Jan,
Ek dink ek sal maar van jou moet verskil.
Hoe goed bedoel die breë doelwitte van apartheid ook was, daar is beslis erg teen die swart mense gediskrimineer. Dink net aan alles wat vir hulle verbode was in die sogenaamde "wit gebiede", al die "Net vir blankes" bordjies en die paswette, werkreservering en so meer. Dit is vir swart mense wat reeds in die "wit gebiede" was en in die "bantoestans" was daar niks, geen heenkome vir so baie mense nie.
Waar hulle vandag op hul beurt teen ons wittes diskrimineer onder die vaandel van "regstellende aksie" kan dit tot 'n mate verstaan word, maar ek voel daar moet 'n afsnypunt wees en dat veral die wit jeug gelyke kanse gegun moet word.
Groete,
Varkspek


Kommentaar
Behoort ons in 2012 nog steeds die argument dat die beleid van die vorige bestel vir alle rasse ten goede moes wees, maar vir onverklaarbare redes misluk het, ernstig opneem? Kan dit moontlik wees dat enige iemand kan argumenteer dat die diskriminasie en onderdrukking waaraan die meerderheid onderwerp is die resultaat van enkelinge se wangedrag was?
Indien die beperking van die regte en vryheid van een groep die bestaansrede vir ’n sisteem is, is dit tog onmoontlik om voor te gee dat dit almal tot voordeel moet strek. As een groep deurlopend uitgebuit en ’n ander onverpoos bevoordeel is, is dit tog duidelik dat die stelsel boos is.
Of dit vriendelik en gemoedelik of brutaal en genadeloos afgedwing word maak geen verskil aan die slagoffers nie.