Titel: Toring se baai
Skrywer: E Kotze
Uitgewe: Kwela Boeke, Kaapstad
ISBN: 9780795702877
Klik hier en koop Toring se baai nou by kalahari.net!
E Kotze se eerste kortverhaalbundel, Halfkrone vir die Nagmaal, het in 1982 verskyn en letterkundiges én “gewone” leesgieriges orent laat spring. Die boek is ’n hele paar keer herdruk en opgevolg met nog vier kortverhaalbundels, ’n bundel romantiese novelles wat aanvanklik as vervolgverhale in tydskrifte verskyn het (Omnibus, 1999) en ’n outobiografiese vertelling (Die slag van die breekbrander, 2000).
Kotze het nog altyd amper uitsluitlik oor die Weskus geskryf – en niémand kan oor hierdie streek skryf soos sy nie. Die Weskus was nie altyd ’n eksotiese vakansiebestemming nie. Dit was (en is in ’n groot mate steeds) ’n harde, vaal wêreld wat met sukkel en swaarkry aanmekaar gehou word en hom nie maklik laat inkleur nie.
Toring se baai, Kotze se eerste vollengteroman, is pas vrygestel. Soos die titel dit wil hê, is hierdie ’n storie oor ’n plék. Die Weskus, ja, maar meer spesifiek: ’n baaitjie met ’n lamlendige kreeffabriek, ’n jettie en ’n nedersettinkie. Die boek speel hom tydens die Tweede Wêreldoorlog af en die plattelandse tydsgees word uitstekend weergegee.
’n Plek is nie ’n plek sonder sy inwoners nie: dit is eintlik ’n storie oor die ménse van Toring se baai hierdie. Kerneels Koch, die winkelier. Sieber, die bestuurder van die inmaakfabriek. Juffrou Dippenaar, skooljuffrou. En die wasvrou, Marija. Kinders en grootmense en amper-grootmense. Die bruin mense en wit mense en die klomp wat in die Gaat loop nesmaak het. ’n Uiteenlopende spulletjie wat saamgebind word deur hul afhanklikheid van die see en wat elkeen op sy eie manier swaarkry.
Toring se baai is ook ’n verhaal van verandering, van aanpassing.
Want op ’n kwade dag skuim die kreef se bekke. In die storm wat volg, word die jettie vernietig. ’n Deel van die fabriek bly in die slag.
’n Bekommernis kom hang oor die baai, want almal het uit die fabriek ’n inkomste verdien. Wat nou vorentoe? Waar gaan soek hulle ’n heenkome as die fabriek gesluit word?
Die fabriek word gelukkig herstel. Die lewe op Toring gaan voort, maar nie heeltemal soos tevore nie. Die grootste verandering waaraan die oorspronklike inwoners moet gewoond raak, is die Kluytse wat hulle van nêrens af gesin vir gesin in die baai kom tuismaak.
Die móói kant van hierdie boek lê, voorspelbaar, in Kotze se karakterisering en legendariese beeldingsvermoë. Soos op bladsy 183: “’n Hond aan ’n tou voltooi die werfinventaris.” Of op die volgende bladsy: “Hier en daar klou ’n paar pienk blommetjies nog halsstarrig aan ’n vygiebos.” Min skrywers het die gawe om ’n beeld met enkele woorde so helder en treffend op te roep. Soms is een woord reeds genoeg om ’n mens jou te laat verkneukel, soos “hanstarentaal” of “kakhuiskriek”.
Toring se baai is bevolk met ’n norring karakters, elkeen interessant en aangrypend. Dit is weer eens te danke aan Kotze se vermoë om so baie met so min woorde te sê dat die leser binne ’n bestek van 270 bladsye soveel uiteenlopende karakters intiem en met deernis leer ken, hulle vreugdes en vrese, hulle swakhede en uithouvermoë en die emosies wat hulle by mekaar opwek – “warts and all”, want naasteliefde is soms maar boomskraap.
Daar is net een beswaar teen hierdie boek, en dis helaas nie ’n geringe beswaar nie: hier is geen struktuur om van te praat nie. Veral in Deel II is daar toenemend die gevoel dat die boek nêrens heen op pad is nie. Daar is nie veel intrige nie. Al wat die leser laat aanhou lees, tot aan die einde, is Kotze se byna hipnotiese vermoë om lesers geïnteresseerd te hou in mense en hul dinge, al gebéúr daar nie veel in hul armsalige lewens nie.
Kotze het dieselfde dralende verteltegniek in kortverhale soos “By Franken se pan” gebruik, ’n tegniek wat swaar op haar kenmerkende waarnemingsvermoë en subtiele karakterbeeldings steun, eerder as op intrige. Met “By Franken se pan” werk dit uitstekend, maar ongelukkig nie met Toring se baai nie. Die geheelindruk is dieselfde as met kortverhaalbundels soos Die wind staan Oos: tegnies is die boek nie geslaagd nie, maar ’n mens bly diep dankbaar vir die voorreg om dit te kon lees.


Kommentaar
Môre, waar in Suid-Afrika kan ek Toring se baai koop?
Kyk op BidorBuy, hulle het verskeie van E. Kotze se boeke, insluitend Toring se baai.