tussen ou telefoonboekblaaie se
dikgetikte nommers
(alfabetiesbelys)
vingerlees ek
op soek
na jou –
in Sunnyside se hokkies onthou ek
my woorde deur geld in gleuwe glip
as jou stem weg-stip
op ’n grens waar jou diens
my waardeloos sien;
ek het o-so-bliksemsbang
jou japon om my gehang;
ek het sinneloos gebid dat
Old Spice ons sou bind
ter wille van ’n ongebore kind
toe vind ek jou :
in-staatsie-rou
© Susanne Pike
Kommentaar
Die skok by die onverwagte ontdekking van iemand se skielike afsterwe, is ontstellend voelbaar in hierdie skitterende gedig.
'n Uitnemende skryfster!
Susanne mag ons en ons nageslagte nooit ophou om jou feesmaal van woorde te geniet nie!
Skryf gedurig, ons wag gretig.
Fantasties bewoord. 'n Mens verwag wat kom, maar is tog geskok die oomblik as jou vermoede bevestig word. Uitstekende gedig.
Baie dankie!