Skrywers oor hul nuwe boeke: Elaine Marais oor Afdraaipad.

Waarom het jy jou jongste boek geskryf – en was daar een idee/emosie/faktor waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?
Afdraaipad wyk effens af van my vorige romans se patroon. Dit het steeds ’n geestelik-geïnspireerde tema, maar is, soos een leser dit reeds beskryf het, “sowaar nie ’n sprokiesverhaal nie”. Dit handel oor huishoudelike geweld en veral emosionele manipulasie. Ek het tydens die skryf van die roman baie mooi oorweeg of ek nie die boek tog maar in ’n ander rigting kan stuur nie, maar niemand se lewens is sonder afdraaipaaie nie, dus het ek die ompad sy natuurlike verloop laat neem. Ek glo egter dat lesers steeds die boek sal neersit met hoop en vrede in hul harte.
Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?
Wanneer ek navorsing doen vir ’n boek, kan ek sowaar nie verhelp om met my hele hart betrokke te raak nie. In hierdie geval was ek werklik onkant gevang deur hoe algemeen emosionele aftakeling voorkom. Dis iets wat mense eerder wegsteek. Dis regtig hartverskeurend om te hoor hoe baie vroue afgebreek word deur die mense wat veronderstel is om hulle lief te hê en veilig te laat voel.
Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?
Genadiglik het ek nog nooit ’n dooie punt bereik nie. Onthou, my boeke is geestelik-geïnspireerde fiksie – dus hoef ek nie op my eie vermoëns en insig staat te maak nie – ek kan altyd stil word en bid vir inspirasie!
Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wat?)
Dis vir my altyd belangrik dat die leser die hoofkarakter goed leer ken. Sy hoef nie perfek te wees nie – eerder iemand met wie hulle kan identifiseer. Ek kies ook die ruimte vanuit my eie verwysingsraamwerk sodat dit aanvoelbaar oorgedra kan word. In hierdie geval speel die storie behalwe in Suid-Afrika ook in Engeland af met ’n besoek aan Griekeland – altyd iewers waar ek was, sodat dit lewensgetrou beskryf word.
Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister?
Die redigeerder van Afdraaipad was in alle opsigte ondersteunend met verrykende voorstelle. Haar leiding was kosbaar en het bygedra tot die vloei van die storielyn. Die storie bly dieselfde, net mooi volledig afgerond.
Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

O gaats! Gaan ek nie ryk word nie? Ek grap net! Ek skryf mos nie vir my eie opheffing nie, maar vir die Vader – so: vergoeding is ’n bysaak.
Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?
Die volgende manuskrip is onlangs voltooi en ek is regtig superopgewonde daaroor! Dis ’n mooi liefdesverhaal en ek hou sommer baie van die hoofkarakters en almal om hulle. Daar is natuurlik ’n kinkel ingeweef wat, soos met ’n legkaart, stukkie vir stukkie saamkom om ’n volledige prentjie te vorm.
Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?
Ek het die Fountain Creek-reeks van Tamera Alexander gulsig geniet. Al haar boeke is uitstekend. Ek lees ook graag boeke van Francine Rivers en Dee Hendersen. Helene de Kock is my gunsteling Afrikaanse skrywer. Sy skryf uit haar hart en dit voel of mens die emosies van die karakters self beleef. Op persoonlik vlak is sy ook vir my ’n kosbare inspirasie.
Volg jy die Poolshoogte-skrywerskongres op LitNet? Wat sien jý, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?
Ek sal enige Afrikaanssprekende persoon wat aspirasies het om te skryf, asook dié wat reeds skryf, aanmoedig om op hoogte te bly van die ontwikkeling van Afrikaans. Die Poolshoogte-skrywerskongres is ’n statige platform daarvoor. Ons moedertaal het so ver ontwikkel vandat dit sy kombuisstatus finaal afgeskud het en as amptelike taal erken is op 8 Mei 1925. Ouer Afrikaanse literatuur lees soms plat noudat daar soveel beskrywende nuutskeppinge bygevoeg is. Ongelukkig sluit dit platvloerse anglisismes en sleng in waarvoor daar sekerlik beter alternatiewe bedink kan word.
As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die literêre landskap nou?
Daar is wêreldwyd 6,8 miljoen mense wat Afrikaans praat. Hoeveel van hulle praat egter suiwer Afrikaans wat die taal se bestaansreg bevorder? Engelse beskrywingswoorde word klakkeloos ingemeng. Maar: almal praat so en almal verstaan dit – daarom verkoop Afrikaanse literatuur wat die presiese omgangstaal weerspieël, soos soetkoek. Ek dink nie ons moet omkyk-omkyk met Afrikaans omgaan nie; eerder sif deur die literatuur wat wel beskikbaar is en dit ondersteun. Daar is darem steeds skrywers wat moeite doen om mens te voed met mooiklinkende Afrikaans wat mens trots maak op ons “nuwe” taal.

