Titel: Naweek
Outeur: Toast Coetzer
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624047599
Dis alles hier: seks, dwelms, drank, harde musiek, vinnige vroue, mooi vroue, jong meisies, nóg jonger meisies ... As jy dus lus is vir 'n lekker boek oor seks, drugs en rock 'n roll, koop Naweek onmiddellik.
Die rockster Le Roux Basson, beter bekend as Maanhaar, is op die kruin van die golf. Hy kan niks verkeerd doen nie. Die CD's vlieg van die rak af, die mense staan tou om sy handtekening te kry... Maar wat gebeur as hy van die verhoog afklim?
Wat maak Maanhaar dié naweek?
Ek gaan nie sê nie. Lees self.
Toast
Toast Coetzer is onse Hemingway. (Ek was nog altyd jaloers op Toast.) Hy is 'n musieklegende (wie't nog nog van The Buckfever Underground gehoor nie?), hy's 'n fotograaf van formaat, hy's 'n goeie joernalis. Hy reis. Wat meer is, na al die jare in die joernalistiek weet ons almal: Toast Coetzer kan skryf.
Op die voorblad staan net: "Toast". G'n niks Coetzer nie. Net sy bynaam. Dis hoe bekend hierdie knaap is. (Op die rugkant verskyn sy van wel.)
Mý vraag dus, toe ek met boek in die hand sit, was: Hoe gaan Toast skryf sonder om in die tradisie te verval? Ek het verwag dat dit nie 'n clichématige roman sou wees nie. Daar is net té veel van 'n rebel in Toast.
En toe doen hy dit wél: hy gryp van die bekendste tekste in ons letterkunde, absorbeer hulle en verwerk hulle. Hy verbreek dus nie die tradisie nie, hy herskryf dit. Dit is tekenend dat Henk, 'n joernalis, op bladsy 146 aan Le Roux, die hoofkarakter sê: "Jy's 'n cliché. (...) 'n Rock and roll-cliché."
Die oorsprong van die woord cliché is 'n Franse onomatopee, clicher, wat die klank naboots wanneer 'n stereotiep in die gesmelte lood val om letters voor te berei vir die drukpers.
Coetzer gebruik ander tekste om die bakens van sy eie roman daar te stel. Deur die clichés openlik te betrek, ondergrawe hy hulle bewustelik.
Tog lees die teks soos riller. Dit is geensins 'n swaarmoedige stuk letterkunde nie.
Die roman is ook nie 'n metateks nie, maar onder die oppervlak is die spanning tussen teks en interteks so duidelik dat 'n mens dit maklik optel. Sonder om dus die storie weg te gee, wil ek graag een en ander oor die intertekste sê.
Very Bad Things en Die ryk van die rawe
In 1998 het Peter Berg die film Very Bad Things gemaak. 'n Prostituut word per ongeluk vermoor tydens 'n ramparty waar daar hopeloos te veel drank vloei. Die res van die film handel oor die karakters se poging om hulle daad weg te steek. Anders as in The Hangover (in 2009 deur Todd Phillips vervaardig), waar die karakters klaarblyklik nie weet wat die vorige nag gebeur het nie, lééf die karakters in Very Bad Things elke oomblik van die daaropvolgende dae met hulle daad saam.
Berg se film verval egter in 'n donker komedie.
In Naweek is die karakters elke liewe oomblik bewus van hulle daad. Anders is in Very bad things weet die leser van Naweek egter nie wat die daad is nie. In Naweek word die gebeure soos die stukkies van 'n legkaart uitgedeel. Hier teen die middel van die boek weet ons al wat gebeur het, maar tog tref die einde, ja ook die tweede laaste sin, 'n mens soos 'n knie tussen die bene.
Daar is heelwat humor in Coetzer se boek, maar dit vervlak nooit tot 'n komedie nie.
In dié opsig toon Naweek heelwat ooreenkomste met Die ryk van die rawe deur Jaco Fouché. Fouché se karakter dra ook die volle gravitas van sy bedwelmde wandade met hom saam tot die einde toe.
Inteendeel
Naweek begin met 'n doodsberig. Dit handel oor die hoofkarakter.
André P Brink het dit ook al gedoen. Inteendeel begin met: "Ek is dood ..."
Brink se hoofkarakter hop egter salig tussen die lewe en die dood rond. Vir Coetzer is die dood die dood. Punt. Die boek begin dus by die einde en werk sigself agterstevoor om na die begin toe. (Dit eindig ook met die dood ... )
Kroniek van Perdepoort
In 1975 laat Anna M Louw die leserspubliek regop sit met 'n roman, Kroniek van Perdepoort, waarin die dae agterstevoor vertel word. Ons begin by Sondag en ons eindig met Vrydag. Louw word in 1976 bekroon met die Hertzogprys vir die roman. Later sou sy ook die CNA-prys en die WA Hofmeyr-prys daarvoor inpalm.
Coetzer volg die meesteres se voorbeeld. Na ons Maandagoggend se doodsberig lees, word Maanhaar Sondagoggend wakker wanneer daar twee polisiemanne aan sy deur klop. As Sondag verby is (en die leser die oomblik van die Maanhaar se dood beleef), kom Saterdag aan die beurt. Uiteindelik ook Vrydag, teen die einde van die roman.
Weer wend Coetzer hom dus tot die kanon, haal 'n teks van die rak af, maak hom daarin tuis en herinterpreteer dit.
Naweek word achronologies vertel, maar die plot is duidelik met fyn vernuf aanmekaar gelas. Die einde van die boek kon nie anders nie, dit ís die einde. Daar is geen manier waarop hierdie verhaal chronologies vertel sou kon word en steeds dieselfde impak sou kon hê nie.
Disgrace
Kort na JM Coetzee se Disgrace verskyn het, was daar 'n enorme opwelling van stemme uit regse geledere wat die boek geprys het vir die "akkurate" manier waarop Suid-Afrika se misdaadsituasie uitgestal word - almal het verwys na die verkragting van 'n wit vrou deur 'n swart man.
Gek genoeg was dit slegs 'n paar liberale stemme wat - sonder sukses - probeer uitwys het dat daar twéé verkragtings voorkom in Disgrace. Die eerste vind plaas deur 'n wit akademikus op 'n donkerkop meisie.
Toast Coetzer omarm ook hierdie gegewe. Die slegte ding, wat op Vrydagaand gebeur het, is waaroor die roman gaan, maar op Sondagoggend verkrag Maanhaar sy meisie wanneer dié kwaad is vir hom oor sy lollery met ander vroue. Dié toneeltjie herinner nogal sterk aan die versweë verkragting in Disgrace.
Ek sou baie belangstel om te sien wat die regses van hierdie boek dink. Waarskynlik niks, want die verkragte meisie is taamlik swoel, en die verkragter wit.
Horrelpoot en Heart of Darkness
Eben Venter se Horrelpoot is nóg 'n teks wat, om al die verkeerde redes, deur die regse kabaal opgeëis is. Venter se teks is 'n moderne herskrywing van Joseph Conrad se Heart of Darkness. Venter skets 'n Suid-Afrika wat oorgeneem is deur misdaad - die paaie is byvoorbeeld onbegaanbaar en omkoopgeld is die norm.
Coetzer speel in op dié gegewe deur kortliks te verwys na probleme in ons 'n buurland waarheen die regering per lugbrug kos stuur, aangesien die kuspad deur bendes beheer word.
Ek het lank getob oor hierdie een. Waarom is dit nodig? Al wat ek kan dink, is dat Coetzer by die metafoor van die donker hart wil uitkom. En in hierdie roman loop die wit helde se harte oor van donkerte.
Typhoon
Dalk, net dalk, moet ons nie vergeet van Joseph Conrad se Typhoon nie. In Naweek berus 'n geweldig groot deel van die teks op die ontsettende reënstorm wat die stad tref tydens die baie slegte ding wat gebeur.
En, net soos in Typhoon, is dit nie die weer wat skuldig is nie, maar wel die stuurman. Meer gaan ek nie sê nie. Lees self.
Ter opsomming
Ek hoop ek het julle lus gemaak om die boek te lees.
Naweek is geensins spookasemleesstof nie, maar as jy hou van sterk koffie en donker sjokolade, dan is dít waaraan hierdie boek my herinner: dis bitter, maar lekker.

