Tot die dood ons skei deur Schalk Schoombie: ’n resensie

  • 0

Tot die dood ons skei: mans wat hul vroue vermoor
Schalk Schoombie

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798172905

Enigeen van ons kan ’n moord pleeg. Ek. Jy. Enigeen.

Dit is die mening van talle kenners. Ons almal beskik ook oor ’n donker kant. Duideliker gestel: enigeen van ons kan onder sekere omstandighede moor en wanneer daar bepaalde snellers is.

Ek weet dat vroue wat bloed op hul hande het en hul mans vermoor, of laat vermoor het, byna almal in ’n stadium mishandel, misbruik of verkrag is. Daarom kon ek nie wag om uit te vind wat mans daartoe dryf om die vrou wat hulle na bewering in ’n stadium liefgehad het, gewelddadig te wil laat sterf nie. Die naam vir hierdie kommerwekkende verskynsel is “intieme vrouemoord”.

Hoekom skei hulle nie maar net as die huwelik/verhouding so ondraaglik geword het nie? Hoe lyk ’n man wat sy vrou vermoor? Soos ’n monster wat ’n byl rondswaai of soos die duiwel in die Kinderbybel? En verskil die psige van moordlustige mans van dié van vroue?

Danksy deeglike navorsing deur die skrywer word die antwoorde hierop in veral internasionale gevallestudies in die boek uitgespel. Schoombie skryf dat mans se motiewe minder uiteenlopend as hul metodes blyk te wees. Een ding waaroor kenners wêreldwyd saamstem, is dat intieme vrouemoord se wortels in ’n patriargale sienswyse lê.

Die sinistere titel, Tot die dood ons skei, en die voorblad waarin ’n vrou se gesig in die duister gehul is, trek dadelik aandag. Dit het vir my veel meer emosionele trefkrag as die makabere bloedkolle op misdaadboeke se voorblaaie wat deesdae byna ononderhandelbaar is. Party van hierdie bloedkolle is selfs gelamineer!

Die boek bevat skokfeite, soos dat drie vroue elke dag in Suid-Afrika deur ’n jaloerse, depressiewe of beheersiek man – ’n eggenoot, ’n eks, ’n minnaar of selfs ’n huurmoordenaar, vermoor word.

Van die talle bydraende faktore in ons land wat in die boek gelys word, is stres, misdaad, uiters streng dissipline in die kinderjare en ’n gebrek aan goeie rolmodelle.

Veral interessant is die beskrywing van “eremoorde” en “bruidskatmoorde” elders, wat onderskeidelik deur eer en gierigheid gedryf word, en die feit dat ’n vrou byvoorbeeld Alzheimersiekte kon gehad het en die man nie meer kans gesien het om na haar om te sien nie. Daar is ook bevind dat mans wat hul swanger vroue vermoor, byna altyd psigopate is.

Van die rillermetodes om vroue te vermoor, wissel van bruidverbranding en versmoring deur die vrou se suurstoftenk tydens ’n duiksessie onder water toe te draai tot verdrinking in die bad. Voorwerpe wat al as moordwapens gebruik is, is ’n pen, ’n kierie, ’n toiletbakdeksel, ’n stofsuierpyp en ’n kettingsaag. Dan is daar die grusame voorvalle waar die moordenaars kannibaals optree of hul vrou se oorskot naby hulle hou, byvoorbeeld in ’n drom.

Ongelukkig is dit so dat huishoudelike geweld ’n tameletjie bly. Die polisie sal jou vertel dat hierdie soort sake selde aangemeld word en gereeld teruggetrek word. En dit is deel van die probleem. Schoombie skryf oor vroue wat uit vrees by hul manipulerende mans bly of selfs teruggaan nadat hulle herhaaldelik aangerand is. In een geval het die man aan die vlugtende vrou vertel dat hy kanker het. Sy is terug huis toe, en is net daarna doodgeskiet.

Baie van die mans is as “liefdevol” en skadeloos beskou – die laaste mense van wie mens bloedvergieting sou verwag.

Schoombie maak vroue bedag op die feit dat hoewel daar nie altyd ’n herkenbare profiel is nie, daar wel ’n herkenbare patroon is.

Praktiese raad in die boek oor gevaartekens, vuurwapenwetgewing en beskermingsbevele kan mishandelde vroue hopelik daarvan oortuig om betyds pad te gee. Daar is ook ’n lang lys van hulporganisasies waar hierdie vroue kan gaan aanklop, wat toon dat die skrywer omgee. Mens hoop net mishandelde vroue lees hierdie boek.

Van die beste raad wat verskaf word, is dat geen vrou ooit met ’n man moet trou wat sy ma haat nie.

Schoombie skryf in die toeganklike styl van ’n ervare joernalis, maar steun swaar op taamlik lang aanhalings uit verskeie publikasies en bronne. Niks fout daarmee nie, maar ek sou daarvan gehou het as hy meer oor Suid-Afrikaanse gevallestudies uitgebrei het en meer direkte onderhoude met Suid-Afrikaanse misdaadkenners, forensiese sielkundiges en kriminoloë gevoer het.

Vir aanhangers van narratiewe niefiksie sou dit ook interessant gewees het as hy persoonlike onderhoude met die moordenaars kon gevoer het, maar dan weet ons ook hoe moeilik dit is om toestemming te kry om agter tralies te kom indien jy nie ’n misdadiger is nie. (Talle sal opmerk dat dit net so moeilik is om in die tronk te beland indien jy wel ’n misdaad gepleeg het!) Maar daar is natuurlik ook ruimte vir alle benaderings wat feitelike benaderings soos syne insluit.

Kriminologiestudente, aanhangers van oorsese televisiemisdaadreekse en krimiskrywers sal hierdie boek verslind. Laasgenoemde het al skertsend aan my erken dat hulle altyd bly is as misdaadniefiksieskrywers hul “navorsing” vir hulle doen

Schoombie is ’n selferkende feminis. Soos hy self verklaar, “in murg en been”. Mag die manlike geslag na deser nog vele meer oplewer.

Foto van Schalk Schoombie: verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top