
Foto: Canva
Tindervlinder
Tindervlinder Ans Viljee
vee na regs en skree:
“Jacob, jy’s net die man vir moi,
vee terug, o joie de vivre!
Ek’s wel tagtig, o Griekse god,
maar met ou mans is ek Ikabod,
Ryk geërf, ja dis gewis,
maar dis hartstog wat ek mis,
My stywe beurs staan wawyd oop
as jy my poort sou binneloop.”
Jonkman Jacob Pik de Kock
woonagtig te Renosterkop
vee ook na regs, toe’s hul ’n match,
Ans gil verheug “o, wat ’n catch!”
Sy lig haar dieprooi cabernet:
“Op ons liefde wat gaan gedy,
’n weduwee, dit wil jy hê
en ek wil meer as lepellê
Langs die strand gaan ons tête-à-tête
Ons eindig dalk selfs in die bed?”
In die branders sweer hul trou,
slegs ’n thong wat aan hom klou,
Ans, nou ’n internetikoon,
word met miljoene likes beloon
Grit Granny en haar katelknaap
het selfs ’n Webby opgeraap
Dosyne staan in die hoofborgtou
Dit word aan GrandPad toevertrou
Seg Ans Junior vir haar broer:
“Ons erfnis is nou in sy moer.”


Kommentaar
Uitstekend. Ons soek meer van oor die wel en wee van me Viljee!
Beste Lee, baie dankie vir jou gawe woorde. Ek is bevrees ek is nou "klaar" met die arme Weduwee Viljee. Die trilogie het boonop op 'n gelukkige noot geëindig, so ek gun haar 'n rustige (of moet dit lees wellustige? 😉) laaste jare met haar katelknaap! 😂
Ek is dol oor die gedig! Mens kan sommer sien hoe die hele storie afspeel! Puik geskryf.
Baie dankie, M! Ek waardeer jou gawe woorde.