Tien vrae: Chanette Paul oor Ewebeeld

  • 0

Skrywers oor hul nuwe boeke: Chanette Paul gesels oor Ewebeeld.

Waarom het jy Ewebeeld geskryf – en was daar een idee/emosie waaruit die boek ontspring het, of kan jy verskillende faktore as inspirasie noem?

Inspirasie is nie vir my dit wat die verhaal aan die gang sit nie. Inspirasie kom al skrywende, maar daar was wel prikkels. Mens hoef net die koerant oop te maak of te luister na gesprekke om jou om te verstaan waar sulke prikkels vir spanningsromans vandaan kom.

Ewebeeld gaan wesenlik oor die houvas wat een persoon oor ’n ander kan hê. Die soort houvas wat so geleidelik ontwikkel dat dit die slagoffer blind maak vir wat eintlik aan die gebeur is. Prince Charming wat Bloubaard word sonder dat die prinses dit agterkom. In elk geval nie voor dit te laat is nie.

Emosionele mishandeling is eintlik ’n onderliggende tema in die meeste van my boeke, maar hier pak ek dit doelbewus aan. Ek gebruik tot ’n mate die hiperbool om uit te lig wat daagliks in heeltemal te veel huwelike en verhoudings gebeur: Een party word afgekraak, ontmens, sodat die ander in beheer kan voel.

In Ewebeeld gaan dit oor die mag en beheer wat ’n man oor ’n vrou kan hê, maar dit kan uiteraard ook andersom wees, of twee mense van dieselfde geslag.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Op tegniese vlak, om Lanie se verlede en die verhaalhede by mekaar uit te bring. In ’n spanningsverhaal kan jy nie begin by die begin nie. Jy val halfpad in die storie in en moet tegelyk agtertoe en vorentoe werk – veral as dit wat gaan gebeur, ’n voortvloeisel is van wat voorheen gebeur het. Daar was baie dinge wat daartoe gelei het dat Lanie in Ludolf se kloue beland het en dit was nie maklik om dit op so ’n natuurlike wyse as moontlik in te pas nie.

Op storievlak was dit moeilik om my werklik in Lanie se skoene te probeer indink. In ’n stadium kon ek haar stem nie meer hoor nie – dalk omdat sy soveel jonger is as my meer onlangse hoofkarakters. Of dalk omdat ek haar soms aan haar maer skouertjies kon skud. Ek moes hard werk daaraan om haar te wórd, maar ons het mekaar uiteindelik wel gevind.

Het jy op enige plek in die manuskrip ‘n dooie punt bereik en wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Ek het agtergekom dat ek meer in Jojo Richter se kop is as in Lanie, die hoofkarakter, s’n. Jojo kom nou al drie boeke met my saam en het in hierdie een veel meer aan my verklap as wat ek verwag het. Sy het my ’n bietjie oorrompel. Uiteindelik moes ek teruggaan en gaan soek waar Jojo begin leisels oorneem het, haar oor die vingers tik en toe dieper in Lanie se kop in delf.

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema? (Of iets anders – en, indien wel, wát?)

Meestal skryf ek onomwonde karaktergedrewe stories. In hierdie geval ook, maar ek dink die intrige en die tema spreek heelwat harder as voorheen. Ek dink dit versterk die spanningslyn, maar dit was moeilik om nog steeds genoeg aandag aan karakterisering en karakterontwikkeling te gee.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou keurder geluister?

In die meeste opsigte. Ek het ’n uitmuntende keurder gehad. Sonder haar sou die boek veel armer gewees het. Daar is egter sekere goed wat mens nie so laat in die proses heeltemal kán omswaai nie – veral nie met ’n knap keerdatum nie. Ander goed wat in die eerste weergawe nie behoorlik uit die verf gekom het nie en tot waninterpretasie gelei het, kon ek duideliker omlyn pleks van verander. Daar is ook dele van die storie waar ek my diskresie gebruik het om na eie goeddunke te verander of aan te pas ná die verslag. Ek het die manuskrip grotendeels oorgeskryf en dit het die storie baie gebaat.

Skrywers het nie ‘n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Wat anders maak mens met die stories en ‘n spul mense in jou kop? ?

Op ernstiger noot, om te skryf – en spesifiek in Afrikaans – is ’n ondankbare taak, en as jou boeke nie vertaal word nie, ook ’n finansiële doodloopstraat. Ontspanningsfiksie is ook nie die cash cow wat almal dink dit is nie. Dis nie die soort boeke wat op skool of by universiteite voorgeskryf word nie. Dis boeke wat mense uit eie vrye wil aanskaf – of nie.

Daar is egter goed wat mens vir geld doen en daar is goed wat jy doen omdat jy nie anders kan nie. Omdat jy daarsonder ’n halwe mens sal wees.

Ek vermoed ek skryf eerstens om sin te maak van wat om my aangaan. Om te verstaan wat ek sien en hoor en ervaar. Skryf is die een ding waarsonder ek nie die werklikheid sal kan verwerk nie. In my stories kan ek aanpak wat my pla. Kan ek dinge regskryf wat in die werklikheid skeefloop.

Ons leef in ’n land van twis, tweedrag en onenigheid. Op alle vlakke, maar miskien veral op interpersoonlike vlak, loop die spanning hoog. Ek het so sewe jaar gelede doelbewus besluit op ontspanningsfiksie as voertuig, met die hoop dat my boeke my lesers (en ook vir my) sal help om te ontspan en moed te gee, te laat goed voel en dalk ’n bietjie na te dink. Met alles wat rondom ons gebeur, is dit broodnodig om tydelik te kan ontvlug, tydelik getroos te kan word dat die goeie wel oor die bose kan seëvier. Ander mense dien op komitees of bedryf sopkombuise, of samel geld in om van die wêreld ’n beter plek te probeer maak. Ek skryf my stories en hoop ek lewer so ook my beskeie bydrae tot ’n groter welsyn. Skryf is my sopkombuis.

En ek skryf juis in Afrikaans, nie net omdat dit my moedertaal is en ek my die beste daarin kan uitdruk nie, maar ook omdat ek wil glo dat ek tog ’n bydrae daartoe lewer dat Afrikaans sal voortbestaan. Ek glo dit sal as spreektaal oorleef, solank dit met genoeg oorgawe geskryf en gelees word.

Werk jy reeds weer aan ‘n volgende manuskrip?

’n Nuwe storie waaroor ek baie opgewonde is, woel reeds die afgelope paar maande in my gedagtes. Ek was onlangs ’n maand lank in België, waar ek onder meer navorsing gedoen het rondom die idee en daar veral het die storie so stadigaan al meer begin lyf kry, al is dit nog net in my kop. Ek hoop om ná die bekendstellings van Ewebeeld my sit agter die rekenaar te kry en volstoom daaraan te begin skryf.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ek het baie gunstelingskrywers, maar ek dink nie ek het werklik ’n skryfheld nie.

Ek het wel groot bewondering vir skrywers wat ’n sterk eie stem binne bestaande genres laat opklink, soos Tana French. Ek het ook bewondering vir mense soos Deon Meyer, Irma Joubert en Karin Brynard wat so met vertalings woeker en ons toenemend op internasionale vlak verteenwoordig. En ek het geweldig bewondering vir die nuwe skrywers wat nou in Afrikaans uitdop en in verskillende genres en subgenres werk van internasionale gehalte lewer, soos Irma Venter, Martin Steyn en Madelein Rust.

Volg jy Poolshoogte en wat sien JY, vanuit jou uitsig oor die Afrikaanse letterkunde, as jy terugkyk?

Ek volg Poolshoogte net hier en daar. ’n Mens se tyd is maar beperk.

Ek sien ’n tydperk agter ons waar intellektuele skrywers hard baklei het teen gemiddeldheid, teen vooroordeel jeens ’n jong taal, en hulle stemme dik gemaak het teen onregverdighede in die bestel. Ongelukkig het dit daartoe gelei dat literêre tekste tot so ’n mate verhef is dat ontspanningsfiksie in daardie proses gestigmatiseer geraak het.

Enige taal het egter albei nodig – goeie literêre tekste en goeie ontspanningsfiksie. En alles tussen in.

Die wiel het twintig jaar gelede reeds begin draai, maar ek sien veral in die afgelope tien jaar hoe skrywers van ontspanningsfikse in sewemyllaarse geklim het en nou tot hulle reg kom. Dis ’n blye dag.

As jy omdraai en jy kyk vorentoe, hoe lyk die landskap nou?

’n Mens sal heldersiende moet wees om so ’n vraag te beantwoord.

Enersyds is ek maar alte bly oor waar ons tans is. Niks is ooit perfek nie, maar daar is nou ’n beter balans in ons letterkunde.

Andersyds is daar egter ’n hele paar verblydende faktore wat my moed gee. Lesers wat voorheen net Engels gelees het, keer terug na Afrikaans toe. Mense wat nooit gelees het nie omdat hulle nie hulle voorgeskrewe boeke op skool verstaan of geniet het nie, begin lees omdat daar nou boeke in Afrikaans is wat hulle wel aanstaan. Dis in elk geval die boodskap wat ek kry uit e-briewe en dies meer van lesers. Daar is ook die e-boeke wat dit nou makliker maak vir Afrikaanse diaspora om boeke in Afrikaans aan te koop.

Ek is dalk die ewige optimis, maar van waar ek staan, lyk dit vir my nogal regtig mooi vorentoe. Vir my sal die kersie op die koek wees as ons kan regkry wat die Skandinawiese skrywers reggekry het. Ek kan nie sien hoekom nié.

Hier is 'n foto van Chanette Paul se werkstasie:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top