Toekomsstudie-perspektief: Wat sal die impak van Marikana op Suid-Afrika wees?

  • 0

Gaan die gemeenskaplike-oogmerk-moordklag en die U-draai (nadat dit uit verskeie oorde veroordeel is) in die toekoms beskou word as rigtinggewend vir Suid-Afrika of nie? Vanuit ’n kontemporêre perspektief is dié verwikkeling duidelik van belang, veral in die regsomgewing, maar ook in die politieke, sosiologiese en ekonomiesie omgewings. Die vraag waarop in hierdie bydrae gefokus word, is of die gebeure op seismografiese skuiwe dui wat ’n wesenlike impak op die toekoms kan hê?

Aangesien toekomsstudie as dissipline steeds grootliks onder die breë publiek onbekend is, word ’n voëlvlug-oorsig daarvan in die bydrae gegee met die doel om die konteks van wat dit is en nie is nie, duidelik te maak.

Die toekoms kan nie as ’n uitgemaakte saak beskou word nie, maar eerder as ’n uitkoms van wat die mens daarvan kan maak. Soos De Jouvenel (1967:40) dit stel, kan die toekoms nie werklik objektief geprojekteer word nie, maar op die meeste net voorgestel word. Die verlede verskil in dié verband, aangesien dit moontlik is om positiewe kennis daaroor te hê, maar die mens kan geen invloed uitoefen op aksies wat reeds plaasgevind het nie. Die mens kan poog om kennis te bekom deur vooruitskouing, maar betroubare voorkennis kan nie geskep word nie. Daar is geen grondslag vir ’n voorafbepaalde benadering tot die toekoms nie; die hede is deurspek van menige ongespesifiseerde moontlikhede.

Toekomsstudies moedig dus denke aan oor hoe vandag se veranderinge (of gebrek daaraan) môre se realiteit word. Dit sluit in pogings om die oorsake, patrone en bronne van verandering en stabiliteit te ontleed met die doel om toekomsinsig (“foresight”) te bewerkstellig en alternatiewe toekomste te ontwerp. Die onderwerpe en metodes van toekomsstudies sluit in moontlike, waarskynlike en gewenste variasies of alternatiewe transformasies van die huidige, beide sosiaal en “natuurlik” (byvoorbeeld onafhanklik van die menslike impak). Toekomsstudies dek ’n breë ondersoekveld en voeg die insigte van vele dissiplines saam om ’n vars kyk na die toekoms te gee. Die futuris kan ongelukkig nie ’n profeet, of selfs ’n voorspeller, wees nie. Deur ’n sistematiese proses kan die toekomskundige wel ’n perspektief op verwikkelinge daarstel.

’n Toekomsstudiebenaderingmodel wat gebruik kan word om die impak van die besluit te evalueer, fokus op drie hoof-dryfkagte. Die model skets die breër raamwerk waarbinne dryfkragte en tendense geïdentifiseer kan word wat ’n bydrae kan lewer tot die skep van toekomsinsig. Die geïdentifiseerde prioriteit-dryfkragte, naamlik die mate van netwerk-teenwoordigheid in die samelewing, tegnologiese nuwighede en transformasie, voorsien die ankers vir toekomsinsig (Van Vuuren 2011:237). Die nasionale vervolgingsgesag se besluite oor die Marikana-aanklagte is nie in pas met hierdie geïdentifiseerde dryfkragte nie. Die netwerkomgewing, transformasie van die regsomgewing en gebruik van tegnologie om die regsproses te ondersteun dra by tot die potensiële vaartbelyning van regsadministrasie. Hierdie besluit is egter strydig met die rigting waarin die samelewing in Suid-Afrika beweeg. 

Dit is te betwyfel of die nasionale vervolgingsgesag se besluit om ’n aanklag van onder andere moord aanhangig te maak teen die groep van 270 mynwerkers wat in hegtenis geneem is na die Marikana-voorval en dit daarna weer terug te trek, fundamenteel vir die breë toekoms van Suid-Afrika is. Indien met die aanklag volhard is en die saak uiteindelik uitgegooi word, sou dit eerder ’n aanduiding van moontlike dryfkragverskuiwende verwikkeling wees. Die besluit om die gemeenskaplike-oogmerk-leerstelling in die aanklag te gebruik lyk met die eerste oogopslag eienaardig. Ten einde sodanige aanklag suksesvol te kan maak moet die gemeenskaplike oogmerk bewustelik deur die deelnemers met die dader gedeel word. ’n Toevallige “gesamentlike” oogmerk is nie voldoende om die handeling van die dader die deelnemers toe te reken nie (Joubert 2008:83). Dit sou seker ook op die “onvoorsiene” uitkoms van die Marikana-voorval van toepassing wees. Hoe sou die mynwerkers kon voorsien het dat 34 van hulle in die voorval gedood sou word? Die argument oor hoe die gemeenskaplike-oogmerk-leerstelling op die Marikana-voorval van toepassing kon wees, is moeilik om te verstaan. Moontlik verteenwoordig dit ’n taktiese besluit van die aanklagowerheid om ’n boodskap te stuur dat die polisieoptrede deur die owerhede beskerm sal word. Maar dit bly moeilik om die werklike motief vir die besluit te identifiseer.

Ongeag die motief vir die aanklag, dui die terugtrekking daarop dat besef is dat die kanse op sukses skraal sou gewees het. Indien die nasionale vervolgingsgesag sou voortgegaan het met die benadering en uiteindelik in die hof ’n nederlaag gely het, sou die impak hiervan sekerlik meer ingrypend gewees het. Hopelik bly dit by ’n eenmalige insident wat in die lig van teenkanting aangepas is en verantwoordelike besluitneming bevorder het. In kontras met die skietvoorval self, wat verseker rigtingewend vir ten minste die kort en mediumtermyn sal wees, is dit onwaarskynlik dat die aanvanklike vervolgingsgesagbesluit en die ommekeer op seismografiese skuiwe dui.

Die tragedie in Marikana is vir seker ’n noodroep wat Suid-Afrika as ’n kollektief noop om te besin oor hoe Suid-Afrika die hoë vlakke van ongelykheid en armoede sal moet hanteer. Die toekoms is nie ’n statiese gegewe nie. Terwyl een besluit nie noodwendig onomkeerbare skade doen nie, bly dit noodsaaklik om hierdie vorm van debat oor gebeure te voer. Dit is so aangesien vandag se optredes (of die gebrek daaraan) môre se werklikheid word.


Bronne

De Jouvenel, B. 1967. The art of conjecture. New York: Basic Book Publishers.

Joubert, D. 2008. Die misdaad roof in die Suid-Afrikaanse reg. Ongepubliseerde doktorale vehandeling. Pretoria: UNISA.

Van Vuuren, R. 2011. Toekomsstudie: Instrument vir toekomsskepping. LitNet Akademies Jaargang 8 (2).

Terug na webseminaar se indeksblad om ander bydraes oor Marikana te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top