Titel: The Wall
Skrywer: Max Annas
Uit die Duits vertaal deur Rachel Hildebrand Reynolds
Uitgewer: Lapa
ISBN: 978-1-946395-14-6
Dit is van die eerste bladsy af duidelik dat politieke en sosiale kwessies in Suid-Afrika Suid-Afrikaners van alle rasse gaan dwing om weer ’n slag eerlik en onbevange na die rassesituasie te kyk.
Hierdie misdaadriller speel af in Oos-Londen, waar die skrywer grootgeword het, en is uit Duits vertaal. Die boek is in 2017 met die Duitse prys vir misdaadfiksie bekroon.
Moses se motor gaan staan naby ’n veiligheidsoord. Hy onthou vaagweg dat hy ’n jaar of wat tevore daar by ’n vriend gekuier het, glip by die hek in en begin hulp soek. Maar soos wat alle wit mense vir hom lyk, lyk die huise hier vir hom ook dieselfde. Die buurtwag sien hom en beskou hom weens sy kleur dadelik as ’n indringer wat wil misdaad pleeg.
Daarna volg bladsye en bladsye vol beskrywings van sy noue ontkomings en sy vrugtelose pogings om uit die oord weg te kom. Daar is later geen heining waaroor hy nog nie gespring het nie en geen vullishoop waarin hy nog nie geland het nie en geen muur wat nie te hoog is om oor te spring nie. Tussenin skuil hy darem so nou en dan met ’n kloppende hart in ’n leë huis.
Terselfdertyd is Thembinkosi en Nozipho besig om by ’n huis in dieselfde oord in te breek. Die inbraak het ook ’n vervelige en langdradige verloop terwyl hulle alles ontdek wat mens in ’n gewone wit huis sal vind. Uiteindelik maak hulle ’n verrassende ontdekking wat afleiding bied en op ‘n bietjie spanning en geweld uitloop.
Die manier waarop Annas die gebeure van Moses en die twee inbrekers afwissel, skep tesame met die binnekoms van ’n horde swart en wit veiligheidswagte en die polisie en van die inwoners darem heelwat afwisseling. Die dialoog tussen die groepe en hul beskouings van mekaar is dikwels growwe veralgemenings, maar tog ook taamlik getrou.
’n Onoortuigende misverstand laat die verhaal ten einde loop met al wat leef en beef wat op mekaar begin skiet – bloed, bloed, bloed!
Die skrywer skets dan die persoonlike herinneringe van die betrokkenes by die voorval, soos herhalende kykweers uit verskillende hoeke. Lesers mag dit interessant vind – dis ’n taamlik ongewone aanslag – en ander sal dalk wonder of die skrywer nog ’n paar bladsye by die dun slapband wou voeg.