Top 10-flieks van 2019: Floris Groenewald se keuse

  • 1

Om ’n objektiewe toptien-lys van enige kuns saam te stel, is onmoontlik. Om nie eens te praat van hoe moeilik dit is vir ’n relatief gewone fliekganger om ’n goeie, breë prentjie te kry van wat alles in een jaar vrygestel is nie. Maar 2019 het weer ’n hele spul briljante flieks verskaf, en hier is my tien gunstelinge:

  1. The old man and the gun

The old man and the gun is een van daai ingewikkelde flieks waar jy eintlik wil hê die misdadiger – hier met hope sjarme deur Robert Redford vertolk – moet wegkom. Hierdie fliek is nie ’n baanbreker wat die wiel herontwerp nie, maar vertel ’n eenvoudige storie met soveel aanloklike persoonlikheid en positiwiteit – hierdie is ’n misdadiger wat alles met ’n vriendelike glimlag doen.

  1. The Sisters Brothers

Uiteindelik ’n nuwe Western wat nie ’n parodie is, of ’n pretensieuse herontdekking van die genre deur ’n 21ste-eeuse lens nie. Dit vergelyk seker die beste met die Coen Brothers se weergawe van True Grit – iets wat eg-1850’s Amerikaans voel, maar tog ook spannend,  vermaaklik, verrassend, en snaaks is. Dis amper ’n deursnitvoorbeeld van die genre, sonder om in clichés te verval.

  1. Capernaum

Hierdie fliek trap natuurlik baie naby aan die slaggat van ’n oormatig-sentimentele “message movie” wees, maar die eerlike vertolking deur die oë van die twaalfjarige protagonis help dit om persoonlik te wees. Dis in dokumentêr-agtige manier verfilm, wat dit realisities maak en aandag vestig op die werklik haglike omstandighede waarin kinders hulself bevind as gevolg van die “grootmenswêreld.”

  1. Knives Out

Fliek toe gaan hoef nie noodwendig pret te wees nie, maar om lekker agteroor te sit en te ontspan is ook belangrik. In skrywer-regisseur Rian Johnson se nuutste fliek laat hy Agatha Christie se whodunnit-speurverhale herleef in ’n vermaakliker, moderne styl wat dalk nie realisties of heeltemal geloofwaardig is nie, maar baie vermaaklik en vol verrassings wat jy nie sal sien kom nie.

  1. Marriage Story

Die perfekte teenpool vir filmpret – hierdie is ’n liefdesverhaal wat oor ’n egskeiding gaan. Dit bestudeer die komplekse gevoelens van ’n liefdevolle verhouding wat eindig maar nie bloot net gesmoor word nie. Dit het my plek-plek aan Sam Mendes se Revolutionary Road laat dink, maar waar daai fliek dikwels brutaal en verwoestend was, is Marriage Story eerder hartverskeurend, maar genesend – ’n storie wat meer gaan oor die liefde as oor konflik.

  1. Die stropers

Die stropers is ’n verrassing in Afrikaans – ’n diep, sielvolle fliek wat atmosfeer gebruik eerder as dialoog om die storie te vertel. Dit handel oor familie, manlikheid, identiteit, en tradisie, en los jou met vrae eerder as om alles perfek te probeer beantwoord. Dis ook ’n soort coming-of-age fliek wat ons nie eintlik in Afrikaans kry nie, waar die soeke na jou eie identiteit nie altyd inpas by familieverwagtinge nie.

  1. Parasite

In hierdie indrukwekkende Suid-Koreaanse fliek wat riller-, komedie-, en satire-elemente meng, sien ons mense (en sosiale klasse) wat paratiseer op mekaar – dalk selfs juis as ’n tweerigting, simbiotiese verhouding. Maar dit kom nie naastenby polities oor nie. Parasite fokus op twee spesifieke families en hul verhouding met mekaar, en die gevaarlike geheime in almal se kaste wat die wedersyds-voordelige verhouding kan laat ineenstort.

  1. Midsommar

Ek is nie haastig om Midsommar gou weer te kyk nie, want dis ’n redelik brutale, steurende ervaring. Dis nie juis ’n prettige fliek nie, maar wel kragtig, en iets wat jou lank sal bybly nadat jy uit die teater gestap het. Dit is wel hoofsaaklik ’n horror-fliek, maar is buitengewoon emosioneel en op verhoudings gefokus. In ’n groot mate is dit ’n “breakup”-fliek wat oor post-traumatiese genesing en herontdekking fokus.

  1. Ford v Ferrari

In hierdie ware storie wat op die 1966 Le Mans motorwedren-konflik tussen die motormaatskappye in die titel gegrond is, moet ’n paar moeilike mans (Matt Damon as Carroll Shelby en Christian Bale as Ken Miles) saamwerk om die onwaarskynlike meganiese prestasie te behaal.

Die film – geregisseer deur James Mangold – kry dit reg om jou in die bestuursitplek van die renmotors te plaas, en te laat ril vir die brul van enjins en die karre wat verbysnel, maar dit groter en meer toeganklik te maak as net ’n karrefliek. Die interpersoonlike drama tussen die werktuigkundiges en besigheidsmense, met heelwat skeute skerp humor ingepeper, is eintlik die kern van die fliek, en net so opwindend as die wedrenne.

 

  1. Eight Grade

Eighth Grade is komediant Bo Burnham se debuut as regisseur, maar glad nie wat jy sal verwag van ’n grapmaker nie. Dis ’n ernstige fliek oor ’n jong tienermeisie wat aan angstigheid ly, maar haar bes probeer om sosiaal in te pas en “cool” voor te kom. Anders as baie soortgelyke flieks lewer Eighth Grade deur sy draaiboek en toneelspel ’n verbasend realistiese uitbeelding van moderne Amerikaanse jongmense – veral hoe hulle hul selfone en tegnologie gebruik om te kommunikeer. Dis nie ’n fliek wat maak of hy die antwoorde bied nie, maar dit gooi jou kniediep in die skoene van ’n dertienjarige sonder om te oordeel, en bied op die ou end ’n positiewe vooruitsig.

Indien tien flieks nie genoeg is nie, hier is nog ’n paar aandagtrekkers wat vir my die moeite werd was: 'n Ander Mens, Back of the Moon, Dolemite is my name, The Favourite, Good Boys, I lost my body [J’ai perdu mon corps, tans op Netflix beskikbaar], Joker, en Pain and Glory.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Andries Groenewald

    Hoewel ek saamstem dat Ford vs Ferrari 'n uitstekende fliek is, het die tweede posisie my aangenaam verras. Dit strek veel verder as die renbaanstryd tussen die twee handelsmerke se renspanne. Ek wens so dat die mediaskakelpersone van alle plaaslike motormaatskappye ook die fliek sal kyk ... en geniet!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top