
Foto: Canva
Toorwerk op papier
jou toorwerk op papier is skaars
Egipte het verdwyn in die mis
jou droogte roep na reën
na ver en diep woorde
wat sprokies verander
in werklikheid
terwyl jy trippel op papier
met gedagtes wat vlug en vlieg
oor vlaktes van kaktus en stof
waar net niks wil groei nie
dit is te klipperig en te droog
as stofduiwels jou hier en daar kul
dan siedaar so waai en in die lug krul
terwyl tolbosse in die rondte hol
niks is ooit maklik as woorde wegkruip nie
as jou verstand te kort raak soos jou bed
nagte wat nie verby gaan nie
as gedagtes versteur raak
met werklikheid of sinnelose snert
wat jy opfrommel saam met die papier
om dit asblik toe te stuur
want die sin maak nie sin nie
die strofe is bedonnerd
ritme is weg met die tolbos
wat jou alleen op jou godeberg los
met droë dorstige windverwaaide niks

