
To Rome with love
Regisseur: Woody Allen
Rolverdeling: Woody Allen, Judy Davis, Alec Baldwin, Jesse Eisenberg, Ellen Page, Penélope Cruz, Roberto Benigni

Woody Allen werk deur sy lys odes aan wonderlike Europese stede: Vicky Cristina Barcelona, Midnight in Paris, en nou To Rome with love. Hy het lanklaas in een van sy eie flieks gespeel, en hy is blykbaar nog nie moeg vir sy “neurotiese klein mannetjie”-ding nie, maar die satire in hierdie film is heerlik lig en gemoedelik – die titel word opreg bedoel.
Daar is vier afsonderlike storielyne wat nooit kruis nie, en elkeen raak aan ’n tema wat ’n Italiaanse stereotipe verteenwoordig: (1) ’n New Yorkse paartjie (Allen en Judy Davis) sluit in Rome by hul dogter aan vir ’n vakansie. Jerry is ’n onwillig afgetrede operaregisseur en eintlik op soek na ’n projek – want hy begeer mislukking, soos sy onsimpatieke psigiatervrou dit stel. (2) Twee jong pasgetroudes arriveer in Rome vir die werksgeleentheid wat die man se familie hom bied. Wat volg, is ’n “comedy of errors” wat tog te sjarmant spot met die Italianers se reputasie as befaamde minnaars. (3) ’n Amerikaanse argitek (Alec Baldwin) wat dekades gelede in Rome gewoon het, loop terug op sy ou spore en ontmoet drie jong Amerikaners wat in ’n liefdesdriehoek verstrik is. Allen hou immer sy oë oop vir vars, jong talent, en dis nie verrassend dat hy Jesse Eisenberg (The Social Network) en Ellen Page (Juno) nadergetrek het vir hierdie film nie. (4) ’n Doodgewone Italianer (Roberto Benigni) word op absurde wyse eensklaps ’n selebriteit. In hierdie besonder snaakse storielyn satiriseer Allen die obsessie met “celebrity” en werklikheidstelevisie behoorlik. Dis tone-krul-lekker.
Nie Allen se beste film nie, maar baie beslis kykbaar.

