Terugblik op 60: Wat wou ek hê?

  • 23

Ek het vandeesweek ’n Mylpaal op my Lewenspad bereik. Ek skryf dit aspris so vaag en eufemisties, versier met hoofletters, want dis hoe soveel mense wat gaaf genoeg was om my geluk te wens, daarna verwys het. ’n Kroonjaar, soos my Nederlandse vriende dit noem, die soort ouderdom wat met ’n nul eindig.

Ek wil graag glo dat ek ’n bevryde vrou is – en deel van hierdie bevryding is om nie oor my ouderdom te jok nie. Maar ek moet bieg, hoe ouer ek raak, hoe groter raak die versoeking. Nie noodwendig om te jók nie, net om stil te bly. Maar ek weet mos dat stilbly ook ’n manier van lieg kan wees.

Daarom gaan ek nou soos ’n nuweling by ’n Alkoholiste Anoniem-vergadering opstaan en in die openbaar verklaar: “My naam is Marita en ek is 60.” Ja, op Sondag 6 Mei het ek deur dié gevreesde klankgrens gebreek. Skielik is ek amptelik “bejaard”! Eensklaps kwalifiseer ek vir goedkoper treinkaartjies in Frankryk! (Die effens histeriese uitroeptekens is bloot ’n weerspieëling van die paniek wat maande gelede al soos ’n kwaai hond na my hakke begin hap het.)

En tog was dit ’n doodgewone lentedag in Provence. Daar was geen skouspelagtige fees of uitspattige geskenke nie. My geliefdes was almal ver van my, in ander lande of ander streke, behalwe my man en my dogter wat saam met my in ’n groen veld naby ’n ou plaashuis van klip gaan piekniek hou het. Nie ’n ontwerperspiekniek nie, hoor, sommer net broodjies en koue tamatiesop in blikbekers.

Dit was lieflik – ons het boeke saamgeneem om in die skadu van ’n baie ou boom te lees en ons het ons verlustig aan ’n koor van voëls wat aanmekaar sing – maar dit was heeltemal anders as wat ek altyd gedog het my 60ste verjaardag sou wees.

Ek het gedog ek sou vir myself ’n oopdaksportmotor as verjaardagpresent koop. Aangesien ek my kans gemis het om op die ouderdom van 37 in ’n sportmotor deur Parys te ry, soos Lucy Jordan in die befaamde liedjie van Marianne Faithful, was ek vasbeslote om dit op 60 te doen. Ek het gedog ek sou die dag in New Orleans deurbring: begin met ’n sjampanje-ontbyt in die bed en eindig met Southern Comfort in ’n donker blues-klub. Ek het gedog ...

Helaas, die lewe is wat gebeur terwyl jy besig is om allerhande dinge te dog, nè.

Ek het nié gedog op hierdie ouderdom sou ek vir die eerste keer in my lewe twee kinders gelyktydig op universiteit moes onderhou nie. My eie skuld, natuurlik, omdat ek my kinders so laat in my lewe gekry het – maar dit het ’n stokkie gesteek voor al my verspotte drome oor oopdaksportmotors en blues in New Orleans. Vir die volgende jaar of drie sal ek die gordel net nog ’n bietjie stywer as gewoonlik moet trek om die kinders finansieel deur hulle studies te dra.

Nou troos ek myself maar dat ek miskien my 70ste verjaardag in New Orleans kan gaan vier ...

En wie weet, dalk kan ek teen 80 eindelik in ’n oopdaksportmotor deur Parys ry – met die warm wind wat waai deur die bietjie hare wat ek teen daardie tyd nog sal oorhê?

Intussen was my stil en eenvoudige 60ste verjaardag vir my ’n openbaring. Danksy die wonder van internet en WhatsApp en sosiale media het ek soveel liefdevolle boodskappe van oral oor die wêreld ontvang dat ek skaars kans gekry het om myself te bejammer oor hierdie hoë ouderdom wat my so skelm bekruip het. Ek het heeldag so half op die rand van trane gehang, maar dit was nie trane van wanhoop nie, eerder van verwondering en dankbaarheid. Dat ek dit tot by hierdie Mylpaal gemaak het – ondanks al my sondige gewoontes en die vele heerlike maniere waarop ek nog altyd my lyf gestraf het.

Wie is dit wat gesê het dis absoluut aaklig om oud te word – tot jy dink aan die alternatief?

Soveel vriende en tydgenote het langs die pad verdwyn. Weg weens kanker, motorongelukke, misdaad, Vigs, selfdood. Ek het hulle almal op my 60ste verjaardag onthou, en tydens ons piekniek het ek ’n heildronk gedrink op almal wat nie so gelukkig was soos ek om ’n 60ste verjaardag te kan vier nie. Al is dit nou net met ’n blikbeker onder ’n boom.

Minstens drie vriendinne uit my hoërskooldae in Pretoria – wat almal ook vanjaar deur hierdie vreemde soort klankgrens moet bars – het my bly gemaak dat sommige bande ’n lewe lank kan hou. Christelle het my herinner aan my 21ste-verjaardagviering in ’n skuur op ’n Stellenbosse wynplaas. Ons het goedkoop dooswyn gedrink en gedans op ’n treffer uit daardie dae, “Le Freak”, wat ook die tema van die partytjie was. Hein, een van my drinkebroers ’n paar jaar later, het my herinner aan hoe ons destyds gewroeg het oor ons weldra 30 sou word. Dertig! Enigiets anderkant dié Mylpaal was onvoorstelbaar oud en vervelig.

En nou, ’n oogknip later, het nog 30 jaar verbygevlieg. Op my 60ste verjaardag wou ek die hele dag lank uitroep: “Stop die trein! Ek wil afklim en oor begin!” Maar aangesien mens nie só oud kan word sonder om minstens ’n klein bietjie wysheid by te kry nie, wéét ek teen dié tyd dat ek sekerlik dieselfde foute sou maak as ek alles oor kon doen.

Daarom sal ek tog maar op hierdie wegholtrein bly en die rit geniet vir so lank as wat ek nog kan. Dit was trouens my enigste wens toe my dogter my die aand verras met ’n sjokoladekoek waarop ’n enkele sparkler-stokkie sy vonke in die donker uitskiet. (“Ma wil tog nie sestig kersies doodblaas nie! Die koek sal aan die brand slaan teen die tyd dat al die kersies aangesteek is!”)

Want die grootste openbaring van my verjaardag was dat ek nie rêrig oopdaksportmotors of blues in New Orleans nodig het nie. Of soos die skrywer Raymond Carver dit stel: “And did you get what you wanted from this life, even so? I did. And what did you want? To call myself beloved, to feel myself beloved on the earth.” Dis eintlik al. En dis reeds meer as genoeg.

Foto's: verskaf

  • 23

Kommentaar

  • Estelle Neethling

    Ek het my verkneukel aan Marita se heerlike 'getuienis' tot liefde vir die lewe by die aanbreek van haar mylpaal.

  • Shirley Rose Feris

    Amen Marita, "to love and be loved" is ook my 62-jarige self se vervulde wens. Allerbeste wense op jou sestigste; baie dankie vir ure se leesgenot. Mag jy nog daardie oopdakkar ry en die blues in New Orleans beleef.

  • Baie geluk, Mareta! Gelukkig lýk jy 15 jaar jonger! Baie dankie vir hierdie pragtige "deel" van jou verjaardag - so eenvoudig mooi - EN: Eenvoudig mooi bewoord!

  • So mooi gestel Marita. Ek het self twee jaar gelede ten spyte van wonderlike planne, Die Groot Aand in 'n swak gastehuis in Brandfort oorgeslaap, met 'n verkouerige man wat vroeg gaan slaap het. En dit was oukei, want ek skryf nou hierdie uit Charleston, South Carolina, sommer so op 61 en 11/12.

  • Janet Mostert

    Sal jou altyd onthou op jou universiteitskoshuisbed sit met die haardroër of nog iets doen en boeklees. Als gelyk. Ja, ons maatjie ook nie meer daar. Aleysia. Liefde. Ek ook al oud. Hahaa!

  • Ek gaan sommer dadelik begin om al Marita se boeke te begin herlees. Sy is een van daardie mense aan wie ek nooit 'n ouderdom gekoppel het nie!

  • Lettie Seegers.l

    Ek het hierdie “lees” nou só geniet. Baie geluk, Marita - wees altyd trots op jou jarigheid!

  • Koos Roelofse

    Nie te haastig wees met die oopdak-motor nie. Toe ek op my vrou se vyftigste 'n Z3 BMW-tjie vir haar koop het dit gou in 'n "meno-porsche" verander! Terug by jou pastorale verjaardag. Dit herinner aan 'n sin uit my jeug in een van Bellow se boeke. Die man kom na 'n lang afwesigheid per trein in Chicago aan. Terstond die gedagte: " I once new what beautiful was."

  • Zalea Campbell (nooi Fouche van Hennenman, Oranje Vrystaat van 1960 tot 1967)

    Veels Geluk Marita met die mylpaal en die "guts" om so eerlik oor die AA te praat. Ek worstel ook met die probleem en het al vele keer hierdie vergaderings bygewoon, maar nooit het iemand vir my 'n mentor geword nie. In Suid-Afrika, veral die Suidkus, werk dit nie soos mens dit op tv sien nie. In elk geval, binne twee jaar word ek ook 60 en hopelik sal ek die monster van 'n probleem beetgekry het. Geniet Provence en jou familie ...

  • Dankie Marita. Ek geniet jou boeke en mis nie die Woordfees nie. Geniet dit om na jou te luister. Jy lyk nog so sprankelend ... die nuwe fase in jou lewe kan net beter word. Sestig is glad nie oud nie. Jou vrolike en positiewe gesindheid maak die lewe 'n fees. Wees dankbaar vir elke dag se asemteug ... Dis genade van Bo.

  • Dankie vir die leesgenot wat jy oor die jare aan ons verskaf het. Moet net nie aftree nie!
    Ek wil ook net waarsku dat dit voel of die tyd al vinniger aanstap na 60. Amper of mens op die afdraande pad is. Ek weet, want ek het al agt jaar ondervinding.
    Gesondheid!

  • Hans Richardt

    My terugblik op 60...
    Ek sou meer geld op jong ouderdom wou hê.
    Ek sou ook meer blootstelling en leiding in tegniese vaardighede wou hê en minder "interpersoonlike emosionele plakkery" stories.

  • Hi Marita, skoon geskrik toe ek my naam sien. Herinneringe van Stellenboschdae is nog baie helder. Veral ons trippie na Stilbaai een Paasnaweek- dit was actually ’n avontuur. Ek het nes jy vir maande gewroeg oor die nommer 60, maar besef dit is net ’n nommer; op ’n vliegtuig geklim en onbekende lande verken. Dit is wat ek nou wil doen elke jaar! Miskien sien ek jou eendag in Frankryk xxx

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top