Thomas François Burger

  • 1
Thomas François Burgers (Bron: Wikipedia)

Thomas Francois Burger is op 15 April 1834 in die distrik Graaff-Reinet op die plaas Langfontein gebore. Hy het sy skoolopleiding ook daar ontvang, waarna hy in die teologie in Utrecht, Nederland gaan studeer het. Terwyl hy in Europa was, het hy begin om ’n “s” by sy familienaam te voeg. In 1858 is hy getroud met ’n Skotse dame, Mary Bryson, en tien kinders is uit hierdie huwelik gebore.

Op 28 Desember 1858 het ds Horak van Mosselbaai aan Burgers in ’n brief geskryf: “Ik hoor dat ge nog fluit speelt, dat zal alten niet aanstaan en zult gij om deze rede geen beroepen krygen!” In die daaropvolgende jaar is hy gelukkig, ondanks sy “onaanvaarbare” fluitspelery, beroep as predikant na die NG Gemeente Hanover in die Karoo.

Burgers het as predikant verkies om meer te fokus op dit wat Jesus Christus in sy Woord verkondig as op wat die Kerk se verskillende formuliere en geloofsleer voorgeskryf het. ’n Mens se geloof in God was volgens hom nie ’n geloofsleer wat in formuliere saamgepers kan word nie. Hy het hom telkemale teen die oppergesag van die verskillende formuliere in die kerk verset.

In sy gemeente het hy kalm en rustig sy gang gegaan. Hy was ’n redenaar met buitengewone talente, en was besonder gewild in sy gemeente. Sy spontaneïteit en geesdrif het aan hom besonderse leierskappe verleen.

In Augustus 1862 het hy ’n brief van ’n ene PJ Joubert, ’n ouderling van Colesberg ontvang, waarin dié hom in kennis stel dat hy hom by die NG Kerk se amptelike Sinode aangekla het, omdat daar volgens ouderling Joubert grondige redes bestaan het om aan te neem dat hy (Burgers) met rasionalisme (’n teorie wat bepaal dat die mens se verstand en rede die grondslag van sy geloofsekerheid is) besmet was. Burgers het hom egter nie aan die skrywe van Joubert gesteur nie, omrede ouderling Joubert onbekend was aan hom. Op daardie stadium het Joubert nie geweet hoe Burgers lyk nie.

Hoewel Joubert se klag laat by die Sinode ingedien is, het die skriba van die Sinode, dr Robertson, dit tog aangeneem en na die Regskommissie verwys, wat die klag verkeerdelik behandel het. Die klag van Joubert het nie duidelik gemeld welke punte van die kerkleer deur Burgers ontken of bestry word nie. Die NG Kerk se Regskommissie het Joubert se aantygings voorlopig eers onder die volgende ontkenninge gegroepeer:

1.       die persoonlikheid van die duiwel
2.       die sondigheid van Christus se menslike natuur
3.       die opstanding uit die dode
4.       die voortbestaan van die menslike siel na die dood.

Burgers het ontken dat hy enigiets sou gesê of gepreek het wat teen die Woord van God of die leerstelling van die Kerk was. Alhoewel artikel 164 van die destydse Kerkwet duidelik bepaal het dat ’n persoon wat ’n predikant van kettery beskuldig “duidelijke bewijzen” moet lewer van sodanige aanklagte, kon Joubert, wat by die Sinode as afgevaardigde van Colesberg teenwoordig was, geen bewyse indien of lewer nie. Die klag teen Burgers het duidelik nie aan die voorskrifte van vereistes van die Kerkwet voldoen nie.

Die Regskommissie het die klagskrif na die Sinode gestuur. Verskillende lede van die Sinode het die klagskrif van die hand gewys, maar op ’n voorstel van ’n ouderling, die afgevaardigde van Richmond, is daar toe besluit om ’n spesiale kommissie te benoem om die klag ter plaatse (met ander woorde by die Hanoverse gemeente) te ondersoek en dan aan die Ring van Graaff-Reinet te rapporteer. Hierdie voorstel was egter in stryd met die Kerkwet, wat bepaal het dat die predikant in die eerste plek eers by sy eie Ring aangekla moes word, en dat die Sinode alleen ter tweede instansie met die saak kon handel. Maar in hierdie geval het die Sinode reeds met die saak gehandel, alvorens daar nog enige klag by Graaff-Reinet se Ring ingedien was. ’n Hele paar predikante, onder wie die Kerk se aktuaris, dr A Faure, en die Kerk se assessor, dr PE Faure, het die Sinode versoek om aan te teken dat hulle teen die voorstel van die ouderling van Richmond stem.

Die ouderling van Richmond het die onreëlmatigheid intussen self besef en het die volgende dag verlof by die Sinode gekry om sy aanvanklike besluit in revisie te laat bring, waarop dit toe sodanig gewysig is dat die Kommissie nie aan die Ring van Graaff-Reinet nie, maar aan die Sinodale Kommissie self moes rapporteer. Hierdie kommissie sou dus nie ’n kommissie van die Ring wees nie en kon dus nie aan die Ring rapporteer nie, dit was ’n volwaardige Kommissie van die Sinode. Hierdie nuutgeformuleerde voorstel was tegnies gesproke ook volgens die Kerkwet onwettig, omrede die Ring nog steeds geïgnoreer is, en verder is in hierdie proses die gesag van die Sinode as hof van appèl vir Kerkaangeleenthede misken en verydel.

Die probleem wat die NG Kerk destyds met Burgers en enkele van sy tydgenote gehad het, was oor hulle meer bevryde en liberale denke binne die Kerk. Met “bevryde” word allermins kettery bedoel. So is Burgers die eerste keer aangespreek toe van sy gemeentelede vervul met die Heilige Gees in April 1861 by Nagmaalsviering in Graaff-Reinet al singend die dorp ingery het, en met die dankseggingsdiens wat die Sondagmiddag deur proponent CT Muller gehou is wat “eene groote schare zingende in die Kerk gekomen, het welk de Kerkeraad niet kon goedkeuren, hoewel die innerlijk daaroor werd bewogen”.

Daar was onder andere ook ’n debat oor die geldigheid van die Geloofsbelijdenis van Dordrecht. Dominees Burgers en Kotzé (van die NG Gemeente Darling) het volgehou dat die Heidelbergse Kategismus die enigste formulier van Eenheid van die Kaapse Kerk was, en dat beide die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls nie in die Kaapkolonie van krag was nie. Volgens hulle was daar geen bewyse dat die Kerk ooit hierdie kategismus en formuliere goedgekeur en/of aanvaar het nie. Dit het duidelik op hierdie Sinode geblyk dat die meeste predikante nie die vaagste benul gehad het watter formuliere geldig is en watter nie. Sommige van hulle was selfs ook onseker oor die inhoud van die onderskeie formuliere en kategismus; so het die Skriba van die Sinode, dr William Robertson, gemeen dat die Doopformulier ook tot die formuliere behoort wat ’n predikant by sy indienstreding moet onderteken, waarop prof J Murray hom attent moes maak op die verskil tussen die Simboliese en Liturgiese Geskrifte.

Die NG Kerk se Sinode het op 3 Desember 1862 plotseling uiteengegaan as gevolg van ’n uitspraak van die hooggeregshof oor die wettigheid van die Sinode, en ’n verdere hangende saak daaroor. Dit het verband gehou met die Kotzé-hofsaak.

NG Kerk, Hanover (Bron: De Aar Environs)

 

By Burgers se terugkoms in Hanover moes hy ervaar watter groot verdeeldheid daar intussen ontstaan het oor die klagte van ouderling Joubert. Enkele belhamels in sy eie gemeente, soos ouderling C Viljoen, het met absurde aanklagtes vorendag gekom, soos: “God kan nie tevrede wees nie, deurdat die kerkraadslede en predikant op Zondag rijden en rossen.”

Die verdaagde Sinode het op 15 Oktober 1863 weer bymekaar gekom. Agt dae later, op 23 Oktober 1863, het Burgers se saak voorgekom. Burgers het dadelik versoek dat die besluit van die vorige jaar, naamlik om ’n kommissie van ondersoek in te stel, nietig verklaar moet word, omrede die Sinode in hierdie ondersoek sy eie Kerkwet geminag het. Hy het verder gevra: “Waar was die duidelijke bewijzen?”, want dié het tot op hierdie laat stadium nog heeltemal ontbreek; verder het die Sinode ook nagelaat om die inhoud van sy klagstaat op enige stadium aan hom te kommunikeer.

By die lees van die gepubliseerde notule van die Sinode se spesiale kommissie word mens getref deur die losse gerugte waarop die aanklagte teen Burgers gegrond was. Dit was gebaseer op private gesprekke in die pastorie van Burgers twee jaar tevore, op 25 Desember 1861 en op 11 Mei 1862, en hieroor moes die kommissie ondersoek doen. Die klaer, ouderling Joubert van Colesberg, was by geeneen van hierdie gesprekke self teenwoordig nie. Die persoon wat die inhoud van een van die gesprekke aan Joubert oorvertel het, was eerwaarde SN de Kock. De Kock was nie lid van die NG Kerk nie; hy was ’n leraar van die Engelse Episkopaalse Kerk op Colesberg, en hy was ook nie by al twee die onderskeie gesprekke teenwoordig nie, maar het toevalligerwyse op die gesprek van 11 Mei 1862 afgekom.

In die gesprek waar De Kock teenwoordig was, sou Burgers skynbaar die volgende stellings gemaak het:

  • Dat daar geen skriftuurlike bewyse bestaan oor hoe die duiwel fisies lyk nie. Burgers sou na bewering gesê het dat daar nêrens in die Bybel ’n beskrywing is dat die duiwel byvoorbeeld wel oor ’n stert beskik nie.
  • Burgers sou ook volgens De Kock in die gesprek genoem het dat Jesus Christus, toe Hy op die aarde was, oor menslike eienskappe beskik het. So sou Jesus byvoorbeeld ook honger, dors en bang gewees het. De Kock het dit in sy verklaring dit gestel dat Burgers sou gesê het dat Jesus oor ’n “sondige menslike natuur” sou beskik het.

Die Sinodale Kommissie het op 22 tot 25 April 1862 die notule van die Kommissie van Ondersoek behandel en op 16 Julie 1864 is Burgers skuldig bevind, aan die volgende klagtes:

  • “die logering van die persoonlikheid van die duiwel”
  • “die sondigheid van Christus se menslike natuur”.

Burgers sou, volgens die Sinodale Kommissie, na bewering artikels 12 en 18 van die Nederlandse Geloofsbelydenis en Sondag 1 en 14 van die Heidelbergse Kategismus oortree en geminag het. Hy is hierop as predikant geskors tot die volgende sitting van die Sinodale Kommissie in 1865 met die bepaling dat sy skorsing opgehef kan word as hy voor of op 1 Maart 1865 ’n verklaring van sy verootmoediging aan die Kommissie sou stuur, waarin hy “duidelik en met schuld bekentenis” sy erge dwalinge sou terugtrek.

Burgers was egter nie van plan om hom aan die uitspraak van die Sinodale Kommissie te onderwerp nie, en het hom, net soos sy kollega ds Kotzé, tot die hooggeregshof gewend.

Op 12 November 1864 het Burgers se advokaat, die prokureur-generaal W Porter, die hooggeregshof versoek om die Sinode se vonnis nietig te verklaar. Die Sinodale Kommissie het dadelik beswaar aangeteken en gesê dat die hof geen jurisdiksie oor die Kerk se sake het nie. Die kerk se beswaar is op 27 Mei 1865 van die hand gewys.

Die Sinode se regsverteenwoordiger, adv FS Watermeyer, het enkele weke voor die aanvang van hierdie hofsaak gesterf, en ds Andrew Murray, die moderator, het toe self die saak namens die Sinode hanteer. Murray het die saak met uiterste bekwaamheid hanteer, en is selfs deur regter Ball daaroor gekomplimenteer.

Op 30 Mei 1865 het Burgers die saak oortuigend gewen. Die hof het slegs punt drie van sy aansoek behandel, en verklaar dat die Sinode by die hantering van die saak die Kerkwet oortree het, want die klagte teen Burgers moes volgens die Kerkwet ter eerste instansie voor die Ring van Graaff-Reinet gedien het, waaronder die Hanover-gemeente behoort het. Die Sinode is alleen ’n hof van appèl en kon dus nie die saak in die eerste instansie behandel het nie. Die hooggeregshof het bevind dat die Sinode se vonnis van nul en gener waarde was, en dat die Kerk daarom al Burgers se regsonkostes moes betaal. Toe Burgers na afloop van die hofsaak op 15 Junie 1865 na Hanover teruggekeer het, het sy gemeente hom met ’n feestelike ontvangs verras.

Die Sinode-kommissie het na afloop van die hooggeregshof se uitspraak besluit om na die Privy Council in Londen te appelleer. Ds Andrew Murray is spesiaal deur die kerk afgevaardig om vir die geleentheid na Engeland te reis.

Op 10 Junie 1865 het prof NJ Hofmeyr van Stellenbosch (die latere skoonpa van vader Kestell), ’n lywige artikel in De Kerkbode gepubliseer oor die “onbillike en lig aardige” uitspraak van die regbank.

Op 26 Februarie 1867 het die Privy Council in Londen sy uitspraak gegee. Dit was ten gunste van Burgers, en sodoende is die uitsprake van die Kaapse hooggeregshof van Mei 1865 bekragtig.

Die Sinode wou egter nie berus by die Privy Council se uitspraak nie, en het twee senior advokate van Londen, sir Roundell Palmer en John Wickens, om ’n regsopinie genader. Die oogmerk met hierdie regsopinie was om ’n skrywe tot die Koningin van Engeland te rig en haar te versoek om die regsuitspraak van die Privy Council en die Kaapse hooggeregshof ter syde te stel. Palmer en Wickens se regsopinie was egter nie wat die Sinode gehoop het dit sou wees nie. Volgens hierdie twee advokate, het die Kerk duidelik gefouteer, en sê hulle: “Under these circumstances we can see no ground for any application to Her Majesty.”

In Oktober 1870 moes die Sinode besluit oor hoe hulle voortaan vir dominees Burgers en Kotzé gaan hanteer, omrede albei hulle hofsake teen die kerk met kostes gewen het. Die gevoelens op hierdie vergadering het nogal sterk uiteengeloop. So was daar die groep, waartoe dr Andrew Murray, prof NJ Hofmeyr en dominees JH Neethling van Stellenbosch en AJ Steytler van Uitenhage behoort het, wat die regbank wou weerstaan en vir Burgers en Kotzé sitting op die Sinode wou weier. Dit het selfs gelyk of daar ’n skeuring in die Kerk sou kom as gevolg van hierdie saak, veral toe dominees Neethling en Steytler die Sinode laat verstaan het dat hulle moreel verplig sal wees om die Kerk te verlaat as Kotzé en Burgers weer tot die Kerk toegelaat sou word. Die Sinode het egter met 52 teen 44 stemme besluit om die vonnis teen die twee predikante te herroep en hulle weer onvoorwaardelik toe te laat, waarop ds Steytler verlof gevra het om die vergadering gedurende enige dae te verlaat ten einde te oordink wat hom te doen sou staan. Gelukkig het dit nie op ’n skeuring uitgeloop nie, en die volgende dag was Steytler weer in sy volle glorie by die vergadering teenwoordig.

Die Sinode het moedswillig die vorige jaar ’n ander predikant, D Ross, vir Hanover beroep en was Burgers gevolglik werkloos gewees. Hy was nou in die mark vir groter dinge, naamlik om president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) te word. Toe hy in 1872 president van die ZAR geword het, was hy slegs 38 jaar oud.

Op 20 November 1871 het die volksraad van die ZAR die President en staatsprokureur se posisie na afloop van die Transvaalse Wesgrens-kwessie, en die omstrede Bloemhof-arbitrasie rakende die diamantvelde aan die Wesgrens, in oënskou geneem. Op aandrang van verskeie lede van die Raad was pres MW Pretorius en staatsprokureur Kleijn verplig om hul ontslag aan te vra. Staatsekretaris Proes het ook reeds enkele dae vroeër sy bedanking ingedien. Aangesien die volksraad verdeel was oor die kwessie van ’n eervolle ontslag, het Pretorius die geskilpunt opgeklaar deur sy bedanking in te dien, wat met “blydschap” aanvaar is. Sommige lede was so teensinnig om aan hom ’n eervolle ontslag te gee dat daar selfs sprake was dat hy van “hoogverraad” aangekla moes word. Die volksraad het DJ Erasmus as waarnemende staatspresident aangewys en hom as eerste taak opgedra om te protesteer teen die Keate-uitspraak wat die ZAR met “verontwaardiging” verwerp het.

Die volksraadslede was ook van oordeel dat die ZAR-burgers nie “genoeg vryheid” met die keuse van ’n kandidaat vir die presidentskap vir die ZAR gehad het nie. Die beperkende bepalings dat ’n kandidaat minstens vyf jaar ’n stemgeregtigde burger in die Transvaal en lid van die Nederduitse Hervormde Kerk (die staatskerk) moet wees, het glo tot nadeel van die ZAR gestrek. As voorbeeld het raadslid De Vries na die Vrystaat verwys, waar ’n Kapenaar tot president verkies is. Die volksraad het gevolglik besluit om die grondwet te wysig om dit ook vir nieburgers van die Republiek moontlik te maak om as president verkies te word. Die verblyfkwalifikasie en lidmaatskap van die staatskerk is geskrap. Lidmaatskap van ’n Protestantse kerk het egter ’n vereiste gebly.

’n Vereiste wat die volksraad vir Pretorius se opvolger gestel het, was dat hy bekwaam genoeg moes wees om die Engelse diplomasie die hoof te kon bied. Dit was egter hoogs onwaarskynlik dat daar so ’n persoon binne die grense van die Republiek gevind sou word. Die verwikkelinge in Transvaal het die aandag van die hele Suid-Afrika getrek, terwyl die pers druk oor die moontlike kandidate vir die presidentskap bespiegel het. De Zuid-Afrikaan het die name genoem van Theophilus Shepstone, die sekretaris van Naturellesake in Natal; hoofregter Harding van Natal; ds TF Burgers van Hanover en Jan Brand, die Vrystaatse president.

JR Lys, volksraadslid en vermoënde sakeman van Pretoria, het in ’n brief aan Theophilus Shepstone te kenne gegee dat “baie invloedryke manne” wat hy oor die saak gepols het, van oordeel was dat Shepstone “the right man in the right place” sou wees. Hy noem ook dat Burgers een van die waarskynlike kandidate sou wees. Shepstone het egter nie kans gesien om op dié tydstip so ’n verantwoordelike taak te aanvaar nie en het die versoek van die hand gewys.

Hoofregter Harding is feitlik onmiddellik uitgeskakel, omdat hy eerstens te veel tyd verlang het om die saak te oorweeg. Die feit dat hy Engelssprekend was, was ook nie in sy guns nie.

 

Uittreksel uit Tonele uit ons dorp deur Thomas François Burgers (Bron: Bid or buy)

 

Burgers was nie ’n onbekende in Transvaal nie. In die winter van 1871 het hy die Republiek besoek waar hy onder meer in die Hervormde gemeentes van Pretoria, Rustenburg en Potchefstroom die eredienste gelei het. Met sy Schetsen uit de Transvaal, wat in ’n artikelreeks in die Kaapse Het Volksblad van November en Desember 1871 verskyn het en later in brosjurevorm uitgegee is, het Burgers die Transvalers, hul kerk en die toekomsmoontlikhede van die land aangeprys. Die simpatieke houding van die welsprekende predikant moes ’n gunstige indruk op baie Transvalers gemaak het. Dit is dus nie vreemd nie dat daar dadelik na Pretorius se bedanking rekwisisies aan Burgers gestuur is om hom verkiesbaar te stel.

Die Vrystaatse president het ongetwyfeld op dié tydstip die grootste voorkeur vir die presidentskap geniet. Die moedige wyse waarop Brand die Basoeto- en diamantveldvraagstukke hanteer het, sy flinke administrasie, goeie onderwysstelsel en doeltreffende regspleging was sprekende voorbeelde van sy bekwaamheid. Invloedryke burgers soos waarnemende president Erasmus, kommandant-generaal Paul Kruger en NJ Grobler het in ’n komitee gedien om Brand se verkiesing te bevorder. Brand het egter nie kans gesien om aan die Transvalers se versoek te voldoen nie. Hy het gereken dat ds Burgers die beste kandidaat sou wees.

Met Brand van die baan het nog net Burgers oorgebly. Brand se ondersteuners het nie dieselfde eensgesindheid teenoor Burgers se kandidatuur getoon nie. ’n Groot aantal het wel hul ondersteuning aan Burgers toegesê, maar ’n invloedryke groep onder leiding van DJ Erasmus, Paul Kruger en Piet Joubert het onderneem om hom hand en tand te beveg.

Ondanks al Burgers se goeie bedoelings het die Kruger-groep volstrek geweier om hom as kandidaat te aanvaar en het daarom William Robinson (oudvolksraadslid en -landdros) van Rustenburg versoek om hom verkiesbaar te stel. Beide Kruger en Erasmus, asook ongeveer 400 ander burgers, het Robinson se nominasievorm onderteken. Kruger het selfs nie gehuiwer om sy amp as kommandant-generaal te misbruik deur sy offisiere dwarsdeur die Republiek te probeer beïnvloed om Burgers nie te ondersteun nie.

Die teenstand van die Kruger-groep teen Burgers het nie net op politieke gronde berus nie; daar was ook ’n ander faktor, naamlik die kerklike, wat hom in onguns by dié party gebring het.

Burgers is, ten spyte van die teenstand, met ’n oorweldigende meerderheid verkies. Hy het 2 964 stemme gekry, terwyl Robinson slegs 388 stemme op hom verenig het. Mense soos sir Henry Barkly, die Kaapse goewerneur en hoë kommissaris, het later die storie versprei dat Robinson die onderspit teen Burgers gedelf het hoofsaaklik omdat hy ’n pruik gedra het. Hierdie ontdekking “so horrified the Boers by insinuating that ‘he had a dead man’s hair’ on his head, that very few voted for him”.

Burgers se oorwinning was ’n bitter pil vir sy teenstanders om te sluk. “Arme Republiek!” het ds Lion Cachet in De Zuid-Afrikaan uitgeroep. “Wee het volk, welks koning een kind is – wee het volk, dat door afvallige predikanten worden bestierd.”

Die inswering van die nuwe president het op Maandag 1 Julie 1872 plaasgevind.

Burgers het sy amp onder uiters moeilike omstandighede aanvaar en daar was talle sake wat dringende aandag vereis het. Die land se finansies was in ’n haglike toestand, daar was min hoop op verbetering van die ekonomie, die onderwys was haglik, die swart mense binne die land se grense was voortdurend in oproer, en daar het groot verwarring geheers oor die Keate-uitspraak (die arbitrasie oor die diamantryke Wesgrens van die ZAR) van 1871. Boonop sou Burgers voortdurend te kampe hê met Carnarvon, die Britse minister van kolonies, se vasbeslotenheid om Transvaal met die Britse gebiede in Suid-Afrika te laat federeer. Sir Henry Barkly, die Britse hoë kommissaris in Suid-Afrika, het hom onverpoos beywer vir die deurvoering van Carnarvon se federasieskema en het geen geleentheid laat verbygaan om Burgers en sy regering in die buiteland sowel as op die tuisfront in ’n swak lig te stel nie.

Die probleme met die swartes waarmee die ZAR tydens Burgers se regeringstydperk gekonfronteer was, het ten nouste saamgehang met die onafhanklike voortbestaan van die Republiek. Oortredings van die destydse inboekwette van die ZAR is gou deur antislawerny-organisasies aangegryp om beswaar te maak teen die stelsel, wat as ’n bedekte vorm van slawerny bestempel is. So het ’n internasionale konferensie van antislawernyverenigings in Parys op 5 Desember 1867 by die ZAR beswaar aangeteken teen die inboekstelsel en spesiaal melding gemaak van die Boerekommando’s wat “vaders en moeders vermoorden om die kinderen tot slawen te make”.

Die vele beskuldigings wat teen die Transvaal gemaak is, het die regering in 1869 laat besluit om ’n kommissie na Europa af te vaardig om dergelike aanklagte teen die Republiek te weerlê en om die goeie naam van die staat in ere te herstel. Weens ’n gebrek aan voldoende finansies kon dié besluit egter nie volbring word nie. Intussen het daar ’n aansienlike verskerping in die veldtog teen die ZAR se beleid teenoor swart mense ingetree.

In 1871 het die volksraad ’n kommissie benoem om die bestaande swart wetgewing te ondersoek en oor ’n moontlike wysiging daarvan verslag te doen. Met sy aanspraak van 1872 het die waarnemende president, DJ Erasmus (Burgers se voorganger), die bal aan die rol gehou deur die noodsaaklikheid te beklemtoon om “de Kafferzaken” van die Republiek te hersien. Die passtelsel het veral besondere aandag vereis, omdat soveel swartes na die diamantvelde gelok is dat dit nie net arbeidsprobleme veroorsaak het nie, maar ook grootskaalse rondlopery in die hand gewerk het. Met Wet 3 van 1872 het die regering gevolglik daadwerklik gepoog om landlopery te beperk, arbeidsaamheid onder die swartes te bevorder en die staat terselfdertyd van ’n bestendige bron van inkomste te verseker. Die wet het naamlik bepaal dat iedere swart inwoner van die ZAR, met uitsondering van die kapteins, vrouens en kinders, jaarliks ’n pas van ’n landdros of veldkornet moes bekom teen die betaling van £1 sterling (R2). Die staat het hom dus die alleenreg voorbehou om passe uit te reik. Met die bepaling dat geen verdere opgawes of belasting van pashouers gevorder sou word nie, het die regering beoog om die administratiewe probleme wat met die invordering van hoofbelasting ondervind is, uit te skakel. ’n Pashouer sou voorts as onderdaan van die staat erken word en geregtig wees op volle beskerming kragtens die landswette. Dié wet het op 1 Januarie 1873 in werking getree.

Dit is belangrik om daarop te let dat die Paswet wel deur Burgers onderteken is, maar dat hy geen aandeel aan die opstel daarvan gehad het nie. Ten tye van sy inswering as president was die wetsontwerp alreeds op die volksraad se agenda. Die heftige teenstand wat die wet uitgelok het, is al gou deur Burgers se teenstanders uitgebuit om onverdiende beskuldigings van liberaalheid om sy nek te hang. Nog voordat die Paswet in werking getree het, het petisies teen die algemene strekking daarvan die regering bereik. Inwoners van Lydenburg het gevrees dat ’n permanente gewapende mag nodig sou wees om uitvoering aan die wet te gee wat “waarschynlyk” ’n oorlog met die swartes sou ontketen.

Die grootste beswaar wat HT Bührmann, die latere volksraadslid, in ’n sterkbewoorde petisie teen die Paswet geopper het, was teen die “onbehoorlijke vrijheid” wat die pashouers sou verkry het, aangesien hulle deur die wet “opening gegeven” is om met die groter bewegingsvryheid in opstand teen hul werkgewers te kom.

Met die volksraadsitting van September 1874 het verskeie lede steen en been gekla oor die toepassing van die Paswet, wat algemeen as ’n mislukking beskryf is. Burgers, wat in dié stadium die eerste keer aan die debat oor die Paswet deelgeneem het, het sy teleurstelling en misnoeë uitgespreek oor die volksraad se “schreeuwend onregvaardige” poging om ’n £5-belasting (R10) op swartes te hef, terwyl blanke rondlopers ’n boete van slegs “tien sjielings” moes betaal en dan nog die reg gehad het om hulle op die howe te beroep. Hy het die raad daarop gewys dat dit dwaas sou wees om te dink dat die swartes deur hoë pasgeld tot werk gedwing kon word. Sy slotsom was dat “gedwongen arbeid steeds de duurste arbeid” is. Die vernaamste beswaar wat hy teen die voorgestelde wysigings gehad het, was dat dit sy beleid met betrekking tot die swartes “geheel den bodem insloeg”. Al sy pogings om die Britse regering te probeer oortuig van sy strewe om ‘n menslike beleid teenoor die inheemse bevolking te volg, sou tevergeefs wees. Dit sou sir Henry Barkly ook in staat stel om ’n “uitmuntend”antwoord te verstrek op die ZAR se verwerping van die Bloemho-arbitrasie (Keate-uitspraak). Die raad het Burgers se waarskuwing ter harte geneem en besluit om die wysiging van die Paswet tot die volgende sitting uit te stel.

Burgers se opvattinge met betrekking tot die staat se verhouding tot die inboorlinge was plooibaar en toegeeflik en het in die teken gestaan van sy strewe na vooruitgang en opheffing. Soos uit die voorgenoemde versoekskrifte en besware teen die Paswet blyk, was ’n groot deel van die bevolking nie vatbaar vir die President se verligte denkbeelde met betrekking tot die swartes nie. Burgers het egter deeglik besef dat die ZAR daadwerklike aanpassings moes maak om die wit-swart-verhoudinge te verbeter, aangesien die geringste swart onrus as ’n nuttige hefboom gebruik kon word om druk op die regering uit te oefen en om Britse inmenging te regverdig.

Burgers het die beleid van “volkomene vryheid en gelykstelling” soos in die Kaapkolonie toegepas, onvoorwaardelik afgekeur. Hy het dit as noodlottig bestempel vir sowel die swartes as die blankes en was meer te vinde vir ’n middeweg tussen die uiterstes van dwang en gelykstelling.

Landlopery, wat vir Burgers een van die grootste euwels onder die swartes was, moes bestry word deur arbeidsaamheid aan te wakker. Dié doel kon bereik word deur behoorlike vergoeding en die reg om vaste eiendom te kon besit. Hy was ook heeltemal ten gunste van die toekenning van volle burgerregte aan swartes wat bewys van hul werkywer getoon het. Volgens Burgers sou die bekombaarheid van burgerregte die swartes aanspoor om dienskontrakte met die boere te sluit. Die swart bevolking moes volgens Burgers, belet word om veral in die dorpe naak te loop en om die “smaak ... voor de weelde der beschaving” aan te leer, want mense sonder behoeftes het geen motivering om te werk nie.

Met behulp van ’n doeltreffende passtelsel sou Burgers leeglopery verder voorkom deur die kapteinskappe sover moontlik af te skaf en die willekeurige vorming van nuwe krale te belet. Hy het besef dat so ’n ingrypende maatreël slegs trapsgewys kon geskied en as oplossing aan die hand gedoen dat die kapteins besoldigde amptenare van die staat gemaak word met die verantwoordelikheid om belastings in te vorder.

Vir ingrypende veranderings soos die stemreg vir swartes en die erkenning van eiendomsreg op vaste eiendom het die burgers van die ZAR blykbaar nie kans gesien nie. Die weerstand wat Burgers in dié opsig ondervind het, moes vir hom ’n groot teleurstelling gewees het. Aan die einde van sy bewind was daar nog geen wet waarvolgens ’n swarte vaste eiendomsreg op grond kon verkry nie.

’n Ander probleem waarmee Burgers vroeg-vroeg in sy ampstermyn as president te doene gekry het, was die ZAR se finansies. Sy voorganger, pres MW Pretorius, en dié se tesourier-generaal, H van der Linden, het geen benul gehad wat in die ZAR se finansies aan die gang was nie. Hulle het skuldbriewe uitgereik sonder om rekord te hou daarvan; so het hulle ook geld gedruk sonder om boek te hou oor hoeveel note hulle gedruk het.

Dit was nie lank nie of die ZAR was op die rand van bankrotskap en sy geldeenheid was niks werd nie. Die einde van die ZAR se beroerde finansiële sage was dat die tesourier-generaal, H van der Linden, tronk toe is en pres MW Pretorius, onder druk, sy bedanking moes indien.

Die waarnemende staatspresident, president Erasmus, se oplossing vir die finansiële posisie van die ZAR was om al die staatseiendomme te verkoop en om al die papiergeld met munte te vervang.

In 1872 besluit pres Burgers om ’n lening van £60 000 (R120 000) by die Cape Commercial Bank uit te neem. Hy het met hierdie geld al president MW Pretorius se waardelose note en skuldbriewe vervang. Verder het hy jaarliks die ZAR se skuld met £3 000 (R6 000) per jaar afbetaal. Dit was ook gedurende hierdie tydperk dat hy die eerste Burgersponde laat munt het.

In 1873 word goud in Lydenburg se wêreld ontdek. Dit sou beslis help om die ZAR se benarde finansiële posisie om te keer, maar dit sou ook die begin wees van die Britse koloniale regering se dringende behoefte om die ZAR te annekseer.

Die eerste Burgersponde is in 1874 in Birmingham, Engeland, geslaan. Daar is £1 000 (R2 000) geslaan, maar slegs 837 ponde het in Suid-Afrika aangekom. Die res is aan staatshoofde in Europa geskenk. Aan die een kant van die pond was Burgers se beeltenis en die anderkant die wapen van die ZAR.

Burgers was oor hierdie ponde in die moeilikheid. Die volksraad het hom verkwalik dat hy die Burgersponde laat munt het sonder om vooraf met hulle daaroor te konsulteer en/of toestemming van die volksraad te verkry.

’n Ander aspek wat groot spanning gebring het tussen Burgers en die burgers van die ZAR, was die staking van betaling van die kommandolede. Burgers het gou agtergekom dat die kommandostelsel en hulle gepaardgaande vergoeding die ZAR se grootste enkele uitgawe jaarliks was. Volgens Burgers kon die ZAR nie meer hierdie luukse bekostig nie en het hy besluit om die vergoeding van kommandolede wat kommandodiens in die ZAR doen, op te skort. Mense soos Paul Kruger en Piet Joubert, wat finansieel afhanklik was van hierdie ekstra inkomste, het Burgers erg verkwalik vir sy besluit.

Burgers het die gemors van sy voorganger, MW Pretorius, rakende die diamantveldkrisis by Christiana en Bloemhof, met oorleg bestuur. Sy teenvoeter teen die Keate-uitspraak was om namens die ZAR met al die Tswana-hoofkapteins aktes van territoriale sessies te sluit. Hy het met hulle onderhandel asof die Britse regering glad nie bestaan nie. Na die Stellaland- en Goosen-moeilikhede van die 1880’s het die hoof-Tswana-stamleiers besluit dat hulle veel eerder onder die ZAR se heerskappy as onder die Britse koloniale regering se heerskappy wil staan. En het hulle sodoende die Keate-uitspraak ongedaan gemaak.

Ds F Lion Cachet, die geswore Dopper-dominee van die ZAR, het van die begin af niks van pres Burgers gehou nie. Hy het elke moontlike strooihalm gebruik om Burgers te kritiseer. Toe goud by Lydenburg ontdek is, het hy, Lion Cachet, sterk voorspraak gemaak in The Gold Fields Mercury (’n Pelgrimsrus-koerant) dat die ZAR by die Britse koloniale regering ingelyf moet word. Hy het ook Burgers se onderwysbeleid met oorgawe gekritiseer.

Burgers het gevoel dat kerkskole afgeskaf moes word en dat die staat die verantwoordelikheid van onderwys in die ZAR moes oorneem. Burgers het geargumenteer dat onderwys sodoende in die ZAR gestandaardiseer en uitgebou kon word. Cachet het vir almal loop en vertel dat Burgers met sy nuwe onderwysbeleid Christenskap en Bybelleer uit die ZAR se onderwyskurrikulum wou haal, wat gewoon nie waar was nie.

Burgers het in hierdie selfde tyd die eerste museum, biblioteek, botaniese tuin en gimnasium in die ZAR gevestig. WJ van Gorkom het op 15 Februarie 1876 die eerste Hollandse Staatskool in Pretoria geopen en ds HS Bosman het in Julie 1876 die eerste Hollandse Staatskool vir meisies gestig. In Augustus 1876 is die eerste staatseksamens afgelê.

By Burgers se aankoms as president in die ZAR was daar, behalwe die Staats Courant, net een koerant, naamlik The Transvaal Advocate and Commercial Advertiser, ’n tweetalige koerant wat in Potchefstroom verskyn het. Soos die naam reeds aandui, was dit meer Engels-georiënteerd. Burgers het ook dan besef dat ’n goeie Hollandse koerant, ’n egte Boerekoerant, noodsaaklik was. Toe hy in Augustus 1872 Kaap toe is, het hy daar inligting ingewin en met Jan Celliers, wat in die redaksie van Het Volksblad werksaam was, onderhandel om in Pretoria ’n koerant te begin wat die ZAR se standpunt sou verdedig en die saak van die Boere sou voorstaan. Op 8 Augustus 1873 het De Volkstem sy verskyning op die ZAR se strate gemaak.

In 1874 het pres Burgers gepoog om die ou ZAR se vlag, die Vierkleur, te verander, asook die ou ZAR-landswapen. Op 31 Oktober 1874 is die nuwe vlag en landswapen met 19 teen 4 stemme aanvaar. Die nuwe vlag, met ’n oorhoekse rooi kruis op die blou veld, was nooit gewild onder die ZAR-burgers nie. Die burgers het gevoel dat pres Burgers hulle moes geraadpleeg het voordat hy enige wysigings aan die ZAR-landsvlag aangebring het. Hulle het wel van sy nuwe landswapen gehou en het dit onmiddellik aanvaar.

Op 23 November 1874 het die Wetgewerlede van Rustenburg (Dreyer) en Potchefstroom (Munich) weer die saak rakende die nuwe landsvlag in die ZAR-volksraad tot stemming gebring. En weer is die nuwe vlag met 15 stemme teen 9 stemme aanvaar.

In Mei 1875, terwyl pres Burgers in Europa was, het die ZAR-volksraad ’n petisie met 554 handtekeninge ontvang wat pleit dat die Vierkleur weer die amptelike landsvlag van die ZAR moet word. Daar is toe vir ’n derde maal oor die landsvlag in die volksraad gestem en hierdie keer het 11 stemme teen 8 ten gunste van die Vierkleur gestem en is Burgers se nuwe vlag finaal verwerp. Dit was vir hom ’n geweldige slag wat hy persoonlik ervaar het.

Persberigte omtrent die opening van die Delagoabaai-spoorlyn

 

Die rede vir pres Burgers se besoek aan Europa was om geld te gaan werf vir die bou van die spoorlyn na Delagoabaai. Hy het die idee van ’n eie hawe vir die ZAR anders as ’n Britse hawe voorgestaan en bepleit. In 1875 het die Franse president De Mac-Mahon in ’n arbitrasiesaak beslis dat Delagoabaai aan Portugal behoort en nie aan Engeland, soos die Britte graag binne die Kaapkolonie beweer het nie. Die ZAR se volksraad het in September 1874 besluit om ’n lening van £300 000 (R600 000) in die buiteland aan te gaan vir die bou van die spoorlyn tussen Pretoria en Delagoabaai.

Hierdie spoorlyn was vir die Britse koloniale regering ’n wesenlike probleem en sir Henry Barkley het alles probeer om Burgers en sy ZAR in Europa te diskrediteer. Die spanning wat Burgers in Europa ervaar het, veral van die Britse regering se kant af, het sy gesondheid ernstige geknou. So was hy vir etlike dae in Europa dodelik siek as gevolg van ’n miltkwaal.

Op hierdie reis in Europa het hy ’n ou universiteitsvriendin van hom in Switserland opgesoek. Dié vriendin was Catharina van Rees, wat hy in sy studentejare in Utrecht geken het. Hulle het saam in ’n orkes gespeel waar Burgers die fluit bespeel het. Hy vra haar op 13 September 1875 om ’n lied vir sy volk te maak. Hy het vroeër ander voorstelle vanuit Holland vir ’n ZAR-volkslied gekry, maar was nie daarmee tevrede nie. Op 14 Oktober 1875 het Catharina haar weergawe van die Transvaalse Volkslied vir Burgers gegee. Hy het baie daarvan gehou en op 7 Januarie 1876 is dit te Arnhem, Duitsland, vir die eerste keer vir die publiek gespeel. Hierdie Transvaalse Volkslied het groot aanklank onder die ZAR se burgers gevind.

Op hierdie selfde toer in Europa het pres Burgers moeite gedoen om bekwame senior staatsamptenare vir die ZAR te werf. Hy het veral gefokus op Nederlandse onderwysers, omrede hy gevoel het dat Hollands die taal van die ZAR moet wees en nie Engels nie.

Na die Franse President se uitspraak oor Delagoabaai het pres Burgers ’n ooreenkoms met Portugal se regering gesluit rakende die bou van die Delagoabaai-spoorlyn.

Op 8 Januarie 1876 het die firma Insinger onderneem om aan die ZAR geld te leen vir die bou van die spoorlyn. Op 21 Januarie 1876 is die Lebombo Spoorwegmaatskappy vir die bou van die spoorlyn gestig.

In 1876 breek daar ’n oorlog met Sekoekoenie uit. Engelse wapensmokkelaars het binne vier jaar nagenoeg 400 000 gewere onwettig aan swart stamme regoor Suid-Afrika verkoop. Die delwers in die Lydenburg-omgewing het in ernstige konflik met Sekoekoenie gekom. Die delwers was oorwegend Engelssprekend en het geen poging aangewend om goeie verhoudings met die plaaslike swart bevolking aan te knoop nie. Inteendeel, hulle het die Sekoekoenie-oorlog verwelkom, want dit sou die ideale geleentheid vir die Kaapse koloniale regering skep om die ZAR te annekseer.

Toe die Sekoekoenie-oorlog uitbreek, was pres Burgers in Europa en was Piet Joubert die waarnemende president. Joubert wou nie ingryp in die Sekoekoenie-oorlog nie, omdat hy te huiwerig was om te veel verantwoordelikheid te dra. Sekoekoenie was goed bewapen. En hierdie oorlog het al hoe langer en brutaler geword.

In daardie selfde tyd het Pomeroy College die ZAR deurkruis om vir lord Carnarvon (die Britse minister van kolonies) op die ZAR te kom spioeneer. Carnarvon was dringend op soek na ‘n verskoning om die ZAR te annekseer. Op 10 Mei 1876 het die volksraad die President opdrag gegee om die Sekoekoenieland-oorlog tot ‘n einde te probeer bring. Burgers het vir beide Piet Joubert en Paul Kruger gevra om ’n kommando saam te stel om die oorlog teen Sekoekoenie te gaan veg. Albei het geweier; hulle het nog steeds vir pres Burgers verkwalik omdat hy die kommandodiens afgeskaf het.

Burgers was in ’n diepe penarie. Hy het besef dat hierdie oorlog sy planne vir ’n spoorlyn na Delagoabaai kan kelder. Uit desperaatheid het hy verbande op sy plase in die Richmond-omgewing gaan uitneem om geld te kry om die oorlog teen Sekoekoenie te veg. Hy was verplig om later huursoldate vir hierdie oorlog in te huur. Sy opponente, ds JP Jooste, ds Lion Cachet en die wetgewerlid Bührmann het eindelose plesier gekry in pres Burgers se desperate stryd teen Sekoekoenie.

Burgers het persoonlik die leiding geneem en na maande het hy Sekoekoenie tot oorgawe gedwing. Intussen het die Engelse pers en Kaapse koloniale regering hierdie oorlog as die ideale geleentheid gesien om voorspraak te maak vir die anneksasie van die ZAR.

Op 4 September 1876 het pres Burgers moeite gedoen om sy volksraad oor ’n moontlike anneksasie te waarsku. Hy het in Februarie 1877 weer hierdie waarskuwing in die volksraad geopper. Hy wou hê dat die ZAR proaktief moes optree. Vir Burgers was dit duidelik dat sir Henry Barkley en lord Carnarvon besliste planne het om die ZAR te annekseer, maar Burgers se medevolksraadslede het hom nie ernstig opgeneem nie en het sy anneksasiestories as bangmaakpraatjies afgemaak. Hy het ’n alleenstryd in die ZAR gevoer. Sy opponente het al sy waarskuwings en aansprake as blote mites afgemaak.

Teen die einde van 1876 het lord Carnarvon se federasieplanne in Suid-Afrika nog geen vrugte afgewerp nie. Hoewel pres Brand van die Vrystaat in 1876 in Londen deelgeneem het aan ’n konferensie waar die moontlikheid van federasie bespreek is, het hy geen beloftes gemaak nie en die ZAR was glad nie verteenwoordig nie. Die Vrystaat sou egter teen wil en dank by die beoogde federasie moes aansluit as Transvaal daartoe gedwing word. Die potensiële rykdom van die ZAR en die ekonomiese onafhanklikheid wat die land met ’n spoorlyn na Delagoabaai sou verkry, het Brittanje onrustig gestem. Die federasie moes so gou moontlik afgedwing word. Carnarvon het sir Theophilus Shepstone, kommissaris vir die swart mense van Natal, gestuur om Transvaal te annekseer.

Shepstone het op 22 Januarie 1877 met 25 berede polisiemanne en agt amptenare in Pretoria aangekom as afgevaardigde van die Britse Koningin om sekere griewe met Burgers te bespreek. Hulle het die ware doel van hul besoek verberg en is vriendelik verwelkom. Gedurende die samesprekings oor die griewe, wat almal oordryf is, het sy ware oogmerk duidelik geword. Hy het aangevoer dat die ZAR ’n onstabiele faktor in Suid-Afrika is. Die land was bankrot, die regering van Burgers was ongewild en die oproerige swartes het glo ’n bedreiging vir die hele Suid-Afrika ingehou. Op 11 April 1877 het Burgers formeel teen die anneksasie geprotesteer, maar die volgende dag het Shepstone voortgegaan om Transvaal as Britse gebied te annekseer.

President Paul Kruger het in latere jare, toe hy self president was, Burgers beter verstaan en waardeer. Hy het in vele opsigte uiting gegee aan Burgers se politiek, soos byvoorbeeld met die ZAR se onderwys- en spoorwegbeleid. Net soos Burgers, was Kruger nie gediend met die Britte se totale aanslag op die ZAR nie. Kruger het later jare dan ook nooit toegelaat dat die mense in sy teenwoordigheid onvleiend of onvriendelik oor Burgers praat nie. Een keer, in 1898, het hy hom op ’n openbare vergadering in Rustenburg soos volg oor pres Burgers uitgelaat “Hij had zijn Land en Volk erg lief, maar was zijn tyd ver vooruit.”

Burgers het Transvaal in Mei 1877 verlaat en hom op ’n volstruisplaas in die distrik Hanover gevestig. In 1879 het hy na ’n huurplaas in die distrik Richmond verhuis. Na ’n lang siekbed is hy op 9 Desember 1881 in armoedige omstandighede op Richmond oorlede.

Na die feestelike opening van die Delagoabaai-spoorlyn is Burgers se oorskot op 26 November 1895 herbegrawe in die Ou Kerkhof in Pretoria. As president van die ZAR het hy veel gedoen om die land kultureel te probeer ophef. Hy het nie net De Volkstem gestig nie, maar het ook ’n museum, ’n biblioteek en ’n botaniese tuin begin. Die tuin staan vandag bekend as Burgerspark, waar ’n standbeeld van Burgers in 1955 opgerig is.

President Paul Kruger was reg: Burgers was sy tyd nie alleen ver vooruit nie, maar die tye waarin hy geleef het, was ook teen sy ideale gekant.

 

 

Die primêre bron van hierdie lesing was PS Engelbrecht se boek Thomas Francois Burgers. ’n Lewenskets. Dié boek is in 1933 deur JH Bussy van Pretoria uitgegee.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Dries du Plessis

    Sedert my kinderjare het ek 'n neutrale beeld van president Burgers gehad en nie veel feite van sy presidentjare geken nie. Hierdie lesing gee my 'n nuwe en positiewe perspektief en ek is oortuig daarvan dat hy sy tyd vooruit was.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top