The madhouse deur TJ Benson: ’n resensie

  • 1

Titel: The madhouse
Skrywer: TJ Benson
ISBN: 9781485904151
Uitgewer: Penguin

The madhouse deur TJ Benson is nie bloot net ’n boek nie. Dis ’n belewenis.

En dis ’n volksfabel. Een wat gevestig is in die harde werklikheid van ’n onstuimige Nigerië van die jare negentig tot nou. Presies wat mens sou verwag van ’n selferkende skrywer van magiese realisme.

The madhouse fokus op ’n gesin wat in ’n ou huis in Freetownstraat in Sabon Gari woon. Die huis was eens ’n gesondheidsoord vir koloniste wat die kluts kwytgeraak het in die hittige, chaotiese hart van Afrika.

Die gesinslede is eksentriek, om die minste te sê.

Sweet Mother is ’n kunstenares wat waansinnig wipplank ry tussen godsdiens en bygelowe. Haar man, Shariff, is ’n skrywer en soldaat met donker, deurmekaar kinderjare wat by hom spook. Later word Ladidi, ’n afgestorwe vriendin se kind (en heel moontlik die broers se halfsuster), ook by die gesin gevoeg.

Die interessantste van die hele spul op die oog af is die jongste seun André, wat op die ouderdom van 27 jaar reeds 16 selfmoordpogings, drie spookvroue en 18 Amsterdamse sekswerkers oorleef het. Dan was daar ook die jaar toe hy ’n slaaf was, dié jaar toe Madamthemadam hom seksueel misbruik het, die jaar in die inrigting vir geestesversteurdes, die jaar toe hy ’n geestelike leier was – en natuurlik die musiektoer in Rome.

André en sy broer, Max, is mekaar se teenpole. Max is standvastig, skaam en voel hy is die pilaar op wie almal steun. In die huis waar die horlosie gaan staan het op die syfer 12, en waar tyd aangepas word na willekeur, word Max die bewaarder van tyd wanneer sy pa vir hom ’n horlosie present gee.

André, daarenteen, het nie ’n konsep van tyd nie. Daarby word sy konsep van gees en vlees ook versteur wanneer sy tweelingbroer, wat dit nie in die baarmoeder oorleef het nie, aan hom begin verskyn in doodsdrome. In dié drome probeer sy afgestorwe tweelingbroer hom na ’n gewisse dood toe lok, maar Max besef dat hy André se drome kan betree en hou aan om hom te red.

En reeds hier besef jy dat fiksie, feite en fabels so nou verweef is dat jy jou net sowel aan die ontvlugtende kompleksiteit daarvan kan oorgee.

Volksfabels vloei in Nigeriërs se bloed, en spesifiek die Yoroba-stam is bekend as bobaas storievertellers. Die tradisie is dan ook dat die stories afgewissel word met liedjies waarop jy kan dans. En raai wat? Hier en daar is QR-kode aangebring waarop jy kan klik (met jou foon of op ’n sleutelbord) wat oopmaak op die musiek wat in die boek genoem word. Die gevolg is totale meelewing en jy kan saam met die karakters die ritme voel en so deelneem aan die vertelritueel van stories, afgewissel met musiek.

Benson (29), wat 13 jaar lank aan The madhouse gewerk het, gee in sy skrywersnotas erkenning aan die invloed van die volksfabel, mites en bygelowe – nie net in sy boek nie, maar ook in millenniërs se lewens.

Mites en legendes het hulle geanker gehou in chaotiese tye, skryf hy. Interessant genoeg strook sy waarneming met navorsing wat toon dat millenniërs, anders as die vorige generasie, meer geloof het in die magiese waar enigiets moontlik is. Veral as hulle grootword in die harde werklikheid van ’n aarde wat verwoes word, despotiese regerings en toksiese sosiale strukture wat lyk of dit nooit sal verander nie.

The madhouse bestaan uit vyf afdelings wat fokus op die verhale van die ouers, die broers en dan Ladidi. Dit speel grootliks af tydens die jare (en later die stuiptrekkings) van militêre bewind in Nigerië. Teen dié agtergrond en ’n gees van byna waansinnige godsdiensbeheptheid vind daar dan ook twee belangrike gebeurtenisse plaas wat vir altyd ’n invloed op die gesin sal hê: die Pfizer-meningitis-inentingskandaal en die Mej Wêreld-onluste.

In die lig van die huidige COVID-19-pandemie en die inentingsprogramme wat tans ontplooi word, is dit betekenisvol dat die boek juis nou verskyn. In 1996 het Nigerië een van die ergste meningitispandemies beleef. Honderd kinders is toe ’n eksperimentele antibiotika, Trovan, toegedien, terwyl ’n verdere 100 met seftriakson behandel is.

...
Die maning van die pa in The madhouse eggo baie van antiinentingsgroepe se menings in 2021: “Never allow any white man or agent of white man to put something inside your blood or inside your head in the name of help or assistance, you understand?”
...

Altesame 11 kinders is dood en Pfizer is in 2011 skuldig bevind nadat dit onder meer ook aan die lig gekom het dat die kinders sonder die ouers se toestemming behandel is. Die maning van die pa in The madhouse eggo baie van antiinentingsgroepe se menings in 2021: “Never allow any white man or agent of white man to put something inside your blood or inside your head in the name of help or assistance, you understand?”

Die Mej Wêreld-onluste in 2002 was geloofsgemotiveerd en 200 mense is tydens die betogings in Kaduna dood. Die Mej Wêreldgeleentheid sou in Nigerië aangebied word, maar ’n artikel daaroor in ’n Christenkoerant het gelei tot gevegte tussen die Moslems en Christene. Dit was ook juis in daardie tyd dat die oorwegend Islamitiese state in die noorde begin het om weer sjariawette in te stel.

Dit is opvallend dat vroue uitgebeeld word as onverskrokke verleidsters wat niks daarvan dink om op mans en selfs seuns te teer nie. Daar is Sweet Mother wat die seuns dwing om aan haar borste te suig om sodoende bose geeste te besweer; Madamthemadam wat die jong André forseer om seks met haar te hê; die anonieme vroulike fotograaf wat die maagdelike Max verlei; die Amsterdamse sekswerkers wat André gebruik om die wangedrag van hul klante mee te besweer; en dan Ladidi. Ladidi wat vere voel wanneer een van haar skoolmaats sy bene verloor oor haar.

Dan is daar ook die skrikwekkende spookvroue wat André teister. Spookeggenote (spookvroue én -mans) is ’n uiters interessante konsep in die spirituele wêreld van verskeie stamme wêreldwyd. In Nigerië neem die spookvrou die vorm aan van seespookvroue omdat die Yoruba- en Igbo-stamme so naby aan die Atlantiese Oseaan woon.

Dié konsep sal vir Westerlinge meer bekend wees as die inkubusse wat seks met hul slagoffers het. Waar die Yorubas so ’n nagtelike seksbesoek van ’n spookvrou sou waardeer, word dit deur Moslems en Christene as gevaarlik en demonies beskou.

Van seks gepraat: TJ Benson is ’n woordtowenaar soos min, maar nie as dit kom by seks nie. Dalk is dit weens gebrek aan ervaring, maar die arme organe “pulsate” orals, so erg entoesiasties soos ’n voedselverwerker. Sekstonele is beslis nie sy sterk punt nie.

Benson wend wel die voorafbliktegniek (foreshadowing) besonder vaardig aan waar hy voorafgebeure sonder konteks en soos leidrade deur die boek vleg … ’n rooi vlek op ’n geel rok, ’n meswond in die sy, ’n vliegtuig wat val. ’n Gevoel van onheilspellende dinge gly deur die blaaie van die boek, en tyd bly vloeibaar soos in die brein van ’n waansinnige.

The madhouse is ’n ervaring. ’n Greep uit die geskiedenis. ’n Sprokie met skop.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top