Toen met een lijst van nu errond, Herman de Coninck-biografie deur Thomas Eyskens: ’n resensie

  • 0

Foto van Thomas Eyskens: https://twitter.com/hashtag/thomaseyskens?src=hash

Toen met een lijst van nu errond, Herman de Coninck-biografie
Thomas Eyskens
Uitgeverij De Arbeiderspers

Thomas Eyskens se onlangs verskene biografie oor die Vlaamse digter en literêre joernalis Toen met een lijst van nu errond (“die verlede in ’n fotoraam geplaas”) is in meer as een opsig vir Suid-Afrika relevant. Dit is byvoorbeeld jammer dat die “Nieuw-realistische poëzie” waarvan hy in die jare sewentig so ’n prominente verteenwoordiger was, nie ook direkte skakels kon ontwikkel met die Afrikaanse digters van die tyd nie. Daarby is hy, sodra die kulturele boikot wegval teen 1994, een van die eerste literêre figure wat vanuit Vlaandere as brugbouer aktief raak.

Eyskens se biografie bied indirek ’n interessante oorsig van die progressiewe golf wat in die jare sestig in Wes-Europa ontwikkel en dan ná die val van die Berlynse muur opeens weg eb tot ’n rustiger gekabbel. As student is De Coninck net nog ’n voorbeeld van tallose wat van sy geloof “val” – tot groot skok van sy moeder. Hoewel hy ’n voorstander is van woordgerigte poësie, is hy nogtans deel van ’n generasie wat op verhoë gretig deur progressief wanende skares jongmense aangehoor word. Die eenvoudige vers is daarvoor uiteraard voorwaarde. Dit is ’n atmosfeer waarin ’n vae marxistiese houding net so belangrik is as die geur van dagga. Nêrens in Eyskens se boek is daar egter tekens daarvan dat De Coninck werklik besonder politiekbewus was nie. Wanneer hy in Indonesië te make kry met aktivistiese digters wat hulle teen die regering keer, kom hy tot die gevolgtrekking: “Maybe good poetry plays a very small part in politics, but bad poetry is really important.”

Na 1994 besoek hy Suid-Afrika nie minder nie as vier keer. Hy is vooraf gewaarsku dat dit ’n land is wat besoekers steeds teruglok. Die eerste keer is hy ernstig daarop ingestel om goed waar te neem wat hier aan die gang is. Van die kultuurboikot is hy hom wel deeglik bewus en hy gewaar ook rassistiese restante. Anders as Joost Zwagerman, wat hy in Kaapstad teenkom en wat ter wille van politieke korrektheid slegs Engels praat, is De Coninck onmiddellik besig om die moontlikheid van ’n Suid-Afrika-uitgawe van die Nieuw Wereldtijdschrift te bedink.

Hierdie afdeling van die biografie maak soms ’n nogal slordige indruk, waarskynlik omdat Eyskens hom verlaat het op die digter se aantekeninge. So word ’n besoek aan Etienne van Heerden in Grahamstad (in Nederlands helaas altyd Grahamstown) ’n besoek aan “Georgetown”!

De Coninck is teen hierdie tyd ’n gesoute reisiger wat toestande in die gewese Oosbloklande, die Verre Ooste en dele van Afrika ken. Eyskens verwys wel na sy reis saam met sy vrou, die skrywer Kristien Hemmerechts, na Sentraal-Afrika waar nog altyd Vlaminge woon. Hy laat egter die digter se belydenis weg dat hy ’n “fascinatie” met hierdie moeilik te kenne kontinent het. Dit geld ook De Coninck se opvallendste poging om met onbevangenheid verslag te doen; ’n stelling in sy essay “De gele kannievliegnie” (1996:71) wat hom vandag ’n visum na Suid-Afrika sou gekos het,  ontbreek byvoorbeeld (dit is darem nou as ons politici die onwaarskynlike moeite sou gedoen het om Nederlands te lees.):

Het grootste probleem van Afrika en de westerse bemoeienis is inderdaad een heel cynisch probleem. We hebben gezondheidszorg geïmporteerd. We hebben de dood niet zijn werk laten doen. Mensen maken tien kinderen, in de hoop dat er vijf in leven blijven, en er blijven er tien in leven.

Wanneer Herman na die publikasie van sy Suid-Afrika-nommer van die Nieuw Wereldtijdschrift ’n kongres in Bloemfontein bywoon, soek hy tevergeefs na mense wat dit gelees het en daarop kommentaar kan lewer. So vinnig is die kulturele breuk nie te oorbrug nie!

Twee situasies van sy konfrontasie met Suid-Afrika wat Eyskens hier wel noem, sal my bybly. Die een is ’n anekdote wat Tom Lanoye op sy begrafnis vertel het. Dit is van ’n nog maar halfwakker Herman wat die ontbytsaal betree, soos gewoonlik geen ontbyt wil eet nie, maar oorval word deur ’n besonder stewige en terselfdertyd “swingende en zingende” kelnerin wat vervolgens sorg dat hy ’n vrugteslaai en uiteindelik nog ’n omelet na binne werk. Dit terwyl Lanoye aan hom die voordele van liggaamsoefeninge in die oggend sit en verduidelik. Waarop hy met ’n stem, nog geparfumeer deur die drank van die vorige aand, vir Lanoye betig met: “Tom (...) jij leeft te gezond. Als je zo voortdoet, zul je nog eens doodgaan!”

Die ander is van die digter wat dit gewaag het om heeltemal in sy eentjie met ’n gehuurde motor die Noord-Kaap binne te vaar om die brulsand by Witsand te aanskou. Aanleiding daartoe is sy eggenote se roman Witzand (verwysend na ’n kusdorpie in Normandië) wat veroorsaak dat die paar Witsand in die Suid-Kaap in 1994 besoek het. Dat daar nog so ’n naam op die landkaart staan, het hom tot hierdie alleenreis verlei. Hy is egter onkundig oor die afstande tussen petrolpompe en sy brandstof raak in die donker 40 km van Griekwastad af op. Oor die redding uit die “overdovende zwijgzaamheid” van die nag bestaan daar blykbaar twee weergawes. Eyskens kies die een uit ’n brief aan Daniel Hugo, naamlik dat hy opgelaai is deur ’n verbyganger. In sy essay “Wit zand” (1996:118–22) vertel hy dit egter anders: hoe hy vir ’n bakkiebestuurder geld gee sodat dié vir hom petrol kan gaan koop en na ’n rukkie oorval word deur die gedagte: “natuurlijk zit die kerel daar mooi mijn geld op te zuipen”. En met ’n skok vervolgens sy vertroue in die mensdom terugkry wanneer die weldoener ’n halfuur later tog wel opdaag met die verlossende kannetjie.

’n Mens is dankbaar dat Suid-Afrika hom uiteindelik via die hand van Daniel Hugo beloon met ’n bloemlesing vertalings van sy gedigte: Liefde miskien (1996). Dit was die eerste Nederlandstalige digbundel wat na die kultuurboikot in Afrikaans vertaal is. Hierna sou De Coninck sy vierde Suid-Afrika-reis met die uitgewer Frederik de Jager en Tom Lanoye onderneem om die boek bekend te stel. Voorheen sou hy teenoor sy Amerikaanse vertaler sê: “To be translated is something like to be granted a second life.”

’n Jaar later (1997) sou De Coninck in Lissabon op straat ineenstort en sterf nadat hy nie die pas kon volhou van sy medeskrywers op pad na nog ’n kulturele byeenkoms nie.

Beginnende digters sou hulle – soos by so vele biografieë van belangrike skrywersfigure – kon troos aan die opdraande stryd van die jong De Coninck om uiteindelik gepubliseer te word. Wanneer hy in die jare sestig ’n aantal gedigte voorlê by die interuniversitêre blad Ruimte, word dit deur die bank geweier. “Een ervan was ‘je ogen na geween’, de oerversie van wat later Hermans bekendste gedicht zou worden, ‘Verjaardagsvers’.” Daarna sal die gedig ook nog afgewys word deur Dietsche Warande & Belfort. In 1965 kry hy egter ’n klop op die skouer. Sy gedig “Flamingo’s” kry ’n prys in ’n kompetisie van die Jong-Nederlandse Literaire Dagen. Dit is “een knipoog” na Rainer Maria Rilke se “Die Flamingos”. Op sigself staan die verbintenis met Rilke in die teken van ’n jong digter wat homself probeer posisioneer en oplei. Hy kom naamlik by Rilke uit nadat hy Simon Vestdijk se poësiehandleiding De glancende kiemsel gelees het. Vestdijk noem indertyd dat hy Rilke as die grootste moderne digter beskou. De Coninck vind op sy beurt Vestdijk se boek “de beste poëzie-inleiding die ik ken”.

Wanneer hy uiteindelik ’n manuskrip vir ’n eerste bundel bymekaar het – hy is dan 24 – probeer hy via die kritikus Clem Bittremieux toegang kry tot die Nederlandse uitgewer GA van Oorschot. Toenemend het dit immers vir Vlaamse digters ’n prestigewaarde verkry om in Nederland uitgegee te word. Bittremieux vind egter sy werk “niet doorwrocht genoeg” om by Van Oorschot aan te beveel. Later sou De Coninck wel by hierdie kleurryke uitgewer tereg kom, met wie hy dan ’n goeie verhouding opbou. Nou moet hy noodgedwonge Desclée de Brouwer in Brugge nader om deel te word van hul reeks “Noorderlicht”. Wanneer sy manuskrip uiteindelik aanvaar word vir publikasie, is dit op voorwaarde dat hy self die drukkoste betaal. In 1969 sou sy debuut onder die titel De lenige liefde verskyn. Hy kon hom daaraan troos dat dit tien herdrukke beleef het. Dit besorg hom ook die Yang-prys, waaraan helaas geen geldbedrag gekoppel was nie.

Die biografie beskryf die moeilike jare wat hierop volg. Vir drie jaar na die verskyning van die bundel word hy so oorrompel deur die eise van die daaglikse lewe dat daar van digwerk niks kom nie. Wanneer hy ontslaan word as onderwyser weens sy onvermoë om die pas vol te hou, moet hy hom as joernalis by die tydskrif Humo vestig. Intussen moes hy en sy vriendin An trou weens haar onverwagse swangerskap. In 1971 sterf sy boonop in ’n motorongeluk en bly hy alleen met hul kind agter.

Die digter as joernalis word ingesluk deur sy beroep. Nogtans is hy hier meer op sy plek as voor ’n klas. Hy raak bekend vir ’n oorspronklike aanpak met die voer van onderhoude met sportpersoonlikhede. Sport word vir hom ’n inspirasiebron waarin daar poësie skuil. In 1984 maak hy ’n sprong na ’n nuwe tydskrif, die reeds genoemde Nieuw Wereldtijdschrift. Liefhebbers van die groot Vlaamse ironikus Willem Elsschot sal in hierdie titel ’n verwysing herken na die semimisdadige joernalistiek wat dié ten tonele voer in sy romans Lijmen en Het been. Mettertyd raak De Coninck ook nog betrokke by die boekeblad van die progressiewe publikasie De Morgen. Hy word in die proses ’n toonaangewende letterkundige joernalis en kritikus. Nogtans moet hy in 1992 desperaat uitroep oor die gesukkel om die Nieuw Wereldtijdschrift finansieel aan die gang te hou: “Ik ben meer op zoek naar geld dan naar teksten. Ik moet kruidenieren ...”

Nog ’n negatiewe keerkant van sy sukses is sy boheemse gewoonte om snags te werk “zodat hij niet gestoord werd door kinderen en telefoongerinkel”. Dit loop uit op ’n egskeiding ondanks die feit dat daar nagenoeg elke oggend ’n nuwe gedig langs sy vrou se kopkussing gelê het. Sy sou later verklaar dat die man wat soggens langs haar lê en slaap het nie so romanties was nie: “Dat was een man die ontzettend gedronken had, die een hele walm van alcohol om zich heen had.”

In 1988 ontwikkel ’n verhouding met die jongere Kristien Hemmerechts met wie hy vier jaar later sou trou. Sy is egter self ’n skrywer wat dan toenemend in die kalklig beland. Terwyl sy vorige vrou, Lieve, aan die einde van hul huwelik beweer het “alles had altijd om hem gedraaid, en ik moest me altijd schikken”, is dit nou ’n ander saak. Op ’n dieptepunt in die verhouding met Hemmerechts skryf hy: “Ik heb leren leven met haar behoefte aan erkenning en lof en media-aandacht.” Wanneer Hemmerechts hom tydelik verlaat, beland hy boonop in finansiële probleme.

In sy laaste jare is De Coninck ’n wyd-erkende figuur, maar Eyskens skets ook ’n digter wat toenemend aan homself begin twyfel. “Waar Herman het stiekem toch wel moeijlijk mee had, was het feit dat hij plots niet meer de populairste dichter in Vlaanderen was.” Dié plek is ingeneem deur die veel meer teruggetrokke Leonard Nolens. Kort voordat Nolens die felbegeerde Staatsprijs in 1992 ontvang, lig hy Herman in dat dié sy vroeë werk “grondig afgekeur” en hom so gehelp het om sy gehalte te verbeter!

Verder is daar toenemend jonger stemme wat teen sy gesag in opstand kom. Die rubriekskrywer Guido Lauwaert noem hom in die laat jare tagtig uitdagend: “Hij is zo rechts als de pest en daarbij schijnheilig en pisserig. Hij geeft zich uit voor progressief, zonder het in de verste verte te willen zijn.” Nog meer irriterend vir De Coninck is Bart de Man (Frank Hellemans) wat die verskyning van sy bloemlesing uit sy opstelle in De Morgen, getitel De flaptekstlezer, as skyf gebruik en hom probeer uitwys as “Soms reactionair, dan weer kleinburgerlijk, maar altijd conservatief: ziedaar een robotfoto van de Vlaamse poeta laureatus.”

Eyskens bied hierteenoor in die loop van die biografie die digter as ’n heel bewuste vakman  aan. Soms verpak hy hierdie inligting in die beskrywing van die situasie rondom ’n bepaalde publikasies. Hy noem byvoorbeeld hoe De Coninck teenoor die veelvuldige gebruik van die vrye vers in sy bundel Met een klank van hobo opeens rym inspan. Uit ’n onderhoud word sy verklaring van die funksie daarvan gelig: “Het ene rijm roept het andere op, zoals de ene herinnering de andere, of de ene gedachte de andere. Het rijm geeft iets berustends aan het gedicht, de ene klank rust uit in de andere, en alle klanken rusten uit in het laatste rijmwoord. Dat past aardig bij het meditatieve karakter van de bundel.”

Hy het wel deeglik daarvoor gesorg dat die literêre blaaie onder sy redakteurskap in die Nieuw Wereldtijdschrift en De Morgen inspirerend bly. Verskeie jong digters is deur hom aan die hand geneem op weg na uiteindelike bundeling. Van sy versamelde gedigte wat ’n jaar na sy dood verskyn, sou met die verskyning van die 19de druk in 1997 al 50 000 eksemplare verkoop. Terwyl die prestigieuse Staatsprijs hom ondanks sy status sou ontwyk, ontvang hy postuum die prys onder die nuwe naam van Cultuurprijs van de Vlaamse Gemeenschap vir sy essaybundel Intimiteit onder de melkweg. Sy versamelde prosa sou in 2000 egter maar by ’n eerste druk bly vassteek.

Eyskens sorg dus dat dieptepunte in die lewe en werk van De Coninck naas sy suksesse geplaas word. Dit verhoed nie dat hier ’n besonderse digterpersoonlikheid na vore kom wat sy werk en lewe met groot ywer gewy het aan een saak nie: die poësie.

Bronne

De Coninck, Herman. 1996. De cowboybroek van Maria Magdalena (en andere reisverhalen). Amsterdam en Antwerpen: Uitgeverij De Arbeiderspers.

Eyskens, Thomas. 2017. Toen met een lijst van nu errond. Amsterdam en Antwerpen: Uitgeverij De Arbeiderspers.                                  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top