Tot op die sewende vloer

  • 0

“Tot op die sewende vloer” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.

As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.

*

Tot op die sewende vloer

Ek stap laaste in. Soos ’n paar ontevrede lippe pers die metaalboksie haar deure saam, hou haar muwwe asem op. Die kabels teken hul gewone protes aan. En daar gaan ons.  Al ses van ons vermy mekaar se blikke op die geoefende manier van gereelde hysbakgebruikers. Die nommers van die vloere flikker vanoggend stadiger as gewoonlik verby: 1 ... 2 ... 3 ...

Max, in die middel van ons groepie, bult sy indrukwekkende biseps om op sy slimhorlosie te kyk. Hy gaan laat wees vir die redaksionele vergadering van die spiertiermanstydskrif waar hy werk. Plaas dat hy eerder die trap gevat het, dan sou hy ten minste sy steps vir die dag ook kon inkry. Hy slaak ’n pynlik stadige halitosesug. Ongetwyfeld die gevolg van ’n streng ketodieet. Deesdae is jy in sy bedryf óf ’n banter of ’n vegan. Dis heel aanvaarbaar om van een uiterste na die ander te pendulum, maar aan beide kante van die spektrum word die oë gerol vir die goeie ou voedselpiramide.

Margarita byt op haar lip – sy het ’n lead gekry vir ’n storie oor ’n sappige skandaal waarby verskeie celebs betrokke is, maar as sy nie haar litte roer nie, gaan iemand anders die storie voor haar neus wegraap.

Sean leun nonchalant teen die wand van die bedompige hokkie, onbesorg oor die feit dat dit gross en onverantwoordelik is om jou kop so teen die kieme van wie-weet-wie te laat rus asof Covid nooit gebeur het nie. Hy gee nie om om laat te wees nie, want sy werk as junior sub is nie besonder opbeurend of inspirerend nie. Wat hy wegsteek, is dat hy wel omgee oor die gevolge van sy laat wees, want sy baas is nie ’n genadige vrou nie en hy sal wel op een of ander manier vir die misstap betaal.

Liso is ’n intern by die webafdeling, maar hy droom van oor begin in ’n nuwe land met nuwe probleme waar niemand hom ken nie. Hy is gatvol vir Suid-Afrika met sy korrupsie en beurtkrag ? en geweld en haweloses en bedelaars. Dit moet beter gaan elders. Hy droom van Londen of New York.

Die nuwe vrou is miskien die mees gespanne van ons almal. Sy het ’n werksonderhoud op die 13de verdieping en baie dinge hang van hierdie werk af. Sy is ’n enkelma en die onderhoud wat haar eks betaal, is ’n grap. Maar meer nog ... sy het dit ook nodig om weer soos iémand te voel, nie net iemand se ma en iemand se eks nie.

4 ... 5... 6 ... Al hoe stadiger flikker die syfers verby. Max loer weer op sy horlosie. Liso mompel iets oor beurtkrag en Sean rol sy oë. Margarita haal rooi lipstiffie uit haar handsak en kleur haar lippe in – gereed vir die aanval. Die nuwe vrou, Isobel, tik ongeduldig met die toon van haar skerppuntskoen teen die hysbakvloer.

... 7 ...

En dan niks. Ons het gaan staan. Die deure van die hysbak gaan oop en toe, oop en toe, en dan bly dit oop. Max en Liso maak beurte om teen die knoppies in die hysbak te hamer – sonder enige effek. Een vir een haal ons ons selfone uit, maar daar is klaarblyklik geen sein nie. Liso raak iets kwyt oor korrupsie en wanbestuur by selfoonnetwerke. Margarita, met al die vindingrykheid van ’n joernalis, stel voor dat ons uitklim en ’n landlyn soek om die maintenance departement te bel. Een vir een verlaat ons die benoude hokkie. Agter ons gaan die deure toe.

Ek werk al tien jaar lank in die gebou, maar dis my eerste besoek aan die sewende verdieping. Die sewende verdieping is ’n plek waaroor daar nie graag in hierdie gebou gepraat word nie. Dit is waar onverkoopte boeke en tydskrifte – die mislukkings van die bedryf – heen gaan om ’n vernederende dood te sterf. Dit is waar hulle verpulp word om nuwe papier te maak vir nuwe woorde; woorde wat mindere eise aan die inligtingoorlaaide leser sal stel sodat dit hopelik beter sal verkoop.

Ek kyk om my rond: Daar is enkele hopies tydskrifte en hoë stapels boeke. By nadere inspeksie blyk die meeste digbundels te wees. Dit maak sin. Mense koop tydskrifte, in besonder dié met resepte. Dis verteerbaar. Romans, veral as hulle nie te dik is nie en as daar genoeg seks en geweld in is, vaar oor die algemeen oukei. Maar niemand lees digbundels nie.

’n Ryk, basbaritonstem verskyn uit die niet. “Die buffel ken geen metafisika.” My eerste gedagte is dat Leonard Cohen uit die dood herrys het en aan die Ander Kant Afrikaans geleer het. Dit moet egter Lexi wees. Almal weet van die verpulper se bestaan, hoewel niemand hom al ontmoet het nie. Daar is gerugte. Soos dat hy nooit die sewende verdieping verlaat nie, maar lewe van papier en drukkersink. En dat hy al die digbundels memoriseer voordat hy hulle verpulp om hulle sodoende uit die vergetelheid te ontruk. Ook dat hy mallerig is en net in versreëls praat.

Die figuur aan wie die stem behoort, kom te voorskyn: ’n maer man van onpeilbare ouderdom met sagte oë agter ’n dun goueraambril. Hy is pankop, maar sy vel toon geen teken van tyd se beitelwerk nie. Dalk het hy jonk bles geword of dalk ’n bied die gebrek aan sonskyn hier op die sewende vloer net doeltreffende beskerming teen plooie. Die lang, slanke vingers van sy regterhand is gekrul deur die oor van ’n klein espressokoppie gevul met ’n dik, gitswart vloeistof. Dit verg waarskynlik giftige sterk koffie om heeldag digbundels te memoriseer. En tog ... dis die reuk van nat ink eerder as varsgemaalde koffie wat my opval. 

Margarita mors nie tyd nie; sy beur vorentoe en vra vir ’n foon.

“Jou moesie-oor is my enigste telefoon,” antwoord Lexi uitdrukkingloos.

“Sies, jou perv,” skel Margarita met die rooi lippe, die joernalis wat nog nooit Krog gelees het nie. “Wie is jy anyway?”

“Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig.”

Max probeer die situasie red deur die dringendheid van sy redaksionele vergadering te verduidelik. “Kyk, my maat, tyd is geld in ons wêreld.”

Waarop Lexi ongestoord antwoord met “Die wêreld is ons woning nie.”

Liso verloor sy selfbeheersing. “As ek ooit uit hierdie verdomde plek kom, koop ek ’n one-way ticket Londen toe. Die hele land is in sy moer. Geen selfoonontvangs, geen brandtrap en ’n fokken wandelende digbundel. Net in donker Afrika ...”

“Maar die hart herkou steeds sy verdriet / oral, in elke landgebied,” kom die ongevraagde waarskuwing van Lexi.

Isobel, wat tot dusver tjoepstil was en al hoe meer gespanne geraak het, probeer die trane met moeite weghou. As sy nou huil, gaan haar maskara loop. “Alles hang af van hierdie onderhoud. Alles! Verstaan julle nie?” Sy sluk ’n snik in.

Lexi reageer met ’n kriptiese “O, huil nie as die hartseer, wat onthou / hoe blink jou liefde was, jou byna breek.”

Sean, wat op ’n stapel boeke gaan sit het – Die laaste reis deur Karel Schoeman as ek reg kyk – probeer rede in Lexi se kop inpraat. “Jis, man, ons het soos in werk om te doen, jy weet ... places to go, people to see, jy weet ...”

Nou raak Lexi spraaksaam: “Vroeër was ek gesteld / op seks en soma, op geweld / en eer en geld. / Nou is ek goedkoop / gesteld op bloedsomloop / en brood en stroop.”

Waarop almal deurmekaar en ongeduldig begin babbel. Babelse verwarring.

“Aag, dis useless!” teem Margarita uiteindelik. “Ek gee op.” Sy neem die boonste een van ’n hopie tydskrifte en gaan sit in ’n hoek om dit moerig deur te blaai.

Max kyk nog een keer op sy horlosie, sug, tel ’n roman op en begin teësinnig lees. Dis Twa, die tydloper.

Isobel, wat haarself nou aan die trane oorgegee het, skop haar hoë hakke uit en gaan sit kruisbeen op die vloer. Sy tel Die buigsaamheid van verdriet op en maak dit huiwerig oop.

Liso wil nog vasskop, iets snou oor Afrika-tyd en swak dienslewering, maar Lexi gee vir hom Johann Lodewyk Marais se Nomade om te lees.

Sean kry Die troebel tyd deur Ingrid Winterbach en ek Jeanne Goosen se Elders aan diens.

Ek maak lukraak oop en begin lees – eers tentatief; skepties selfs. “Geluk is pilvormig. Plesier is chemies ...” lees ek. “Skryf is ’n persoonlike gevaar.” Ek is gehook.

Minute (ure?), ’n onbepaalde tyd later, gaan die hysbak se deure oop. Een vir een sit ons ons boeke neer en drentel terug na die hysbak. Een of twee van ons stop langs die pad om ’n boek te betas, daaraan te ruik, voor ons verder aansuiker, die pas nou heelwat rustiger, die atmosfeer tegelykertyd ligter en gelaai met ’n gedeelde ervaring wat buite woorde lê.

Ek waag een laaste terugblik, verwag byna ’n aanhaling uit Lot se vrou. Lexi knipoog egter net, ’n beduidenis van ’n glimlag op sy inkswart lippe. Stadig gaan die hysbak se deure toe.

Lees die ander verhale hier:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top