken waarvan hy in sy eie lewe kennis gehad het, om deur God gekasty, vertroos, genees en aanvaar te word. Uit die wisselwerking tussen sy eie wandel met God en sy omgang met die teks het sy beryming van die psalms as ’n getuienis na vore gekom."

Totius se diepe betrokkenheid by die Bybelvertaling het noodwendig ’n invloed op sy familielewe gehad. Sy vrou, Marie, het altyd gesê dat die Afrikaanse Bybel ’n wonderlike gebeurtenis vir die volk was, maar dat dit die einde van die huislike lewe van Totius se gesin beteken het. Só het hulle dogter Bettie Smit ook aan Die Vaderland (8 Februarie 1977) vertel. Hy het hom teruggetrek op hulle plaas Krugerskraal terwyl hy aan die vertaling gewerk het.

Hoewel Totius in sy leeftyd nooit aktief by die politiek betrokke was nie, en ook nie ’n leidende rol in enige politieke party gespeel het nie, het hy nooit afsydig gestaan teenoor die politieke gebeure in Suid-Afrika nie. VE d'Assonville skryf in Taalgenoot van September en Oktober 1996 ("Totius by nabaat") dat dit Totius se "oorwoë mening was dat die Bybelse beginsels op alle lewensterreine toegepas moet word, ook in die lewe van die Afrikanervolk.

"Hy kon hom nie versoen met Uniewording in 1910 nie – die resultaat van generaals Louis Botha en Jan Smuts se konsiliasiebeleid. Totius wou liewer ’n federasie van state hê soos wat sy vader, SJ du Toit, dit in sy Afrikanerbond voorstel. Hierin kon die twee ou republieke van die Transvaal en die Vrystaat hulle verlore vryheid herwin. Uniewording het hy as “die vervalsing van die gesonde Trekkerspolitiek” beskou (G Dekker: Afrikaanse literatuurgeskiedenis, bl 75) – ’n verwerping van die ideaal van ’n ware Christelike beskawing in Suid-Afrika.

Totius het ook as opvoedkundige diep spore in die Suid-Afrikaanse samelewing getrap. In hierdie opsig is daar een oorheersende tema wat uitstaan, naamlik die Christelik- nasionale onderwysbeginsel. Uit sy proefskrifte, artikels en boeke kan ’n mens Totius se betrokkenheid by die CNO-stryd net na die Anglo-Boereoorlog duidelik sien – by die belangrike rolle wat hy gespeel het in kongresse, sinodes, as lid van nasionale komitees wat betrokke was by beleidsbepaling, lewering van verslae en as rigtingwyser (Woord en Daad, Februarie 1977).

In 1904 was hy lid van die Kommissie van Advies van die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk wat beleid en riglyne ten opsigte van die uitvoering van die Gereformeerde beginsel in die onderwys moes bepaal. Die CNO-skole is aan die regering oorgedra en in 1907 was Totius lid van die kommissie wat ‘n konsepstatuut vir ’n Vereniging vir CNO vir Suid-Afrika moes opstel. In 1909 en ook in 1911 is hy tot lid van die nasionale hoofbestuur verkies.

Met die opstel van ’n verslag in 1913 waarin daar ’n Christelike normaalskool vir die destydse Transvaal bepleit is, vir was Totius een van die belangrikste lede. ’n CNO-kongres is in 1917 in Bloemfontein gehou waartydens hy ’n referaat gelewer het oor "Die plek van die skool in ons samelewing".

In sy artikel in Woord en Daad (Februarie 1977) gaan Johann Bekker voort om ook Totius se rol ten opsigte van ander fasette van die opvoedkunde te bespreek, veral die filosofie van die opvoedkunde, praktiese opvoedkunde en historiese opvoedkunde.

Bekker sluit sy artikel af: "In ’n tydperk van verwarring ten opsigte van essensiële grondbeginsels, het dr JD du Toit en sy medestanders ’n helder koers ingeslaan. Hy self het deurgaans rotsvas op die CNO-beginsel gestaan. Die Vrye Groepskool-gedagte is nie verwesenlik nie, maar sekere kernbeginsels word nog gehuldig, eerbiedig en onthou. ’n Fondament is gelê en sy waarskuwings ten opsigte van die humanistiese teenoor die christelike gees bly steeds geldig, so ook die waarde van dogma in die godsdiensonderrig, en van die kernbelangrike rol van ouerseggenskap in die onderwys."

Wat Totius se digwerk betref: hy het in 1908 gedebuteer met Bij die monument, wat H Venter (Koers, Junie 1948) ’n "beskeie bundeltjie" genoem het. Dit was egter nie sy eerste gepubliseerde gedigte nie. Tydens die Eerste Taalbeweging het hy onder die skuilnaam Jaduto gedig, maar hoofsaaklik vertalings gelewer. Hy was egter reeds in die 1890's ’n ywerige deelnemer aan die taalstryd en was in 1895 die versorger van die tweede druk van Die geskiedenis van ons land in die taal van ons volk wat hy op datum gebring het.

In die voorwoord tot Bij die monument het pres Steyn geskryf: "Noudat jong Suid-Afrika sigself bewus word, en drome droom van ’n eige literatuur, verwelkom ik die soort van pennevrugte van ganser harte. Voor mij is die eerstelinge van onse literatuur so heerlik als die geluid van die eerste reëndruppels na ’n langdurige droogte!"

Terugskouend het Gerrit Dekker in Standpunte van 1955 die volgende oor Bij die monument geskryf: "Totius kan sy ontroering verbeeld in vorme, in beelde en wendinge wat nie altyd in die eerste plek eie vinding is nie maar wat wel self beleef is. Hy is nie revolusionêre digter, vormvernuwer, vormskepper nie. Hy is in dié sin tradisionalis, en van hom geld wat Verwey van Van Eeden gesê het: 'hij schept de taal niet, maar hij hanteert haar' - 'taal' in die wydste sin van die woord -, hoewel die begrip 'hanteert' te meganies is. Van hom kan nie gesê word nie wat dieselfde kritikus van Van Deyssel se 'Frank Rozelaar' gesê het: 'Het tragische van dit boek ligt hierin dat de schrijver dit denkbeeld wel bewoont, maar het niet beleeft.' Al die oorgelewerde gelykenisse (...) beleef hy op heel persoonlike wyse, veral ook deur sy innige inlewing in die Bybel, die oerbron van hierdie gelykenisse. Die Bybeltekste wat hy telkens as motto plaas, is nie maar 'afterthought' nie – hulle dui die oorsprong van sy siening, die grondtoon van sy ontroering aan, sy bepeinsing van wat reeds vroeër in die geloof gesê is. Dikwels het hy ook wat hy in die Skrif in kiem gevind het, tot eksplisiete beeld of gelykenis uitgewerk. En heeltemal in die gees van die Bybel skep hy self nuwe gelykenisse: die wilgerboom as beeld van ootmoedige skuldbesef, die lafenis skenkende ou put en die gewilliglik in die diepte sinkende betonblokke van die breekwater in Tafelbaai as beelde van die selfverloënende moederlewe (...). Dis nie fonkelende beelde soos gesien deur ’n sterk 'temperamentele' digter met ’n hewige ontvanklikheid vir wat die sintuie beroer, geen felle gewaarwording van kleur of lyn of klank nie. Die ontroerde peinser verhef tooilose dinge uit die vertroude sfeer van eie land, met sy nederige skoonheid, tot sag-glansende beeld van innige mymeringslewe.

"Soos reeds ten opsigte van sommige gedigte aangetoon, ontkom Totius nie aan die gevare waaraan ook hierdie stylaard blootstaan as by swakkere besieling verstandelike opset die plek wil inneem van spontaan gegroeide gelykenis nie."

Vir Dekker is "Kindergraffies" en "Vergewe en vergeet" twee van Totius se gedigte wat tot die suiwerstes van sy gedigte behoort.

Dekker skryf in dieselfde Standpunte (1955) dat die "grondtoon" van Totius se tweede bundel, Verse van Potgieter's trek, heeltemal anders is as sy eerste bundel s'n. "Totius gee hier nie bepeinsing van volksmart nie maar besing epiese stof. ’n Grootse konsepsie sweef hom voor: die geskiedenis van die donker kontinent, van die rol wat die blanke daarin gespeel het, voortgestu deur die ideaal van die Voortrekker by uitnemendheid, Hendrik Potgieter. Hy staan in hierdie konsepsie, soos ook in die literêre vorm, seker onder die invloed van die sy Calvinistiese geesgenoot maar digterlike antipode, die gloedvolle retorikus Isaäc da Costa. Maar Totius is in wese ’n lirikus, en die werk het ’n bundel afsonderlike gedigte gebly, fragmente van hierdie onvoldrae epiese konsepsie, in ’n verskeidenheid van digvorme. (...) Tot werklike simboliek styg Verse van Potgieter's trek selde. Daarvoor is dit te retories."

In Koers van Desember 1934 het G Dekker geskryf dat met die publikasie van Wilgerboombogies dit die eerste maal is dat die "digter van suiwer persoonlike liriek" na vore kom – "die sanger wat sy leed uitkla, met befloerste stem vol innigheid getuig van die wondere wysheid Gods wat aan hom in die smarte van sy lewe geopenbaar is. Hier kom sy ontroering tot volle verdieping en verreining – die bisondere word vergeestelik tot suiwerste simboliek."

In Die Brandwag van 15 Junie 1912 het A Francken geskryf dat Wilgerboombogies een van "onze klassieken" sou word.

Oor Rachel wat in 1913 verskyn het, het DF Malherbe in De Goede Hoop (1 Desember 1913) geskryf dat dit ’n "literaire skepping is waarin volheid van klank en rykdom, van beeld en gedagte, verenig om ’n magtig-werkende, diep-aangrypende stemming teweeg te bring. Totius het hier ’n kragtige stap vooruitgekom op syn digterloopbaan en ’n hoogte bereik in die elegiese genre wat hom beroemd sou maak als syn werk in ’n wereldtaal geskrewe was."

In Rachel word die Bybelse vrou "in haar lyding en rou als verhewe sinnebeeld geteken van algemene vroueleed en in die besonder van die lyding en opoffering van die Boerevroue. (...) Uitdrukking van inniggevoelde simpatie met die vrou in al haar lyding en opoffering, verheerliking van die vrou wat moeder wil wees en haar moederpligte tot in die dood wil vervul, dit is wat die gedigte wil verkondig. Van al die kranse, wat op 16 Desember aan die voet van die Vrouemonument sal geleg word, sal daar geen wees wat in die verste verte met die liederekrans van Totius kan vergelyk word nie. Dit sal lewe net so lang en mogelik langer als die Vrouemonument self."

In Die Huisgenoot van Augustus 1916 het die resensent (onbekend) Totius se volgende bundel, Trekkerswee, as ’n "epies-lyriese gedig" beskryf, "waarin die digter die eintlike verhaal gedurig afbreek ten einde een of ander liersang daartussen te skuiwe. Dat Totius dit verstaan om met dié moeilike kunsvorm wondere te werk, weet elkeen, wat Rachel gelees het; en Trekkerswee lewer ook weer ’n kragtige bewijs van die meesterskap van die digter in dié digsoort. (...)

"Ja, dit is waarlik wonderlik, hoe Totius alles uit die Afrikaanse natuur en uit die Afrikaanse omgewing weet te gebruik als ’n beeld om ons die wese van ons volk voor oë te stel. Ons weet almaal, op hoet treffende wijse dit reeds geskied is met die ossewa en die besembos in ’n vorige bundel; daarbij moet voortaan ook die tentwa en die ketel genoem word.

"Voor ons eindig wil ons net met ’n woordjie van waardering gewaag van die kunsvolle tekeninge van die heer Pierneef wat die bundeltjie versier. Ons het Trekkerswee in ieder opsig so mooi gevind, dat ons vas oortuig is, dat elke Afrikaner die gedig sal koop en lees en hulde breng aan die skrijwer, wat ons letterkunde met so ’n kunsstuk verrijk het."

Totius was ook die eerste wenner van die Hertzogprys in 1915 met Trekkerswee, ’n mylpaal wat hy weer bereik het met die ontvangs van dieselfde prys vir sy volgende bundel, Passieblomme (1934).

CM van den Heever het in Huisgenoot van 3 Augustus 1934 geskryf dat die leser van Passieblomme nie weer gedigte oor die volkslewe en -gedagte soos in Rachel en Trekkerswee moet verwag nie, aangesien die gedigte hier die "intiem-persoonlike smartbelewing van die digter" uitbeeld.

"Op die gebied van die persoonlike liriek is Totius die sterkste. Hier kom tot suiwer, kristal-heldere uiting sy innige gevoel wat altyd neig na die Diepte. (...) Passieblomme het veral ontstaan na aanleiding van die dood van twee van Totius se kinders: ’n seuntjie as gevolg van harsingvliesontsteking en ’n dogtertjie wat deur ’n weerligstraal getref is. Totius is die digter van die eensaamheid, en die smart wat hierdie groot verlies by hom opgewek het, het dan ook veral tot eensaamheidsbeelde verinnig, beelde waarop die skaduwees lê van weemoedige gemymer.

"Net soos in Wilgerboombogies word die tegniek van hierdie gedigte – baie is reeds ’n twaalf jaar oud – nie gekenmerk deur die verjongende werking van enjambement, ’n verlewendigende stuwing van gesigs- en gehoorsbeelde, ’n bonte afwisseling van intuïtief verhelderende sieninge nie. Die vormlewe van die gedigte getuig van ’n gevoelige innerlike wat nie tot opstandigheid geskok word deur verlies en ontnugtering nie, maar tot inkeer geroep word en die uiterlike verinnerlik tot simboliese beelde. Die gedagte vloei rustig, daar is soms selfs ’n oorheersing van die metrum oor die ritme, wat herinner aan baie psalm-berymings, maar daar is die onmiskenbare egte gevoel wat beelde skep en stuwing gee, nie kragtig of groots nie, maar eg en oortuigend.

"Soos soveel van Totius se werk is die bundeltjie in drie dele verdeel: onheil, onrus, berusting, en die gedigte in elke afdeling simboliseer dan vir ons ’n gevoelstoestand. Van groot verdriet kom die digter tot berusting in God. Maar hierdie proses gebeur nie gou nie. Die Calvinistiese digter se geloofsvertroue word swaar getoets en die doodsgeheim wil in sy vreeslikheid die digter se hele denklewe soms oorweldig. Die bundeltjie bevat deurleefde smartoomblikke wat so kenmerkend is van hierdie digter. (...)

"Totius het met hierdie bundeltjie die bewys gelewer dat hy nie 'uitgeskrywe' is nie. Hy is ’n digter wat van nature geneig is tot die digterlike bespieëling en soos Gezelle, sy geestesverwant, sal hy op sy oudag vir ons ’n beeld gee van ’n geadelde lewenservaring."

In Uit donker Afrika (1936) kon die leser verbeterde weergawes van die belangrikste verse uit Potgieter's trek vind, asook heelwat vaderlandse verse wat in die bundel vir die eerste maal in druk verskyn het. Die resensent in Ons Eie Boek (Januarie tot Maart 1936) het baie gehou van die verse uit Potgieter's trek. "Hulle is soms sterk in hul voordeel verander. Hul behoort nog tot die beste liriese uitinge van die digter. (...) Vir die toegevoegde gedigte het ons helaas weinig lof. Hier is die tipiese saaie en onbesielde van sy voor-Tagtiger voorbeelde in al hul banaliteit van vorm en inhoud, wat Verwey vir Totius, met ’n mate van reg, tot ’n digter van die verlede laat sorteer. Totius wil so graag epicus wees, maar daartoe ontbreek hom die nodige spankrag en visioenêre beelding. Dan probeer hy baie noodlottig om dit met dorre beredenering aan te vul."

In Die Huisgenoot van 24 April 1936 was G Dekker meer positief oor Uit donker Afrika. Dekker was van mening dat Totius met Passieblomme en Uit donker Afrika ’n "gesuiwerde en verinnigde kuns gelewer het".

Totius se laaste bundel gedigte was Skemering, wat in 1948 gepubliseer is. G Dekker was die resensent vir Die Huisgenoot van 30 Julie 1948 en hy het geskryf dat hierdie bundel se titel net sowel Herfsblare kon gewees het. Dekker was ook van mening dat Skemering "konsepsioneel nie so ’n eenheid as Totius se vorige bundels vorm nie. Tog is dit nie slegs ’n versameling onsamehangende gedigte nie, nie slegs 'verstrooide blare' nie. Die diepere eenheid is geleë in die digterfiguur wat daarin tot openbaring kom en wat ons reeds ken uit sy vorige werke. Nuwe lig werp die bundel nie op daardie kunstenaarpersoonlikheid nie, maar die beeld word weer bevestig en in sommige gedigte, veral in die eerste afdeling, verinnig, terwyl ook die ander afdelings naas werk wat minder deurgloei is tot suiwerheid, verse bring wat op die peil van Totius se beste kuns staan.

"Daar word die afgelope tyd betoog dat Totius nie direk in die dinamiese ontwikkelingsgang staan wat vanaf Marais oor Leipoldt en Toon van den Heever na Van Wyk Louw loop nie. Teenoor die waarheid wat hierin mag skuil, moet egter gewys word op die gevaar van eensydigheid waartoe hierdie historiese siening lei as dit ook waardebepaling wil wees. Van belang in die loop van die rivier is nie alleen die stroomversnellinge nie, maar ook die dieper gedeeltes waardeur die water langsamer stroom. Die kuns van Totius is een van dié seënryke poele waaromheen die wilgers mymerend hang."

Oor Totius se Kinderverse vir huis en skool, wat in 1920 verskyn het, was die resensent van Die Brandwag (Mei 1920) nie baie vleiend nie: "Suidafrika het kinderversies so bitter van node dat ’n mens geneigd was om Totius toe te juig vóór jij nog sij boekie oopgemaak het. Ongelukkig was desillusie druk op die spoor van die kennismaking, want die tietel is ongetwijfeld ’n wanvoorstelling van die werklikheid. Watter naam hulle ook mag verdien, kinderversies is hulle seker in enige opsig nie. Ouer-versies kon hulle met meer reg genoem word, en hieromtrent het, (volgens sij inleiding) bij die skrijwer self twijfel ontstaan. (...)

"Dit sou miskien onregvêrdig wees om die versies als kinder-versies te beoordeel, wijl die tietel so klaarblijkelik ’n verkeerde voorstelling is. Net één ding mag ons sê: dat ons die ongelukkige kindjie diep bejammer wat deur ouer of meester gedwing word om die versies te lees of te leer of aan te hoor, terwijl hij al die tijd weet dat hij buite bij die waanhuis die ou Boesman die vier lijne van 'Jan Piet-de-Wiet' kan hoor resiteer, of 'Daar kom die bobbejane!'"

In 1949 het CM van den Heever ’n keuse uit Totius se gedigte gemaak en is dit gepubliseer onder die titel ’n Keur uit die gedigte van Totius met ’n inleiding deur die samesteller. Die resensent van Die Vaderland (11 Maart 1950) was van mening dat hierdie keuse ’n baie goeie geheelbeeld van Totius se digterlike vermoë weerspieël. "Om poësie in sy eenvoudige, onvertroebelde vorm te bestudeer, kan ons aan geen beter digter as Totius dink nie. So helder en ongekompliseerd is sy gedigte dat ’n mens enigeen daarvan aan ’n matriekklas in Afrikaans kan voorlê en weet dat elke leerling die gedig werklik in sy wese verstaan. (...) Dit word tyd dat na die kritiese chaos van die afgelope paar jaar die regmatige plek van die ouer digters aan hulle toegeken word. Wie Totius se poësie met aandag en onbevooroordeeldheid bestudeer, sal insien dat ons hier met ’n eersterangse digter te doen het wat van die suiwerste gedigte wat ons besit, geskep het."

Daar het ook in 1988 ’n Versamelde gedigte van Totius by Tafelberg verskyn. Vyftig gedigte van hom het in 1976 verskyn en van sy gedigte is saam met Celliers en Leipoldt s'n opgeneem in Driesprong in 1978. Elf dele van Totius se Versamelde werke is sedert 1960 ook gepubliseer.

VE d'Assonville het gedurende sy navorsing vir sy biografie oor Totius op ongeveer 30 gedigte afgekom wat nooit gepubliseer is nie, asook enkele gedigte wat destyds in tydskrifte verskyn het, maar nie in sy Versamelde werke ingesluit is nie. Een van die gedigte wat D'Assonville gekry het wat in geen onbesliste taal spreek van Totius se afkeer van die Engelsgesinde Afrikaners nie, lui:

Ons kan gerus maar allemaal
Laat spat en spaner.
Dis hier ’n land van Jingo's en
van Kakie-Afrikaners.
Die miere het ’n koning en
’n land, waar hul tevrede
op miermanier kan leef, bevryd
van Kakie-narighede. (Taalgenoot, September 1996)

Op 1 Julie 1953 is Totius op 76-jarige ouderdom in die huis van sy seun Japie in Pretoria oorlede nadat hy vyf weke lank siek was. Hy is oorlewe deur sy vrou Marie en vier kinders.

Huldeblyke

  • A Roland Holst: "Wat my die meeste van Totius getref het, is sy byna heilige eenvoud, sy vriendelikheid, sy rus, sy erns, geen sweem van hoogmoed maar ’n opvallende skroom, ’n mens met edele kuisheid van siel, ’n suiwer mens. Geen wonder dat so ’n man die volksgewete van die Afrikaner beliggaam nie." (Padlangs, Maart 1977)
  • CM van den Heever: "Alhoewel hy professor van die Gereformeerde Kerk was, het sy wetenskaplike arbeid en digterskap hom verhef bo elke kerklike skeiding tot ’n figuur wat aan die hele Afrikaanse volk behoort. Sy bydrae tot die vertaling van die Bybel en die psalmboek in sy volk se taal was onvergeetlik groot. As opregte vaderlander het hy ook op meer as een tydstip met sy besielende woorde leiding gegee. Sy digterskap het van hom ’n profeet van sy volk gemaak." (Padlangs, Maart 1977)
  • Volksblad, 2 Julie 1953: "Wat veral beklemtoon moet word, is Totius se grootheid van gees, wat hom nie alleen ’n beminde leier in sy eie kerk gemaak het nie, maar hom oor die grense van die eie kerkverband laat heenreik het. Totius het nooit die maklike weg in die lewe gekies nie en ook selde vanself daarop beland. Hy het steeds verkies om saam met die minderheid smadelik behandel te word. (...) Totius is meermale vartes genoem. Met hierdie woord het die ou Romeine ‘n profeet, siener of sigter aangedui. Sy huldigers meen dat dit vandag nog die geskikste woord is om Totius te tipeer, veral met die oog op die hoë roeping wat hy en sy werk in ons volkslewe vervul het."
  • Volksblad (hoofartikel 2 Julie 1953): "Die hele Afrikanerdom beween vandag die heengaan van Totius, een van die heel grootste manne wat ons jong volk nog opgelewer het, ’n geestelike leier wie se lewenswerk deur die eeue heen sal voortleef. In die hart van die Afrikanerdom het ’n groot en dankbare liefde gebrand vir die beskeie en nederige Totius, wat, in weerwil van die buitengewone aansien wat hy in alle kringe geniet het, nooit anders was nie as opreg vriendelik en genaakbaar, met ’n humoristiese vonkeling in die oog en ’n onskuldige grappie vir almal met wie hy in aanraking gekom het en saam geleef en gewerk het. (...)

"Maar Totius het drie grootse take met onderskeiding verrig: hy was Calvinistiese teoloog, prediker en leermeester van naam; hy was Bybelvertaler en Psalmdigter wat in sy Afrikaanse Psalmberyming van die skoonste gewyde digwerk in die wêreld as erfenis aan ’n Christelike volk nagelaat het; hy was volksman en digter wat in sy eerste werke in opregtheid en diepe ontroering uiting gegee het aan die skrynende leed van ’n verwoeste en verskeurde volk en in sy latere jare ’n brug geslaan het tussen die eerste groot Afrikaanse volksdigters en die latere geslag Afrikaanse woordkunstenaars. Boonop was hy jare lank ’n erkende figuur in die Christelike joernalistiek."

  • C Louis Leipoldt: "Sy rang in ons Afrikaanse letterkunde kan vandag nog nie met volkome juistheid vasgestel word nie. Ons staan nog te na aan die gebeurtenisse wat bygedra het om aan sy werk ’n besondere betekenis en waarde te gee, om onpartydig dit te kan beoordeel. Maar niemand wat die minste gevoel vir poësie besit, niemand wat digterlike besieling en fantasie waardeer, en niemand wat waarheid erken as die hoogste vereiste van kunstenaarswerk, sal ooit twyfel dat hy die digterlike gawe in ruim mate besit, dat hy die talente waarmee hy bedeel was tot die beste van sy vermoë en met ’n wonderlike mate van sukses ontgin het, en dat sy digkuns uitblink deur opregtheid van gevoel, beskouing en vertolking.

"As volksdigter het hy noual ’n roem en ’n naam, en dit is onwaarskynlik dat in die verloop van tyd die kundige kritiek hom ’n laer plek sal toeken as wat hy reeds besit. Inteendeel, my eie mening is dat hy in die toekoms meer en hoër sal gewaardeer word." (Volksblad, 2 Julie 1953)

  • EC Pienaar: "So het hy ruim sestien jaar van sy lewe hoofsaaklik aan die Afrikaanse Bybelvertaling gewy, en dit moes vir hom ’n oorsaak van blywende vreugde gewees het dat hy as een van die begin- en eindvertalers daarvan kon optree en die verskyning daarvan kon beleef. Maar daarnaas het hy sedert baie jare ook aan die Afrikaanse psalmberyming gewerk en uiteindelik in medewerking met die betrokke interkerklike kommissie, die voldoening gesmaak om die Psalms in 1937 in druk te sien vir gebruik in sy eie kerk, en sy teks verder in 1944 opgeneem te sien in die nuwe psalm- en gesangboek van die ander Afrikaanse kerke. Ook vir hierdie groot taak was hy so te sê in die wieg gelê en verder nog voorberei deur sy voorafgaande vertaling van die Skrif-Psalms.

"Hier het Totius nie net ’n vertaling gelewer van die ou Nederlandse teks nie, maar in baie gevalle ’n besielde en kunsvolle vertolking van die oorspronklike Skrif-teks wat die ou Nederlandse beryming dikwels in skoonheid oortref. Volgens my beraming sal Totius se Psalmberyming sy grootste en mees blywende bydrae tot ons letterkunde blyk te wees." (Die Burger, 3 Julie 1953)

  • DJ Opperman:

In memoriam

Telkens as hierdie volk van God afdwaal,
sal hy in Afrika se klip en kaal
herinner word hoe groot Hy is
deur die tinktinkietaal van Totius. (Blom en baaierd) (Woord en Daad, Februarie 1977)

  • Klaas Steytler nadat hy Versamelde werke in 1977 persklaar gemaak het: "’n Mens moet met jou oë oop, noulettend deur hierdie man se groot arbeid beweeg. Dan eers kom ’n mens agter hoe groot sy landskap is, hoe vrugbaar die veld is, dan eers besef jy dat sy gestalte in die toekoms nog groter gaan wees was wat dit selfs nou is." (Volksblad, 17 Februarie 1977)

In Februarie 1977 met die 100ste herdenking van Totius se geboortedag is ’n landswye fees gereël om die geleentheid te vier. Terselfdertyd is ’n nuwe uitgawe van sy Versamelde werke gepubliseer, asook twee gesaghebbende bundels oor hom en sy werk, naamlik Die lewende Totius, wat deur Merwe Scholtz saamgestel is, en Totius: Balansstaat, wat 26 reeds gepubliseerde opstelle oor Totius bevat en deur FIJ van Rensburg saamgestel is. Ook het ’n familielid, Mione du Toit, Skrywers in beeld – Totius saamgestel wat skaars foto's van Totius bevat.

In 1971 is ’n komitee onder voorsitterskap van T van der Walt daargestel om die huldiging van Totius te koördineer, skryf Martiens van Bart in Woonburger van 4 Julie 1998. Die komitee het in Februarie 1973 begin om die oprigting van ’n standbeeld van Totius op Potchefstroom te bespreek. WJ Steyn, ‘n argitek, en Jo Roos, ‘n beeldhouer, is genader om ’n monument ter ere van Totius te ontwerp.

Die Totius-gedenktuin is langs die Wasgoedspruit uitgelê en geld is oor die land ingesamel vir die projek. Die sakeman Louis Luyt het die oprigtingskoste van die monument gefinansier en dit is tydens die Totius-eeufees deur die destydse premier, BJ Vorster, onthul. In 2009, nadat die beeld van Totius gevandaliseer is, is besluit om dit na die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit te verskuif. Jo Roos, die oorspronklike beeldhouer, was verantwoordelik vir die opknapping daarvan.

Totius het ’n belangrike rol in die geskiedenis van die destydse PU vir CHO gespeel, aangesien hy die dryfveer agter die verskuiwing van Burgersdorp na Potchefstroom was. Hy was ook die universiteit se eerste kanselier.

Op 19 Augustus 1994 het die Afrikaanse Kultuurraad van Pretoria ’n huldigingsprogram oor Totius aangebied. Die program sou bestaan uit tablo's, voordrag, sang en musiek.

Tydens die Aardklop Kunstefees in 2000 op Potchefstroom is twee inheemse bome, vaderlandswilgers, in die Cachetpark geplant ter ere van Totius en Sol Plaatje, wat albei in 1877 gebore is en albei hulle ervarings van die Anglo-Boereoorlog in dagboeke opgeteken het.

In Totius se eeufeesjaar het TT Cloete in Woord en Daad van Februarie 1977 die volgende oor Totius as digter geskryf: "Totius was ook ’n skrywer wie se betekenis méér as literêr was en is. In sy versamelde werk neem sy poësie maar ongeveer ’n tiende deel in beslag. Hy was iemand vir die Afrikaner op nasionale, godsdienstige, algemene kulturele en baie ander gebiede.

"Daar is ook ’n deel van sy werk wat nie tot sy poësie behoort nie en tog vir die groei van ons taal dieselfde betekenis gehad het as sy gedigte. Ek dink byvoorbeeld aan sy Bybelvertaalwerk. ’n Mens vra jou af of hy met sy gedigte meer gedoen het vir die slyp van ons taal as instrument as deur sy Bybelvertaalwerk. In dieselfde tyd toe hy in sy gedigte nog ’n soort literêre boektaal gebruik het, het hy in dele uit die Bybel wat hy vertaal het die eenvoudigste, nederigste en mooiste egte-Afrikaans gebruik. (...)

"Een van die dinge wat die betekenis van Totius vir ons literatuur belangrik maak, is dat hy, byna soos niemand anders nie, die groei van ons letterkunde meegemaak het van die Patriottyd af tot teen 1950, dit wil sê tot in dié tyd wat die Afrikaanse literatuur in ’n snelle groei ’n pragtige hoogtepunt bereik het. (...)

"Totius se invloed is merkbaar in werk van Van Wyk Louw, CM van den Heever en Opperman om maar enkele name te noem. Hierdie skrywers en ander (byvoorbeeld WEG Louw) het dan ook hul waardering vir hom uitgespreek. Totius het die Afrikaanse taal in sy gedigte gevorm, en hy het ’n verskeidenheid digsoorte beoefen. (...)

"Ons moet dit egter onder die oë sien dat Totius se invloed op ’n bepaalde tydstip opgehou het en dat die huidige geslag digters min waardering vir hom het, nie so min as vir Celliers nie, maar baie minder as vir Leipoldt en Marais. (...)

"’n Klein groepie gedigte van hom het inderdaad oorgebly wat stand gehou het en literêr bevredig, maar net so min as wat ons die betekenis van Totius se totale verskyning in die Afrikaanse literêre wêreld kan wegredeneer, net so min kan ons hierdie klein groepie gedigte vandag mis in ons klein literatuur. (...)

“Hy was gedurende ’n sekere tyd van sy digterskap (laat ons sê tot teen die Dertigerjare) ’n baie groter figuur in die Afrikaanse letterkunde as vandag, vir die Afrikaner waarskynlik die grootste van sy geslag, en die betekenis wat hy vir daardie tyd gehad het, verdwyn nog nie met die mindere betekenis wat hy vandag het nie.

"Dit is ook betekenisvol dat van sy eie verse wat literêr gebrekkig is, in ’n nuwe glansender gedaante bly voortleef in later, voortreflike werk, soos ‘Die breekwater’ uit Ragel wat naklink in die passasie ‘o wye en droewe land’ in Van Wyk Louw se Die dieper reg. Totius was baie eng betrokke by sy tyd. Daarin het deels sy krag gelê, deels ook sy beperking. Maar hy het ook vooruitgesien. Die vraag wat hy in Uit donker Afrika vra in ‘Wie sal die land bewaar?’, klink vandag nog – onbeantwoord. (...)

"Totius het ook maar soos Van Wyk Louw in ‘Die beiteltjie’ met ’n klein instrumentjie gewerk, maar iets daarmee gedoen, ter wille van Afrikaans, die Afrikaner en Iets groter as hyself."

Oor Totius as mens het G Dekker en JL de Villiers in Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek (Deel III) meer vertel: "Hy was tingerig gebou, nie sterk van gestel nie, maar verrassend taai. Hy was lief vir die eensaamheid in die natuur, lief vir visvang en ’n gereelde wandelaar. Maar hierdie ingekeerde peinser met die geboë gestalte was ook lief vir geselskap en het in sy nederigheid graag met die eenvoudiges en met jongmense verkeer. Hy het ’n fyn humorsin gehad en daardeur in menige krisismoment die spanning gebreek. Hy was musikaal en het verskillende instrumente bespeel, onder meer die siter. As 'Totius' het hy in toenemende mate geliefd geword by sy volk oor politieke en kerklike grense heen."

Tydens die Aardklop Kunstefees van 2015 is Die rus is elders op die planke gebring. Die bekende akteur Louis van Niekerk is die verteller wat met die hulp van ’n boek wat geprojekteer word, grepe uit Totius se lewe vertel. Sang en musiek deur Olga Leonard, Babette Viljoen en Izelle Claassen van Totius se gedigte bied afwisseling van die beelde en vertellings.

“Totius se ryk gedigteskat het dit maklik gemaak om gedigte daarvoor te kies,” het Babette Viljoen aan Willem de Vries vertel (Die Burger, 21 September 2015). “Gedigte soos ‘O die pyn­gedagte’ en ‘Die Godsbesluit’ handel oor die pyn van verlies – iets waarmee elke liewe mens op aarde te doen kry. Dan het Totius ook oor die liefde geskryf, verlange na die groener gras aan die ander kant van die draad, godsdiens, die soeke na iets groter of beter – alles konsepte wat deel van menswees is. Uiteenlopende gehoorlede sal kan aanklank vind by die ­produksie.”

Vir Olga Leonard staan Totius se vertaling van die Bybel en Psalmberymings uit. “Totius mag dalk vandag as ‘outyds’ bestempel word, maar vir die tyd waarin hy geleef het, was hy vry­den­kend, ietwat rebels en het hy baanbrekerswerk gedoen.”

Babette Viljoen was veral beïndruk deur die besef dat "hy ’n ­gewone mens was, en ’n groot stuk menslike emosies en ­relevante kwessies in sy digkuns vervat het. Ek het ook die idee gekry dat Totius byna sy hele ­lewe aan Bybelvertaling ­gewy het. Daardie deursettingsvermoë en toewyding is vir my merkwaardig.”

In Die rus is elders word sy lewensverhaal vertel, sê sy. “Die verhaal word toegelig met gepaste toonsettings, wat natuurlik ‘Vergewe en vergeet’, ‘Die wêreld is my woning nie’ en ander bekende Totius-werke insluit. Dr Pierre-André Viviers het die teks geskryf en gedigte laat inpas, waarna ek en Olga Leonard die toonsettings gedoen en saam met Izelle Claassen ­verwerk het. Met die musiek probeer ons om Totius se swaar gedigte te omskep in iets mooi wat steeds die emosies vasvang.”

In 2015 was Totius verder in die nuus toe die drukgroep ReformPUK gevra het dat sy beeld voor die hoofgebou van die NWU verwyder moet word omdat hy "apartheid gesteun en uit die Bybel geregverdig het" (Susan Cilliers, Beeld, 22 Oktober 2015). Dit het gelyk asof rassekonflik sou uitbreek toe ’n groep swart ondersteuners van ReformPUK die beeld bestorm en ’n groep hoofsaaklik wit studente dit beskerm het.

Uit Totius se versamelde werke blyk dit dat hy inderdaad ’n beleid van rasseskeiding uit die Bybel regverdig het. Dit is onder meer vervat in ’n referaat wat hy in 1944 op die Volkskongres oor Rassebeleid gelewer het. Dit was getiteld “Die godsdienstige grondslag van ons rassebeleid”.

Rikus Fick, kerkhistorikus aan die NWU, het aan Susan Cilliers gesê dat Totius se opvattings binne konteks gesien moet word. “Dis eerstens gemaak binne die konteks van die tydsgees waarin hy geleef het. Tweedens was dit geensins die hoofmomente van sy besige lewe nie.”

Publikasies 

Publikasie

  • Bij die monument
  • By die monument

Publikasiedatum

  • 1908
  • 1917

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery
  • Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Verse van Potgieter's trek

Publikasiedatum

  • 1909
  • 1913

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: Het Westen
  • Potchefstroom: AH Koomans

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Wilgerboombogies

Publikasiedatum

  • 1912
  • 1920
  • 1923
  • 1924
  • 1925
  • 1929
  • 1936
  • 1938
  • 1939

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Het Volksblad
  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Het Westen
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

  • Rachel
  • Ragel

Publikasiedatum

  • 1913
  • 1923
  • 1928
  • 1932
  • 1934
  • 1950

ISBN

(sb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery
  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Bloemfontein: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Trekkerswee

Publikasiedatum

  • 1916
  • 192-
  • 1915
  • 1932
  • 1933
  • 1937
  • 1939
  • 1947
  • 1949
  • 1960
  • 1965
  • 1968
  • 1972
  • 1975
  • 1981

ISBN

  • (sb)
  • 0624002845 (hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste- Drukkery
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1916

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Kinderverse vir huis en skool

Publikasiedatum

1920

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Potchefstroom: AH Koomans
  • Potchefstroom: Die Weste-Drukkery

Literêre vorm

Kinderverse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Passieblomme

Publikasiedatum

  • 1934
  • 1936
  • 1938
  • 1939
  • 1942
  • 1943
  • 1946
  • 1958
  • 1959
  • 1965
  • 1982
  • 1988

ISBN

  • (sb)
  • 0624018121 (sb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Johannesburg: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys 1934

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Uit donker Afrika

Publikasiedatum

1936

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Die trek van Boerewaens

Publikasiedatum

1938

ISBN

(sb)

Uitgewer

Potchefstroom: PUK

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Skemering

Publikasiedatum

  • 1948
  • 1949
  • 1953
  • 1963
  • 1973

ISBN

  • (hb)
  • 062400287X (hb)

Uitgewer

  • Bloemfontein: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Keur uit die gedigte van Totius. Versamel deur CM van den Heever

Publikasiedatum

1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Bloemfontein: Nasionale Pers

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vyftig gedigte: ’n keur

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008010 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde werke: Deel 1 tot 11

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1977

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Vier-en-sestig dae te velde: ’n oorlogsdagboek. Saamgestel deur VE d'Assonville

Publikasiedatum

  • 1977
  • 2001

ISBN

  • 0624008843 (hb)
  • 0620279125 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Tafelberg
  • Weltevredenpark: Marnix

Literêre vorm

Anglo-Boereoorlog

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Driesprong: ’n bloemlesing uit die gedigte van Celliers, Totius en Leipoldt

Publikasiedatum

1978

ISBN

0624011682 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Versamelde gedigte

Publikasiedatum

1988

ISBN

062402606X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels oor en deur Totius beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
  • Beyers, CF (red). 1977. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel III. Kaapstad: Tafelberg
  • D'Assonville, VE. 1993. Dit is Totius – JD du Toit 1877–1953. Lynnwoodrif: Marnix
  • Van den Heever, CM (samest). 1953. My jeugland: jeugherinneringe van Afrikaanse skrywers. Johannesburg: Afrikaanse Persboekhandel


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.  

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Dr IL J van Vuuren

    Baie dankie vir al die inligting oor `n geliefde teoloog, skrywer & volksman. Skande dat sy standbeeld verskuif is v/d kampus van NWU. Dit sal seker `n waardige plek kry waar dit waardeer en beskerm sal word.

  • Avatar
    Willem de Geus

    Good afternoon,

    For his 90th birthday my old father, dr AC de Geus, wants to present his guests the text of Totius' poem "Waar is 'n lot ...". (Waar is 'n lot dat soos Sy lot so hard is ...).
    Can anyone tell me in what year it has been written and what is the titel of the book it has been published in?
    Thank you very much in advance!

    Kind regards,
    Willem de Geus
    Hengstdijk, The Netherlands

  • Goeienaand, hier in die stilte van afsondering. Ek wonder of iemand my kan help met die gedig - vergewe en vergeet. Ek is 'n musikant, 67 jaar oud, so ek weet nie of daar van my groep nog in die nuwe era is nie. Ek het die gedig vir 'n konsert gesing in 1970, en ek doen hom nou nog, maar ek sal graag wil weet of iemand weet wie die toonsetting gedoen het. Ek het geen idee nie, maar die ou lied/gedig sing tog so lekker nog vandag. Kontak my as julle my kan help. Groete, Burt Rabie, Kuilsrivier.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top