Toespraak tydens die eredoktorsgraadseremonie van André Brink

  • 0
Toespraak deur Martin Buysse, UCL, 2 Februarie, tydens die eredoktorsgraadseremonie van André Brink (erkenning: Isabelle Decoster; vertaling: Naòmi Morgan).

Dames en Here, liewe André Brink

Weerstand bied. Om teenstand te bied teen die gebruik van geweld, om te opponeer, te stry, jouself te verdedig. Teen alle mag kan weerstand gebied word, alle sisteme kan geopponeer word, enige orde kan ’n reaksie ontlok, hetsy om dit te beveg of dit te verdedig.

Of die stryd teen die vasgestelde orde ’n vreedsame of ’n gewapende een is, word verskillend beskryf afhangend van die invalshoek of die era. Die voorbeelde van individue wat as opstandelinge of as terroriste deur sekere mense beskryf is en as vryheidsvegters of as martelare deur ander, is legio. ’n Mens kan maar net dink aan Europa tydens die Duitse besetting, aan die Israeli-Palestynse konflik, aan die post-koloniale omvergooi van die magstrukture in Rwanda, ens.

Sê ons dus die een se terroris is die ander een se vryheidsvegter? Word die terroris alleenlik ’n vryheidsvegter wanneer hy oorwinning smaak? Ek sal dit nie waag om ’n morele of geskiedenisles te gee nie. Laat my eerder toe, liewe André, om jou verhaal te vertel.

Suid-Afrika, wat agtereenvolgens deur die Boesmans, die Hottentotte en die Bantoestamme bevolk is, word in die sewentiende eeu deur die Nederlanders gekoloniseer. Franse Hugenote en kontingente Javaanse en Malgassiese slawe laat die bevolkingsyfers van die kolonie styg, lei tot ’n vermenging van rasse en tot die skep van ’n nuwe taal: Afrikaans. In die negentiende eeu stap die Engelse aan wal. Die Nederlandse koloniste, oftewel die Afrikaners, wyk noordwaarts en kom in aanraking met die Zoeloes en Xhosas. Die konflik sou meer as ’n eeu lank duur en sou lei tot twee oorloë, ’n Engelse oorwinning en die Afrikaners se terugkeer tot die regering deur middel van die stembus in die middel twintigste eeu, ’n magstruktuur waarvan die 80% Kleurlinge en Swartes uitgesluit was.

Die swart bevolking groei steeds. Die ervare Afrikaners versterk die sisteem van afsonderlike ontwikkeling wat deur die Engelse geïmplementeer is en bevry hulself van Britse voogdyskap: Apartheid word gebore. Swartes het geen eiendomsreg nie, mag nie vryelik rondbeweeg nie, kan nie aanspraak maak op ’n kultuur en ’n opvoeding wat die term waardig is nie.

As voorbeeld kan genoem word dat dit minder as dertig jaar gelede in Suid-Afrika verrassend sou gewees het om tydens ’n byeenkoms soos hierdie ’n swart persoon of ’n persoon van kleur te sien. Dames en Here, die idee is nie dat u na u buurman sal draai om te sien watter kleur hy is nie, sjokolade of melkerige bruin, of so wit soos ’n laken nie, maar eerder om nou, op hierdie oomblik van vlietende ongemaklikheid ’n klein venstertjie oop te maak op die werklikheid van die Apartheidsregime.

Liewe André

Jy is in 1935 gebore as die seun van ’n magistraat en ’n onderwyseres; jy word groot in die Calvinistiese Afrikanertradisie en in die konteks van geweld wat inherent is aan die geskiedenis van jou land. Jy bestudeer letterkunde aan ’n Afrikaner-universiteit. Daarbenewens skryf jy sedert jou kinderdae romans en toneelstukke met fassinering, hardkoppigheid en vasberadenheid. Wanneer jy in 1959 in Parys aankom om jou studies voort te sit, is jy reeds ’n gepubliseerde skrywer.

Jy vermenigvuldig jou ontmoetings met studente, skrywers en kunstenaars van diverse oorsprong; dit is op hierdie tydstip dat jy bewus word dat die fondamente van Apartheid onregverdig is, een oggend in Maart 1960 toe jy op ’n bank in die Luxemburgtuine probeer verstaan wat jou land laat daal het tot die verskrikking van die Sharpeville-massamoorde, waarvan jy pas in kennis gestel is.

Jy betreur dit dat die oorsprong van Afrikaners se blindheid volgens jou in hul sosiale, morele en religieuse konteks gesetel is; met jou terugkeer word jy deel van die Sestigers, ’n groep skrywers wat die taboes van ’n puriteinse, konserwatiewe, na binne-gekeerde gemeenskap wil omverwerp. Wanneer Lobola vir die Lewe, Die Ambassadeur en Orgie verskyn, is daar hewige reaksie van die kerklui en die regdenkende gemeenskap. Jy word beskuldig van pornografie, liberalisme in diens van die Engelstalige vyand of die kommunisme.

Die gebeure van Mei 1968 waarvan jy ’n getuie is tydens jou tweede verblyf in Frankryk versterk jou vasberadenheid om op te staan teen Apartheid. Jou roman Kennis van die aand vertel die liefdesverhaal tussen ’n swart man en ’n wit vrou. Dit is die eerste van die Afrikaanse romans wat gesensor word.

Gekwets hierdeur, vertaal jy jouself in Engels en publiseer die roman in die buiteland. Van nou af sou jy tegelykertyd in Afrikaans en Engels skryf om sensuur te omseil. Talle pryse en onderskeidings word aan jou toegeken, jy smaak internasionale sukses. Jy het ’n simbool geword, liewe André, ’n simbool van weerstand vir ’n hele generasie, met ’n Droë wit seisoen wat ons op die skoolbanke gelees het en daarna in die filmsale gesien het, tussen Ghandi en Cry freedom, terwyl ons gebewe het vir die lot van Soweto se kinders, die blikke Nesquik in die supermarkte geboikot het en die Ystervrou uitgejou het vir haar ondersteuning van Apartheid ...

Maar in die konteks van isolasie waarin jou land hom toe sou bevind, het hierdie internasionale erkenning vir jou die begin van ’n spiraal van probleme, intimidasie en dreigemente beteken. Jy was ’n renegaat vir die Afrikaners, en tog het jy geveg teen die versoeking van ballingskap.

Vandag is jy emeritus-professor van die Universiteit van Kaapstad in ’n Suid-Afrika wat by ’n kruispad gekom het. Deur jou nederige skrywershandeling, sonder om jou te onderwerp, het jy aan jou volk dieselfde lojaliteit bewys as wat jou familie aan jou bewys het. Met daarby, hierdie les in eksistensialisme, waarvolgens die mens nie vooraf deur sy essensie bepaal word nie, maar vry is en verantwoordelik vir sy bestaan: Swart of Wit, Hutu of Tutsi, Jood of Arabier; die moreel en geskiedenis daarvan is oorweldigend.

Gevolglik is dit my plesier en eer om aan Meneer die Rektor te vra om die rang aan jou toe te ken en die Doktor honoris causa insignia van ons universiteit te oorhandig.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top