Top 10-TV-reekse 2019: Nadine Petrick se keuse

  • 1

Soms mis ek die eenvoud van TV1, TV4 en CCV. Jy het presies geweet wat wys wanneer en daar was nie regtig té veel om van te kies nie. Niemand het omgegee om tot volgende Donderdagaand te wag om te sien of Maryna en Neil van Die Sonkring wel bymekaar gaan uitkom nie en die meeste mense het al vergeet hoe dit voel om ’n fliek te kyk met advertensiebreuke tussenin. Deesdae is die kykaanbod te groot en die vermoë om te wag vir die volgende episode, nul.

Ek kyk nie naastenby al die reekse wat mense my met groot oortuiging aanraai om te kyk nie. My dae het eenvoudig nie genoeg ure nie en soms verkies ek om vir weke aanmekaar eerder met die geskrewe woord om te gaan. Daar was wel ’n paar reekse wat my verskeie aande se kykgenot verskaf het. My top 10 vir 2019 is a volg:

  1. Sex Education

Otis Millburn is nie gewild nie, maar hy het ’n geheime wapen. Sy ma. Dr Jean Millburn (meesterlik vertolk deur Gillian Anderson) is ’n seksterapeut en sy is geensins skaam om haar oorvloedige raad met haar tienerseun te deel nie, meestal tot sy misnoë. Hy besef wel mettertyd dat sy kennis van seks (helaas nie uit praktiese ondervinding nie) sy status by die skool kan verhoog en met behulp van een van die skool se stoutste meisies, Maeve, word hy self ’n seksterapeut van formaat. Of so dink hy. Sex Education is effe stout, baie Brits en het genoeg … wel, balls … om nie as ’n ligsinnige, tienerkomedie te klassifiseer nie.

  1. Big Little Lies

Die eerste reeks van Big Little Lies het die wêreld mal gemaak van vreugde, want hét jy al in jou lewe so ’n heerlike rolverdeling gesien? Kom 2019 met reeks twee, gooi vir Meryl Streep in die mix (kyk hoe kap die mense om van opwinding) en die konsensus vóóraf is dat niks verkeerd kan gaan nie. Dit het ongelukkig nie heeltemal so uitgespeel nie. Hoewel die akteurs steeds hulle harte uitgespeel het, was baie mense ongelukkig oor die uitkoms. Ek? Ek het dit steeds vreeslik geniet. Meryl Streep was nog nooit so afstootlik nie. Die vet weet, kyk dit, selfs al is dit net om vir ’n verandering nié van haar te hou nie!

  1. Criminal UK

Hierdie reeks bestaan uit drie episodes en speel in sy geheel af in die ondervragingskamer van ’n polisiestasie. In elkeen van die episodes word ’n beskuldige deur die polisie en prokureurs gepeper in die hoop dat hulle sal vou onder druk en skuld sal erken. Dis uit die aard van die saak baie woordryk en serebraal en gaan kykers wat opsoek is na aksie moontlik bitter vinnig verveel. David Tennant is egter in episode een en niémand kon hom nog ooit van verveling beskuldig nie.

  1. Fynskrif

Ek is baie bewus van die feit dat reeks twee van Fynskrif tans op die kassie is, maar ek het vroeër die maand reeks een op Showmax gebinge en ek moet bieg, lanklaas het ’n plaaslike reeks my met soveel genoegdoening gevul. ’n Prokureursfirma is ’n bekende, lekker backdrop vir goeie televisie en hoewel die drama dik aangemaak word en almal hopelik teen die tyd weet dat regte prokureurs glad nie operate soos enige televisiekarakter nie (daar was baie teleurgestelde Ally McBeal-aanhangers by Tuks se regsdepartement in die 90’s. Vra my gerus, ek is een van hulle), maar hoekom nou ’n lekker storie bederf deur die kille waarheid? Van my gunstelinge, soos Cintaine Schutte, Tinarie van Wyk Loots en Neels van Jaarsveld, klim diep in hulle karakters in en hulle maak mens lag én huil. Die skrywers, Louis Pretorius en Albert Snyman, is ’n gedugte span en raak beter met elke nuwe projek wat hulle aanpak. Ek kan nie wag om met reeks twee te begin nie.

  1. Killing Eve

Dié prettige spioenasiereeks het in 2018 afgeskop en die tweede reeks eindig met die belofte dat die hoofkarakters, Eve Polastri (Sandra Oh) en Vilanelle (die belaglik uitstekende Jodie Comer), beslis nog nie klaar is met mekaar nie. Vilanelle, ’n psigopatiese sluipmoordenaar en Eve, ’n MI5-agent, ontwikkel ’n ongesonde obsessie met mekaar, met baie interessante en snaakse gevolge. Phoebe Waller-Bridge, wat haarself in 2019 onderskei het as die beste televisievonds van die laaste paar jaar, is verantwoordelik vir die draaiboek.

  1. Modern Love

Dié lieflike rubriek in The New York Times, met die gelyknamige titel as die tv-reeks, het waarskynlik al gesorg vir baie trane oor hulle lesers se ontbytpap. Liefde, in al sy glorie, kleur, geur en verbysterende hartseer, word hier besing. Die rubriek het ook sy eie podcast (die stories word deur bekende akteurs voorgelees) en nou is daar ook die televisiereeks wat gewone mense se ongewone liefdesverhale met baie deernis en skoonheid vertel. Twee van my héél gunstelingakteurs, Tina Fey en Dev Patel, is in twee van die episodes en dit het my aanvanklik genoop om te kyk. Ek het aanhou kyk. (En ek het intussen ingeteken op die weeklikse podcast op Spotify.)

  1. Chernobyl

Ek was nog klein toe ek die eerste keer die woord Tsjernobil in die Huisgenoot raakgesien het. As ek reg onthou was dit in ’n artikel oor die nadraai van ’n kernkragramp wat ek niks van geweet het nie, maar net vaagweg van bewus was. Hierdie jaar het baie mense wêreldwyd moontlik vir die eerste maal bewus geword van die minder bekende, skrikwekkende feite en nie die versinde en versluierde werklikheid nie. Dit als te danke aan HBO se geskiedkundige reeks met die titel, Chernobyl. Dis angswekkend, spannend en skokkend. 

  1. Game of Thrones

Ek voel soos ’n verraaier om nié die laaste reeks van dié epiese reeks wat die landskap van televisie vir altyd verander het, in my nommer een posisie te plaas nie. Maar dis bloot omdat ek vies is dat dit nou vir altyd verby is. Ek sal nooit weer die vreugde hê om vir ’n eerste maal in die wêreld van vuur en ys in te stap en verwonderd te staan oor George RR Martin se verbeelde Seven Kingdoms nie. Ek beny mense wat dit nooit gekyk het nie, want hulle kan altyd besluit om wél te begin. Game of Thrones is soos Freddie Mercury se Bohemian Rhapsody en Jonty Rhodes se duikslag en NASA se onlangse foto van ’n waarneembare Swart Gat. Dit gaan net één keer vir die eerste maal gebeur. Die laaste reeks en veral die laaste episode het mense woedend gehad. Vir my was dit perfek.

  1. Gentleman Jack

Die Britte weet hoe om televisie te maak. Gentleman Jack vertel die ware verhaal van die merkwaardige Anne Lister, ’n Britse vrou wat in die 1800’s gerebelleer het teen die meeste konvensies en wat haar man kon staan in die mees ondenkbare situasies. Haar voorliefde vir die skoner geslag het natuurlik baie mense aan die praat gehad. Dis ’n wonderlike reeks en spreek sensitiewe temas met deernis aan, maar dis waarskynlik nie vir kinders en die swak-van-hart nie.

  1. Fleabag

Met wat voel soos amper ’n 100 Emmy-toekennings in die sakkie is Fleabag toe nie net mý gunstelingreeks van die jaar nie. Dié Britse-fenomeen kry ’n koeëlronde 100% op Rotten Tomatoes. Dis genomineer vir verskeie Golden Globes. Fleabag het begin as ’n eenvrouvertoning wat die verhaal vertel van ’n losbandige jong vrou wat ’n restaurant saam met haar oorlede beste vriendin besit. Sy het ’n interessante verhouding met haar pa en suster en daar is ’n “hot priest” ook in die interessante mengsel van karakters. Die vertoning is intussen verfilm in twee kort reekse. Beide reeks een en reeks twee ruk jou hart uit. Dit laat jou skreeu van die lag en dit laat jou verlang na mense wat jy ken en nié ken nie.  Phoebe Waller-Bridge het weggespring en begin hardloop en sy is los voor. Mag sy vir jare lank dié momentum behou.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top