There goes English teacher deur Karin Cronjé: ’n resensie  

  • 0

There goes English teacher
Karin Cronjé
Modjaji
ISBN:  9781928215615

Die Afrikaans- én Engelssprekende skrywer Karin Cronjé noem haar memoir oor drie onstuimige jare, waarvan twee in Suid-Korea as Engels-onderwyser, baie gepas There goes English teacher. Die titel is goed gekies met sy ontbrekende lidwoord soos wat haar leerders haar sou beskryf en omdat sy dikwels oor haarself in die derde persoon vertel.

Haar besluit om die ver land wat sy aanvanklik sukkel om op ’n kaart te vind, alleen aan te durf in ’n beroep waarvoor sy nie opgelei is nie, was moedig, maar ondeurdag en ingrypend. Sy word daartoe gedryf onder meer omdat sy uitgebrand voel weens haar werk om ander skrywers se boeke tot publikasie te help skaaf terwyl haar eie roman agterweë bly. Met die geldelike oorwegings wat haar motiveer, kan baie Suid-Afrikaners sekerlik identifiseer. Sy moet haar enigste kind, Marko, deur sy studie as argitek kry en vir haar huishulp ’n pensioen voorsien.

In kort, gedrae sinne of frases en met onverbiddelike eerlikheid neem sy die leser deur haar moeilike aanpassing as plattelandse onderwyser by ’n buitemuurse skool. As skrywer ervaar sy die krisis dat sy die manuskrip waaraan sy ’n dekade lank al werk, finaal moet redigeer en die wêreld instuur. Hilette Barnard, die hoofkarakter in haar manuskrip, is ’n soort alter ego waardeur Cronjé haar eie demone besweer en sy het dus op twee fronte diep, emosionele worstelings. Die redigering van die manuskrip neem baie van haar energie in beslag en sy besluit om ter wille van die publikasie van die boek vroeër as wat uiteindelik nodig blyk, terug te keer na Suid-Afrika. Vir die boek, Alles mooi weer (2008), wat weens probleme met die uitgewer eers later verskyn, verower sy die Jan Rabie-Rapportprys.

As iemand wat lank in China onderwys gehou en gewerk het, herken ek baie van Cronjé se ondervindings, soos die kultuurskok wat op onverwagse tye jou wind uitslaan, die vrees van ’n Afrikaanssprekende om uitgevang te word in ‘n Engelse grammatikafout, die drips wat die eerste linie van mediese behandeling vorm, die gespoeg en soms skreeusnaakse taalmisverstande wat die waegukins (in China die waiguoren) oorkom. Toe sy nie kon verstaan waarom ’n apteker herhaaldelik weier om vir haar aanbevole medisyne te gee nie, vind sy uit sy het hom die verkeerde nota gewys. Hierop staan instruksies aan ’n haarkapper in Koreaanse karakters.

In Korea vind sy ’n naam, aegyo, vir die soort infantiele gekla wat vroue gebruik om hulle onderhorig aan mans, en dus deur hulle versorg, te hou; sy leer dat ware gevoelens liefs nie gewys moet word nie en dat ’n mens nie aandag op jouself moet vestig deur bo die massa uit te styg nie. Hierdie tuig skawe, maar deur skandes en skades word sy wyser, veral ná haar terugkeer. Maar sy wroeg ook oor die valse eenheid in Suid-Afrika met vyandigheid wat onder die oppervlak bly prut. Sy vind niemand meer wat apartheid gesteun het nie. Tog stel die gebrek aan kompleksiteit en diversiteit in Korea haar ook nie tevrede nie en sy voel soos ’n spook van haarself in enige land wat nie Suid-Afrika is nie.

Cronjé is nooit sonder haar skerp waarnemingsvermoë en wrang humorsin nie. Dit kom na vore in haar vlymskerp byname vir kollegas, soos Miss Priss en die Ice Queen. Sy maak egter ook goeie Koreaanse vriende van wie sy roerend afskeid neem. Die manier waarop sy die verhouding tussen die Koreane en die eindelose stroom Engelse onderwysers beskryf, is kostelik. Waar eersgenoemde hul beste voetjie voor sit met hoë hakke, valle en sykouse, dra die buitelanders verbleikte jeans en hulle stink en sweet. Hulle kom ook met hulle uitputtende probleme: “No sooner have you got your teacher through her food poisoning than she’s looking for a mattress for her son.” Dit klink baie bekend.

Die laaste derde van die boek hoort nie meer onder die titel tuis nie en doen effe afbreuk aan die waagmoedige stap die vreemde in, behalwe dat dit die skrywer se selfstandigwording as vrou pynlik voltrek nadat sy haar weer moet hervestig en weier om ’n vriend se geld te aanvaar. Onwyse besluite laat haar sonder heenkome en sy moet emosioneel afstand kry van Marko, aan wie sy as enkelma te verknog is. Daarby verloor sy om verskillende redes meer as een van haar vriendinne. Sy moet die skade wat huishuurders haar besorg het, verwerk. Oor hulle ontevredenheid met die verfkleur sê sy in ’n vroeër stadium: “The house had just been painted, with Plascon Double Velvet, nogal.” En dan word die balle wat Karin Cronjé in die lug probeer hou, ons eie en word my empatie volkome.

Die feit dat die boek in Engels geskryf is, sal sorg vir ’n ruim leserstal onder sowel voormalige Engelsonderwysers wat eie ervarings in die Verre Ooste sal herken as voornemendes wat dalk net beter voorbereid sal wees. Maar dis ook die storie van ons almal se emansipasie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top