WF 2015: Toekomstige museum

  • 0

“Die volgende toestel was jare gelede gebruik vir kommunikasie. Dit word ’n selfoon genoem.”

Die museum toergids sug bedroef en lig die klein reghoekige toestel op sodat ons klas dit beter kan sien.

Ek is nie seker wie hierdie ekskursie die pynlikste vind nie – hý of óns. Ek draai na Tiaan, my beste vriend, en lig ’n denkbeeldige “selfoon” na my mond en begin praat. Hy koggel saggies en rol sy oë. Die volgende oomblik skrik ek my in ’n ander bloedgroep in toe ’n stem skielik hier langs my nek praat.

“As jy voorheen gelúister het, sou jy geweet het dat selfone langs ’n mens se óór gehou is,” sis die onderwyser wat ons vergesel, hard genoeg sodat almal hom kan hoor.

Ek voel hoe die bloed in my nek opstoot. Ek mompel ’n flou verskoning en loop so gou ek kan agter die res van die klas na die volgende uitstalling aan. Nou lag Tiaan éérs. Ek stamp hom met my elmboog in die ribbes.

Die volgende uitstalling behels primitiewe mediese metodes en operasies. ’n Silikoonpop lê op die tafel en jy kan sy “ingewande” sien. Die gids begin vertel van operasies wat hulle dekades gelede uitgevoer het.

“Dokters het orgaanoorplantings gedoen met harte, niere en ...”

“Wat? Is hy ernstig?” fluister ek vir Tiaan. Hy lyk ook bietjie ontnugter. Ek steek my hand op en val hom in die rede: “Ekskuus, bedoel Meneer hulle het iemand ánders se organe binne-in jóú gesit?”

Hy knik sy kop en glimlag – seker oor iemand uiteindelik geïnteresseerd lyk in sy museum.

Jig. Ek trek ’n gesig vir Tiaan.

Outydse operasies klink walglik. Deesdae herstel dokters jou beskadigde orgaanweefsel met kloning, of vervang in uiterste gevalle die hele orgaan met ’n batteryaangedrewe tegnologiese model. Ek weet baie van huidige mediese tendense af, aangesien my ma verlede jaar ‘n hartvervanging ondergaan het.

Ons stap aan na die volgende afdeling – Tegnologie van Toe. Die gids lig ’n plat, reghoekige voorwerp op en begin in sy eentonige stem vertel: “Dit is ’n skootrekenaar. Ongeveer 80 jaar gelede was hierdie een die voorbok van tegnologiese ontwikkeling. Die vroegste modelle het slegs vier gigagreep ewetoeganklike geheue gehad.”

’n Paar leerders lag. Ek maak my oë vir ’n oomblik toe en konsentreer. Ek span die ingeplante bio-elektroniese sakrekenaar in my brein in en doen blitsvinnig ’n paar berekeninge.

“Dis 22,25 keer kleiner as ons huidige standaardgrootte,” sê ek vir Tiaan – klaarblyklik té hard. Die onderwyser maak keel skoon en gluur my stip aan. Ek lig my hande in onskuld en draai weer vorentoe. Die gids begin oor die elektroniese evolusie praat en ek verloor vinnig belangstelling. Ek begin om my kyk, uiters verveeld.

Dis toe ek die deur sien.

Toegang verbode – besig met herstelwerk aan uitstalling gloei in groot rooi letters op ’n digitale plakkaat teen die deur.

“Psst, Tiaan, sien jy daardie deur?” fluister ek uit die hoek van my mond.

Hy loer vlugtig in daardie rigting en knik.

“Hoekom gaan verken ek en jy nie ’n bietjie nie?” sê ek en wikkel my wenkbroue.

Hy sug en leun nader: “Ek weet darem nie … onthou jy nie hoe jou laaste uitstekende en ondeurdagte plan geëindig het nie?”

Ek vorm die woord bangbroek met my mond en hy glimlag en skud sy kop.

“As ons gevang word, verduidelik jý aan my ouers hoekom hulle bloedjie nou in die tronk sit, gehoor?” mompel hy en begin my agtervolg. Ons sluip stadig tot agter die groep en wag geduldig dat die onderwyser moet wegkyk. Ons verdwyn maklik in die skaduwees van die museum en glip by die deur in. Sodra ek die deur agter my toemaak, sluk pikswart donkerte ons in. Vir ’n oomblik sien ek niks, dan flikker ’n liggie hier naby. Tiaan het sy kompi uitgehaal en ’n dun straaltjie lig skyn by die voorkant van die palmgrootte elektroniese toestelletjie uit. Ek vis myne ook uit my sak en skakel dit aan. ’n Kleurvolle virtuele skerm verskyn bokant my uitgestrekte hand en ek gebruik my vinger om my eie flits te aktiveer deur in die lug op die denkbeeldige “knoppie” te druk.

Gewapen met die twee flitse begin ons verken. Ongelukkig is die meeste inligtingsbordjies se krag af en dus kan ons nie die toestelle se name lees nie. Ek neem nogtans foto’s van alles met my kamera-kontaklense. Ek het uiteindelik verlede jaar vir my verjaarsdag ’n paar gekry. Ek verskuif my liggie na die oorkantste muur.

“Huis-hou-de-li-ke toes-tel-le,” lees ek hardop die museumafdeling se naam terwyl ek vorentoe stap.

Die volgende oomblik haak my voet vas en ek slaan neer. Met die valslag gryp ek instinktief die toestel naaste aan my en dit val met ’n gekletter op die vloer.

“Is jy besimpeld?” sis Tiaan langs my: “Die hele suidelike halfrond het daardie lawaai gehoor.”

Ek vryf die ergste stof af en tel dan die arme toestel wat ek verongeluk het, op. Dis ‘n ronderige metaalding met ’n lang pyp wat eenkant uitsteek. Ek soek ’n naamkaartjie en kry een – stofsuier.

“Kom ons loop voor ons in tamatiestraat beland,” kerm Tiaan.

“Nee, wag. Kyk hier. Wat dink jy doen dit?” vra ek en hou die stofsuier na Tiaan uit. Nog voor ’n enkele geluid sy lippe verlaat, sien ek ’n groen knoppie waarop “aan” staan. Sonder om te twyfel – of om ooit die moontlikheid te oorweeg dat dit dalk steeds kan werk – druk ek dit in.

Tiaan gil soos ’n maer vark toe die masjien skielik sy hemp begin opsuig. Eers skrik ek my ook boeglam, maar toe ek besef wat gebeur het, lag ek myself bykans onkapabel.

“Ek sien glad nie wat so snaaks aan die situasie is nie,” brom Tiaan vies, maar hy glimlag nogtans.

“Ek ook nie,” sê ’n – teen hierdie tyd bekende – stem.

Ek vries. Dis die onderwyser. Stadig, soos rowers wat op heterdaad betrap is, draai ek en Tiaan om.

“Jy beter nou al aan jou toespraak vir my ouers begin werk,” fluister Tiaan smalend.

Lees nog oor die LitNet Akademies WF-skryfkompetisie

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top