The Things you Left Behind is ’n eenvoudige storie wat hartsnare aanraak. Vyf verskillende karakters se monoloë, wat deur Jason Potgieter en Alicia McCormick vertolk word, sluit almal by mekaar aan om oor ’n tragiese gebeurtenis te vertel.
Die enigste blanke karwag in die dorp (volgens hom) vertel hoe die karongeluk waarin een van sy “kliënte” betrokke was, hom aangeraak het; ’n ma praat met haar terapeut oor die verlies van haar seun; en Delores, ‘n transvestiet, vertel hoe sy (of hy?) op die toneel afgekom het. ’n Paramedikus en ekskêrel van die oorledene vertel ook hoe die gebeurtenis hulle geraak het.
Potgieter se talent skitter in die skep van en spel in The Things You Left Behind. Hy transformeer moeiteloos tussen karakters, elkeen oortuigend en menslik. Dieselfde geld vir McCormick se toneelspel. Veral haar vertolking van die ma verdien om genoem te word.
Kim Kerfoot se regie dui op ’n intelligente interpretasie van die teks en wat dit benodig het om tot sy reg te kom. Kerfoot, wat die Rosalie van der Gucht-toekenning vir Beste Nuwe Regisseur hierdie jaar by die Fleur du Cap-toekennings gewen het, is beslis ’n figuur om dop te hou in die teaterwêreld.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

