The Hobbit ’n móét-sien hierdie somer

  • 0

The Hobbit: An Unexpected Journey
Regisseur: Peter Jackson
Genre: Fantasie, avontuur, wetenskapfiksie
Rolverdeling: Martin Freeman, Ian McKellen, Richard Armitage, Cate Blanchett, Hugo Weaving
Looptyd: 169 minute
Punt: 4/5

Peter Jackson, regisseur van die Lord of the Rings-trilogie, neem ons terug na Middle Earth met The Hobbit: An Unexpected Journey – die eerste deel van ’n trilogie gebaseer op JRR Tolkien se gewilde kinderboek The Hobbit.

Die Hobbit-reeks dien as voorloper tot Lord of the Rings en wys hoe Bilbo Baggins (Freeman) die One Ring of Power bekom. Dit speel af sestig jaar voor The Fellowship of the Ring. Vanuit ’n agterna-perspektief vertel Bilbo hoe hy deur die towenaar Gandalf oorreed was om by ’n groep Dwerge aan te sluit op reis na die Lonely Mountain om skatte wat deur die draak Smaug gesteel was, in herbesit te neem. Hulle reis is egter nie sonder struikelblokke nie: langs die pad bots hulle met verskeie gevaarlike kreature,  waaronder mensvretende trolle, kabouters, klipreuse, Orcs, en die gedrog Gollum.

Vir my is daar net een woord om The Hobbit op te som: Wow! En as jy dit in 3D gaan sien, ’n dubbele wow!

Die uiteensetting van The Hobbit voel nou wel eindeloos lank, maar die res van die fliek sal beslis daarvoor vergoed. Maak jou reg vir ’n dolle wipwaentjierit deur golwende heuwels, groen woude, donker grotte en asemrowende valleie. Aanhangers van Jackson se Lord of the Rings-trilogie sal beslis nie teleurgesteld wees nie. Jackson bied weer die bekende wêreld van Middle Earth in al sy betowering aan, en met Pan’s Labyrinth­- en Hellboy-regisseur Guillermo del Toro as een van die draaiboekskrywers kan mens niks minder as een van die beste fantasiefilms van onlangse jare verwag nie. 

Vir ’n moderne fantasiefilm mag die storielyn van The Hobbit ietwat soos ’n cliché voel, aangesien dit tipiese elemente van Joseph Campbell se “hero’s journey” bevat: die roeping vir avontuur, die onwillige held, die wyse mentor, genootskappe en vyande,  struikelblokke langs die pad, en dan oorwinning. Dis iets wat ons al in vele fantasiefilms gesien het, maar vir wie bluf ons: ons gaan kyk na dié tipe films hoofsaaklik om die spesiale effekte te sien. En The Hobbit is deur en deur ’n visuele fees vir die oog. Die aksietonele is adrenalien-stimulerend en beloof om jou weg te voer van ongeloofwaardigheid. Selfs die rustiger tonele is nie sonder spesiale effekte nie en lyk of hulle direk vanuit skilderye uit die Romantiese era kom (daardie kunstenaars wat so behep was met die emosionele en skoonheidswaarde van die natuur). Maak seker dat jy reeds voor die fliek die kleedkamers besoek, want The Hobbit is amper drie ure lank en jy sal glad nie wil uitmis op hiérdie visuele skouspel nie.

Die toneelspel is bevredigend, hoewel die dialoog soms te modern klink vir ’n fliek wat in antieke tye afspeel. Gandalf (McKellen), Elrond (Weaving) en Galadriel (Blanchett) is hul tipiese wyse self. Bilbo Baggins, wat The Hobbit se protagonis en verteller is, word vir die grootste deel van die film in die agtergrond geskuif en oorskadu deur vertolkings van McKellen en Richard Armitage (as die Dwerg-leier Thorin Oakenshield). Die vertolkings wat egter vir my die meeste uitgestaan het, is dié van Gollum (Andy Serkis) en die eksentrieke towenaar Radagast the Brown (Sylvester McCoy), wat albei vir komiese verligting sorg. 

Ons kry ook ’n glimps van die Necromancer wat later die Dark Lord Sauron word (die antagonis in Lord of the Rings). Die antagonis in The Hobbit is natuurlik die draak Smaug wat die Dwerg-koninkryk oorgeneem en die Dwerge se kosbare skatte gesteel het. Alhoewel Smaug net gedeeltelik in dié fliek gewys word, word hy nogtans as ’n vernietigende krag voorgestel. Ons sal heel moontlik vir die volgende fliek in die reeks, The Desolation of Smaug,moet wag om Smaug te sien en ek vermoed die filmvervaardigers hou sy onthulling as ’n klimaks in die reeks.

Ek beveel The Hobbit: An Unexpected Journey ten sterkste aan. Daardie vae gedreun wat jy al die afgelope paar dae hoor, is duisende mense wat na rolprentteaters stroom om hiérdie film te sien, en daardie ka-ching-geluide is honderde kasregisters wat klap soos dié film die geld laat inrol by die loket (tot dusver het die fliek al meer as 240 miljoen Amerikaanse dollars verdien). Moenie wag vir die fliek se DVD-vrystelling volgende jaar nie; bespreek nóú jou kaartjie!

Kyk die fliek se lokprent hier:

 

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top