Toorwoorde roep my: Valiant se toorwoorde roep beslis

  • 0

Toorwoorde roep my
Valiant Swart
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799351736
Prys: R164.95

Klik hier en koop Toorwoorde roep my nou van Kalahari.net!

Valiant Swart is Suid-Afrika se eie Afrikaanse rock ’n roll-troebadoer. Sy eerste liriekboek het so pas by LAPA Uitgewers verskyn. Dit bevat Valiant se lirieke chronologies vanaf sy Die mystic boer-CD in 1996 tot sy CD Wild en wakker in 2010. Die lirieke is gestroop van enige akkoorde en notas. Dit is slegs die woorde op papier, en so hoort dit wanneer mens die lirieke/gedigte wil lees. Die titel van die bundel kom uit die liriek “Oosweswals” en die “toorwoorde” in hierdie bundel roep beslis die leser om dit te lees.

Die inleidingsgedig dien as indeks en temagedig vir die bundel. Dit staan los van al die ander lirieke. Daarin verwoord Valiant hoe hy voel oor lirieke skryf:

die binnerym bly slu verskans
die statement ewig duister
vir wie ook al gaan dans
en op die ou end luister.

Mens sien dit in Valiant se lirieke: die fyn (en somtyds nie so fyn nie) suggesties van rym en ritme en herhalings. Daar is ook die “statements” wat in sommige lirieke nié so duister is nie. Die luisteraars en diegene wat na sy shows gaan kyk, dans dikwels op die musiek en daar is ook sommige bewonderaars wat net wil luister na sy lirieke en voel dit is waar die werklike talent van Valiant lê. Verder skryf hy oor die proses van skryf: “so gom ek hom vas/ ek maal en swaai en plak/ die wisselpas om stroop en kras/ en stuitig en strak”, en kom tot die gevolgtrekking “dis my gebied/ dis my vak.” En dit is beslis waar: Valiant is meester van sy vakgebied, naamlik lirieke skryf.

Wanneer mens die tekste bekyk, kom mens Valiant se digterlike hand agter. Hy werk goed met die knap gebruik van herhalings, hetsy dit klank- of woordherhalings is, soos byvoorbeeld gevind in “Bloemfontein” met die reëls “sportskarre snuffel in die slow lane/ goue goeters skitter in die sonskyn.” In “Roekeloos” vind ons die reëls “haar boetie was die baas van ’n brannewynplaas/ daar onder in die Boland se blou”, en die onheilspellende ondertone word goed oorgedra in die herhaling van “die bom kom/ die bom kom”, saam met die o-assonansie. Valiant se gebruik van rym is egter meer opvallend, en plek-plek hinderlik, in die lirieke as wanneer dit gesing word. Sy digterlike tegniek blyk verder uit sy gebruik van verskillende beeldspraak, soos byvoorbeeld “die brandewyn raas soos ’n rodeo” in “In die Transvaal”; “sy’s so oop soos ’n tydskrif, sy’s toe soos ’n gedig” in “Josefien”; “dis die winter van die jakkals/ die somer van die slang” in “Die gange van Baylon”.

Daar is ’n verskeidenheid temas wat in die bundel aangespreek word. Dit is veral die tema van musiek en kunstenaarskap wat die sterkste na vore kom. Dié tema verwoord die eensaamheid op die pad sonder die geliefdes, die rol van die muse, die mense wat hy raakloop en die plekke wat hy besoek – dus die lewe van ’n rocker. Omdat hierdie die vernaamste tema is, kom intertekste met veral musiek en musiekkunstenaars voor. Daar is verwysings na “blues”, “song”, “kwêla”, “skoffel” en “ballade”, en na sangers, soos “Jimi Hendrix”, “Percy Sledge”, “tussen AC/DC en die Rolling Stones” en “Elvis”.

Omdat dit hier gaan oor die kunstenaar wat gedurig op die pad is, kom die reis/pad-motief ook sterk na vore in etlike lirieke en word dit byna ’n leitmotief deur die bundel. Voorbeelde hiervan vind ons in “daar’s ’n maniac op die freeway/ wat my jaag”; “die langpad lê en slaap”; “en jy ry en jy ry/ deur die donker vallei”; “ompaaie veg en krul/ onheilspellend stil”; en “as jy die kortpad wil ry/ dan moet jy weet wat jy kry.”

Tog is daar in byna al die lirieke ’n ondertoon van verlange en eensaamheid en donkerte.

’n Interessant interteks wat deurlopend voorkom, is die intertekstuele religieuse verwysings. Daar is die verwysings na “Babylon”; “Kanaän”; “in die bosse van Babel/ rank die kinders van Kaïn”; “die leeu en die jakkals”; “ek het bloed gesmeer op die voordeur”; en die “slang”-beeld.

Opvallend in baie lirieke is die natuurbeelde: “kyk uit vir ’n palm /in die woestyn se gekraakte hand”; “gister hang soos ’n landskap”; “daar was blitse en hael”; en “dryf ek roerloos deur die wier”.

Valiant se lirieke is gelokaliseerd in Suid-Afrika en daar is ’n bekendheid in die beelde wat hy gebruik: “daar’s ’n telefoonpaal in die vaal Karoo”; “as akkers op haar val”; “sy drink haar bier in die Akker”; “ek lê in ’n baie ou hawe/ waar die visse al die vissermanne ken/ en die bote ken mekaar se name/ en die oop see se ou geheim”; “as Swakopmund se mis/ sy goud en koper skyn/ die juweel van die Skedelkus/ op die heup van die woestyn”.

Die gebruik van Engels en Afrikaans in een lied, soos in “Die vloek van die kitaar” en “Jongetjieskind”, is ook ’n tendens van Swart se lirieke. Dit maak dat sy lirieke so toeganklik vir baie mense is.

Swart het ook sy Engelse lirieke in die bundel opgeneem.

Dié bundel lirieke bevat nie net voorbeelde van Valiant Swart se lirieke nie, maar is ’n toevoeging tot die gedigteskat in Afrikaans – en dit is waar die waarde van dié bundel lê. Hopelik word Valiant Swart ook in die volgende Groot verseboek opgeneem, want dit verdien om daar te wees. Die “toorwoorde” van hierdie bundel roep ons om dit te lees.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.

Top