The Accidental Ambassador: ’n boekbekendstelling

  • 0

The Accidental Ambassador
Tony Leon
Pan Macmillan South Africa

ISBN: 9781770102415

Koop The Accidental Ambassador van Kalahari.com.

Suid-Afrika se posisie is nie so sleg as dit met dié van Argentinië vergelyk word nie.

Dit was die oorwegende boodskap wat gewese politikus en ambassadeur Tony Leon by die bekendstelling van sy nuwe boek, The Accidental Ambassador, aan die gaste oorgedra het. Die bekendstelling was by Protea Boekwinkel op Stellenbosch en was in die vorm van ’n gesprek met Herman Giliomee.

Tony Leon het op 16 Mei 2013 sy nuwe boek, The Accidental Ambassador, by die Protea Boekwinkel op Stellenbosch bekendgestel.

Leon was drie jaar lank, van 2009 af, die ambassadeur van Suid-Afrika vir Argentinië; Uruguay en Paraguay. Die nuwe boek handel meestal oor sy ervarings in dié pos vandat hy gehoor het dat hy aangestel is en opleiding van slegs drie en ’n half weke gehad het.

Volgens Leon is Argentinië se ekonomie nou kleiner as Suid-Afrika s’n as gevolg van swak regering. Dít ten spyte van hulle “ongelooflike menslike kapitaal”. Leon het Lionel Messi as ’n voorbeeld gebruik.

Dié swak regering blyk uit die land se geskiedenis met verskeie staatsgrepe en militêre regerings wat slegs die bopunt van die ysberg is. Leon het Argentinië as ’n baie “senuweeagtige land” beskryf, met staatsgrepe wat dikwels ’n vals sin van standvastigheid geskep.

Konflik is die grondslag vir Argentynse politiek. Leon het self gespot dat Suid-Afrikaners amateurs is as dit by konflik-politiek kom. Hy noem dit die “politiek van haat as hoop” om een gedeelte van die samelewing teen ’n ander op te steek.

Argentinië is ook een van die ekonomies ongelykste lande in die wêreld. Daar is ’n groot verskil tussen die buitensporig ryk elites en die arm klasse, met sterk spanning tussen hierdie klasse.

Die Argentynse president, Cristina Fernández de Kirchner, gebruik hierdie konflik tussen die klasse en soek altyd ’n vyand waar daar nie noodwendig een is nie.

Leon het baie uitgebrei oor sy verhouding met Kirchner en haar met PW Botha vergelyk – albei slim, maar ly aan “politieke outisme”, ’n term wat Leon gebruik vir mense wat hoor slegs wat hulle wil hoor.

“As jy ’n vriend in politiek wil hê, koop ’n hond,” het die bestuurder, Louis Esterhuizen, Tony Leon aangehaal toe hy hom voorstel.

Hy het ook vertel hoe sy geweier het om na die katedraal van die nuutverkose pous Francis, toe nog Jorge Mario Bergoglio, te gaan omdat hy krities was oor haar regering.

Giliomee het gou vir Leon begin pols oor die ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Argentinië. Een faktor wat Leon genoem het, was die Waarheid-en-Versoeningskommissie in Suid-Afrika. Daar was niks soortgelyks in Argentinië na dié land se tydperk van bloedige militêre diktature in die 1970’s nie (toe selfs babas van hul ma’s afgevat en aan kinderlose elite-gesinne gegee is). Daar is nooit behoorlik verantwoordelikheid hiervoor aanvaar buiten ’n bietjie finansiële vergoeding nie. Leon sê die meeste mense het hom gevra oor die proses wat in Suid-Afrika plaasgevind het. “Dit is nadat hulle my oor Invictus en die Springbokke gevra het.”

Die meeste Suid-Amerikaanse lande is onwillig om verantwoordelikheid vir die verlede te aanvaar, volgens Leon. Dit is ’n gevolg van die koloniale geskiedenis van dié lande, waar die koloniseerders net die bronne ontgin het sonder om bekommerd te wees oor die gevolge daarvan, in teenstelling met die Noord-Amerikaanse lande, waar instellings hulle gevestig het en die koloniseerders hulle eie grond besit het.

Argentinië se ekonomie sal nooit kan groei sonder institusionele hervorming nie, volgens Leon.

Op ‘n vraag van Giliomee of Suid-Afrika dieselfde paadjie as Argentinië loop, het Leon geantwoord dat daar baie is wat toon dat die regering sommige van hulle beloftes nagekom het. Sedert 1994 is armoede gehalveer en dit skep hoop.

Herman Giliomee het die gesprek met Leon in die volgepakte winkel gevoer.

“In Suid-Afrika gebeur die beste of die slegste nooit nie,” is die aanhaling van Jan Smuts wat hy gebruik het.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top