The Avengers: Net pret

  • 0


The Avengers

Regisseur: Joss Whedon
Kamerawerk: Seamus McGarvey
Draaiboek: Zak Penn, Joss Whedon
Rolverdeling: Robert Downey jr, Chris Evans, Mark Ruffalo, Chris Hemsworth, Scarlett Johansson, Tom Hiddleston, Jeremy Renner, Clark Gregg, Cobie Smulders, Stellan Skarsgård en Samuel L Jackson
Musiek: Alan Silvestri
Looptyd: 143 minute

Punt: 4 / 5

As daar ooit ’n slegte jaar vir superhelde was, was dit 1997. Met Batman and Robin, die opvolg tot 1995 se Batman Forever, het regisseur Joel Schumacher die indrukwekkende kontinuïteit van Tim Burton se Batman (1989) en Batman Returns (1992) heeltemal verpletter. Hoofsaaklik was dit te wyte aan die onverklaarbare besluit om die rol van Batman/Bruce Wayne aan George Clooney te gee, asook die film se redelik oordadige fokus op Batman en Robin se crotches en boude. 1998 se Blade het ’n louwarm reaksie van kritici en gehore ontvang, en met sy donker fokus het hierdie film nooit oor die vermoë beskik om die genre van die superheldfilm van sy negentiger-mankemente te verlig nie. Die vooruitsigte van minder bekende strokiesreekse soos Marvel se The Avengers het dus aan die einde van die 20ste eeu bitter sleg daar uitgesien.

In 2000 verander Bryan Singer se X-Men alles. Dié film, wat gebaseer is op die gelyknamige Marvel-strokiesboek,was ’n kritiese en finansiële sukses, en ’n nuwe era van superheldfilms met verbluffende spesiale effekte is ingelui. Sedert die millenniumwending het rolprentateljees geld soos bossies begin maak uit superheldfilms. Sommige van hierdie rolprente, soos Sam Raimi se Spider-Man (2002) en Christopher Nolan se reboot van die Batman-filmkontinuïteit in Batman Begins (2005) en The Dark Knight (2008), was baie goeie films. Ander, soos Elektra (2005) en Ang Lee se Hulk (2003), was doodeenvoudig aaklig. Dit is juis as gevolg van hierdie wisselende kwaliteit dat Marvel (een van Amerika se grootste strokiesboekuitgewers) in 2005 besluit het om sake in eie hande te neem deur hul eie produksiemaatskappy van stapel te stuur en self films van hulle strokies te begin maak. Wat Marvel se plan onderskei het van hulle vroeër samewerking met groot rolprentateljees was dat hulle van meet af ’n baie groter filmreeks in gedagte gehad het – dié reeks sou ’n hele boel helde uit hul strokiesstal na die grootskerm bring en die helde se wêrelde sou (soos hulle ekwivalente op papier) met mekaar oorvleuel. So is die sogenaamde Marvel Cinematic Universe (MCU) gebore.

The Avengers is ’n hoogtepunt uit die MCU. Na ’n vyftal films wat begin het met 2008 se Iron Man verenig The Avengers die helde Iron Man/Tony Stark (Robert Downey jr) die Hulk/Eric Banner (Mark Ruffalo), Thor (Chris Hemsworth) en Captain America/Steve Rogers (Chris Evans) teen ’n gemeenskaplike vyand: Thor se aangenome broer Loki (Tom Hiddleston), wat die ganse aarde wil oorheers (kennelik ’n populêre droom onder antagoniste in hierdie genre). Die span helde, oorspronklik geskep deur strokiekunstenaars Stan Lee en Jack Kirby, word byeengebring en ondersteun deur Natasha Romanoff/Black Widow (Scarlett Johansson), Hawkeye/Clint Barton (Jeremy Renner), Nick Fury (Samuel L. Jackson), Phil Coulson (Clark Gregg), Maria Hill (Colbie Smulders) en Dr Erik Selvig (Stellan Skarsgård), wat in diens staan van die geheime agentskap SHIELD en almal in wisselende mate in die vorige films in die MCU opgeduik het.

Teen hierdie tyd draai enige leser se kop behoorlik, veral as hy/sy nie kennis dra van die MCU en hoe dit gestalte kry in die vyf films wat The Avengers voorafgaan nie. Soos met Harry Potter, The Lord of the Rings, Star Wars en talle ander rolprentreeksekan kykers wat die Marvel-reeks nie van die begin af volg nie, deur latere aflewerings verwar word. Hierdie probleem is egter nie heeltemal so groot as wat mens sou verwag nie. The Avengers vestig weer kortliks elke karakter se agtergrond, maar dit is sonder oormatige besonderhede en die verhaalgebeure is onafhanklik genoeg van die ander films dat die film heeltemal sonder enige voorkennis geniet kan word. Aanhangers van die reeks kan gerus wees dat hulle geensins afgeskeep word nie, en diegene wat wel Iron Man, The Incredible Hulk (2008), Iron Man 2 (2010), Thor en Captain America: The First Avenger (2011) gekyk het, sal heelwat vind wat die films seepglad laat oorvleuel.

Loki, The Avengers se antagonis, het aan die einde van Thor in die ruimte verdwyn ná ’n epiese geveg teen sy broer. (Dié twee karakters is gebaseer op die gode Loki en Donar in die Noorse mitologie.) As inwoner van Asgard is Loki egter bo-menslik, en hy het nie gesterf nie. Diep in die ruimte het hy intussen kontak gemaak met die Chitauri. In ruil vir die Tesseract, ’n kubus van ongekende mag wat in Captain America: The First Avenger bekendgestel is en tans in SHIELD se besit is, beloof die leier van die Chitauri om ’n leër tot Loki se beskikking te stel ten einde die aarde aan hom te onderwerp. Natuurlik is die aarde se enigste kans die Avengers. Maar hoe nou gemaak met die film se (minstens) sewe protagoniste teenoor die een antagonis?

Regisseur en mededraaiboekskrywer Joss Whedon (bekend as jare lange vervaardiger van die TV-reeks Buffy the Vampire Slayer) het ’n moeilike taak op hom geneem met hierdie film. Die ensemblespel wat sy hoofkarakters uitmaak, is nie onbekende name nie, en nog minder vertolk hulle klein rolle. Maar dit werk. Die dominante skermpersoonlikhede van Robert Downey jr as Iron Man/Tony Stark en Samuel L Jackson as Nick Fury oorskadu nie vir ’n oomblik die minder bekende akteurs en hulle meer introverte karakters nie. Die fokus van die film is die groep eerder as sy onderskeie lede. Die tyd wat dus aan elke karakter afgestaan word, is gepas vir hierdie oogmerk. Dit het uiteindelik tot gevolg dat die film nie een werklik sterk protagonis het nie, maar aangesien dit handel oor ’n span superhelde, is dit nie noodwendig sleg nie.

Die pas van die gebeure in The Avengers is rasend snel en baie gebeur in die film se 143 minute. Meer as die helfte van die tonele bevat spesiale rekenaareffekte en hoewel dié effekte niks innoverend bied op hierdie gebied nie, is die kwaliteit op gelyke voet met ander onlangse populêre films. Vanweë die populêre aard van hierdie film is daar geen geleentheid tot dieper analise nie. Die film is pure pret, en soos dit steeds rekord na rekord by die lokette laat spat, gee dit nie voor om enigiets meer te wees nie. Gelukkig word die jingoïstiese aard van ’n held soos Captain America goed getemper deur die selfspottende heldestatus van die karakter binne die fiksionele wêreld, en oor die algemeen neem die fliek sigself nie te ernstig op nie. Ek moet noem dat daar vir my ’n paar irriterende oomblikke was toe die VSA se antiterrorisme-diskoers ook hier sy populisitiese kloue ingeslaan het (dialoog soos “’Cause if we can’t protect the earth, you can be damn well sure we’ll avenge it”), maar dan was daar ook verrassende oomblikke, soos die een waar Nick Fury, ’n vergestalting van die mag van die regering, insinueer dat van die VSA se onlangse oorloë beslis foute was.

The Avengers het nie die gravitas van Christopher Nolan se The Dark Knight nie, maar selfs Nolan se flieks is populêre vermaak en dit is verspot om te veel daarvan te verwag. Vanjaar sal The Amazing Spider-Man (nog ’n reboot) en The Dark Knight Rises (die vervolg tot 2008 se The Dark Knight) ook nog in bioskope draai. Welke superheld gaan koning kraai, weet ek nie, maar 2012 gaan ’n jaar van witwarm vermaak wees. Bioskoopgangers wat julle neuse hiervoor optrek, hou verby. Diegene wat op soek is na bietjie sinnelose pret, The Avengers wag. (En onthou dat daar nog tonele na die eindtitels is!)

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top