Daar is ’n interessante Bybelse skrifgedeelte wat verklaar dat wanneer die evangelie verkondig is tot aan die uithoeke van die aarde, sal die groot en deurlugtige dag van God aanbreek. So asof die Hemelse Vader eers wil seker maak dat almal wel ’n kans en geleentheid ontvang ...
’n Paar jaar gelede het hierdie stelling vir my onmoontlik gelyk. Hoe kry jy die ‘goeie nuus’ verkondig tot aan die uiterste plekke? As ek dink aan die arm behoeftiges, soos Maria, wat agter die berg woon en geen elektrisiteit of moderne tegnologie besit. Sekerlik sou dit nie plaasvind in mý generasie? Ek meen, my ouers het nog in die tyd geleef waar skrifgedeeltes in bottels verseël, geseën en in die see gegooi is, hopende dat seestrome die goeie nuus na afgeleë plekke sou uitspoel.
Vandag besef ek dat die tegnologiese kuberskokgolf ons in SA ook getref het. God se tydsberekening is volmaak. Gisteraand nog het ons ernstig om ’n tafel vergader en die leë sitplekke van die jeug in die kerk bespreek. Ons bekommernis dat daar nie genoeg jongmense in die kerk inbeweeg vir die volgende generasie. Ek was verniet bekommerd, het nie die tekens van verandering voor oog dopgehou. Daar is ’n goeie rede waarom die stroom opdroog, en die kerk sal daarby moet aanpas. Of hulle dit wil weet of nie. Want ons leef nie meer in Elvis Presley se tyd nie.
Noem dit kubersending of kuber-kerk. ’n Ongelooflike potensiaal tot evangelisasie. Dit is NOU dié tydvak van redding tot aan die uithoeke van die aarde. Enige nasie is bereikbaar. Slegs ’n ‘sein’ vêr. Skielik verloor die effektiwiteit van blokking teen radiostasies wat die goeie nuus wil uitdra sy krag. Konfiskering van bybels by grense of uitmoor van christene sal iets van die verlede wees. Die internet breek alles oop en plaas dit binne in Maria se hand – sonder elektrisiteit en in haar eie taal!
Die kerke in SA sit egter met mense wat huidiglik nog onkundig omtrent kubersending is. Die kerk sal moet wakker skrik en besef dat sy mense wat die ekonomie voltyds dien, ook aangewend kan word tot kuberevangelisasie en uitreiking.
Dr Bruce Wilkinson, bekende skrywer van die boek: Die gebed van Jabes, is van die eerste om hierdie geleentheid in SA raak te sien. Dit is die begin van ’n wêreldwye opleidingsrewolusie op meer as 1000 kampusse in 7 lande. Die afskopsending begin 11-14 September 2013. Dit word genoem die TEN bekendstelling (Teach Every Nation) en is die strategie ’n kombinasie van satelliet uitsendings na honderde kerkkampusse, gevolg deur duisende massa- en groepopleidingsessies, weeklange persoon-tot-persoon opleidingsgeleenthede op kampus en volgehoue aanlyn kursusse. En ek vergroot nie. Onder leiding van Dr Bruce Wilkinson, gerespekteerde skrywer en leraar, word predikante, leiers en leraars opgelei en bemagtig om alles te wees en te doen waarvoor God hulle bestem het.
Teen einde Junie 2013 het alreeds 500 kampusse in SA geregistreer en dit staan onder leiding van Dr Reuben van Rensburg, hoof van SA Theological Seminary.
Daar word gekyk na geheime omtrent eksponensiële groei, ’n geloofspad wat veel meer as blote etiek is en beslis nie ’n self-help spirituele reis is nie, eerder ’n ontdekkingsreis van metodes wat jou meer professioneel en geestelik sal toerus om onderrig te gee in Gods Woord.
Hierdie sal ’n ongelooflike geleentheid wees om ons land te help verander deur waardes- en vaardigheidsopleiding. Die kursusse is spesiaal ontwikkel vir SA se predikers en leiers oor onderwerpe wat huidiglik saakmaak wat tans bitter nodig is vir alle Afrikaleiers oor kleurgrense heen.
Daar is ’n momentum, ’n nuwe golf. TEN se visie is strategies, tydig en relasioneel in sy metodologie. Want daar is ’n groot behoefte na ’n Bybelse wêreldbeskouing en transformasie om kerke, bedienings en die geestesingesteldheid van nasies in Afrika lande binne te dring.
Kerke of groepe kan registreer as ’n TEN koppeluitsendingskampus by www.teacheverynation.org
Nagmaal op Skype of Sondagskool op internet deur aanlynkommunikasie is hier! Binne jou huis net ’n skerm vêr. Die nuwe inding is Internasionale huiskerke. Ds du Toit, leraar van Helderbaai vertel dat hy reeds twee huiskerke so gestig het vanuit alle denominasies. Daar word waardes gestel, soos:
- Dit moet direkte uitsendings wees
- Dit moet in Afrikaans wees
- Dit moet in ’n gebied wees waar bogenoemde waardes nie reeds van toepassing is.
Kuber-evangelisasie kan voorwaar gesien word as God se volmaakte tydsberekening. Die tyd is ryp daarvoor.
Mag jou dag geseënd wees.
Trienie Mahne


Kommentaar
Trienie, mis jy nie die dae toe die tannies koeksisters verkoop het om te betaal vir jou pa se kerktent nie?
https://www.litnet.co.za/Article/nostalgiese-geheuekiekie-kinderjare
Solank daar mense soos jy is sal daar mense (soos die ouens van TEN) wees wat nie omgee om jou te verlos van jou geld nie.
Hi Trienie. Ek dink die kubersending is reeds sedert 2006, kan vroeër of later wees, aan die gang. Dr Stephan Joubert van die Moreleta-gemeente het dit toe begin. Ek mag verkeerd wees, of hy kon iets anders begin het maar die kubersending lui by my 'n klokkie.
Trienie Mahne,
......WAT 'N BERG BOLLIE!!!!!!......
(glimlaggie sonder om te knip),
Cornelius Henn
(... ek het 'n legio redes om aan te voer, maar nou ja, ek dink hierdie is genoeg vir die geestesgesteldheid deur Trienie Mahne en die res van die slimjannies hier gevoer...)
Reusedwerg
Ek sien in die nuwe JUIG! tydskrif vanoggend dat Ds Dirkie van der Spuy ingeskakel het hierby. Jy is korrek omtrent Moreleta Park. Dit word in elk geval volledig bespreek en glo ek JUIG! sou seker gemaak het van feite.
Beste Trienie,
Verskoon asb my onkunde aangaande die presiese Bybelteks met betrekking tot jou stelling dat: die groot en deurlugtige dag van God (sal) aanbreek. Nêrens staan hierdie teks in die Bybel nie. Wat daar wel staan handel oor "die einde van dae", en Armageddon: die finale stryd tussen goed en kwaad, gevolg deur die wederkoms van Christus.
Dus lei ek van jou skrywe af dat julle baie na "die einde van dae" uitsien, en dus julle entoesiasties daarvoor beywer om dit te bewerkstellig, en nou het julle ook die tegnologiese vermoë om dit suksesvol te volbring.
Ek hoop dat julle die eerlikheid het om julle doelwitte met al sy implikasies mooi te verduidelik aan die weerlose persone wat hierdie wêreldsiening moet koop.
Laastens ruik ek al weer GELD. GELD. GELD. En die Regse- Amerikaanse Evangeliste agter die skerms.
Beste groete,
Pieter Redelinghuys
Presies Pieter!... GELD. GELD. GELD. ... dink net; wyl jy die "diens" met jou onderbroek aan en 'n sigaret in die bek volg, jy ook sommer so dan en wan na die rugby kan oorskakel; of anders om... hahaha... en die BORGE!!!... hel, met nagmaal rol dit onderaan; gebring aan jou deur Trienie se Drankwinkel en Kobus se Bakkery... die punt is dat "virtuele godsdiens" net so onvrugbaar is soos swangerskap wek oor Skype! ... dis net so min vervul met die Heilige Gees, as wat my CD speler in my motor is wanneer ek dit tussen RSG en Juanita se "Onse Vader" oorskakel... groete, Cornelius Henn