Sy kon Gerook eenvoudig nie neersit nie, en daarom wou Zoë Salzwedel* graag vir Eldridge Jason ’n paar vrae oor hom en sy unieke jeugboek vra.
Vertel ’n bietjie van jou regte werk. Hoe lank is jy al ’n joernalis?
Ek is al die afgelope veertien, vyftien jaar in die bedryf. Ek werk die afgelope sewe jaar by ’n poniekoerant in die Kaap, waar ek daagliks met die lief en leed van veral diegene op die Kaapse Vlakte te make kry. Maar selfs die suur het plek-plek ’n soeterige smakie en ek geniet dit om elke liewe dag nuwe mense te ontmoet. Ek geniet my werk, want tussen al die seer en smiles, is daar baie stories wat nog nie vertel is nie.
Was dit vir jou moeilik om al die “tale” (soos Vaalberg se streekstaal en die “tik-taal”) so akkuraat uit te beeld? Want in ander plekke in die boek skryf jy in baie mooi Standaardafrikaans. Hoe het jy dit reggekry om so goed te wissel tussen die tale?
Dit was nogals nie te moeilik nie. Maar weet jy, die oorspronklike Gerook-manuskrip was geheel en al in Kaaps geskryf. My uitgewer het egter die veranderinge voorgestel, want Kaaps is ’n verskriklik moeilike streeksdialek om te lees. So die idee was toe om die dialoog Kaaps te hou en die res van die storielyn Standaardafrikaans te maak, wat toe nogal nice uitgewerk het. Ek is verskriklik bly dat ’n balans tussen Kaaps en Standaardafrikaans gekry kon word.
Hoe lank het jy nagevors aan die onderwerp?
Weet jy, daar was eintlik nie veel navorsing nie. Gerook is wel fiksie, maar baie dele daarvan is geskoei op my eie lewensverhaal. Baie van die situasies waarin Cobie hom bevind, moes ek ook maar my way uit veg en die karakters is maar mense wie ek in my malste fases mee rondgehang het.
Hoekom ’n boek oor tik, en hoekom ’n jeugverhaal? Jy kon maklik vir grootmense’n boek geskryf het.
Tik sorg vir sulke groot verwoesting in ons gemeenskappe. Tog word die devastating impak van dié cheap drug nie genoeg onder die vergrootglas geplaas nie. Deesdae is dit die angswekkende tendens op veral die platteland, waar jeugdiges deur gewetenlose dwelmhandelaars geteiken word. En ek wou net ’n bydrae maak om veral die jeug bewus te maak van die gevare van tik.
Daar is ’n lekker onverwagse kinkel in die kabel oor wie die verskaffer is. Waar het jy daardie idee gekry?
Ek het aanvanklik met verskeie scenario’s rondgespeel en die uiteindelike een was die een wat baie aanklank gevind het. Soms is dit mos hoeka die mense naaste aan jou wat die meeste skade kan aanrig. En uit my persoonlike ondervinding is dit juis diegene in jou sirkel van vertroue wat die meeste in staat is om die lewe nie net vir jou moeilik te maak nie, maar ook jou lewe te verwoes. Die onthulling van die verskaffer is nie om jong mense te skok en agterdogtig teenoor die ouer garde te maak nie, maar dit net onder hul aandag te bring dat mens dinge fyn moet uitcheck.
Is jy bietjie soos Cobie, of is hy soos jy?
Lol, is dié ’n strikvraag? Ek sien baie van myself in Cobie toe ek sy ouderdom was: hardkoppig en eiewys, maar tog ook met ’n streep vir pret en stout wees. By baie van die tonele en plekke waar Cobie hom bevind, het ek ook maar ’n draai gaan maak, en
dinge het ook nie altyd lekker uitgedraai nie.
Waar kry jy die idees vir jou karakters? Ken jy sulke mense?
Al die karakters is geskoei op mense wie al my paadjie gekruis het: die goeies én die slegtes. Vir my was dit baie belangrik om die storielyn so realisties as moontlik te maak en vir daardie doel moes die karakters natuurlik ’n weerspieëling daarvan wees. Gerook sny so na aan die realiteit as moontlik en die karakters is dieselfde individue daar buite wat so uit hul pad gaan om jonges se lewens te verwoes.
Word tikkoppe regtig “vaak apies” genoem? Watter ander interessante terme is daar nog rondom tik?
“Vaak apies” is ’n term waarmee ek self opgekom het. Dit was altyd vir my so interessant om uit te hang met sulke karakters waar slaap die laaste ding op hul mind was. En toe noem ek hulle sommer vaak apies – jeugdiges wat smag na ’n ordentlike nagrus, maar vir wie dit bly ontwyk weens die uitwerking van die tikdwelm op hulle. Hulle staan ook bekend as “tjoeffers” wat daarvan hou om “rolbôl” te speel – ’n verwysing na hoe die tiklollie in die rondte gedraai word met ’n aansteker wat hitte verskaf. En as tjoeffers praat van “duidelike werk”, verwys hulle na die gehalte van die tik wat hulle rook.
Wou jy met die boek tieners waarsku teen die gevare van tik? Indien wel, hoe het jy dit reggekry om nie prekerig te klink nie maar op ons vlak te praat? Hou oud is jy?
Ek is darem nog nie so oud soos die berge nie, maar het darem ook al 35 somers op aarde gehad. Kyk, ek ken nie een mens wat daarvan hou om voor gepreek te word nie, en alhoewel ek jonges teen die gevare van tik wou waarsku, wou ek nie hê dit moet soos ’n preek oorkom nie. Die jeug is nie dom nie. Hulle ken die gevare van drugs, maar tog val baie van hulle steeds in daardie strik. Ek wou deur middel van ’n speurstorielyn, iets wat hulle nuuskierigheid sou prikkel, die boodskap oor die vernietigende uitwerking van veral tik by hulle tuisbring.
Toe ek die eerste keer in die boek sien van Mxit het ek gedink: “Ag nee, oudmodies, want BBM is nou die in ding.” Was jy nie bang tieners sien dit en dink die boek is nou “outdated” nie?
Hehehehe, in die konteks waarin die boek afspeel, is Mxit nog ver van outdated af. Daar is baie jeugdiges wat nie R59 vir ’n BIS-aktivering kan bekostig nie. So baie “mix” nog as ’n goedkoop alternatiewe kommunikasie-medium. Maar die uitdaging lê altyd daarin om ’n verhaal en storielyn so relevant as moontlik vir die jeug te hou. As dié storie eers twee jaar later die lig gesien het, sou Mxit egter veel te outdated gewees het en sou die karakters in alle waarskynlikheid met BB hêppie of sad gesiggies rondgeloop het.
Vir my was die boek vol waardevolle inligting, maar met ’n lekker storie. En lekker humor! Is dit moeilik om soveel dinge binne een boek reg te kry?
Balans was vir my van kardinale belang. Ek wou nie hê Gerook moet ’n ernstige affêre wees nie. Maar die jonges moes darem ook nie só lag dat hulle die boodskap mis nie. Ek moet eerlikwaar sê die feit dat al die elemente so goed inmekaar vloei en mekaar komplementeer, was vir my ook ’n aangename verrassing.
Beplan jy nog jeugboeke?
Die jeug en sy vooruitgang is iets wat my baie na aan die hart lê. Ons kinders is ons boustene, ons bakens van hoop vir die toekoms, en daar is soveel slaggate daar buite waarteen ons as volwassenes die jeug kan waarsku en guide. Dit is dus my wens om nog baie, baie jeugverhale die lig te laat sien.
Ek neem aan jy lees baie. Wat lees jy graag?
Ek verslind enigiets met ’n goeie storielyn, veral iets wat my vasgevang het en aan die raai hou. Ek het nie juis gunstelinge nie, maar die Harry Potter-reeks en die speurverhale van Deon Meyer is vir my ’n goeie balans tussen die kind en grootmens binne my. En enigiets in between is ook ’n bonus. Lees is nie net ’n manier om jou wêreldkennis te verbreed nie, maar ’n lees-trip sit jou op ’n reis waar jou drome vlerke kry.
Zoë het ook ’n resensie van Gerook vir Rapport geskryf. Lees dit hier.
* Zoë Salzwedel word een van die dae 15 en is ’n leerling aan die Hoërskool Alberton.

