Toe wingerdpale om ons breek en spoorstawe buig: Die vloedramp van Januarie 1981

  • 2

Op Sondag 25 Januarie 1981 word Laingsburg en omringende dorpe en streke in die Klein-Karoo deur ’n vloedramp getref. In dieselfde jaar verskyn WO Kühne (intussen oorlede) se Vloedramp by Tafelberg Uitgewers. Daarin vertel hy van die “verliese aan kosbare landbougrond, aan woonhuise en ander geboue. Maar groot soos die landbouskade was, veral in die Klein-Karoo en Suid-Kaapland, was dit die ongewoon groot verlies aan menselewens, dié keer veral in Laingsburg en Montagu, wat die land geskok het” (bl. 1).

Drie-en-dertig jaar lank het ‘n eerstehandse verslag van daardie donker tye bewaar gebly. Dit vertel van die minder bekende geskiedenis van die vloedramp: hoe dit die mense van Ladismith getref het. Dis ’n brief van Suzanne Crafford (tans mevrou Le Grange) aan haar kinders vanaf die plaas Voorbaat naby Ladismith. Haar man, Danie, is ‘n maand vantevore oorlede. Die eienaar van die plaas, haar swaer, Jan Crafford, het haar en haar skoonma kom haal vir ’n kuier, maar toe oorval die ramp hulle. Sy kan nie teruggaan na hul plaas naby die stasie Plathuis nie. Sy vertel van haar kommer oor die plaaswinkel op Plathuis en hoe dit die plaaswerkers sal raak.
Mevrou Le Grange, ‘n dame wat in Mei drie-en-neëntig word, is tans ’n inwoner van die aftreeoord Fontaine Bleau in Welgelegen, Parow. Enkele jare gelede is van haar vertellings op Vintage: LitNet gepubliseer. Haar dogter, Elbé van Zyl, gee hierna toeligting en vertel ook wat op hul plaas by Plathuis gebeur het.

 


 

Danie Botha

 

                                                                        Voorbaat
LADISMITH

                                                                        28 Januarie 1981  6:30 vm.

Liewe kinders

Soos julle sien, is ek op Voorbaat. Jan het vir my en Ouma Saterdag kom haal en sou ons Sondag terugneem. Sedertdien sit ons hier vasgekeer. Ek voel soos ’n bobbejaan wat in ’n hok gevang is! Hier is te veel om te skryf. Julle het gehoor van die vloed by Laingsburg. Sondag al kon ons nie deur die rivier nie.

Sondagnag voor 11 uur was dit of die hel losgebars het. Kort tevore het die sentrale gebel en gewaarsku dat die bure hoër op laat weet het dat die rivier buite beheer is. Toe ons Sondagnag op die voorstoep staan, kon mens net die vaalwit van die water oor die wingerd sien. Dan die vreeslike gedruis en geluid wanneer die pale waaraan wingerd opgelei is, breek. Dit was een massa water en dit het so aan die onderkant van die grasperkie geraak. Slegs ’n klein stukkie wingerd het bly staan. Ons het geloop waar eers wingerd en perskeboorde was. Die wingerd is toe onder modder, plat gestoot; net hier en daar steek trosse druiwe uit. Oom Jan is gebroke en so ook vele van die ander boere. Hy het ’n druiweoes van R30 000 verwag en skat sy skade op R200 000. Sy beste grond is weggespoel. Hulle hoop maar die Regering sal hulle help.

Ek slaap en eet beter, maar weeg maar so 46 kg. Pappa is vandag ’n maand weg. Ek wil nie daaraan dink nie. My hartseer lê diep. Daar is maar vele probleme waarmee ek alleen te kampe het. Boonop sit ek vasgekeer. Daar is geen verbinding, ook nie telefonies, na ons nie. Die yskaste gaan bly staan en die werkers gaan ontevrede wees dat ek so weggeraak het. Ek het ’n boodskap weggekry na ’n helikopter wat vandag kosvoorrade na ’n buurplaas bring. Ek het laat weet dat ek ’n plaaswinkel het en dat die mense sonder kos is – hulle moet my daarheen neem. Ek hou die brief gereed ingeval hulle sal kom. Ek hoop hulle neem Ouma dan ook saam.

Jan melk oor die 20 beeste; melk word sommer vir werkers en varke gegee. Die melklorrie kan nie deur die rivier kom nie. Gister het iemand gesê die gouste wat ek per pad ons huis sal kan bereik, kan drie weke wees. Teen daardie tyd is my senuwees gedaan. Ek wil vra dat helikoptermense die brief pos as hulle Laingsburg toe gaan.

Die trein loop ook nie meer nie; die treinspore het weggespoel. As ek by die huis kan kom, wil ek gou ‘n meelbestelling uitskryf. Ek het darem nog vir omtrent twee weke genoeg, maar het nou geen posdiens of telefoon nie. Neem die bestelling na Sasko en laat hulle die prys uitwerk; ek sal nie tyd hê om dit te doen nie. Hulle moet maar uitvind wanneer die treinverbinding weer reg sal wees.

Daar is nog twee tjeks by Metro. Vind uit of julle dit mag gebruik, of vra dit terug. Ek dink nie ons mag dit nou, ná Pappa se dood, gebruik nie. Koop dan ses pakke 50 x 10 g anchor yeast, ses 8 x 125 g-blikke anchor yeast (dis nou agt blikkies in ’n pak verpak). Sodra ons telefoon reg is, bel ek weer. Koop dit eers kort voor julle kom; dalk kom daar nog iets by.

Bel ook oom Jan in Pretoria en sê hy moet eers by AA vasstel of hy Plathuis kan bereik. Grootrivier se brug by Algerynskraal is glo ook beskadig. So hoor ons maar. Dus kan Plathuis se mense ook nie Ladismith bereik nie.

Ek wil graag by prokureur Marais hoor hoe ver die verkoop van die plaas is, maar het geen kontak met hom. Saterdag het daar weer mense van Philippi na die plek kom kyk. Hulle het baie in hul skik met die huis gelyk, maar ek het vir hulle gesê ek is besig met onderhandelinge met ander mense en sal hulle laat weet as dit nie slaag nie.

Elsa se yskas en vrieskas staan ook. Die Evcom-kabels lê lank en blink oor die modder waar die wingerd was.

Skryf asseblief vir Anita ’n briefie. Dalk kry ek nie gou vir haar een gepos nie. Ek weet nie of ek vandag by die huis gaan uitkom en wanneer dinge weer normaal gaan wees nie. Dit sal ’n ramp wees as ons grondjie verspoel het; dan sal ek met die prys moet afkom.

Liefde

Mamma

Ns     Teken die bedrag van die meeltjek aan; ek kan dit later kry. Ek is bang hulle gun my nie tyd om die meelbestelling en tjek uit te skryf nie. Ek sluit die bestelling in. Gee dit in en indien julle dit kan betaal, gee ‘n tjek. Anders moet julle dit op rekening koop. Dit behoort nie saak te maak nie. Ons koop maar kontant vir ekstra afslag; vra maar die bestuurder. Ek sal weer vir julle ‘n kontanttjek teruggee, of hoe dit ook al werk.

 


 

Aantekeninge deur Elbé van Zyl

Sasko en Metro was groothandelaars op Worcester. Die winkel by Plathuis was die grootste in die distrik; daarom was dit baie belangrik om genoeg voorraad te hê. 

Die treinspore is nie net weggespoel nie – lang stukke is heeltemal verbuig. Plathuis was die grootste stasie tussen Touwsrivier en Ladismith. Sedert die vloed was daar nie weer ‘n treinverbinding nie.

Oom Jan (‘n ouditeur van Pretoria) moes ná Pappa se dood die winkel se boeke kom afsluit vir SARS. Hy het na Kaapstad gevlieg en ons het hom plaas toe geneem.

Die vloed het die hele plaas verwoes. Dit was ’n aaklige gesig. Die plaas het soos ’n woestyn gelyk: net sand met riffels soos die wind dit gewaai het. Daar was geen teken van landerye nie. Alle drade tussen die landerye was weg; alle sluise was weg. Later het ons die sluise omtrent ’n meter diep onder die sand gekry. Daar het ’n doodse stilte oor alles gekom. Die rivier se loop het verander; deur die landerye het ’n nuwe rivier geloop.

Evcom is later verander na Eskom.

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Danie, baie, baie dankie vir hierdie kosbare stukkie herinnering ...  ek was nie te ver gewees nie ...

  • Dankie van my kant af ook. Ek het nie die vloed meegemaak nie maar was 'n jaar of drie gelede gestasioneer in Laingsburg met 'n siviele konstruksieprojek. Ek het behoorlik aan die inwoners (veral die wie beïnvloed was) se lippe gehang as hulle daaroor gepraat het. Sal dit waardeer as Danie se relaas hierbo op een of ander manier by die Laingsburg-bibliotekaresse (haar naam vir 'n oomblik vergeet) kan uitkom?

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top