![]() Foto: verskaf
|
|
Sêgoed van Theunis Engelbrecht Lank terug (in 1982) oor die liefde: “Everybody needs love and affection, dis die één enkele ding wat ek glo aan ’n mens hoop gee. En sonder hoop kan ’n mens absoluut nie. Maar ’n mens sien net onderkruipery rondom jou. Liefde is vals, liefde is ’n illusie, dis selfbedrog.” (Tempo, 24 September 1982) “Ek kan glad nie onthou hóé ek begin skryf het nie, en dis ook nie belangrik nie. Ek verkies om nie oor letterkunde te gesels nie, want ek glo vás dat elke skrywer sy eie gang moet gaan. Die hoofvereiste is dat die skrywer ten alle tye getrou en eerlik aan homself moet bly.” (Tempo, 24 September 1982) Oor die aanvanklike afkeuring van sy eerste bundel: “Ek is bly dat daardie goed nie gepubliseer is nie. Nou dat ek daaraan dink, weet ek dit was nie my beste nie. Ek voel nou baie meer tevrede, al is daar sommige gedigte in hierdie bundel wat ek miskien sou wou verander.” (Tempo, 24 September 1982) Hoe het hy in 1982 gevoel oor al die opspraak wat sy poësie verwek het? “Ag, jy weet, ek het nou skielik baie vriende wat voorheen net kennisse was, en ook ’n helse aantal vyande. Sommige onderwysers is vyandig, gelukkig is die meeste egter belangstellend.” (Tempo, 24 September 1982) Oor skoolganery: “Dit frustreer my geweldig, omdat die kinders soos ’n klompie skape in ’n drukgang behandel word. Die mate van indoktrinasie en kondisionering is verbysterend. Ek kan nie wag om my skoolloopbaan te voltooi nie, want ek is lieflik keelvol vir skole se trompoppie- en koeksisterkultuur.” (Tempo, 24 September 1982) “My benadering tot die letterkunde is eerder emosioneel as intellektueel. Wanneer ek skryf, is ek baie eerlik met myself. Ek verkies om sonder inhibisies te leef en so benader ek ook my skryfwerk.” (Transvaler, 20 Augustus 1982) Die toekoms van joernalistiek in Suid-Afrika? “Solank die klem op goeie, sterk inhoud is en joernaliste voortgaan om sosiale onreg, korrupsie, menseregteskendings en vermorsing van belastingbetalersgeld oop te vlek en aan die kaak te stel, is die saak reg, maak nie saak in watter formaat dit gedoen word nie.” (LitNet, 2014) Oor sy vroeë debuut: “Dit was ’n goeie én slegte ding dat ek jonk gedebuteer het. ’n Goeie ding, want op daardie ouderdom is ’n mens se emosies rouer en meer spontaan en is jou skryfwerk eerliker en onbelemmerd. Dit was ook ’n slegte ding, want ek het die aandag getrek van redelik bekende figure in die kultuurwêreld wat my onder meer wou molesteer. Maar dit was ook ’n goeie ding, want dit het my vroeg reeds geleer hoe om mense en hul motiewe en versteekte agendas uit te check en my nie met ’n slap riem te laat vang nie.” (Beeld Plus, 25 Julie 2000) “Ek dink die druk wat op ’n skrywer geplaas word as hy jonk debuteer, en die ophef wat daaroor gemaak word, het ’n baie nadelige uitwerking. Ek was te jonk toe ek in die literêre wêreld beland het.” (Volksblad, 18 September 1996) “Sensuur is ’n belediging vir die individu, skoolgaan is te dissiplinêr, kerkgaan te geformuleerd en van die politiek wil ek nie eens praat nie.” (Vaderland, 24 Augustus 1982) “In die tyd toe ek onder skuilname geskryf het, het ek baie gedink oor hoekom ’n mens nou eintlik wil skryf. As jy dit doen vir erkenning of roem of geld, is dit verdag. Dis nie waaroor dit gaan nie. Dit gaan myns insiens ook nie eers daaroor om jou werk uiteindelik te publiseer nie.” (Beeld, 25 Julie 2000) “Ek skryf beslis nie om geld te maak of goedkeurende glimlagte uit te lok nie. Ek wil ook steeds nie deel wees van die literêre hoenderhok nie. Wat ek destyds in dié kringe gesien het, onder meer die selfvoldaanheid, het my genoeg afgeskrik en geïrriteer.” (Beeld, 25 Julie 2000) Theunis vind hom tuis in die hardebaard-protesmusiek van Die Naaimasjiene – iets wat die “hoë en droë letterkundige” wêreld hom nie kan gee nie: “Ek het besef dis my kerk se mense dié – die rockers en folkies en die musikante en musiek maak was nog altyd baie lekkerder as om gedigte te skryf. Maar ek is baie lief vir Afrikaanse digkuns ... Ek dink poësie is Afrikaans se grootste prestasie, en dit is jammer dat Afrikaans so verwoes is deur ideologie en politici.” (Netwerk24, 8 Desember 2020) “Kerke het baie bloed op hulle hande van al die gay mense wat al selfmoord gepleeg het omdat hulle deur die kerk, en dus ook hul gemeenskappe, verwerp is.” (Netwerk24, 8 Desember 2020) |
Gebore en getoë
Philippus Theunis Engelbrecht is op 2 Maart 1965 op Kroonstad in die Vrystaat gebore as die jongste van drie seuns van Flippie en Lulu Engelbrecht.
Theunis se latere belangstelling in kultuur het sy oorsprong by albei ouers. Sy ma was vir baie jare musiekonderwyseres aan hoër- en laerskole en sy het ook die orrel in die kerk gespeel. Sy pa het eers by ’n bank gewerk en het later kredietbestuurder by die koöperasie op Bethlehem geword. Hy was lid van die toneelgroep op Bethlehem en ook regisseur van die stukke wat hulle opgevoer het. Hy het viool en die trekklavier gespeel. Hierdie musiektalent het ook later neerslag gevind in Theunis se belangstelling in musiek.
Theunis begin sy laerskoolloopbaan aan die Suidrandse Laerskool op Kroonstad. Ná graad 1 vertrek die gesin na Bethlehem in die Oos-Vrystaat waar hy ’n leerling aan die Primêre Skool Jordania was. Hy voltooi se hoërskoolopleiding aan die Hoërskool Witteberg op Bethlehem waar hy in 1983 matrikuleer.
Hy begin reeds as dertienjarige skryf en sy eerste poging is deur die jeugtydskrif Patrys met ’n spesiale prys vereer. Van sy gedigte is ook in literêre tydskrifte soos Standpunte, Contrast, The Bloody Horse, Graffier en Ensovoort opgeneem. En dit is juis nadat hy die verse in The Bloody Horse gesien het dat ’n uitgewer Theunis gevra het om ’n manuskrip voor te lê. Die eerste poging is afgekeur, maar nadat daar ’n bietjie skaafwerk gedoen is, is die derde weergawe van die manuskrip vir publikasie aanvaar.
In 1981 het ’n opstel van Theunis wat oor RSA: ’n toekomsblik gehandel het, ’n opstelwedstryd wat deur die Vrystaatse Onderwysdepartement uitgeskryf is, die eerste prys gewen. (Volksblad, 22 September 1982)
Só is Theunis se eerste digbundel, ’n gedig is so onskuldig soos ’n eier, in 1982 by Perskor gepubliseer toe hy slegs 17 jaar oud was. Hy het die verse vir die bundel dus geskryf terwyl hy in standerd 7 en 8 (graad 9 en 10) was.
In Tempo (8 Oktober 1982) som S v/d W die bundel soos volg op: “Die deurlopende motief in die bundel is een van voortdurende skepping en strewe, die verse skerp beeldend. [...] Erotiek, skepping, [geboorte en dood lê in byna elke vers ingebed. [...] Dit is ’n poësie van rock-kultuur, maar ook van vitaliteit en terselfdertyd eksistensiële angs.”
Die kritici was oor die algemeen positief oor hierdie jong skoolseun se debuutbundel. George Weideman het in Die Republikein (12 Augustus 1983) geskryf dat Engelbrecht plek-plek erg “pretensieus” skryf, “maar die egtheid van jeugdige liefdesvreugde (‘heimat-vers vir my lovely’) en die verrassend-oorspronklike wyse waarop lewe en dood in beelde gestalte kry, toon dat ons hier ’n jong digter van formaat aan die woord het.”
André P Brink was in Rapport (28 November 1982) van mening dat daar blykbaar ’n kompetisie is onder digters om te kyk wie die jongste debutante is, maar dat daar gelukkig soms iemand soos Theunis Engelbrecht is “wat dit heilsaam tuisbring dat dit op stuk van sake nie gáán om suffel of suffel jare, maande en dae nie, maar om die kwaliteit van die verse wat uit daardie ure, dae, maande, jare voortkom. En by Engelbrecht is daar terdeë blyke van kwaliteit. [...]
“Engelbrecht is klaarblyklik ’n digter wat die verse nie sommer uitgooi oor papier nie, maar wat met heelwat besinning te werk gaan. Dadelik bygesê (maar wie sou die anders verwag?): dis ’n bundel deurtrek van mankemente: van pretensieuse formulerings, van woord- en beeld-oordaad, van selfvertroeteling, van ’n adolessente beheptheid met die makabere romantiek van Nihil en dood.
“Maar te maai daarmee. So what? Wat my dié bundel telkens met ’n asem-intrek van verrassing laat lees het, en dit nadat ek heelparty van die verse al vantevore in manuskrip gesien het, is die onmiskenbare tekens van ’n werklike beduidende digter aan die woord. [...]
“Tel bymekaar die gedigte in die bundel wat onmiskenbaar en selfs opwindend van digtheid en digwaardigheid getuig, en mens kan nie anders as om te konstateer dat ons in Theunis Engelbrecht ’n digter bygekry het wat nog sy eie pad deur ons literatuur sal kan loop – en wat dit aanpak met ’n bykans verstommende energie soos onder meer in sy stortvloed verse in die little magazines getuig.”
Ook Johann de Lange (Die Vaderland, 30 September 1982) was beïndruk met die nuwe jong digter en hoewel daar swak verse in die bundel is, is daar ook onvergeetlike verse in ’n gedig is so onskuldig soos ’n eier. “Soms is die gedigte wat klankspel aanbetref bietjie selfbewus en oordadig, maar dit weeg nie naastenby op teen die onmiskenbare talent en eerlikheid waarvan die meerderheid gedigte getuig nie.”
TT Cloete was egter nie so positief oor Theunis Engelbrecht se debuutbundel nie. In Tydskrif vir Letterkunde (Mei 1983) het Cloete geskryf dat nadat ’n mens hierdie debuut klaar gelees het en jy beskou weer die titel, dan lyk dit nie meer so onskuldig nie. “Daar lê ’n dwaling in die titel opgesluit. Die poësie is nie so onskuldig soos ’n eier nie. Miskien kan ons die onskuld van die titel verstaan as ‘spontaan/spontaneïteit’, of as eenvoud, veral as ons dink aan ‘eenvoudige liefdesvers’. Die spontaneïteit het egter gelei tot onbesonne beeldspraak, so ’n oorvloed daarvan dat dié poësie moeilik leesbaar is en dat dit as ’n prototipe kan geld van hoe die beeld nié in die poësie moet lyk nie. [...]
“Ons het so effe behep geraak met die ouderdom van die debutant, maar as ons Theunis Engelbrecht vergelyk met die beginwerk van Antjie Krog of Annesu de Vos, dan val die vergelyking vir hom nie gunstig uit nie.”
Theunis se tweede bundel, Skreeuparadys, het verskyn op die vooraand van sy laaste vraestel in die matriekeindeksamen in 1983.
Oor hierdie tweede bundel van Theunis het André P Brink in Rapport van 4 Maart 1983 geskryf dat ’n nuwe jong digter met sy tweede bundel kan maak of breek of hy kan gemaak-of-breek word. En, volgens Brink, moes Skreeuparadys nooit verskyn het nie aangesien só ’n bundel ’n groot onreg aan ’n belowende jong digter kan wees. “Elke enkele cliché van die adolessensie skreeu uit dié bundel,” het Brink voortgegaan. “Wat in die debuutbundel dikwels met prysenswaardige beheersing gedig geword het, spat hier oor alle rande uit. Sentiment, selfs melodrama kan mens nog hanteer: maar die vreeslike geswolle retoriek maak dit meermale onverteerbaar.”
Daar was, soos Brink dit genoem het, “bekoorlike klein hoogliedere”, maar die res bly by “verregaande digterlike doenery” wat Theunis Engelbrecht dalk later vermaaklik sal vind.
Maar in Beeld (20 Februarie 1984) was René Marais ’n heel ander mening toegedaan oor Skreeuparadys. Vir haar is die digter se vermoë om beelde te vorm en te beskryf, besonders en sy woordskeppinge slaag daarin om ’n eiesoortige bekoring aan sy gedigte te gee. Maar sy “woordverliefdheid” kan daartoe lei dat die effek van die gedig in die slag bly. Sy sluit haar bespreking af: “Hierdie verse verleen ’n nuwe dimensie aan die Afrikaanse poësie deur ’n blik te bied op die wêreldbelewenis van die hedendaagse jong mens of jong kunstenaar en ter wille van hierdie verse alleen verdien die bundel (wat ten opsigte van gehalte min of meer gelykstaande aan Engelbrecht se debuutbundel is) al om gelees te word.”
In 2020 gee Theunis in ’n onderhoud met Willemien Brümmer agtergrond oor die ontstaan van die Naaimasjiene (aanvanklik Randy Rainbow en die Rough Riders): “Dit begin in Kroonstad in die Vrystaat. Die eerste tekens was daar toe ek sewe was en in Sub A vir die eerste keer op ’n Dinsdagmiddag na die NG Kerk se Kinderkrans in Kroonstad moes gaan. Iets daar moes my dwars in die krop gesteek het, want ek het besluit ek sal nooit weer teruggaan nie. Toe het ek elke Dinsdag daarna in my ouers se huiswerker se kamer agter in die erf gaan wegkruip en vir haar die kollektegeld van vyf sent gegee. In haar kamer het ek baie lief geraak vir die lewendige musiek op die destydse Radio Sotho.
“In st 7 was die wiskunde-onderwyser ’n regte sadis, en eendag moes ’n klomp seuns lyfstraf kry omdat hulle ’n wiskundetoets gedop het. Ek was een van hulle en het so sewende in die ry gestaan en wag. Toe ek sien hoe die ander seuns gelyk het toe hulle daar uitkom – bleek en met stokstywe oë – het ek besluit noddefok sal hierdie drol met die Hitlersnorretjie aan my slaan nie. En toe dit my beurt is, toe sê ek dit vir hom. Daar was ’n oomblik ’n geskokte stilte, toe laat hy my gaan. Van die seuns se boude het gebloei. Van daai dag af was ek die outcast en is geboelie en is ’n softie en moffie genoem. Ek het ook geweier om kadette te doen en daardie periodes in die skoolbiblioteek gaan wegkruip.
“In st 7 skryf ek ’n brief aan die Volksblad, waarin ek sê dat apartheid immoreel is. Van toe af is ek ook ’n k****rboetie en kommunis genoem en heavy geboelie. En verregses van die dorp het my gebel en gedreig. Toe besluit ek net boeke en musiek is my favourite goed in die lewe, en dis beter as kadette en snotneus maatjies sonder verstand.”
Verdere studie en werk
Vanaf 1984 tot 1986 studeer Theunis deur die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en behaal in 1986 sy BA-graad met Sosiologie en Afrikaans en Nederlands as hoofvakke.
Theunis begin sy loopbaan as joernalis in 1987 toe hy hom aansluit by Beeld in Johannesburg as assistent-hoofsubredakteur van die kuns- en vermaakbylae, Kalender. Hy verhuis daarna na Kaapstad waar hy hom in 2000 by die teksredaksie van Die Burger in Kaapstad aanmeld. Daarna is hy vir ’n tyd lank in Kaapstad op Rapport se redaksie en keer dan terug na Die Burger as nagsubredakteur.
Hy skryf vanaf 1988 tot 1999 “Pop-Opskop” in Beeld, ’n oneerbiedige rubriek wat een maal só vir die destydse president PW Botha ontstel het dat hy die direksie versoek het om vir Engelbrecht af te dank – iets wat egter nie gebeur het nie.
Daarna was hy ook musiekregisseur van Punt Geselsradio, waar hy die program “Regstellende satisfaksie” aangebied het en ook die regisseur was van Rian van Heerden en Pik Botha se programme. Hy het ook die poprubriek “Sound bites” vir LitNet geskryf. As vryskutjoernalis het hy die ontstaan en internasionale deurbraak van die groep Die Antwoord in ’n reeks van vier diepte-artikels vir die koerantbylae By gedokumenteer.
In die vroeë 2000’s het hy ook bydraes gelewer tot die rubriek “So by my kool” wat op Saterdae in die By (bylae tot Beeld, Die Burger en Volksblad) verskyn het.
Oor die swaard van die Tweede Boek wat soms swaar oor skrywers se koppe kan hang, het Theunis geskryf dat dit baie te doen het met die motief agter hoekom jy skryf. “Doen jy dit om aanvaar te word in sekere sosiale groepe en om jou ego te laat streel, kan jy maar vergeet: as jou tweede boek afgekam word, sal jy jou gat sien. Doen jy dit bloot omdat jy nie anders kan nie en omdat skryf vir jou net so onafwendbaar is soos eet, drink en slaap, sal geen vernietigende of hovaardige reaksie jou onderkry nie. Dit kan jou wel ondergronds laat gaan. En maak dat jy jou hart van jou mou afhaal.” (Volksblad, 18 September 1996)
Voordat Om ’n laaitie te maak in 1986 verskyn het, verskyn daar in 1985 ’n jeugboek uit Theunis Engelbrecht se pen met die titel Kinders van die Kierangsee wat in 1987 in Engels vertaal is deur Mae Tweehuizen as Boys of summer en deur Daan Retief gepubliseer is.
Met die verskyning van Om ’n laaitie te maak begewe Theunis hom op die terrein van die roman. “Die teks is die belydenis van Arnold, oftewel ‘little old me’, se (nogal) groteske ervarings,” skryf Joan Hambidge in Beeld van 2 Maart 1987. “Die verteller is ewe ongevoelig en hardegat as JD Salinger se Holden in The Catcher in the Rye (1951) ... Die verteller in Engelbrecht se teks bely deur middel van ’n regstreekse belydenis en briewe, en soos Salinger se Holden betrek hy die leser by sy eie kyk op sake, sy woede oor dit wat hy nie begryp nie en probeer verwerk. Net met een verskil: Engelbrecht se karakter is méér kompromisloos en teen die einde van die vertelling is die leser nie heeltemal seker of hy werklik moet hang nie. Wat is ‘fiktief’? Wat is ‘waar’?
“Want deur ’n besondere knap ontginning van die spieël-motief (aangekondig op bladsy 9) is die leser as’t ware besig – as ek Engelbrecht reg lees – om sy eie projeksies weer te gee en ten slotte saam met die verteller in onsekerheid te vernietig. In die dodesel (?) breek die verteller dan ook die spieëltjie. [...] Die eerste en tweede afdelings is voorts ook twee spieël-tekste van mekaar: in die eerste afdeling ‘gebeur alles’; in die tweede ‘ondersoek’ die verteller ’n baie duidelike ‘storyteller as liar’, die implikasies van sy vrou (en moontlik kind) se dood. [...]
“Die teks is in sleng geskryf en Theunis Engelbrecht slaag daarin om die karakters geloofwaardig voor te stel. Om ’n laaitie te maak is ’n boek met sponk (soos een van die karakters sê) en helaas nie aan te beveel vir diegene met swak senuweestelsels nie.”
Vir Pieter van der Lugt (Die Burger, 26 Maart 1987) is Om ’n laaitie te maak ’n “stewige werk” met ’n skryfstyl wat los is en nie geforseerd voorkom nie. “Die boek word ’n somber stemmingstuk met die atmosfeer van ’n John Cale-langspeler. Hoofsaak is miskien dat Theunis Engelbrecht met groot vaardigheid die Afrikaanse literatuur se pseudo-grens tussen literêre en kommersiële kuns help afbreek. Die boek sal ook die ontspanningsleser bevredig sonder om ‘literêre waarde’ prys te gee.”
Maar André P Brink was in Rapport van 7 Junie 1987 nie so vleiend oor Om ’n laaitie te maak nie. Hy het sy resensie begin met ’n aanhaling uit die boek: “Jy’s ook maar ’n psycho anyway.” Só het die verteller aan die spinnekop gesê wat in sy kamer in die gestig gesit het – net voor hy sou hang omdat hy sy vrou Suzi en sy laaitie Hans doodgemaak het.
“En die leser wil hoeka saamstem. Want dis maar ’n sêd storie dié: nie soseer oor die misrawele gebeurtenisse daarin nie as oor die vertel self. Dis darem al heelparty jare dat lesers saamloop met The Catcher in the Rye. Sit maar Clockwork Orange ook by as jy so voel. En ritse ander geskrifte waarin ’n idiosinkratiese taal die spreker vir die leser voorteken.
“Maar Theunis Engelbrecht se geskriffie vertoon pueriel en jammerlik dun in sulke geselskap. Bietjie lawaai en minder wol; en op stuk van sake weinig meer as ’n irritasie. Want in die vertel-aksie lê geen openbaring nie; die storie is yl en eenselwig; en ná die eerste nuwigheid van die taal afgeskawe het, is ook dit maar eentonig. Nee, eerlik: Theunis Engelbrecht, glo ek, beskik oor meer talent as om sy eie tyd en die leser s’n só te mors.”
Theunis vertel aan ’n joernalis van Beeld dat ’n baie eienaardige ding gebeur het – ’n bende in Hillbrow het in April 1987 vir hom gevra om met hulle te gesels oor Om ’n laaitie te maak. Seker omdat dit handel oor ’n misdaadbende van Hillbrow.
“Ek het aan die bende gesê ek was genoop om dié boek te skryf omdat ons in die skrikwekkendste tye denkbaar lewe, waar die mens ongetwyfeld die mees genadelose en gevoellose wese is. Dié boek is ’n desperate kreet teen toenemende vervreemding en verontmensliking.”
Een van die bendelede was Chad, ’n jong seun met ’n ketting waarmee hy al tien teen een menige ou van ’n opposisie-bende getakel het. Op ’n vraag van Chad, het Theunis soos volg geantwoord: “Ek het geen hoop dat verontmensliking gekeer kan word nie, en daar bly vir die hedendaagse jong mens niks anders meer oor as ’n allesverterende wanhoop nie.”
Die joernalis het sy berig só afgesluit: “Gegee die veertig bendelede se entoesiasme oor die praatjie, wat op ’n sypaadjie in Kotzestraat gehou is, en ’n resensent se opmerking dat Theunis die skrywer is by wie die hedendaagse jong mens die nouste aansluiting kan vind, kan ’n mens net hoop dat al hierdie sieninge nie in die wind geslaan word nie.”
In 1989 verwerk Shirley van Jaarsveld Om ’n laaitie te maak vir die verhoog en word dit in Die Kamer in Kloofstraat in Kaapstad op die planke gebring. Sy was ook verantwoordelik vir die regie van die stuk. Vier manlike akteurs word gebruik om Arnold te verteenwoordig en die storie van ’n gesinstragedie, vervreemding en dood te vertel. Die vier akteurs beeld almal ’n ander aspek van Arnold se persoonlikheid uit.
Van Jaarsveld vertel aan Herman Fourie (The Argus, 5 Junie 1989) dat nadat sy die boek gelees het, sy besef het sy moes net eenvoudig dit verwerk vir die verhoog. “Die dialoog is baie snaaks en pateties. En die verhoogstuk is profeties – toe ek die foto van die Wit Wolf Strydom gesien het waar hy glimlag en vir die skare wuif, het ek vir Arnold gesien. Om ’n laaitie te maak hanteer die druk waaronder mense in ons samelewing gebuk gaan; mense kan dit nie hanteer nie en iets breek net binne-in hulle.”
Die stuk se agtergrond is ’n teaterkafee met die gehoor wat by tafeltjies sit en die akteurs wat tussen hulle beweeg.
Met die verskyning van Om ’n laaitie te maak in 1986 beland Theunis onder die wakende oog van Suid-Afrika se sensuur-waghond en plaas hulle ’n ouderdomsperk van 18 daarop. Dit het veroorsaak dat hy besluit het om eerder sy aandag toe te spits op die wêreld van pop- en rockmusiek om uitlating aan sy skeppende vermoëns te gee en die letterkunde vaarwel toe te roep. Hy stig ’n groep Randy Rambo & the Rough Riders en hulle liedjie “Jong dames dinamiek maak my siek” is in 1988 op die bekende Voëlvry-album opgeneem. Randy Rambo en sy groep se album wat in 1990 verskyn het, Die saai lewe, word vir verspreiding verbied omdat die politieke en obsene inhoud daarvan nie die sensuurraad se goedkeuring weggedra het nie.
In 1996 reik hulle weer die album uit met enkele veranderinge daarop en verander hulle die groep se naam na Die Naaimasjiene. Die verbod is later opgehef met ’n ouderdomsperk van 18 daarop. Die Naaimasjiene is ’n ateljeeprojek, maar het al opgetree by Houtstok 2, Oppikoppi en Kaktus op die Vlaktes en hul liedjie “Sê ’n gebed” is deur Johannes Kerkorrel onder die titel “Sê-sê” verwerk en opgeneem vir sy album ge-trans-for-meer. (Wikipedia)
Joan Hambidge beskryf die lirieke wat Theunis gedurende hierdie tydperk van letterkundige stilte geskryf het, as “grens-oorskrynend”. “Hierdie skrywer het nog altyd ’n sintuig vir die absurde en transgressiewe gehad en indertyd in Stet en die tydskrif De Nieuwe Poes as Koekie Ziervogel bydraes gelewer.” (Rapport, 16 November 2014)
Sy het dit geskryf as inleiding tot haar bespreking van Theunis Engelbrecht se “rowwe” roman, Papegaaislaai, wat in 2014 by Umuzi verskyn het – sy eerste boek sedert Om ’n laaitie te maak in 1986.
Papegaaislaai vertel die verhaal van Malletjie, ’n fotojoernalis wat deur Volksmond waar hy gewerk het, retrench word. Hy begin ’n privaatspeurder-vennootskap saam met Rocky, ’n DJ met baie min geld. Hulle eerste taak as speurders is om ’n vermiste Afrikaanse sanger te vind. Op hulle soektog bevind hulle hul van Fietas tot in Brixton, Hillbrow en so ver as die Bosveld en terug.
Malletjie pas sy ouma in Fietas op waar sy saam met haar poedels Oubaas en Hilda woon en ook saam met Pik, die pratende papegaai wat geleer praat het in die tyd van “goeie Christelike Nasionale Opvoeding”, soos Elmari Rautenbach skryf in Rapport (5 Oktober 2014).
Hambidge noem die verhaal “Engelbrecht-vintage” en sy beskryf dit verder as ’n “oneerbiedige, briljante” roman.
“Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek ‘reg’ te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels.”
Deon Maas het homself ook baie gunstig uitgespreek oor Papegaaislaai. In Die Burger van 13 Desember 2014 skryf hy dat in die soektog na die sanger skrop Malletjie en Rocky ’n “bynes van dekadensie oop wat nie Afrikaanse musiek en sy waardes in ’n goeie lig plaas nie.
“Hier is waar die satire-deel van die boek inskop. Of dalk nie. Dalk is dit glad nie satire nie. Dalk is dit net die waarheid van hoe die bedryf werk en is hierdie dalk die skrywer se wraak op ’n bedryf wat hom nog altyd met ’n vinger in die oog gesteek het. Dalk was dit nie ’n vinger nie.
“Die boek is ’n vinnige lees. Een van daai boeke wat jy nie laat in die aand moet begin nie, want môreoggend gaan jy moeg wees. Die karakters lewe. Al ken jy hulle nie, het jy hulle al langs jou in die kroeg gesien.
“Daar is ’n paar clichés en ander goed wat gebeur wat nie altyd te logies is nie, maar die humor in die boek en die gemak waarmee die storie vertel word, vergewe als. [...]
“Papegaaislaai is bef*k, foute en al. Dit mag dalk nie ’n Leserskringgunsteling wees nie, maar daar sal altyd een tannie wees in die boekklub wat gaan aanklank vind en dan haar vriendinne gaan ontstel deur dit aan te beveel. Dit is sonder twyfel my Afrikaanse boek van die jaar.”
Op LitNet vertel Theunis bietjie meer oor sy lang letterkundige stilswye aan Beyers de Vos: “Ek was sowat 20 jaar lank popmusiekjoernalis by Beeld in Johannesburg. Ek moes uit die aard van my werk baie partytjies, bekendstellings en shows bywoon en het agtergekom wanneer rolspelers in die Afrikaanse musiekbedryf – kunstenaars, bemarkers, skakelbeamptes, promotors en maatskappybase – dronk raak by sulke geleenthede, hoor ’n mens die ongelooflikste stories. Soos oor dinge wat tussen die lakens gebeur, sangers wat rowwe partytjies met kaal kelners hou, kokaïensnuiwery, seksmisdade, ambisieuse bimbo’s wat die volgende blonde sangsensasie wil wees en enigiets sal doen om dit reg te kry, die ongelooflike geknoei en gekonkel agter die skerms, die dinge wat sterre bereid is om te doen net om ’n bietjie publisiteit te kry, ensovoorts, ensovoorts. Toe ek dus uittree as popmusiekjoernalis, het ek baie materiaal gehad wat gesmeek het om ’n storie te word.”
Oor die subtitel ’n rowwe roman wou De Vos weet hoekom Theunis juis dit gekies het. Theunis verduidelik dat Malletjie se wêreld se werklikhede hard en koud is. “Dus is sy taalgebruik rof en grof en onbeskof. Hy draai nie doekies om nie en bak nie mooi broodjies nie. Hy het al genoeg dinge in die lewe gesien om hom hard te maak. Hy en sy buddy – Rocky Johnson, ’n trans-DJ wat onder die naam DJ Funk Soul Brother werk – beleef ook rowwe avonture in plekke soos ’n hoerhuis in Hillbrow, die Blou Bul Bush Pub in die Bosveld, die Brakpan-dam, Adult World in Melville en ’n miljoenêrswoning in Dainfern. Mense wat dit al gelees het, het vir my gesê dit het soos ’n roller coaster ride (ekskuus: ’n rit op ’n wipwaentjie) gevoel, en ook in daardie opsig is dit rof.”
De Vos maak die stelling dat die satire in Papegaaislaai se fokus in besonder op die Afrikaanse musiekbedryf val en meer in die algemeen ook op die Afrikaanse kultuur en ons Afrikaners wat so behep kan wees met celebrities en skandale. Hoekom is Theunis dan só gefassineer met die vermaaklikheidsbedryf?
Vir Theunis is dit veral die “illusionêre en oppervlakkigheid” wat hom aantrek. “Hoe belaglik dit is as sogenaamde celebrities soos die Kardashians en al die ander kardoesjiane aanbid word asof die son nie net uit hulle gatte skyn nie, maar ook soggens daaruit opkom en saans daarin ondergaan. Die verdomming en vervlakking wat dit in die hand werk. Hoe die consumers daarvan basies soos skape gebrainwash word. Die hele idee van vals bewussyne wat sodoende ontstaan. Die skynheiligheid en rugstekery in die bedryf. Hoe sekere sterre se ego’s opgeblaas raak en dit van hulle klein monstertjies kan maak.”
In die roman word ook die wêreld van die joernalistiek betrek – ’n wêreld wat die skrywer goed ken aangesien hy lank daarin gewerk het. Hy vertel aan De Vos dat al die nuusberigte en koerant- en tydskrifopskrifte net so oorgeneem is uit berigte in nuusbronne wat in daardie tyd (15 tot 21 Desember 2012) verskyn het. Al uitsondering is daardie berigte wat handel oor die sanger Zander Stander wat verdwyn het, asook die fiktiewe poniekoerant Die Volksmond.
Oor die taalgebruik in Papegaaislaai sê Theunis aan De Vos dat hy net weer besef het watter “befokte” taal Afrikaans is terwyl hy die boek geskryf het. “Mense wat dit nie wil glo nie, kan maar net Boerneef se gedigte gaan lees. Ek sal in geen ander taal wil skryf nie. Malletjie is Afrikaans- en Rocky Engelssprekend, so uit die aard van die saak praat hulle nie suiwer Afrikaans met mekaar nie, maar ’n mengsel van die twee tale. Dis ’n soort straattaal wat ek elke dag in die handel en wandel hoor en wat ek meer kleurryk en dinamies vind as vaal, hiperkorrekte koekstruiftaal. Rocky hoor heeltyd lekker Afrikaanse woorde en sêgoed by Malletjie, en hy wil hê Malletjie moet hom meer daarvan leer. En in die proses gaan hulle mal en speel baie met taal.”
Theunis maak ook in Papegaaislaai ’n uitspraak tussen “goeie” en “slegte” musiek. De Vos wou weet wat hierdie verskil is: “Vir my is goeie musiek dié waarin op ’n oorspronklike manier omgegaan word met sosiale werklikhede, sonder oogklappe. Slegte musiek is dié wat niks te sê het nie en vol clichés is en ’n mens nie laat nadink oor enigiets nie. Die lirieke van die meeste kommersiële ligte Afrikaanse musiek klink of dit die skryfwerk van ’n graad 5-leerling in ’n skooljaarblad is. (As jy my nie glo nie, skakel net vir ’n uur lank in op kanaal 146 op DStv.) Dit is wat die lirieke betref. Wat die musiek self betref, is verbeeldingryke arrangements en cutting-edge production en die gewilligheid om grense te verskuif en nuwe dinge te doen die soort goed waarby ek aanklank vind. Daarom is dit so ’n skreiende skande dat die MK-kanaal op DStv toegemaak is, want dit was al kanaal waar ’n mens nog ordentlike musiek kon hoor en na ordentlike musiekvideo’s kon kyk. Dankie tog vir YouTube.”
In 2015 publiseer Penguin die biografie van die Afrikaanse rapper, Jack Parow, onder die titel Jack Parow: die ou met snor by die bar geskryf deur Theunis Engelbrecht. In Volksblad (28 September 2015) skryf Koos Kombuis dat hierdie biografie van Jack Parow soos aan Theunis vertel verrassend is. En dit is beslis een van “daardie literêre hoogtepunte van die jaar” is. Hy noem dit literêr al is dit glad nie in hogere Afrikaans geskryf nie.
“Ek moet ruiterlik erken dat Die ou met die snor by die bar loshande een van die lekkerste boeke is wat ek al gelees het. En dit is vol cool prentjies ook! Eintlik hoef ek geen verdere redes te gee nie. Ek kan maar net aanhaal uit die teks om my punt te bewys.”
Hy sou egter vreeslik graag die boek vir sy kinders wou gee om te lees, maar daarvoor laat Jack Parow die gebruik van dagga darem té lekker klink sonder om te vertel hoe gevaarlik dit kan wees. En dit is jammer, “want, hel, Die ou met die snor by die bar is ’n classic!”
Zander Tyler (Jack Parow) het aan Jan Taljaard vertel dat toe Penguin Uitgewers hom genader het om te hoor of hy saam met Theunis Engelbrecht aan ’n boek oor sy lewe wou werk, was hy uit die veld geslaan: “F*k, wil enigiemand dan ’n boek oor my lees?” het hy gewonder. Vir hom was dit belangrik dat sy eie stem in sy boek gehoor moes word en hy was baie beïndruk met Theunis wat dit reggekry het om Jack Parow se stem helder te laat hoor.
In Volksblad (28 September 2015) skryf Koos Kombuis oor Jack Parow: die ou met die snor by die bar: “Hulle sê daar is nie iets soos ’n perfekte boek nie, en dis seker waar van dié ene ook. Maar Jack Parow se verrassende outobiografie, soos vertel aan Theunis Engelbrecht, is sekerlik een van daardie literêre – ja, ek noem dit ‘literêre’, hoewel dit allesbehalwe in hogere Afrikaans geskryf is – hoogtepunte van die jaar.
“Ek moet ruiterlik erken dat Die ou met die snor by die bar loshande een van die lekkerste boeke is wat ek al gelees het. En dit is vol cool prentjies ook!”
Kombuis sluit af: “Ek ken Jack Parow se liedjies al jare lank, maar hierdie heerlike boek het my heeltemal onkant betrap, dit is so eerlik en onderhoudend geskryf dat ek later nie eens meer agtergekom het dat die teks deurspek is met Engelse leenwoorde en gekruide taal nie. Soos Nathan Trantraal klink Jack Parow se Bellville-speak nooit geforseerd nie, en ek besef al hoe meer, ná die lees van hierdie boek, dat dit dalk as ’n geldige dialek erken behoort te word.”
Vir Koos Kombuis is Jack Parow se slotboodskap aan die jeug die een paragraaf wat hom altyd sal bybly: “So ek scheme as almal net uitchill en relax en hulle kak laat staan, sal die wêreld ’n baie beter plek wees om in te leef. En al wat ek vir die jong Afrikaanse generation kan sê, is: Be yourself ...”
In Beeld van 19 Februarie 2001 vertel Theunis meer van boeke wat sy uitkyk op die lewe verander het. Onder hulle is RD Laing se The politics of experience, Erich Fromm se The art of loving, Letters to a young poet deur RM Rilke en Erica Jong se The devil at large (’n boek oor Henry Miller).
Hy brei ’n bietjie uit oor hierdie keuse: “Omdat ek vroeër sosiologie en analitiese sielkunde studeer het, interesseer die manier waarop mense sin maak van die sosiale werklikheid my – veral omdat hedendaagse werklikhede baie banaal en siek kan wees. Hieroor het Laing en Fromm uitvoerig geskryf.
“Stephen Mitchell, die vertaler van Letters to a young poet, skryf soos volg oor die boek: ‘All through the letters are insights of a very high order. This is a book that has some qualities of a great poem – the density, the richness, the seemingly inexhaustible nourishment. And like a poem, it can mirror back to us our condition, changing as we change, clarifying as our vision becomes more clear, until its insights become as familiar and obvious as our own face.’”
In Beeld (25 Julie 2000) het Stephanie Nieuwoudt aan Theunis gevra oor sy vroeë debuut. Vir hom was dit ’n goeie én slegte ding dat hy so jonk gedebuteer het: “’n Goeie ding, want op daardie ouderdom is ’n mens se emosies rouer en meer spontaan en is jou skryfwerk eerliker.
“Dit was ook ’n slegte ding, want ek het die aandag getrek van redelik bekende figure in die kultuurwêreld wat my onder meer wou molesteer. Maar dit was ook ’n goeie ding, want dit het my vroeg geleer hoe om mense en hul motiewe en versteekte agendas uit te check en my nie met ’n slap riem te laat vang nie.”
Nieuwoudt wou ook by Theunis weet hoekom hy nog skryf: “In Cesare Pavese se woorde: ‘Literature is a defence against the attacks of life. It says to life: “You can’t deceive me. I know your habits, foresee and enjoy watching your reactions, and steal your secret by involving you in cunning obstructions that halt your normal flow”.’” (Beeld, 25 Julie 2000)
In die onderhoud met Willemien Brümmer (Netwerk24, 8 Desember 2020) vertel Theunis hoekom hy en die orkes, Die Naaimasjiene, besluit het om hulle verbode album, Die saai lewe, weer bekend te stel. Hy vertel ook dat die digter Johan van Wyk in sy laaste jaar of wat op skool ’n groot rol in sy lewe gespeel het. Johan het vir hom kassette uit Boksburg gestuur wat “sy kop oopgeblaas” het: “Hy het my basies aan die lewe gehou in daardie beklemmende, bedrukkende, kleindorpse mentaliteit en hy het my ook aan groepe soos Koos (met onder andere Marcel van Heerden, Gys de Villiers en Neil Goedhals) en Warrick Sony se Kalahari Surfers bekend gestel. Laasgenoemde twee het ’n enorme invloed op my gehad en was die direkte inspirasie vir Randy Rambo & die Rough Riders se ontstaan.”
Met die skryf van sy novelle Om ’n laaitie te maak (gesensor deur die laaste bewind-NP met ’n ouderdomsperk van 18) in die laat 1980’s het hy brandewyn uit sy pa se kabinet gesteel, dit gedrink en die novelle geskryf: “Ek was 21 en het deur Unisa geswot en by my ouers in Bethlehem gebly.
“Dit het my ore bereik dat Jong Dames Dinamiek ’n vergadering gehad het waarin hulle praat oor die verval van die Afrikaanse letterkunde en hulle het twee boeke daar gehad – Om ’n laaitie te maak en een van Koos Prinsloo. Dit het my toe nou so afgecheese en toe dink ek aan daai sêding waarvan ek so baie hou: ‘Don’t fuck with writers, we’ll describe you.’ En dis hoe die song (‘Jong Dames Dinamiek (maak my siek)’) ontstaan het. Ek het dit net geskryf oor die dames in die dorp en hoe hulle lewe soos ek dit sien.”
Die saai lewe was die eerste Afrikaanse album wat in sy geheel vir besit en verspreiding onder die sensuurmes van die destydse Publikasiebeheerraad deurgeloop het. Dit is in 2020, ná 30 jaar, heruitgereik: “Die noodlot het dit toe so beskik dat Warrick Sony van die Kalahari Surfers dié liedjie (‘Die saai lewe’) vir die Voëlvry-toer opgeneem het. Daarna het ons dit opgeneem met Willem Möller (Meneer Volume op die Voëlvry-toer) as vervaardiger in die kelder van Willem se huis in Yeoville as deel van Shifty Records se Budgie-reeks kassette.”
Die saai lewe het die Afrikaanse musiekbedryf soos ’n “Molotofbom” getref, skryf Willemien Brümmer. “Want die groep was in wese baie meer revolusionêr as die Voëlvry-beweging. Dit dokumenteer die jare van 1986 tot 1989 toe die apartheidsregering soos ’n steierende soldaat sy laaste saldo afvuur.”
Die Naaimasjiene glo vandag nog in protesmusiek as ’n wapen teen “die monsters en hulle stelsels”: “Ons maak oorlog teen die vervlakking en verdomming van vandag se wêreld, waarin onder meer geglo word kuns en literatuur is nie meer belangrik nie en het net waarde as ’n mens geld daarmee kan maak.
“Ons maak oorlog teen die soort mense wat aktief meewerk om die massas te breinspoel. En dan is daar nog die breinspoeling deur advertensies en sosiale media en populiste. Die meeste politici is skuim in ons oë. [...]
“Ons maak ook oorlog teen homofobe. Ek het vroeg reeds besef ek is gay gebore, dit was nie my keuse nie. Ek het dit nooit in myself beveg nie en dit net aanvaar – wat kan ’n mens anders doen? [...]
“Die rol wat sekere kerke, en spesifiek die NG Kerk, gespeel het – en steeds speel – om mense te breinspoel sodat hulle God en die Bybel kan gebruik as ’n stok om gay mense mee te slaan is vir my weersinwekkend, om nie eens te praat van al die dekades wat hulle apartheid goedgepraat en aktief in stand help hou het nie.”
Vroeg in 2020 het Theunis, saam met die skrywer-joernalis Herman Lategan en ’n anonieme man, klagte ingedien teen die joernalis Coenie Slabber, voorheen kunsredakteur van Rapport, omdat hy hulle na bewering op skool seksueel gemolesteer het. Een van Die Naaimasjiene se liedjies, “Vakansietyd in Hartenbos”, is juis einde 2019 opgeneem na aanleiding van #MeToo en Deon Wiggett se weeklikse podsending oor sy “jag” op Willem Breytenbach, oud-onderwyser, joernalis en mediabaas.
Hierdie liedjie, met flertse uit ’n opname van Breytenbach se stem, skryf Willemien Brümmer, gaan oor “Oom Bossie” wat “jags soos ’n tokkelossie” is, en aan die kinders in Hartenbos Smarties uitdeel: “Die refrein dryf die spot met die gemoedelikheid van die ATKV-oorde, waar naby Breytenbach elke Desember uitgespan het,” aldus Brümmer.
Publikasies:
|
Publikasie |
’n gedig is so onskuldig soos ’n eier |
|
Publikasiedatum |
1982 |
|
ISBN |
0628023111 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Skreeuparadys |
|
Publikasiedatum |
1983 |
|
ISBN |
0628024231 (hb) |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
|
Literêre vorm |
Poësie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Kinders van die Kierangsee |
|
Publikasiedatum |
1985 |
|
ISBN |
079590472X (hb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Daan Retief |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Engels, vertaal deur Mae Tweehuizen as Boys of summer, 1987 |
|
Resensies en besprekings |
Geen |
|
Publikasie |
Om ’n laaitie te maak |
|
Publikasiedatum |
1986 |
|
ISBN |
0620088001 (sb) |
|
Uitgewer |
Pretoria: Ombondi |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Papegaaislaai: ’n rowwe roman |
|
Publikasiedatum |
2014 |
|
ISBN |
9781415207147 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Umuzi |
|
Literêre vorm |
Roman |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
|
Publikasie |
Jack Parow: die ou met die snor by die bar |
|
Publikasiedatum |
2015 |
|
ISBN |
9781770229020 (sb) |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Penguin |
|
Literêre vorm |
Biografie |
|
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
|
Vertalings |
Geen |
|
Resensies en besprekings |
|
Theunis Engelbrecht as vertaler:
- Nicol, Mike: Staatsrotte. Kaapstad: Umuzi, 2016 [ISBN 9781415207338 (sb)]
- Amid, Jonathan: Kompleks, siek wêreld onverskrokke aangedurf. Netwerk24, 5 Februarie 2017
Artikels oor Theunis Engelbrecht:
- Beknoptheid van platteland frustreer hom. Beeld, 2 April 1981
- Boekresensie: Só borduur Van Coke ’n lewe sans enig beige. Rapport, 13 Oktober 2024
- Boonzaaier, Dawie: Seksklagte teen oudjoernalis oor seuns. Netwerk24, 22 Maart 2020
- Brits, Marietjie: Jong digter het baie te sê oor sensuur en skool. Vaderland, 24 Augustus 1982
- Brümmer, Willemien: Dr Boomslang: Kerke het gays se “bloed op hul hande”. Netwerk24, 8 Desember 2020
- De Vos, Beyers: Onderhoud: Theunis Engelbrecht oor Papegaaislaai. LitNet, 27 Mei 2015
- Engelbrecht, Theunis:
-
- Biografiese skets by NALN, 13 September 1983
- Klassifiseer? [brief]. Die Suid-Afrikaan, Julie 1985
- Theunis Engelbrecht oor Theunis Engelbrecht. Dolos, Junie 1985
-
- Hoërskool Witteberg se belowende digter. Vrystaatse Onderwysnuus, Oktober 1983
- La Vita, Murray: Hoëlui, lui hoës en lae luise. Netwerk24, 28 November 2014
- Nieuwoudt, Stephanie: Digter raak ontnugter en skugter. Beeld, 25 Julie 2000
- Skrywer en bende aan ’t gesels. Beeld, 13 April 1987
- Skrywersprofiel: Theunis Engelbrecht, ’n man van vele talente. Tempo, 28 September 1982
- Theunis Engelbrecht [“Heimvat-vers vir my lovely”]
- Theunis Engelbrecht (Wikipedia)
- Theunis Engelbrecht. Rapport, 29 September 1985
Artikels en rubrieke deur Theunis Engelbrecht:
- Baie dankie, Hansie Cronjé [So by my kool]. Die Burger, 15 Februarie 2003
- Bekende se lyk in stort gekry [So by my kool]. Die Burger, 26 April 2003
- Bernadet Broodryk, die beminlike [So by my kool]. Die Burger, 8 Februarie 2003
- ’n Boek wat my lewe verander het. Beeld, 19 Februarie 2001
- Bulte en gleufies wat uitloer [So by my kool]. Die Burger, 25 Januarie 2003
- Die verskrikking van die tweede boek. Volksblad, 18 September 1996
- Dieselfde kool, nuwe sous ... [So by my kool]. Die Burger, 4 Januarie 2003
- Dis nou maar boerewors. Die Burger, 24 Augustus 2002
- Gee ons ’n K – ’n groot k! [So by my kool]. Die Burger, 1 Maart 2003
- Generasie-bewerasie [So by my kool]. Die Burger, 29 Junie 2002
- Gille vir Kersfees. LitNet, 15 Desember 2010
- ’n Heerlike koel Kersfees [So by my kool]. Die Burger, 8 Maart 2003
- Heimat-vers vir my lovely [gedig]. Strokes of Happiness, 7 Augustus 2015
- Jingle hells, jingle hells ... [So by my kool]. Die Burger, 28 Desember 2002
- ’n Kasie vir die nasie [So by my kool]. Die Burger, 27 Julie 2002
- Kerkorrel “was murdered”. News24, 10 Oktober 2004
- ’n Koek val in die as [So by my kool]. Die Burger, 14 September 2002
- Krismis in die hart. LitNet, 11 November 2009
- Laat waai, Meraai! [So by my kool]. Die Burger, 10 Augustus 2002
- Malligheid, o malligheid! [So by my kool]. Die Burger, 14 Desember 2002
- Min of meer ’n meermin [So by my kool]. Die Burger, 19 April 2003
- Ons wag op die idee [So by my kool]. Die Burger, 15 Junie 2002
- Op soek na plesierpolonie in die kultuurkolonie [So by my kool]. Die Burger, 25 Mei 2002
- Papegaaislaai [So by my kool]. Die Burger, 12 Oktober 2002
- ’n Prikkelpop, ’n matroos en Turkse boeretroos [So by my kool]. Die Burger, 6 Julie 2002
- Rowwer, growwer, dowwer [So by my kool]. Die Burger, 3 Augustus 2002
- ’n Sekere soort klammigheid [So by my kool]. Die Burger, 15 Maart 2003
- ’n Sekere soort streep [So by my kool]. Die Burger, 9 November 2002
- Seksuele verbystering en dubbelbed-etiket [So by my kool]. Die Burger, 8 Junie 2002
- Skink, meisies, dis partytjietyd! [So by my kool]. Die Burger, 7 Desember 2002
- Sooibrand [So by my kool]. Die Burger, 17 Augustus 2002
- Te wonderlik vir woorde [So by my kool]. Die Burger, 11 Januarie 2003
- ’n Tsoenami van bloed en Afrikaans. LitNet, 8 April 2008
- Tweedehandse dagdrome [So by my kool]. Die Burger, 12 April 2003
- Van Bruce tot allerhande juice. LitNet, 16 April 2009
- Van hip-hop tot hippie-hophop en pôpô. LitNet, 23 Maart 2011
- Van ou perde tot tergterte. LitNet, 19 Mei 2009
- Vreemde voorwerpe in die mond [So by my kool]. Die Burger, 18 Januarie 2003
- Wat ’n Springbokkerop [So by my kool]. Die Burger, 30 November 2002
- Zingeling tiengelieng diengdong [So by my kool]. Die Burger, 22 Februarie 2003
Theunis Engelbrecht se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 22/11/2018 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.


