| Loammi Wolf lewer kommentaar op die LitNet Akademies-artikel "Die politiek van die estetiese in ’n postkoloniale konteks: menswaardigheid en vryheid van uitdrukking in die debat rondom Brett Murray se skildery The Spear" deur Jaco Barnard-Naudé en Pierre de Vos. |
Die LitNet Akademies-artikel van Jaco Barnard-Naudé en Pierre de Vos oor “Die politiek van die estetiese in ’n postkoloniale konteks met verwysing na Brett Murray se skildery The Spear” bied heelwat stof tot nadenke. In ’n sekere sin versinnebeeld sowel Murray as Ayanda Mabula se skilderye van Zuma die tydgees en reflekteer ’n komplekse bestekopname oor die demokratiserings proses in Suid-Afrika. Hoewel ek nie veel toe te voeg het tot wat hulle sê nie, wil ek graag die breër raamwerk van die juristiese beoordeling kontekstualiseer en ingaan op spesifieke aspekte van die postmoderne diskoers oor postkoloniale menswaardigheid en vryheid in die proses om ’n nuwe sosiale sintese te skep.
1. Die resgaspek
Die vraag is basies of Zuma se reputasie (fama) en menswaardigheid (dignitas) in die enger gemeenregtelike sin aangetas is deur Brett Murray se skildery. Dit is ’n privaatregtelike kwessie wat deur deliktereg gereguleer word en is goed uiteengesit deur die skrywers.
Sover dit gaan om die vraag of Zuma se menswaardigheid ook in ’n grondwetlike sin deur die gewraakte skildery aangetas is, en sy belange afgeweeg moet word teenoor Brett Murray se reg op vryheid van uitdrukking (wat die reg op artistieke uitdrukking insluit), dink ek nie dat dit van toepassing is nie. Die Handves van Menseregte beskerm regte van individue, regspersone of groepe teenoor staatsorgane wat daarop inbreuk maak (artikel 8(1) van die Grondwet). Brett Murray is nie ’n staatsorgaan wat kan inbreuk maak op Zuma se menswaardigheid nie. Daar is wel uitsonderlike gevalle van sogenaamde Drittwirkung, maar dit is nie hier relevant nie.
Dit is egter belangrik om daarvan kennis te neem dat president Zuma ’n taamlik ambivalente verhouding tot die reg en die regstaat het. Hy is fyngevoelig oor sy menswaardigheid, maar dit lyk nie asof hy bereid is om gelyke behandeling ten opsigte van wetstoepassing – selfs nie in sy hoedanigheid as ’n magtige politikus - andersins te aanvaar nie.
Van 2003 af het hy alles in sy vermoë gedoen om nie strafregtelik tereg te staan op aanklagte van korrupsie nie. Zuma is ’n buitengewoon omstrede president, omdat die klagstaat met 783 aanklagte teen hom teruggetrek is sodat die ANC-president die hoogste amp in die staat in 2009 kon betree. In die proses is die regstaat en strafregtelike geregtigheid ernstige skade berokken. (Vir ’n uitvoerige bespreking, sien hier.) Die verkragtingsaak teen hom was nie minder omstrede nie. Hoewel hy vrygespreek is, was daar sprake van getuies wat geïntimideer is.
As mens dit vergelyk met die veroordeling van Daryl Peense, moet mens jou afvra waarom die korrupsiesaak so suksesvol uit die hof kan bly, terwyl so ’n beuselagtigheid summier vervolg word. Peense het per ongeluk amper wyn op Zuma gestort by die Durban July-perdewedren toe toeskouers oor ’n balkon wou loer om die president te sien verbystap. Hy is aangeklae van aanranding en gevonnis tot ’n boete van R8 000 of vier maande gevangenisstraf. Daarby kon Zuma hom nie eers aan die voorval herinner nie .
Die meeste mense met ’n normale sin vir geregtigheid sou dit moeilik vind om in geregtigheid te glo na aanleiding van sulke selektiewe en lukrake strafvervolging.
Teen hierdie agtergrond is die uitstalling en publikasie van Brett Murray se kunswerke, wat ten doel het om kommentaar te lewer oor die politieke bestel van die ANC, in die konteks van morele meerderwaardigheid wat die ANC as bevrydingsbeweging opeis, besonder brisant.
2. Die regstaat as postkoloniale konstruk?
Ek wil vervolgens fokus op die tese wat De Vos en Barnard-Naudé opstel, dat die huidige regstaatlike grondwet in Suid-Afrika ’n postkoloniale grondwet is.
Ek verstout my om te sê dat ’n regstaatlike grondwet niks met postkolonialisme te doen het nie. Hoewel die ANC en SAKP apartheid as ’n “besondere vorm van kolonialisme” beskou omdat dit as ’n stelsel van wit dominasie beskou is, verander dit op sigself nog nie die huidige regstaatlike grondwet in ’n postkoloniale model nie.
Mens moet versigtig wees om die rassistiese apartheidsbestel wat sterk deur Afrikaner-nasionalisme en xenofobie gedrewe was, sommer gelyk te stel met kolonialisme. Ook Afrikaners was deur die Britte gekoloniseer, en vir hulle was die republiekwording in 1961 net so ’n bevryding as wat dit vir ander Afrika- of Asiatiese nasies in die sestigerjare was.
Mens sou hoogstens kon sê dat die regstaat-projek wat deur die Kodesa-onderhandelinge tot stand gekom het, ’n poging daarstel om ’n sterk en regverdige staatlike raamwerk te skep om die traumatiese verlede te oorkom en die demokratiserings proses voort te dryf.
Die regstaat is ’n bepaalde konstitusionele model wat stadig en evolusionêr oor meer as 200 jaar in Kontinentaal-Europa ontwikkel het. Weens Napoleon se verowerings is die meeste Europese state se regsisteme sterk deur Franse reg beïnvloed. Die regstaatlike stelsels wat mettertyd ontwikkel het, toon definitiewe verskille ten opsigte van die Anglo-Amerikaanse stelsels wat onder die invloed van die Westminster-model ontwikkel het.
In sy moderne vorm word ’n regstaat daardeur gekenmerk dat alle staatsmag deur ’n menseregte-akte binne sekere grense beperk word. In teenstelling met die leer van parlementêre soewereiniteit wat die Westminster-stelsel kenmerk, is die drie staatsmagte in ’n regstaat ewe sterk en kan wette en handelinge van staatsorgane as ongrondwetlik deur die howe verklaar word.
Die skeiding van magte is ook anders. In die Westminster-stelsel is die staatsaanklaers deel van die uitvoerende gesag, omdat die polisie aanvanklik kriminele sake vervolg het. In regstate het die oorspronklike Franse model voorsien dat regters kriminele oortredings sowel ondersoek as besleg. Hierdie ampte is later geskei: die ondersoekende en aanklaende funksie is aan staatsaanklaers oorgedra, terwyl die regter se bevoegdhede tot onbevange regspraak beperk is. Dit verklaar waarom die staatsaanklaers in die regstaatmodel ’n tweede staatsorgaan naas die regbank binne die derde staatsmag is. Omdat die uitvoerende gesag nie die staatsaanklaers kan beheer of indirek manipuleer nie, kan korrupsie van politici en staatsamptenare makliker vervolg word. Regstate word dus gekenmerk deur sterk staatstrukture wat gebaseer is op ’n hoogs ontwikkelde staatsadministrasie en ’n getemperde strafreg.
Hoewel die Amerikaanse stelsel wat ná die Amerikaanse Revolusie tot stand gekom het, ook as postkoloniaal bestempel sou kon word, het dit steeds grotendeels die Westminster-model bly volg. Hulle het net die monargie en klassestelsel afgeskaf. Die meeste Britse kolonies wat in die sestigerjare onafhanklik geword het, Suid-Afrika ingeslote, het ook hibriede vorme van die Westminster-model behou.
Mens sou dus eerder kon sê dat die tipiese postkoloniale grondwetstelsel van voormalige Britse kolonies die Westminster-stelsel was. Die meeste van hulle het mank gegaan aan die sistemiese probleme dat daar nie voorsiening was vir grondwettoetsing deur die howe nie en nie ’n duidelike skeiding is tussen staatsorgane wat administratiewe reg aanwend en dié wat strafreg afdwing nie.
Hierdie swak skakels van die Westminster-stelsel was een van die hoofoorsake waarom die postkoloniale bestelle in Afrika en Asië gefaal het. Die potensiaal om mag te kon misbruik en die staat ten koste van die armes en ontwikkeling te plunder is verder versterk deur die invloed van sosialistiese staatsorganisasie.
Baie bewindhebbers van die postkoloniale state het daartoe geneig om sosialistiese state wat hulle in die bevrydingstryd ondersteun het, na te volg. Die sosialistiese stelsels toon verbasend baie ooreenkomste met die Westminster-stelsel, omdat beide inherent op ’n premoderne klassestelsel begrond is.
In teenstelling met die evolusionêre verplasing van die oorwig van mag van die koning en adel na die burgerlike samelewing in Groot-Brittanje, het die sosialistiese revolusies die klassehiërargie omgekeer en die adel en burgerlike middelkas ontmagtig of totaal uitgewis. Die kommunistiese partye het die mag van die arbeidersklas verder konsolideer deur ’n eenheid van staat en party te postuleer. Dit is ’n relatief primitiewe stelsel, omdat dit net op ’n rudimentêre skeiding van magte gebaseer is en uitgaan van die beginsel van ’n eenheid van staatsmag.
As mens hierdie sisteme grafies sou indeel op ’n skaal van ondemokraties-outoritêr tot uiters kompleks en demokraties, sou die sosialistiese model eerder in eersgenoemde kategorie val, terwyl die hibriede Westminster-stelsels in die middel sou figureer en die regstate as die mees demokratiese geklassifiseer sou kon word.
3. Postmoderne ivoortorings
Soos De Vos en Barnard-Naudé tereg uitwys, word die postkoloniale kritiek deur twee denkstrominge beïnvloed – enersyds, die antikoloniale en anti-imperialistiese stryd, en andersyds, die postmoderne filosofiese kritiek teen die inherente geweld van die Westerse Subjek se pogings om ’n Ander op te lewer wat eenvoudig die Westerse Subjek se subjekstatus konsolideer. Ek wil graag ’n paar gedagtes oor beide invloede deel.
3.1 Die "antikoloniale en anti-imperialistiese stryd"
Brett Murray het Zuma in die beroemde Lenin-posering geskilder met ’n ruimskootse kritiese uitbeelding van sy kontroversiële sekslewe. Vir eers is die fokus net op Murray se uitstalling wat kommentaar wou lewer oor die ANC, en spesifiek Zuma en sy Vula-binnekring se vervlegting met kommunisme en hoe dit die politiek beïnvloed.
In die openbare diskoers het sy skildery op ’n paar tone getrap, omdat die daarstelling van Zuma in die Lenin-posering geïnterpreteer word as ’n verhoning van die antikoloniale en anti-imperialistiese stryd. Dit loon dus om meer lig te werp op hierdie assosiëring.
Ek het onlangs as vertaler en tolk opgetree vir twee historici wat die steun van die Oos-Duitse regering en die Stasi aan Afrika se bevrydingsbewegings, meer spesifiek Swapo en die ANC, ondersoek het. Ons het ongeveer ’n week lank deur ’n trollie vol lêers in die Stasi-argief in Berlyn gewerk. In feitlik elke berig of dokument wat ons deurgegaan het, het die refrein van die “anti-imperiale stryd” wat gevoer is teen die “Westerse kapitalistiese klassevyand” en “uitbuiters” opgeduik. (Kanada en Australië was daarby ingesluit, hoewel hulle niemand gekoloniseer het nie.)
Die toon was besonder skerp as die Stasi-agente berig het oor verslae van ’n Wes-Duitse menseregte-organisasie wat ernstige menseregte-vergrype van die ANC en SWAPO teenoor dissidente in hulle strafkampe dokumenteer het. Dit is eenvoudig afgemaak as “imperialistiese disinformasie”.
Dit is bekend dat die Stasi Mugabe se elite-eenheid, die Vyfde Peloton, en ook baie ANC-kaders, by Teterow opgelei het. Mugabe se Vyfde Peloton was in 1984 verantwoordelik vir die massamoord op 20 000 Matabeles. ANC-dissidente wat onder ImBokodo deurgeloop het in ANC-strafkampe se lyding is ook goed gedokumenteer.
Wat mens moet begryp, is dat die nasionaal-demokratiese revolusies wat die juk van kolonialisme wou afwerp, ’n sterk onderbou gehad het waar die reinigende krag van geweld om ’n nuwe sosialistiese gemeenskap te skep, aanvaarbaar was. Strukturaliste/eksistensialiste soos Sartre het die Maoïste en die Khmer Rouge in die sestigerjare entoesiasties ondersteun. Hy het te velde getrek teen die bourgeoisie-howe as burgerlike instelling en het verlang dat mense voor “people’s courts” gedaag moes word soos in 1792. Die ongemaklike verknoping van geweld en revolusie as teenvoeter teen die Viëtnam-oorlog en koloniale uitbuiting is dus reeds hier sigbaar.
Die topstruktuur van die Khmer Rouge het almal in die vyftiger- en sestigerjare in Parys studeer, en besiel deur kommunisme is hulle terug is om ’n nuwe sosialistiese samelewing te skep. Dit was sekerlik geregverdig dat mense in opstand gekom het teen die uitbuiting van die koloniale magte. Dit is egter grusaam dat hulle so oorboord kon gaan met hul sosiale manipulasie dat 2,5 miljoen mense in een van die brutaalste massamoorde hulle lewens verloor het. Die strukturaliste het ook nie Mao se kultuurrevolusie, wat tussen 60 en 70 miljoen lewens gekos het, verdoem nie.
Dit is moeilik om sulke geweld regspolities te rasionaliseer op die basis van die antikoloniale stryd – veral ook omdat dit gerig was teen hulle eie mense, wat hulle wou bevry.
Dit is dus ’n taamlike tameletjie om hierdie donker kant van die “antikoloniale” en “anti-imperialistiese” stryd te vereenselwig met die moreel verhewe posisie wat bevrydingsbewegings – die ANC en SAKP ingeslote – vir hulself opeis.
Die indruk wat soms by my opkom, is dat baie kaders wat in Oos-Europa studeer het, so vasklou aan verstarde ideologiese posisies oor die “anti-imperialistiese” en “antikoloniale” stryd dat mens begin wonder of dit nie vergelyk kan word met ’n tipe geestelike of intellektuele kolonisering nie. Hoe anders kan mens die diskrepansie verklaar tussen die slaafse aanhanging van Sowjet-kommunisme deur die SAKP en hulle onvermoë om hulself openlik te distansieer van Sowjet-magsvergrype en -onderdrukking van hulle bevolking.
Terwyl ek onlangs navorsing gedoen het oor gebeure in die vroeë sestigerjare, het ek op ’n baie eienaardige berig in die Rand Daily Mail van 27 September 1960 afgekom (sien hier, onderste stukkie ongelukkig afgesny). Onder die titel “Africans reveal ‘dangerous Red colonialism’” berig die Afrika-verslaggewer dat die uitvoerende komitee van die African Student Union in Moskou ’n aantal ope briewe aan die regerings in talle Afrika-state geskryf het. Hulle het gewaarsku teen ’n kruipende sosialistiese kolonisering en was van mening dat dit vir die Sowjetunie bloot daarom gegaan het om sy magsfeer na Afrika uit te brei.
3.2 Postkoloniale verset teen neokoloniale verontmensliking
Die skrywers verwys vervolgens na die tese van Mbembe oor die “postkoloniale mens(lik)heid-in-wording” en die worsteling om die onmenslikheid en rasverskil wat deur kolonialisme op hulle afgedruk is, te oorkom. Die postkoloniale kritiek steun in dié verband sterk op die begrip van onbewuste selfhaat wat op die gekoloniseerde Ander, en spesifiek die nie-Westerse Ander, geprojekteer word.
Dit gaan vir hom om ’n ommekering van koloniale knegskap en die psigiese skade wat deur koloniale onderdrukking, traumatisering en ontworteling aangerig is. Hy steun derhalwe ’n politiek van medewese waar die “koloniale Ander” se andersheid eenvoudig aanvaar moet word.
Mbembe waarsku egter teen nasionalisme as postkoloniale probleem, omdat die nuwe bourgeoisie-elite daarmee hulle mag konsolideer en dit telkens ontaard in ’n herhaling van die toestande waarteen die koloniale opstand in die eerste plek gemik was.
’n Verdere probleem wat hy identifiseer, is die hersegregasie van die openbare sfeer wat daartoe lei dat die beginsel van nierassigheid prysgegee word en ’n geestelike ghetto heraktiveer word omdat swartes wit privilegie beny en daarop reageer met ’n oordrewe sin van slagofferskap en onmag.
In beginsel stem ek saam met alles wat Mbembe sê. Postkoloniale studies het egter ’n sterk neo-Marxistiese uitgangspunt. Dit identifiseer spesifiek met die nie-Westerse Ander. Mens kan dieselfde tendens waarneem by die sogenaamde “whiteness”- en “blackness”-studies. Die postmoderne diskoers in die filosofie, letterkunde en kunste is dikwels baie moralisties en ietwat verwyderd van empiriese realiteite.
Ek het baie waardering vir die kritiese en ondersoekende vrae wat die postmoderniste dikwels stel, maar soos Sokal reeds bewys het, is kritiese denke nie iets wat die postmoderniste gepag het nie. Deur jou gesonde verstand te benut en jou waarnemings op behoorlik-gefundeerde empiriese data te grond, kan mens tot dieselfde gevolgtrekkings kom of selfs ’n meer sinvolle bydrae maak.
Teen hierdie agtergrond wil ek twee punte van kritiek opper. Eerstens word net Westerse state getipeer as koloniseerders, en waar een Westerse nasie ’n ander gekoloniseer het, word klaarblyklik aangeneem dat dit nie traumaties was nie en geen xenofobiese argwaan ontlont het nie. Die Britse kolonisering van die Boere word dus outomaties gediskwalifiseer as ’n “imperiale kolonisasie” net omdat hulle ook wit was.
Die trauma van die konsentrasiekampe, waarin ’n kwart van die noordelike Afrikaners dood is, geld dus nie as koloniale onderwerping met traumatiese gevolge nie, terwyl die kolonisasie deur die Britte van die Xhosas en Zoeloes gepostuleer word as “egte” koloniale onderwerping.
Net so word die ontworteling deur die afbrand-taktiek van die Duitsers in Oos-Afrika wat tot ’n uitmergelende hongerdood van 120 000 Oos-Afrikane gelei het, skerp veroordeel, maar dieselfde tipe aksie teen die Boere, waar Kitchener 30 000 plase laat afbrand het en miljoene stuks vee sinneloos laat doodmaak het, geld nie as brutale koloniale ontworteling en vernietiging van welvaart nie.
Ek wil my nek uitsteek en sê dat traumatiese belewenisse as gevolg van “Westerse koloniale verowerings” nie veel verskil van die kollektiewe trauma as gevolg van ander gewelddadige konflikte, verowerings of koloniale onderwerping deur dieselfde rassegroep nie.
Op watter basis wil mens rasioneel begrond dat die Mfecane minder traumaties vir ander swart nasies was bloot omdat die geweld van die Zoeloes uitgegaan het?
Daar kan ook konflikte plaasvind wat vir beide groepe traumaties kan wees. Dink byvoorbeeld aan die trauma van die massaslagtings van Trekkers soos dié by Bloukrans deur die Zoeloes, en die Slag van Bloedrivier, waar hulle weer aan die korste ent getrek het.
Mens moet derhalwe bietjie versigtiger wees met die tipe veralgemenings waarvan postmoderniste uitgaan.
’n Tweede punt van kritiek is dat ek in my ervaring van amper tien jaar se transdissiplinêre navorsing oor kollektiewe trauma in sulke situasies geen handveste-bewyse gekry het van onderdrukte of latente selfhaat van koloniseerders nie. Wat wel goed gedokumenteer is, is skuldgevoelens en hulpeloosheid – veral by die latere geslagte – in hulle omgang met so ’n koloniale verlede waarvan hulle die las moet dra. By die generasie wat self daarby betrokke was, is daar dikwels ’n gebrek aan kennis hoe dit die ander werklik affekteer het, of selfs ongevoeligheid daaromtrent. In baie gevalle kom mens ook die tipe meerderwaardigheid teë wat gereflekteer word deur Kipling se The white man’s burden.
My indruk is derhalwe dat die tese van onderdrukte selfhaat eerder op moraliserende wensdenkery berus. Die vraag wat ontstaan, is of die eng postmodernistiese beskouing van kollektiewe trauma as gevolg van koloniale onderwerping nie eerder daartoe bydra om ’n (verstaanbare) slagoffermentaliteit enersyds te verskerp, en dat dit andersyds ’n kultuur van blaam vestig waarmee alles regverdig kan word nie.
4. Die rol van xenofobie en transgenerasie epigenetiese trauma
In Suid-Afrika hoor mens dikwels dat nadat die ANC aan bewind gekom het, die geskiedenis hom herhaal. Mens sien ’n oplewing van swart nasionalisme. Rassisme is toenemend weer aan die orde van die dag.
Baie mense is diep teleurgesteld omdat hulle werklik in 1994 gehoop het dat iets nuuts tot stand sou kom: ’n reënboognasie gebaseer op gelykheid en verdraagsaamheid. Waarom het dit nie so gewerk nie?
Die rol van xenofobie as gevolg van kollektiewe trauma en die transgenerasie-vererwing daarvan op ’n epigenetiese vlak word heeltemal onderskat.
Die kunste kan as ’n interessante barometer dien om te sien wat mense werklik voel en waarop hulle sensitief reageer. Ek wil dit graag illustreer aan die hand van ’n paar voorbeelde.
Ek volg nou al ’n ruk lank die berigte van Osiame Molefe, ’n jong joernalis wat kritiese en verfrissende opiniestukke op The Daily Maverick-webwerf skryf. Onlangs het hy te velde getrek oor die kwaliteit van die ANC-leierskap en Zuma as die slegste president ooit bestempel. En tog was sy reaksie op The Spear soortgelyk aan die tipe laer-trek wat mens so dikwels vroeër by Afrikaners gesien het. In ’n opiniestuk onder die opskrif “The Spear: Black anger and white obliviousness”, vertel hy van ’n vernederende insident wat hy as kind belewe het wat diep in sy siel gegraveer is. Sy pa is sonder enige rede deur ’n wit polisieman geboelie net omdat hy ’n maklike sagte teiken in die apartheidstaat was.
Vergelyk dit met hierdie berig van Dana Snyman oor die reaksie van Afrikaners tagtig jaar gelede oor Wilfred Saint Mandé se roman War, Wine and Women wat in 1932 verskyn het. Een van die karakters, ’n Engelse soldaat, het die volgende te sê gehad oor die Afrikaners:
The Backveld Boer bathes only for baptism, marriage and burial. He has no notion of sanitation and often uses his bedroom as a latrine.
Their favourite pastime was begetting children, both with their wives and their numerous black concubines.
Afrikaners was woedend daaroor.
Mens sien dus ’n besondere sensitiwiteit in die omgang met sulke kunswerke waar die betragter homself verplaas voel in die rol van die onderdrukte of verowerde wat verkarikatuur word.
In die geval van The Spear is die seksuele ontbloting van Zuma beskou as ’n bespotting van swart tradisionele kultuur en poligamie. Van daar af was dit net ’n klein stappie om dit te interpreteer as ’n karikatuur van swart seksualiteit en om dit te vergelyk met die lot van die arme Saartjie Baartman.
Op die keper gesien, wou Murray egter nie swart seksualiteit bespotlik maak nie. Hy het Zuma bloot as ‘n vrouejagter uitgebeeld. Hoe kry mens dus punte bymekaar?
Die uitbeelding van sowel swart naaktheid as wit naaktheid word uiters kontroversieel bespreek omdat dit sulke emosioneel gelaaide temas is. Onlangs was die herrie los oor ’n skildery van ’n kaal wit vrou waar swart mans haar deur ’n venster beloer.
As mens egter die reaksie op The Spear vergelyk met dié op soortgelyke skilderye van Ayanda Mabulu wat Zuma ook as vroujagter uitbeeld, kom die vraag op of daar nie dubbele standaarde aangewend word nie.
In Mabulu se skildery Better poor than a rich puppet, wat in 2010 tydens ’n uitstalling te sien was, word Zuma se penis deur ’n kruk gesteun. Geen haan het ooit daarna gekraai nie.
In ’n uitstalling wat so pas geopen het, beeld hy Zuma nóg krasser uit in die skildery Weapon of Mass Destruction. Mabulu begrond sy artistieke kritiek van Zuma as volg: “Through this painting I respectfully, as one of his children, ask my father why he is starving us. Why he is negating his duties to his children, the citizens of South Africa?”
Moet mens dus aflei dat artistieke kritiek meer aanvaarbaar binne die eie kultuurkring is en dan nie as aanstootlik of degraderend ervaar word nie?
Hoe dit ook al sy, die openbare diskoers is ongelooflik belangrik, omdat daar so ’n vrugbare en komplekse uitruil van gedagtes plaasvind. Dit bring die latente gevoelighede na die oppervlak en skep ’n groter sensitiwiteit in die omgang met sulke temas. Dit kan ook daartoe bydra om introspeksie te stimuleer en stadigaan blote refleksreaksies te vervang met ’n meer genuanseerde openbare diskoers.
Wat kan help om beskouings van die Ander, van welke perspektief ook al, te normaliseer, is om rassisme te sien vir dit wat dit is en dit te probeer verstaan as xenofobiese reaksie in plaas daarvan om dit net bloot moralisties te veroordeel.
Rassisme kan mens nie goedpraat nie, maar mens kan ten minste probeer verstaan dat dit dikwels ’n tipe selfbeskermingsmeganisme is wat deur xenofobie ontlont word. As mens dit minder emosioneel en meer menslik benader, kan dit help om die latente epigenetiese effek van kollektiewe trauma, wat biologies tot vier geslagte verder vererf kan word voordat dit finaal afplat, beter onder beheer te kry.

