Today is tomorrow deur Caroline Kurtz: ’n resensie

  • 0

Titel: Today is tomorrow
Skrywer: Caroline Kurtz
Uitgewer: Catalyst Press
ISBN: 9781946395672

In die oë van sommige Christene word Westerse sendelinge in Afrika dikwels as heilige martelaars beskou wat die donker kontinent ten alle koste moet kersten. In die oë van sekulêre skeptici is sendelinge gewoonlik die vernietigers van inheemse kulture en irrasionele proselietmakers wat mense teen hul sin tot die Christelike geloof wil bekeer.

Albei hierdie uiteenlopende sienings van sendelinge word op hul kop gekeer in Caroline Kurtz se memoir Today is tomorrow. Dit is ’n opvolg van haar bekroonde memoir A road called Down on Both Sides: Growing up in Ethiopia and America.

...
Waarvoor sy ten diepste omgee is nie om siele te wen of ander se geloof te wil verander nie. Dit gaan vir haar in die eerste plek om mense se lewens. Geregtigheid. Genade. Vrede. Die verlossing en hergeboorte wat net die liefde kan bring (125).
...

Sy en haar man Mark is albei Amerikaners wie se ouers sendingwerk in Afrika gedoen het. Nie een van hulle twee is sendelinge in die tradisionele sin van die woord nie, hoewel albei vir die Presbiteriaanse Kerk gewerk het. Beide van hulle staan as’t ware met die een voet in Amerika en die ander voet in Afrika vanweë die besondere verbintenis wat hulle met albei het. Amerika is hulle geboorteland en Afrika is die kontinent waar hulle grootgeword het en albei se ouers as sendelinge gewerk het.

Caroline het vanaf vyfjarige ouderdom in Ethiopië grootgeword. Die gesin het in die Presbiteriaanse Kerk se mees afgeleë sendingstasie in die bergagtige streke van suidwestelike Ethiopië naby die dorp Maji gewoon. Vanaf die ouderdom van tien het sy kosskool bygewoon in Addis Abeba en toe in Alexandrië, Egipte. Sy het op 18 na ’n universiteit in die VSA vertrek, onvoorbereid op die Amerikaanse kultuur. Sy trou uiteindelik met haar jeugliefde Mark, wat ook die kind van Amerikaanse sendelinge in Ethiopië is. Kort na hul huwelik en ontnugter met Amerika keer die egpaar met hul gesin terug na Afrika om in Ethiopië, Kenia en Suid-Soedan te gaan woon en werk.

...
Caroline speel ’n belangrike logistieke rol tydens die Wunlit-vredeskonferensie om die konflik te beëindig tussen die strydende faksies in Noord-Soedan en die suide van die land wat later die wêreld se jongste onafhanklike land, naamlik Suid-Soedan, sou word.
...

In Afrika word Caroline telkens gekonfronteer met die donker kant van die kontinent vol konflik, korrupsie en armoede. Sy leer ken egter ook die menslike kant van Afrika wat as ubuntu bekend staan. Dit word dikwels beskryf as iets om ons te herinner: “Ek is wat ek is as gevolg van wie ons almal is.”

Haar verhaal speel af teen die agtergrond van die tweede Soedannese burgeroorlog wat van 1983 tot 2005 geduur het. Caroline speel ’n belangrike logistieke rol tydens die Wunlit-vredeskonferensie om die konflik te beëindig tussen die strydende faksies in Noord-Soedan en die suide van die land wat later die wêreld se jongste onafhanklike land, naamlik Suid-Soedan, sou word.

Sy beskryf haar werk in Suid-Soedan as die belangrikste en mees hoop inspirerende werk wat sy in al haar jare in Afrika gedoen het. “Terugskouend lyk dit net reg. Hoop en wanhoop, vrede en oorlog, versoening en geweld – hierdie teenstrydighede lê skerp langs mekaar in Suid-Soedan” (142).

Sy pas nie in een van die stereotipies van ’n tradisionele sendeling nie. Sy is nóg heilige martelaar nóg proselietmaker wat mense teen hul wil tot die Christelike geloof probeer bekeer.

Sy wou nooit ’n sendeling geword het nie. Haar roeping lê vir haar daarin om mense te onderrig en te help om selfstandig te wees. Sy het veral ’n sagte plek vir die vroue van Afrika, wat onder ’n geweldige patriargale stelsel gebuk gaan.

Hoewel sy nog altyd ’n skerp gevoel het vir die geestelike dimensie van die lewe, gaan dit vir haar in die eerste plek oor die mens. Waarvoor sy ten diepste omgee is nie om siele te wen of ander se geloof te wil verander nie. Dit gaan vir haar in die eerste plek om mense se lewens. Geregtigheid. Genade. Vrede. Die verlossing en hergeboorte wat net die liefde kan bring (125).

Een van die interessante aspekte van die boek is die besef dat die Christendom nie so nuut of vreemd aan Afrika is as wat mens dikwels geneig is om te dink nie. Afrika figureer reeds sterk in die vroeë geskiedenis van die kerk nog lank voordat Europese sendelinge mense in Afrika wou kom kersten.

Die Noord-Soedannese het Egipte in die 8ste en 7de eeu vC verower en in omstreeks 500 nC het die Nubiërs die Christendom in drie noordelike Soedannese koninkryke aangeneem.

Die kerkvader Augustinus was byvoorbeeld ’n Noord-Afrikaan en die Koptiese kerk in Egipte het reeds in die eerste eeu na Christus tot stand gekom. Die Christelike geloof het dus nie in die eerste plek deur middel van Westerse sendelinge na Afrika gekom nie. Dit is reeds in die  9de en 10de eeu deur middel van gewone mense in Afrika versprei wat die tradisie mondelings van geslag tot geslag oorgedra het. Mense in Afrika het die barmhartige God van Islam en die Christelike God van liefde ’n welkome verligting gevind bo die kwaadwillige geeste van die wêreld waarmee hulle toe bekend was.

Caroline word tydens haar werk in Afrika nie net met die konflik van Afrika gekonfronteer nie. Haar huwelik is ’n persoonlike konflik wat telkens dreig om ’n burgeroorlog van sy eie te word. Haar man se depressie, woedebuie en voortdurende beskuldigings dat sy hom nie waardeer nie, lê heeltyd swaar op haar gemoed. Saam met die heersende idees van Bybelse vroulikheid plaas dit groot druk op haar persoonlike lewe en ook op haar huwelik.

...
Caroline se verhaal is die verhaal van soeke na die immer ontwykende vrede. Vrede tussen die strydende faksies in Soedan, maar ook die soeke na innerlike vrede in haar eie deurmekaar gemoed.
...

Beide sy en haar man word gekonfronteer met die korrupsie en omkopery wat alombekend is aan Afrika en so dikwels deel is van die alledaagse kultuur. Dit bots met haar eie oortuigings en beginsels. In ’n stadium moet sy kies tussen die betaal van omkoopgeld om ’n verkeersboete vry te spring en om hof toe te gaan.

Terwyl haar man daaroor huiwer, is dit vir haar geen kwessie nie. Sy weier botweg om die omkoopgeld te betaal en moet hof toe gaan om haar saak te stel. Na ’n yslike gesukkel en rompslomp in die deurmekaar hof is die boete wat haar opgelê word, dieselfde bedrag as wat die omkoopgeld met veel minder moeite sou gewees het.

Sonder om die korrupsie in Kenia en elders in Afrika enigsins te probeer regverdig, besef sy dit is nie so eenvoudig as om met ’n Westerse bril daarna te kyk nie. Keniane en buitelanders debatteer dikwels wat om te maak net die korrupsie wat oral in Kenia posgevat het. Idealiste glo as niemand omkoopgeld aan die polisie betaal nie, sal hulle uiteindelik ophou om mense te probeer omkoop. Die realiste argumenteer weer dat baie van die omkopery eerder net gesien moet word as ’n fooitjie om vinniger tussen al die rompslomp deur geholpe te raak.

Caroline se verhaal is die verhaal van soeke na die immer ontwykende vrede. Vrede tussen die strydende faksies in Soedan, maar ook die soeke na innerlike vrede in haar eie deurmekaar gemoed.

Na die vredesberaad tussen Noord- en Suid-Soedan het sy nooit weer na Soedan teruggekeer nie. Daar het nuwe etniese geweld in Suid-Soedan uitgebreek wat in 2013 in ’n volgende burgeroorlog ontwikkel het. Suid-Soedan word vandag algemeen as ’n mislukte staat beskou en is steeds in ’n voortdurende burgeroorlog gewikkel.

In Caroline se woorde is dit ’n nasie wat hoop op die beste, maar nie te verbaas of moedeloos is wanneer die beste nie gebeur nie. Hulle dwaal voort in hul eie wildernis en probeer weer en weer om daardie beloofde vrede te vind (240).

Vir Caroline was haar verbintenis met Afrika paradoksaal. Sy het gevoel sy behoort daar maar ook nie regtig nie. “Ek het behoort en ek het nie behoort nie.” Dit was in Suid-Soedan waar sy vrede met haarself kon maak, maar dit is ook die land van immer ontwykende vrede.

Die kompleksiteit van Afrika met sy etniese, kulturele en geloofsverskille laat die leser met die vraag of daar ooit lig sal wees in die tonnel van donker Afrika. Maar ook met die besef dat mislukkings en suksesse mekaar op hierdie kontinent altyd afwissel net soos die retoriek van oorlog en vrede.

Kurtz deel haar persoonlike kwesbaarheid en ervaring met lesers sonder om vas te val in ’n meerderwaardige intellektuele diskoers oor die kruiskulturele verskille wat so eie is aan Afrika. Dit is ’n verhaal wat hoop skep, maar ook nie onrealistiese verwagtings vir die toekoms nie. In Afrika is môre altyd net nog ’n dag en vandag is môre.

Lees ook:

Why is Ethiopia at war? A Zoom interview with Caroline Kurtz

#ReadingAfrica | The children’s literature panel

Sending as medemenslike lewenswyse – ’n lesersindruk oor die outobiografieë van Koos Oosthuysen en Lucia Oosthuysen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top