Toe dit nog vroeg was: antropologie in versvorm

  • 0

Toe dit nog vroeg was
Mari Grobler
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624049425
Prys: R110.50

Klik hier en koop Toe dit nog vroeg was nou van Kalahari.net!

Mari Grobler se derde digbundel sentreer rondom die leefwyse van die vroeë San- en Khoi-bewoners van Suidelike Afrika – iets wat reeds gedeeltelik in haar bundel Eggo’s in bewolkte water (2004) figureer. Daarmee verbreed sy die relatief klein korpus werke in die Afrikaanse digkuns wat tot dusver die land se inheemse bevolking tematies ontgin het. Grobler se werk vertoon onder andere raakpunte met Antjie Krog se rekonstruksie van Xam-gedigte in Afrikaans (Met woorde soos met kerse, 2002) en haar bundel die sterre sê “tsau” (2004). Met betrekking tot ’n ander inheemse groep is die spreekwyse en leefwêreld van die Griekwa-mense deur Hans du Plessis as poëtiese boustof verwerk (Innie skylte vannie jirre, 2001 en sy daaropvolgende bundels). Wat die prosa betref, dink ’n mens onvermydelik aan Dwaalstories (1927), die fyn, ongekunstelde verhale van Eugène N Marais oor die inheemse Afrika-mens.

Op die onlangse Stellenbosse Woordfees het Grobler in ’n onderhoud gesê dat sy in wese ’n Strandloper is, en haar graag terugtrek in die kusomgewing waar die San-voormense geleef het. Sy het ook ’n groot hoeveelheid navorsing oor die onderwerp gedoen, sodat dit nie verbaas dat haar jongste gedigte die ervaringswêreld van die San en Khoi so oortuigend uitbeeld nie.

Grobler se verse tref veral deur die manier waarop sy historiese en geografiese gegewens tot poësie omvorm. Terwyl die gedigte eenvoudig en toeganklik is, is hulle fyn afgewerk, en meestal gestroop en besonder delikaat. Maar agter die woorde lê daar ’n verwondering aan die ryk erfenis wat die hedendaagse mens nie intiem ken nie. Deur die pretensielose aanbiedingswyse word ’n sfeer van ongereptheid opgeroep, en lesers word ingetrek in die magie van ’n “voortyd”, soos die eerste afdeling ook heet. Die afbeelding van ’n voetspoor op die bundel se voorplat en agterste skutblad skep die gevoel dat die vroeë bewoners tegelyk aan- en afwesig is. ’n Mens sou trouens die hele bundel as ’n “spoor” kon bestempel, en die gedigte as tekens, of “traces”, soos Derrida dit in sy literêre teorie genoem het – reste of moontlike aanduidings van ander tekens. Hierdeur wil die digter ’n bepaalde tyd, plek en leefwyse oopmaak, en deur die verskillende verskyningsvorme sekere vrae stel.

Die konkrete besonderhede word aangevul deur ’n reeks San-woorde (“n!Heis” vir ’n pofadder, “gorras” vir watergate en “Khoeb” vir ’n opperwese) wat die leser help om hom of haar in die situasie te verbeel. Na die aarde word verwys as “ondermaanse een”, die “moer” (ook die titel vir die inleidende gedig) wat “beef/ in duinsand. Sy styg/ in plantsap. Sy ritsel/ in bome. Sy vlam op in die son-as.” Die hele vers is ’n beeldryke en poëtiese inlewing met die aarde wat “dans in bye” en “drup uit wolke”, en wat “meisies se kraampyn” deel. Met die vers word die toon van die bundel vasgelê. Die daaropvolgende gedigtitel, “Oer”, skakel ten opsigte van die rymklank sowel as die betekenis met die eerste gedig. Deur die genoeglike ritmiese gang van die versreëls word ’n element van misterie bewerkstellig. Die sorgvuldige keuse en rangskikking van woorde en versreëls, en daarmee saam die uitbuiting van die natuurlike ritmiek van taal, is ’n stylgreep wat besonder vaardig deur Grobler hanteer word.

Toe dit nog vroeg was is ’n sprekende, metaforiese titel; dit skep afwagting en sit reeds vol poësie. Dit is ’n bundel van grotte, skulpe, land en see “tussen lug en water/ se sewe blou skakerings” (“mosselplek”), en van ’n paradyslike staat waar skepsels aanvanklik nog wag om mens te raak, met “’n man se twee bruin hande/ [as] sy enigste gereedskap”. Die hantering van die boustof is so poëties en boeiend en dat ’n mens die bundel as ’n aaneenlopende gedig lees.

Die duratiewe vorm word deurgaans gebruik, dit wil sê, dinge is besig om in die gedig te gebeur. Dit wek die indruk dat die spreker die dinge nie op ’n afstand of terugskouend beleef en verwerk nie, maar dat sy midde-in die situasie staan en voortdurend deel is daarvan. Aansluitend daarby word die veelheid van sintuiglike indrukke word vooropgestel, en lesers word verlei om saam met die digter die skulp vol sewejaartjie-tee en die soet nasmaak van koekemakranka te proe; die klip se vonk teen ysterklip te sien; en “’n jagter se sweet in klipdaggaruik” in te neem. Dit alles dra by tot die illusie van ’n direkte, onbemiddelde ervaring en staan uit as een van die sterk punte van die bundel.

Besonder treffend ook is die liefdesverse. Dink die moderne mens ooit aan die rol van erotiek by ’n oervolk terwyl ons ondergedompel word in die liggaamlike eskapades van eietydse ikone? Grobler se werk is in hierdie opsig ’n bewusmakingsproses; fasette van die primitiewe mens wat moontlik ’n vae vermoede sou bly, word deur die gedig werklik gemaak. So praat die digter in “naglig”:

spring die maan
soos ’n tier agter die rant uit
dans die grotman en sy vrou

roep die nag soms “kiewiet”!”
ken hul mekaar
op hul vingerpunte

drup wolke in die see
salf hy haar met sweet
hoor hoe sy luister[.]

In ’n gedig met die eenvoudige maar raak titel “jy’s mooi” in die afdeling “Pols” word die skoonheid van ’n jong meisie in beeldryke taal en met groot gevoeligheid beskryf. Die tipografiese aanbod en die berekende herhaling van die woord “mooi” verleen ’n liriese kwaliteit aan ’n gedig wat wieg en sing soos ’n minnelied.

’n Verskeidenheid aktiwiteite eie aan die San- en Khoi-gemeenskappe kom ter sprake. “Storievuur” betrek die rol van mondelinge vertellings, want “Narni se stories loop van mond tot mond”. Daar is ook die pylmaker wat “riete in sy hand [weeg]” tot hy die regte een vind om ’n goeie pyl te maak; die skilder (“Netnou jag hy grootwild/ met sy voëlveerkwas”); en die jagter wat “weet om wyd om ’n pikslang te sluip;/ sag te asem as [hy] pyl smeer met gif”. Soos ’n mens te wagte kan wees, word daar ruimskoots verwys na die inheemse plante- en diereryk en die mens in sy omgang met natuurelemente, asook na kosse en ander tipiese dinge wat deel van die natuurmens se alledaagse ervaring was. Al die beelde is ingebed in die natuurwêreld, selfs waar die man sy meisie merk “soos ’n bynes/ wat nog ryp moet word” (“Vermaning”).

Besonder gepas is die idioom waarin die materiaal verwoord word. Op verskeie vlakke resoneer die spreekwyses van die inheemse mens soos dit deur navorsers opgeteken en vertaal is. Vir buitestanders mag dit ongewoon voorkom, maar hierdeur word die medium doelbewus “vreemd” gemaak, en wen die gedig aan literêre meriete, outentisiteit en oorspronklikheid. Die San-reëngebed klink so:

My voete bid vir losgespoelde aarde;
gorras; ghôkumvye
en doeba se murgkos in die miershoop.

Ek dans tot die sterre se as in my oë brand.
Dankie Khoeb!
Ek hoor Ghoeroeb, die donderaar kom.

Rommelstem, kalbasklanke.
Haitsa! Sy musiek gaan die reënvrou
nou-nou hoog laat trap.

Die hele versameling verse is opvallend klankryk, en hierin hoogs funksioneel, omdat die leser die toneel nie alleen visueel nie, maar ook ouditief kan voorstel. ’n Mens hoor as ’t ware die donderweer se “rommelstem” en “kalbasklanke” of die geruis van die dans in “dansrompe met krale/ met sade/ met ystervarkpenne wat ratel” (“steenbokdans”), danksy die klinkers en medeklinkers wat mekaar eggo, maar ook deur die afbreek en inspring van reëls om die dansritme om bewegings na te boots. Tipiese uitroepe verlewendig die beskrywing, soos in “Khoi-gebed”: “Xo! Ek proe ons kind/ se naam op my tong”, of in “vonds”: “hy groet die gestrande walvis/ met ’n hopdans: ‘hau-ti-tou!’”. Grobler se gedigte sou kon dien as studie-onderwerp om te illustreer hoe poëtiese tegnieke aangewend word om gegewens meer konkreet voor te stel.

Bepaalde mensefigure en hul onderlinge verbintenisse word verbeeld in “Stormkind”, “kom en gaan”, “Hakwa” en “Hakwa se vrou”, laasgenoemde as die een wat swaar dra aan seekos, ’n abbakind , water in ’n bokvelsak en ’n groustok. Benewens haar arbeidsaamheid is sy ’n sieraad vir die oog met “halssnoere van skulp en been;/ armbande, enkelringe; okerkrale in haar hare […] maar sy bly sy derde vrou,” sluit die gedig veelseggend af. Meer van die gedigte, soos “Sewe jaar”, lewer implisiete kommentaar op die ondergeskikte posisie van die vrou en stel die man in ’n minder goeie lig. Hierdie groep gedigte sorg vir verrassende aksente, maar staan nie so sterk as die verse wat die individu se suiwer inlewing in die natuur en die liefde beklemtoon nie. Die gedigte raak algaande meer uitgesponne en dra nie die mistieke krag van die eerste gedeelte van die bundel nie.

Die fokus op die vrou groei in die afdeling “Storie” uit na ’n heroïese voorstelling: “sy wat haar hoog soos bergklip hou” het agter ’n man aan getrek. Sy verrig die harde werk, maak brandhout bymekaar “vir vurige nagte”, en treur as haar geliefde sterf. Sy “ruik […] hom in wier/ sien ’n wasigheid wat sy beeld wil word – ” en “sy hoor hom in stiltes/ in alles wat klink”. Die verhalende element gee ’n mooi geskakeerdheid aan die bundel en wek mededoë. Hoewel die lang vers beeldryk bly, raak dit effens herhalend en verloor dit momentum. Ook in die slotafdeling “Beweging” begin alles oorbekend lyk, asof die gedagtekern uitgeput is en die styl nie meer soveel verras as met die intrede van die bundel nie.

Die plasing van “alleen-vrou” aan die einde van die bundel gee prominensie aan die vroulike blik en dien as afskeidsgedig – beide die bundel en ’n man-vrou-verhouding loop ten einde. Dit is jammer dat Grobler nie op hierdie punt met ’n knal-gedig vorendag gekom het nie.

Die bundel is heg gekonstrueer rondom ’n enkele tema en die gedigte is oorwegend van ’n hoë kwaliteit. Dit kan beskou word as ’n stuk antropologie in versvorm en verdien om gelees te word deur al die inwoners wat hul op hierdie bodem bevind – en dié wat daar ver is. Oud en jonk sal daardeur verryk en bekoor word. Grobler herinner die leser op ’n verbeeldingryke wyse aan hoe ver ons hedendaagse kultuur van dié van ons gesamentlike voorsate verwyderd is, en sy maak ons jaloers. Maar die eietydse mens het steeds aansluitingspunte met sy voorgangers. Al jag en skilder, dans en praat ons vandag anders, bly ons diepste versugtinge oor eeue heen dieselfde, soos in “Winter”:

Dis koud, Ngum. Kom lê by my
tot dag in die oggendster klop.
Daar’s ’n nag se vuur in harde hout.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top