Toespraak deur Koos Human by Human & Rousseau se vyftigste verjaarsdag

  • 0

Praatjie deur Koos Human op Vrydagaand 13 Februarie in Leinster Hall, Kaapstad.

Ek word meermale gevra wat ek as hoogtepunte in my loopbaan beskou. Wel, ek onthou graag my hele vier dekades by Human & Rousseau as een hoogtepunt bestaande uit 970 boeke waarmee ek gemoeid was.

Wat beskou ek as die belangrikste boek wat ek gehanteer het? Toe TS Eliot in 1950 in Kaapstad was, het ek na ’n onderhoud met hom oor die SAUK geluister waarin hy gevra is wat hy as sy belangrikste werk beskou. The Cocktail Party, het hy terstond gesê en verduidelik dat ’n skrywer altyd sy jongste werk as sy beste moet beskou, anders moes hy dit nie gepubliseer het nie.

Nietemin het ek gekyk na die lys boeke wat in my laaste jaar, 1994, verskyn het en die verskeidenheid is groot: Aan die Kaap geskryf deur Wilma Stockenström, Nuweling deur Elisabeth Eybers, Die nuwe dokter deur Tryna de Toit, Nageregte deur Peter Veldsman, Versamelde Werke van Ingrid Jonker, Jan Smuts se Illustrated Biography deur Trewhella Cameron en Wenpad vir modelle en skoonheidskoninginne deur Margaret Gardiner.

Waarom het ek en Leon ons begeef op die waaghalsige pad in die oerwoud van die uitgewerswêreld, soos Anthony Delius, ons eerste skrywer, dit gestel het? Dit was avontuurlik en ek dink ons wou ’n nuwe bries wees in ’n wêreld wat bra dooierig was.

Dit het my opgeval dat ons verjaardag saamval met ’n nogal uiteenlopende verskeidenheid ander vierings. Die geboorte van Darwin word herdenk, asook die publikasie van sy epogmakende boek. Dis ook die vyftigste verjaardag van Barbie die pop. Ons het nou wel nie Darwin uitgegee nie, maar verskeie boeke in daardie sfeer, veral op inisiatief van Leon, en, ja, ook Barbie self. En dis nogal ek self wat indertyd die regte Barbie en Walt Disney verkry het. Ons het ons visier wyd gestel.

Vir my is dit vanaand ook ’n aand van dankie sê. Ek wil dankie sê aan al ons skrywers wat ons deur die jare met hul steun vorentoe gehelp het. Skrywers is die lewensbloed van die uitgewer en word alleen tot sy nadeel afgeskeep. Ek het probeer vasstel met hoeveel skrywers, kunstenaars, vertalers en ander teksversorgers ek gewerk het, maar aan die einde van die letter D in titels het ek tou opgegooi by die syfer 120.

Daar is die kollegas. Deur al die jare was daar ’n gees van vriendskap en kollegialiteit. Ek kan uit die vier dekades net drie gevalle onthou wat op onaangenaamheid uitgeloop het. Ek het vermy om name te noem, maar ek wil tog enkele uitsonderinge maak. In die eerste plek natuurlik Leon Rousseau, wat in 1959 sonder aarseling ingewillig het om saam met my die sprong te waag. Die tweede is Hans Bùttner, wat sedert 1962 sy lewe lank by ons was totdat hy aangestel is as hoof van die woordeboek-uitgewery Pharos. Die derde is Piet Muller, wat ons teenwoordigheid in die Noorde gevestig het en veral op die terrein van akademiese boeke ’n waardevolle bydrae gelewer het. En ek kon met gerustheid tien jaar gelede die teuels aan Kerneels Breytenbach oorhandig.

Maar ook in gesinsverband het ek baie om voor dankbaar te wees. My gades kan albei beskryf word as boekmense. Met Nakkie was ek 25 jaar getroud toe sy oorlede is, en vanjaar is ek en Trula 23 jaar getroud. Ek het albei in die boekwêreld ontmoet en dis nou byna 50 jaar dat ek in so ’n boekatmosfeer kon lewe, waarin my drie kinders ook gedeel en hul eie bydrae gebring het.

Ten slotte wil ek NB-Uitgewers bedank vir hierdie feestelike geleentheid en my spyt uitspreek dat ek nie weer oor 50 jaar hier sal kan staan nie. Nietemin, kom ons stel nou by voorbaat ’n heildronk in op Human & Rousseau in 2059.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top