Terroris of vryheidsvegter? – ’n resensie

  • 10

Titel: Wit terroriste
Skrywer: Albert Blake
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081586

Nie baie lank gelede nie was daar ’n tyd toe baie Afrikaners terroriste was. So skryf Albert Blake op die skutblad van sy boek Wit terroriste met die subtitel “Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag”.

Vir baie Afrikaners klink ’n stelling soos dié seker alte vergesog. Terrorisme is immers iets wat die meeste Afrikaners vereenselwig met organisasies soos die ANC, Swapo en buitelandse terreurorganisasies soos Al Qaeda of Boko Haram. Beslis nie Afrikaners nie.

Blake maak korte mette in sy boek met hierdie wanpersepsie. Daar was inderdaad nie so lank gelede nie ook wit terroriste. En dit sluit nie net linkses soos John Harris in wat in 1965 gehang is nadat hy ’n bom in die Johannesburgse stasie laat ontplof het nie, maar ook talle stoere Afrikaners.

Die lang lys Afrikaanse terroriste aan die regterkant van die politieke spektrum laat jou na jou asem snak met die lees van Blake se boek. Baie van hulle het later belangrike posisies in die Suid-Afrikaanse samelewing beklee en gesiene akademici en selfs regters geword. Ander het in die niet verdwyn.

Wat baie mense dikwels vergeet, en waaraan Blake die leser meesterlik herinner, is die stokou waarheid dat die een se terroris die volgende persoon se vryheidsvegter is.

In Wit terroriste word die mite die nek in geslaan dat Afrikaners aanspraak kan maak op die hoë morele grond wanneer dit oor ’n volk se vryheidstrewe gaan.

Die parallelle tussen die Afrikaner se strewe om bevry te word van Britse oorheersing en die bevrydingsbewegings van swart Suid-Afrikaners om van wit oorheersing bevry te word, gaan nie ongesien verby in Blake se boek nie.

Tereg wys Blake daarop dat dit histories gevaarlik is om parallelle tussen die bewegings te trek, aangesien hulle om uiteenlopende redes ontstaan het wat nie noodwendig algemeen geldend is nie. Maar soos wat hy in sy voorwoord opmerk, is ’n beheerde vergelyking tussen die wit en swart bewegings inderdaad insiggewend en terselfdertyd ontnugterend.

Afrikaners verwys vandag nog afkeurend na die terreurdade wat tydens die apartheidsjare deur die ANC en ander organisasies gepleeg is. Te maklik word daar vergeet van die terreurdade wat in die naam van vryheid deur Afrikaners gepleeg is tydens die oorlogsjare van die 1940’s.

Omdat die Afrikaner na 1948 die oorwinnaar was, en soos oorwinnaars maar altyd maak, grootliks hulle eie geskiedenis dikteer het, is min Afrikaners bewus gemaak van die donker kant wat daar ook by die Afrikaner was om sy vryheidstrewe te verwesenlik.

Met sy deeglike navorsing en boeiende skryfstyl slaag Blake daarin om ’n spieël voor die Afrikaners te hou. Hy het diep in die argiewe gaan delf om hierdie stuk geskiedenis uit die Afrikaner se verlede sonder enige vooroordele aan te bied.

Die lys Afrikaners wat destyds betrokke was by die pleeg van terreurdade lees byna soos ’n Who’s Who en wemel van bekende name.

Daar is al baie geskryf oor organisasies soos die Ossewabrandwag (OB) en hulle meer militante vleuel, die Stormjaers. Gewoonlik is dit met ’n spesifieke bril gedoen. Aan die een kant word die OB dikwels voorgehou as ’n kwasi-Nazi-organisasie wat geen goed gedoen het nie, aan die ander kant as ’n suiwer kultuurorganisasie wat geen bloed aan sy hande gehad het nie. Die waarheid lê iewers tussenin.

Die resultaat van Blake se intensiewe navorsing is vol verrassings. Veral diegene wat nostalgies terugverlang na “die goeie ou dae” kan gerus daarvan kennis neem hoe naby Suid-Afrika aan ’n moontlike  bloedbad was. As dit nie vir leiers aan beide kante van die politieke spektrum was wat onder moeilike omstandighede koelkop gebly het nie, kon sake lelik skeefgeloop het.

Net soos wat die ANC vandag hulle ondermynende terreurdade regverdig, het ook baie Afrikaners wat tydens die oorlogsjare aan sabotasie en terreur deelgeneem het, hulle ondermynende optrede later jare steeds regverdig. En net soos wat die struggle-helde teen apartheid deur die meeste van hulle volgelinge as helde vereer word, het waarskynlik die meeste Afrikaners ook ’n patriotiese heldeverering gehad vir diegene wat soms roekeloos en op onverantwoordelike maniere die Afrikaner se stryd gevoer het.

Blake se verhaal is eie aan die Afrikaner. Broedertwis, tweedrag en verraad loop soos ’n goue draad deur die Afrikaner se geskiedenis. Daar was ook sluipmoorde, en selfs sluipmoordplanne om Jan Smuts te vermoor. Blake som dit raak op wanneer hy sê die tragedie van ons land se geskiedenis is dat die bewoners nog altyd ’n verdeelde nasie is. “In Suid-Afrika met sy gefragmenteerde bevolkingsamestelling en gemeenskap is verdraagsaamheid nie vir almal ’n deug nie. Vooroordele en verdraaide persepsies voer dikwels die botoon” (40).

Blake ruim ook die wanpersepsie uit die weg dat die OB gelykgestel kan word aan die fascistiese bewegings van die 1930’s en ‘40’s. Hy skroom egter nie om veral die Stormjaers en terreurgroepe wat noue bande met die OB gehad het, se militantheid oop te vlek nie.

Die OB-leier Hans van Rensburg kan nie anders as om mens se verbeelding op ’n vreemde manier aan te gryp nie, selfs al sou mens nie sy politieke standpunt steun nie. Sy naam kom telkens in die boek voor as een van die hoofkarakters, maar ek kon nie sy naam agter in die boek se indeks vind nie. Anders as byvoorbeeld iemand soos Eugène Terre’Blanche het Van Rensburg  ’n skerp intellek en stewige akademiese onderbou gehad.

Was dit nie vir Jan Smuts en Hans van Rensburg wat, ondanks hulle radikaal uiteenlopende politieke beskouings, daarin geslaag het om hulle volgelinge min of meer in bedwang te hou nie, kon Suid-Afrika maklik in ‘n bloedbad gedompel gewees het.

Hoewel Blake se boek in die geskiedeniskategorie val, lees dit soos ’n  spanningsverhaal propvol intriges. Daar is verraad, waaghalsige rooftogte, spioenasie-intriges, ouers se smart en vele ander intriges wat die leser boei.

Die boek word afgerond met talle geskiedkundige foto’s uit die tyd van die OB. Daar is volledige verwysingsbronne agterin, met onder andere ’n naamlys van die 52 Stormjaers wat in die 1942-hoogverraadsaak aangekla is.

Albert Blake is natuurlik geen onbekende skrywer nie. Hy is onder meer beloon met die Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir sy Boerekryger: ’n seun se hoogste offer (2012).

Die meeste mense ken hom egter as die skrywer van die topverkoper Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (2012), wat in die roerende rolprent Verraaiers omskep is. In hierdie jongste boek van hom, Wit terroriste, is daar meer as genoeg stof vir nóg ’n rolprent oor die Afrikaner se veelbewoë geskiedenis.

  • 10

Kommentaar

  • Ja, die skrywer is sekerlik reg in sy waarneming - hulle was inderdaad terroriste. My pa was self 'n Stormjaer en verantwoordelik vir die opblaas van kraglyne. Hy en sy makkers het egter nooit moord gepleeg in die naam van vryheid nie. Ek is steeds vandag trots op hom en sy onwrikbare nasionale volksgevoel. Vir hulle het dit uit en uit gegaan oor die opbou van 'n nasie en nie die afbreek daarvan vir eie gewin nie.

  • Volgens HAT behels sabotasie die vernietiging van eiendom. Miskien is 'n meer akkurate term vir wat hulle gedoen het, sabotasie en nie terrorisme nie. Terwyl beide 'n skrikbewind impliseer, weereens, as ek na HAT kyk, is terrorisme meer gefokus op geweld teen burgerlikes.

  • Jean Oosthuizen

    Johan daar is wel ook moord gepleeg en beplan. En daar was ook gevalle van rooftogte, inbrake en bedrog vir eie gewin. Dit word alles baie deeglik gedokumenteer in die boek.

  • Adriaan Oosthuizen

    Ek is ook trots op jou pa Johan Beyers en my pa en my oupa en menigte ander. Lank sal hulle lewe.

  • Jakobus Fisher

    As kommunis is die oorlog nog ver van verby. Julle mense wat dink dat oorlog verby is slaap in die dag. Die revolusie en omverwerping van die status quo is nader as ooit.

  • Ek dink 'n mens kan maar die beplanning van moorde uit die prentjie los. Ten beste is dit miskien poging tot moord. Die vraag is hoeveel moorde is gepleeg en was dit 'n doelwit van die organisasie of was dit mense wat dit op eie houtjie gedoen het? Hoe vergelyk dit met die ANC se moorde soos in Kwazulu-Natal, Shell House, halsnoermoorde?

  • Tydens my weermagopleiding is die volgende onderskeid getref. Dae van sabotasie is gepleeg om die infrastruktuur van 'n land te ontwrig en dit so ongerieflik vir die inwoners en regerings te maak, want gedurige herstelwerk tap bronne. Die bevolking raak gatvol omdat die regering dit nie kan beheer nie en herstelwerk sloer.
    Sulke mense is saboteurs genoem, want hul pleeg dade van sabotasie. Sulke mense kan ook vryheidsvegters genoem word, want hul wil deur dade van sabotasie die regering tot ander insigte dwing en hul 'vryheid' so bekom, bv vry van tuislande.
    'n Saboteur/vryheidsvegter word 'n terroris wanneer sy dade hoofsaaklik teen die bevolking gemik is en daar 'n skrikbewind ontstaan deur bv die opblaas van 'n Wimpy of regeringsgeboue met die doel om soveel liggaamlike leed as wat moontlik is aan te berokken.
    Die doel is dan dat die bevolking soveel druk op die regering sal uitoefen om bv tot
    onderhandelinge oor te gaan met die terroriste. Word so 'n terreurveldtog ook nog ondersteun deur sanksies van lande wat die vryheidsvegters/saboteurs/terroriste geldelik en diplomaties ondersteun is die skrif aan die muur.
    Die eerste ding wat sulke regerings doen is om hul veiligheidsmagte aan bande te lê en van diegene wat dalk so 'n proses kan verongeluk ontslae te raak.
    My persoonlike opinie is dat dit gelyk is aan die muilband van jou waghonde sodat diewe vrylik toegang tot jou besittings kan hê.

  • Kla-kous
    Ek is geneig om met jou saam te stem. Daar was beslis voorbereiding getref vir 'n moontlike fisiese konfrontasie met regeringstroepe (sou Duitsland groter suksesse in Europa en teen Groot Brittanje behaal). Groot hoeveelhede plofstof, tuisgemaakte handgranate asook wapens en ammunisie is op plekke geberg om beskikbaar te wees vir gebruik indien dit nodig sou wees. Swak interne skakels binne die OB het egter die lekkasie van inligting tot gevolg gehad. My pa en 'n makker moes byvoorbeeld een nag inderhaas 'n bergplek van wapens en plofstof ontruim om dit tydelik onder die vloer van my oupa (skoolhoof) se kantoor naby die Hartbeespoortdam te gaan wegsteek. Dit is later in die dam self ge-"dump". Hulle aksies tot op daardie stadium was bloot gemik teen infrastruktuur soos kraglyne, ens. Dat daar moontlik moord gepleeg kon wees onder die vaandel van die OB is nie onwaarskynlik nie, maar soos jy tereg gesê het, was dit in alle waarskynlikheid op eie houtjie. Enige organisasie, hoe edel ook al sy beleidsrigtings, trek maar altyd die swakker tipes ook aan.

  • Terwyl my pa teen Hitler gaan veg het, het Ossewabrandwag waaronder John Vorster, kragpale opgeblaas.

    Later word hy toe eerste minister.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top