Tien vrae: Koos Kombuis oor rock&roll.karoo – 33 digitale gedigte

  • 1

Skrywers oor hul nuwe boeke: Koos Kombuis gesels oor sy e-bundel rock&roll.karoo – 33 digitale gedigte.

Wie/wat is jou muse? Waar ontspring ’n gedig, of dan die kieme vir hierdie rock&roll.karoo – 33 digitale gedigte, vir jou?

Gedigte kom van ’n effens ander plek in my as liedjies, veral my populêre rymelaryagtige snaakse liedjies. Dit hou meer verband met geloof, beelde, die kollektiewe onderbewussyn en die irrasionele.

Wat is die moeilikste deel van die digproses vir jou?

Dis nie eintlik moeilik nie. Dalk sou dit moeilik gewees het as ek ’n ware groot digter was, maar ek is net iemand wat so nou en dan ’n idee kry. Soms, wanneer ek reis, of waarlik stil word, klop die gedigte vanself aan my deur en maak hulself tuis in my kop, soos ongenooide gaste. Ek probeer hulle maar innooi, selfs dié wat nie almal ewe mooi is nie.

Veroorsaak ’n e-bundel se gedigte ’n nog meer vlietende nalatenskap van die digter of die betrokke digbundel? Of word die lengte van ’n digter of ’n (gedrukte) bundel se nalatenskap in elk geval oorskat?

Ek het aanvanklik hierdie manuskrip aan ’n paar uitgewers gewys met die oog op ’n konvensionele boek. Deur die bank was almal baie entoesiasties, maar almal het ook dieselfde ding gesê: “Gedigte maak nie geld nie.” Asof ek dit vir die blerrie geld doen! Aangesien Thompson Boekdrukkery en hul filiale spesialiseer in e-boeke, het ek dit aan hulle voorgele as ’n stokperdjie-projek. Daar is geen drukkoste nie en ons verkoop die e-bundel spotgoedkoop, onder R50. Jy kan dus ’n digbundel op jou skerm te lees kry vir die prys van ’n rechargeable battery. En, soos ’n rechargeable battery, kan jy dit hou so lank as wat jy wil.

Is jy in jou digkuns fyner ingestel op klank of op beeld; of is klank en beeld vir jou intiem verweef?

In hierdie geval, beide, en daar is ook ’n derde element: die visuele impak. Hoewel mens sonder moeite hierdie gediggies kan voordra, het ek heelwat sports gehad met die leestekens en die “digitalisering”. Die nuwe media kan taal verryk en omskep in ’n nuwe soort kuns.

Hoekom die Karoo en hoekom rock & roll?

Vandat ek my verstand gekry het, vertel my skoolpel Etienne van Heerden my hoe ’n nice plek die Karoo is. En ek dog toe altyd: “Hoe boring! Dis net klippe en windpompe en skape!” Die afgelope paar jaar het ek egter die Karoo, in besonder die Groot Karoo, vir die eerste keer ontdek. Ons gaan aanhoudend terug soontoe. Ons koop skaapkarkasse en ons maak vuur en ons braai en ons kyk na die sterre en ons loop in opstalle op krakende houtvloere en ek skryf skielik weer gedigte. Die Karoo is meer as ’n plek; dis ’n hele heelal. Dis meer as my lewe tot dusver. Dis ’n nuwe soort rock ’n roll. Dis groter as die ou rock ’n roll, en nie so raserig nie. Ek is mal oor al daardie spasie, daardie heiligheid – dit beat selfs Woolworths op ’n Sondagmiddag.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Dis ’n goeie vraag. En vir my bring skryf, selfs populêre prosa, ook nog minder geld in as musiek. Maar as ek my kitaar permanent vir ’n computer keyboard sou kon verruil, dan het ek al. Ek is nou op daardie ouderdom. Ek raak soms bietjie moeg vir al die getjommel tussen klankapparate en drade en oordonderende dronk “fans”. Ek wil my skoene uittrek en sit en swart koffie drink op ’n rooi stoep en kyk hoe groei die skape tot tjoppies in die veld. Ek wil mymer. Ek wil snot pik as niemand kyk nie. Ek wil die pouses tussen poepe ontgin en verbeeld.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Jy bedoel gedigte? Nee, nie doelbewus nie. Maar eendag, as ek skielik besef “hier is nou genoeg versies in my hard drive”, sal ek dalk weer aan ’n catchy titel probeer dink, en begin rondshop vir ’n uitgewer wat nie wil geld maak nie.

Watter digters lees jy graag?

Daar is ’n paar opwindende nuwe Afrikaanse digters. Ek hou veral van diés met dubbeldoorname en vanne of name wat klink soos bekende rugbyspelers. Dis lekker om te sien dat poësie weer cool word. Inderdaad, poësie is dalk die nuwe rock ’n roll.

Volg jy Poolshoogte? En wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek wens ek het meer tyd gehad om Poolshoogte te lees. Ek het nie ’n i-Pad nie en ek spandeer hopeloos te veel tyd op lughawens en agter die stuurwiel. Ek onthou dat ek baie gehou het van Melt Myburgh se stuk. En ek wens ek was slim genoeg om Joan Hambidge se essay te verstaan. Wat die stand van Afrikaanse letterkunde betref: ja, hier en daar gebeur opwindende goed, al hoor ek soms te laat daarvan. Ek het nou eers Carel van der Merwe se boek Skaduwee ontdek, en kon dit nie neersit nie. Tinus Horn se boek was ook vreeslik scary.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

Ek is hoegenaamd nie bekommerd oor die toekoms van Afrikaans nie. Ek is wel bekommerd oor die toekoms van die een dialek wat mense noem Standaardafrikaans. Ek weet hierdie een dialek is nie alles nie – dis een bossie in die grote Karoo van die taal – maar ons het dit nodig in ons regswese, oor joernalistiek, in allerhande situasies waar mens nie wil vloek of spoeg of liefde maak of ouens moer in losskrums of tekere gaan nie. Al is ek nie ’n taalstryder nie; ek is nie vol fiemies oor ’n bietjie Engels hier en daar waar nodig nie, en ek is geesdriftig oor multikulturaliteit, maar dit sou ’n enorme tragedie wees as Afrikaans heeltemal uitsterf in ons skole en op ons kampusse.

Só lyk Koos Kombuis se werkstasie:

En hier's 'n proesel van wat by Koos se werkstasie ontstaan (uit rock&roll.karoo – 33 digitale gedigte, met toestemming):

  • 1

Kommentaar

  • Knap kreatiewe werk. Dis nie te verweef met klomp gekompliseerde kuberkletserasies nie. Werk vir ouens soos ek wat nog bietjie agterlik is met die druktaal van 'n qwerty-bord. Voorspoed met al jou ander projekte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top