
Foto: Canva
Toeskouer
Dis asof Marna na ’n ondergrondse film kyk. ’n Bisarre film wat nooit veronderstel was om gemaak te word nie, deur een of ander siek bliksem georkestreer. Siek bliksem. Hulle krioel mos die wêreld vol. Geïrriteerd raap sy die vet wurm wat by die venster inkruip, op. Die geelgroen slym spuit taaiwarm oor haar handpalm toe sy hom so hard tussen haar vingerpunte knyp dat hy ontplof. Sy gril nie. Niks laat haar meer gril nie. Sy vee doodluiters haar hand aan haar broekspyp af en gaan sit in die vensterbank.
Dit voel asof die film haar insuig – asof sy deel raak van die produksie, maar ook nie heeltemal nie. Sy sien die meisiekind met die twee blonde vlegsels langs haar kop. Die sproetgesig. Uit voortande. Sy skat haar so twaalf – dalk ouer. Sy sien die slagtersmes in die meisiekind se hand. Sy sien die donker vertrek. Die videokamera op ’n tripod voor die outydse katel met die koperpaal-voetenent. Die koperpaal-kopstuk. Sy sien die naakte, wriemelende gryskopvrou – bene oopgesper en aan die voetenent se pale vasgebind. Dit lyk asof ’n woedende tier haar vasgeboeide polse bygekom het.
“Help!”
“Shut up!”
Marna skrik toe sy die háát in die meisiekind se stem hoor. Dit pas nie by ’n kind nie. So ook nie ’n slagtersmes in die hand nie. Marna skrik weer. Dié keer vir haarself. Wanneer het sy so blasé geraak?
“Hartjie, asseblief ...” Die ou vrou se stem bewe. Sy klink swak. Marna sien nou eers die bloedstraaltjie wat by haar regterslaap afloop. Die wit kussingsloop vlek.
“Wit, die kleur van reinheid,” het haar pa altyd gesê voordat hy ...
“Ek is nie jou hartjie nie,” snou die kind die ou vrou toe.
Marna trek haar asem skerp in toe die kind dreigend met die slagtersmes swaai voordat sy dit langs die geel potplant op die bedkassie neerplak en ’n enorme tang optel. Die kind is gevaarlik. Nes Marna se pa. “Geel is die kleur van sonskyn – dis belangrik as jy die illusie van gemoedelikheid wil skep,” eggo sy woorde deur haar kop.
“Satanskind!” Paniek bokspring in die ou vrou se oë toe die kind oor haar buk en haar mond met haar een hand oopsper, terwyl sy met haar ander hand die tang naderbring.
“Lucifer se vrou,” skel die kind terug met rukkerig asemteue.
Die kind knyp die tang om die vrou se voortand. Sweet stroom oor haar gesig, meng met haar trane. Sy huig soos wat sy haar kragte inspan, maar die tand sit. “As ek hulle nie kan uittrek nie, dan moer ek hulle uit! Maar vandag sal jy voel hoe dit voel om sonder voortande te sit omdat iemand anders besluit het jy moet vir altyd soos ’n baby lyk. Vandag is jy die baby en ek ... ek die regisseur.”
Sjoe, maar die kind praat lelik. Dalk is sy tog ouer as twaalf. Wie sal weet?
“Jy weet dit was nie ek nie?” Die ou vrou se stem breek stomp af toe die kind die tang met albei haar hande vasvat en slaan ...
Bloed, dis net bloed waar ’n mens kyk. Marna is versteen. Sy weet sy moet help, haar gat van die vensterbank lig, maar sy kan nie. Sy is ’n swakkeling. Was haar lewe lank nog. Sy sit net daar en kyk met ’n kloppende hart. ’n Toeskouer. Dis wat sy immers is. Die ewige toeskouer. Haar pa het haar mooi geleer: “Hou jou bek ... ek het jou gemaak ... jy is myne ...”
“Hou op! Ek is jou ma! Ek het jou níks gemaak nie! Ons sal vir jou hulp kry!”
Marna wil lag. Sy wéét dit is siek. Sy is veronderstel om die ou vrou te help, die kind te keer, maar sy kan nie.
“Dis te laat om nóú my ma te wil wees,” is al wat die kind sê voordat sy die bloedbesmeerde tang op die vloer neergooi en ’n swart rugsak onder die bed uittrek.
Marna se hart ruk. “Swart ... die kleur van elegansie,” hoor sy weer haar pa se stem, “swart het die manier om die lelikste dinge mooi te laat lyk.”
“Let the fun begin.” Die kind se stem ruk Marna uit haar mymering.
“Asseblief, ek het niks gedoen nie ...”
Marna wil-wil die ou vrou jammer kry toe sy sien hoe die borrels bloed saam met die pleidooi by haar mond uitstroom.
Bloed. Sy wonder wat haar pa van die bloed sou sê? Seker die ou vrou nog harder met die tang gemoer het. Haar pa was nog nooit ’n ou vir bloed nie. Sy voel weer die pyn en vernedering toe haar pa haar die keer gestraf het omdat sy buite haar normale tyd begin menstrueer het en bloed op haar wit lakens gemors het. Dit was seker die ergste wat haar pa haar ooit gestraf het – en hy het haar dikwels gestraf.
Die kind se skouers ruk. “Presies! Jy het níks gedoen nie. Dis júís die probleem. Die altyd gewillige toeskouer. Te pateties om een gemanikuurde vinger te verroer. Die einste vinger wat gemanikuur is met geld wat hy met mý lyf gemaak het.”
Toeskouer? Dit voel vir Marna asof iemand haar wind uitslaan. Toeskouer. Is die vrou soos sy? Is sy soos die vrou? Gaan die hele film oor háár? Oor haar lewe?
Sweet dam op haar voorkop toe die kind die swart rugsak ooprits. Die ou vrou draai haar kop weg toe sy sien wat die kind uithaal, iets wat nooit in ’n kind se hande hoort nie.
“Kyk na my!” sis die kind. “Kyk wat julle van my gemaak het!”
Die ou vrou se oë is verskrik maar sy dwing haarself om te kyk. Trane stroom oor haar wange. Die kind gooi die voorwerp met walging terug in die sak.
“Shut up!” Marna druk verskrik haar hand oor haar mond toe sy hardop haar pa toesnou. As daar een ding is wat haar pa by haar ingedril het, is dit om nooit ooit ’n produksie te onderbreek nie. Maak nie saak wat nie, “the show must go on”.
Die kind staar lank na die rugsak. Skud dan haar kop. “Ek is moeg vir hierdie speletjie. Erken jy het my gefaal dat ek jou eens en vir altyd kan vrek maak soos wat jy veronderstel was om hom vrek te maak.”
“Maar hy is mos dood ...” Die ou vrou klink bang.
“Ja, maar jý het hom nie doodgemaak nie. Nie eens oorgegee aan die polisie nie. Jy het te lekker aan die vrugte van my pyn en vernedering gesmul.”
“Ek was bang.”
Marna voel hoe die kettings wat haar vashou, begin losskiet. Asof sy ’n groter rol in die produksie kry. As sy nou haar gat van die vensterbank losmaak, kan sy die ou vrou namens die kind ’n opstopper gee. Of beter nog, haar nek afsny.
“Wie is jy om van bang te praat? Wat weet jy van bang af? Bang is om oor en oor deur jou eie siek pa verkrag te word. Bang is wanneer hy nog sieker raak en die bliksem opdaag met ’n sak vol kammakastige speelgoed. Bang is wanneer die bliksem ’n paar van sy barbaarse vriende op jou loslaat en jy weet jou ma gaan ’n ronde fokkol doen om te help. Bang is om te wonder wanneer een van jou vriende die video’s van jou op die internet gaan ontdek. Bang is ...”
Die kind se woorde breek stomp af en sy sak neer op die vloer. Krul in ’n fetusposisie. “Al wat ek nog ooit wou gehad het, is dat iemand my moet liefhê. My moet beskerm ...”
Iets in die kind se weerbaarheid nooi Marna in. Sy raak één met die produksie. Sy ís die dekor, die choreografie, die klankbaan. Sy ruik die ou vrou se vrees. Sy voel die kind se háát, woede, weemoed, verwarring, verwerping. Sy is nie meer ’n toeskouer nie. Sy is Marna en sy is hier.
“Los haar. Laat sy maar aanhou om haar medepligtigheid te ontken. Dis wat iemand wat heeltemal gebreinspoel is, doen. Ek en jy weet wat die waarheid is,” troos sy die kind. “Ek is hier vir jou. Ek sal jou beskerm.”
Sy hou ’n dowe oor vir die ou vrou se sinnelose gemompel oor psigiaters en wie weet wat nog. Sy is nie hier vir die ou vrou nie. Sy is hier vir die kind. Die ou vrou is nie meer relevant nie. Sy bestaan nie meer nie. Sy en die kind is vrygekoop. Hulle was Sarafina en Lourens du Toit se slagoffers, maar van vandag af dra hulle ’n nuwe mantra. Hulle is nie meer toeskouers nie. Hulle is nie meer slagoffers nie. Hulle is niemand se seksspeelding nie. Hulle is bowenal nie moordenaars nie.
Marna glimlag by haarself toe sy die boeie om haar ma se hande en voete losmaak en haar ouerhuis se deur vir oulaas agter haar toeknip. Hulle is Marna du Toit. Hulle is een. En hulle is vry.

