Terreur in Kaboel deur Hannelie Groenewald: ’n resensie

  • 0

Terreur in Kaboel
Hannelie Groenewald
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320469

Die 9/11-terreuraanvalle in die VSA het Hannelie Groenewald en haar man, Werner, met nuwe oë – en ’n nuwe roeping – na die wêreld laat kyk. Saam het hulle besluit om sendingwerk in Kaboel, Afghanistan te gaan doen. Maar nooit sou Hannelie kon droom hoe hoog die prys uiteindelik sou wees nie …

Terreur in Kaboel vertel die hartverskeurende verhaal van ’n vrou wat haar man, seun en dogter in ’n wrede terreur-aanval in Afganistan verloor. Dit vertel van ’n gelowige wat in gehoorsaamheid leef, net om dan skielik te worstel met twyfel en die gevoel van moedeloosheid.

Hannelie beskryf hoe die pad na Afganistan ’n geloofsreis was. Sy skryf oor die lewe daar, die aanpassing, haar en Werner se werk, en haar tieners, Jean-Pierre en Rodé, se lewe en opvoeding in die vreemde.

En dan beskryf sy die aanval waarin haar gesin koelbloedig in hul huis doodgeskiet is, die teikens van terroriste wat die Suid-Afrikaanse Christen-gesin in Kaboel vir ’n geruime tyd dopgehou het. Sy vertel van “die langste nag van haar lewe” wat gevolg het.

Jy dink dat as jy die eerste hoofstuk waarin sy die koelbloedige moord van haar gesin beskryf, oorleef het, die ergste sekerlik verby moet wees. Maar om die pad saam met haar te stap deur die swaarkry wat hulle daar ondervind het, wat tot ’n klimaks gedryf word daardie verskriklike nag waarin sy nie seker was of haar gesin veilig is of nie, kom sit soos ’n klip in jou maag.

Jy besef dat hul pad in die meer as 11 jaar wat hulle in Kaboel gewoon het, nie met rose besaai was nie en dat dit waarlik ’n geloofsreis was. Jy wonder deur die loop van die boek ook hoekom hulle nie na almal by die huis se waarskuwings luister en terugkeer na hul lewe in Pretoria nie. Tot haar verduideliking dat dit vanuit ’n geestelike perspektief heeltemal sin maak, hoewel dit uit ’n wêreldse oogpunt lyk na ’n gek ding om te doen.

Die boek het ’n baie sterk Christelike inslag en dit mag dalk mense verhinder om dit op die rak te gaan soek. Maar die geloofsaspek ter syde: die insig in die kultuur-, taal- en leefwyses van die Afgane; hoe min regte vroue het en hoe dit moet voel om in ’n oorloggeteisterde gebied te woon en werk, jou kinders groot te maak en vriendskappe te snoer met mense wat heel waarskynlik vervolg gaan word, is ’n verfrissende stuk skryfwerk, oor ’n land waarvan ons bitter min weet en gewoonlik uitgelewer is aan Hollywood-weergawes.

Jy hoef nie met haar geloofsoortuigings, of ooglopende vasbeslote geloof dat dit die regte keuse óf pad is, saam te stem om die boek te geniet nie. As jy die woorde tot op die been stroop en bloot die hartverskeurende verhaal van ’n vrou lees wat haar gesin op die wreedste moontlike manier verloor het, kan jy nie help om in vervoering te staan oor hoe sterk ons oorlewingsdrang is nie.

Die skrywer sê in die voorwoord dat sy nie die skryftalent van haar man en seun het nie en dat die boek gebore is uit die behoefte van ander mense om te glo dat jy weer kan opstaan uit sak en as. Dat daar weer geluk en tweede kanse kan kom.

In my opinie hoef sy nie skaam te voel vir haar skryfstyl nie. Die storie kom uit die hart en dis regtig nodig om te hoor. Sy het deur die swaarste oomblikke in haar lewe gegaan en in haar eie woorde weer anderkant uitgekom. Dis toepaslik op soveel meer aspekte van ons lewe waarmee ons daagliks gekonfronteer word.

Haar storie is een van hoop. En sy gee daardie vaandel oor aan elke leser. En daarvoor salueer ek haar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top