Ter wille van die vaders deur Marzanne Leroux-Van der Boon: ’n resensie

  • 1

Ter wille van die vaders
Marzanne Leroux-Van der Boon

Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796320841

Ter wille van die vaders is die tiende in ’n reeks titels deur Marzanne Leroux-Van der Boon wat hulle grootliks in Israel afspeel, met die lewe in Israel en die Joodse geloof as agtergrond – en telkens met Marc Krige as hoofkarakter.

In ’n resensie oor Tikkun Haòlam: Herstel die wêreld, ’n vorige titel in die reeks, word dié boek aan flenters geskiet en beskryf as een wat “geen struktuur en geen ruggraat het nie: Die boek is ’n vormlose massa woorde.”

Dis bitter en venynige woorde ... maar is dit geldig? Móét ’n boek, selfs ’n roman, aan tradisionele maatstawwe – soos ’n sterk struktuur en deurlopende funksionaliteit – voldoen om bestaansreg te hê? Is dit verkéérd om ’n boek te skryf wat eerstens daarop gerig is om inligting te gee, met intrige en karakterontwikkeling in die tweede plek? Dalk het die genoemde resensie dit mis – en het Leroux-Van der Boon iets is beet.

Om dit te bepaal is dit nodig om met ’n oop gemoed en “vars” oë na Ter wille van die vaders te kyk.

Die eerste 60 bladsye handel oor ’n besoek aan Auschwitz. Die gruwels en ontbering wat gevangenes in dié konsentrasiekamp moes deurmaak, word in besonderhede beskryf. Sulke beskrywings is interessant en skokkend, maar helaas: niks in dié beskrywings is openbarend nie en is vir die meeste van ons ou, deurtrapte nuus. Dié sekwens kan wel as funksioneel gesien word, omdat dit voorgehou kan word as motivering vir die Israeliete se onvoorwaardelike bereidwilligheid om vir hul land te sterf – wat die soms onredelike aggressie teenoor die Palestyne insluit.

Net soos in vorige boeke in die reeks, maak Ter wille van die vaders hom skuldig aan blatante propaganda: die Palestyne word uitgebeeld as kwylende terroriste wat Jode met messe vermoor. Natuurlik is Palestynse militantes se moorddadige metodes onder verdenking, maar Leroux-Van der Boon sê nie veel oor Israel se alombekende vergrype in dié konflik nie.

Daar word selfs, die hemel behoed, ’n lansie of twee gebreek vir Donald Trump – met sy oranje gevreet en die kraaines op sy kop, maar dan moet ’n mens aanvaar dat die meeste Israeli’s na aanleiding van Trump se vooroordeel teenoor Israel, hom as ’n gawe kêrel beskou.

Te veel ruimte word aan die verduideliking van die Joodse dogma afgestaan, maar gelukkig nie die een bladsy ná ander soos in Tikkun Haòlom nie.

Daar gebeur hier en daar iets. Marc se stiefpa sterf en hy reis na Suid-Afrika. Hier ontmoet hy Simon, Marc se kunsonderwyser toe hy (Marc) ’n tiener was. Sy besoek aan Suid-Afrika bring ook herinneringe aan Nicola, Marc se eerste liefde van jare gelede (daar kan meer hieroor gelees word in Tyd van herkenning, die boek waarin Marc aan lesers bekendgestel word en wat jare gelede verskyn het). ’n Herontmoeting met Nicola en die konflik wat daarmee kon saamgegaan het, sou ’n gawe kinkel aan die narratief verskaf het, maar Leroux-Van der Boon laat dié geleentheid verbygaan.

Marc moet haastig na Israel terugkeer toe sy seuntjie siek word. Die seun het ’n gewas op die brein wat in ’n operasie verwyder moet word, maar ook dié gegewe loop nie regtig op iets uit nie.

Indien dit moontlik is om ’n roman te skryf wat meestal steun op die deurgee van inligting en waarin intrige tot die minimum beperk word en wat nogtans die leser se aandag hou, is Ter wille van die vaders nié so ’n boek nie. Al is die roman ’n effense verbetering op sy voorgangers, is die doodsteek weer eens in die eerste plek ’n gebrek aan struktuur: dis nie hoe ’n roman moet lyk hierdie nie.

Met apologie aan die skrywer en haar lesers: ek is nogmaals nie beïndruk nie.

  • 1

Kommentaar

  • Met verwysing na die resensent se sydelingse kommentaar oor president Trump. In die 2016-verkiesing het die VSA myns insiens voor die keuse tussen 'die duiwel en die diep blou see' gestaan. Miskien is dit vanpas dat hulle toe die diep blou see gekies het, want om Clinton as president te hê sou waarskynlik 'n meer volledige staatskaping as waarvan die Guptas ooit sou kon droom tot gevolg gehad het. Daar is voldoende vraagtekens en gerugte om so iets meer as net 'n vae moontlikheid te maak. Dit beteken egter nie die keuse wat gemaak is, is sonder vratte nie. Is dit egter voldoende rede om in 'n resensie van 'n boek wat blykbaar nie naastenby oor die staatshoof van 'n land handel nie na hom op daardie afkrakende wyse te verwys?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top