|
||||||||
Opsomming
Die verskynsel digitale nalatenskap (ook bekend as digital afterlife, digital immortality of digital traces) is die aandagspunt van hierdie ondersoek. Digitale nalatenskap moet verstaan word as kontekstueel ingebed binne die vakgebiede van digitale menswetenskap en digitale teologie. Die velde moet dan weer verstaan word teen die agtergrond van die Vierde en Vyfde Industriële Rewolusies wat die debat tussen godsdiens en wetenskap voed. Hierdie studie benader die verskynsel van digitale nalatenskap in ’n deskriptiewe wyse en ’n teologies-fenomenologiese perspektief van die verskynsel volg. Vier perspektiewe op digitale nalatenskap word aangebied: (a.) beheptheid met onsterflikheid, (b.) oorbeklemtoning van immanensie, (c.) die skep van ’n nuwe rou ritueel, en (d.) die illusie van beheer. Op grond van hierdie perspektiewe word die studie afgesluit met verskeie implementeerbare voorstelle. Verdere navorsing oor die tegniese aard van digitale nalatenskap is noodsaaklik aangesien die verskynsel steeds in die proses is om verskeie vorme aan te neem. ’n Kwalitatiewe ondersoek na die verskeie uitdrukkingsvorme van digitale nalatenskap kan uit hierdie teoretiese beoordeling volg. Die rol van Kunsmatige Intelligensie (KI) op digitale nalatenskap is ook nog nie volledig verdiskonteer nie. Die ondersoek kan aangevul word met die beoordeling van etiese implikasies van die verskynsel.
Trefwoorde: digitale menswetenskappe; digitale nalatenskap; digitale teologie; fenomenologie; illusie; immanensie; rou rituele; teologie; Vierde Industriële Rewolusie
Abstract
Theological Perspectives on Digital Afterlife
The phenomenon of digital afterlife (also referred to as digital immortality or digital traces) constitutes the focal point of this investigation. Digital afterlife must be understood as contextually embedded within the disciplines of digital humanities and digital theology. These fields must, in turn, be understood against the backdrop of the Fourth and Fifth Industrial Revolutions, which fuel the debate between theology and science. One of the effects of the Fourth Industrial Revolution, as identified by Klaus Schwab, is the dehumanizing effect of technology on humanity. The Fifth Industrial Revolution, as well as projects such as Society 5.0, endeavours to re-centre humanity in society.
This study approaches the phenomenon of digital afterlife in a descriptive manner, followed by a theological description of the phenomenon. The approach followed here is phenomenological, although the perspective is theological. The goal of phenomenology is to allow the items and events under investigation to speak for themselves. Phenomenology states that the focus is not on our theories about things, but on the things themselves. Although this investigation does not provide an empirical investigation into examples of digital afterlife – an investigation that surely would be of value to the understanding of the topic – a theological evaluation of the phenomenon is presented.
Four insights from a theological perspective on digital afterlife are presented:
(a) Preoccupation with immortality. Creating ways of contact with the deceased may reflect an attitude of being unable to mourn and accept the fact of mortality.
(b) Overemphasis on immanence. Creating visual and audible remnants of the deceased indicates an inability to release the deceased from this material reality.
(c) The creation of new mourning rituals. Digital afterlife can be evaluated positively in the sense that it illustrates the human capacity to generate new and alternative forms of mourning. New mourning rituals are created in an online environment.
(d) The illusion of control. Digital afterlife reflects the human need to be in control – in this instance, in control of the future fate of the deceased. By creating an online presence for the deceased, the family and friends of the deceased remain in control of the remembrance and future fate of the deceased.
Based on these perspectives, the study concludes with recommendations for further research. Further research into the technical nature of digital afterlife is essential, as the phenomenon continues to evolve and assume a variety of culturally infused expressions. A qualitative investigation into the diverse manifestations of digital afterlife may follow from this theoretical exploration. The role of Artificial Intelligence (AI) in digital afterlife has not yet been fully accounted for, which opens up possibilities for future research on this topic. This investigation could be supplemented with an evaluation of the ethical implications of the phenomenon of digital afterlife.
Keywords: digital afterlife; digital humanities; digital theology; ethics; Fourth Industrial Revolution; illusion; immanence; mourning rituals; phenomenology
1. Inleiding
Nemo ante obitum beatus est – Die dood is die begin van geluk. (Pascal 1943:126)
Pascal meen dat sodra ’n mens jou eie sterflikheid erken en aanvaar, dan kan ’n lewe van ware geluk begin. Die dood en die gedagte aan die dood bring soveel onrustigheid en wroeging in die menslike gemoed dat ’n rustige lewe onmoontlik is. Die mens blyk om ’n oneindige beheptheid met die dood te hê en wil onsterflikheid besit. Hiervan is die verskynsel van digitale nalatenskap nog ’n uitdrukkingsvorm.
Die verskynsel van ’n digitale nalatenskap na afsterwe is ’n onlangse verskynsel. Heesen (2023:26) gebruik die Duitse uitdrukking “digitale Unsterblichkeit” wat sy in Engels vertaal as “Digital Immortality” (digitale onsterflikheid). Savin-Baden en Mason-Robbie (2020:11) gebruik die term “Digital Afterlife” (digitale lewe na die dood) om na dieselfde verskynsel te verwys. Reader (2020:162) verkies om van “digital traces” (digitale spore) te praat. Hutchings (2013:7) verwys na die moontlikheid om na digitale nalatenskap as die “eternal digital body” (ewige digitale bestaan) te verwys. In hierdie ondersoek word ’n keuse gemaak om die uitdrukking “digitale nalatenskap” te gebruik, vir redes wat later verduidelik sal word.
Binne verskeie konsentriese sirkels word die saak van digitale nalatenskap as hooffokus van hierdie studie bespreek. Die tema digitale nalatenskap is ingebed binne die vakgebiede van digitale teologie en digitale menswetenskappe. Die vakgebiede vuur die debat aan tussen Godsdiens en Wetenskap in die konteks van die Vierde Industriële Rewolusie.
In ’n tegnokrasie, wat een van die gevolge van die Vierde Industriële Rewolusie is, is dit onvermydelik dat tegnologie elke aspek van die menslike bestaan beïnvloed. Die verandering in die menslike geskiedenis het daartoe bygedra dat elke akademiese dissipline rekenskap moet gee oor hulle verband met tegnologie.
In hierdie bydrae word die tegnologie en tegniese detail wat benodig word vir die ontwikkeling en instandhouding van digitale teenwoordigheid buite rekening gelaat. Die aandagspunt van die studie val nie op die evaluering van die tegnologie nie, maar op die verskynsel van digitale nalatenskap. Insig in hoe die tegnologie funksioneer kan egter waardevol wees. In hierdie verband lewer Burden (2020:143–60) belangrike insigte ten opsigte van die tegniese vereistes vir komponente wat benodig word om ’n “Digital Immortal” (digitale onsterflike entiteit) te bou.
Hierdie ondersoek begin met ’n begripsomskrywing waar relevante terminologie gedefinieer word. Daarna volg ’n teologies-fenomenologiese beskrywing van die verskynsel bekend as digitale nalatenskap, met ’n afsluiting waar ’n poging tot implementeerbare voorstelle gemaak word. Die aanslag in die studie is fenomenologies van aard alhoewel sommige van die aspekte van die beoordeling vanuit ’n teologiese perspektief kom.
2. “Rolspelers”: Begripsverklaring
Onder hierdie opskrif word alle relevante terminologie (rolspelers as mede-onderwerpe in die ondersoek) toegelig as ’n uiteensetting van werkbare definisies.
2.1 Vierde Industriële Rewolusie
Wanneer die Duits-gebore ingenieur en ekonoom, Klaus Schwab, die uitdrukking Vierde Industriële Rewolusie in 2016 skep, probeer hy ’n fase in die menslike ontwikkeling beskryf. Hierdie fase word gekenmerk as ’n fase gedomineer deur tegnologie en word deur Schwab vanuit ’n ekonomiese perspektief beskryf. Sommiges, soos Rossouw (2020:80,87), is krities oor die begrip en dui aan dat die term nie juis wyd gebruik word nie. Hy (Rossouw 2020:89) gee egter toe dat die skep van die konsep mense uitnooi om ten minste oor tegnologie, ekonomie en die samelewing na te dink.
Sedert die skep van die konsep in 2016 word die term Vierde Industriële Rewolusie gebruik om te verwys na ’n heersende paradigma wat gebruik word om die werklikheid te interpreteer, asook ’n manier hoe om menslike denkprosesse te beskryf. Schwab is die stigter van die World Economic Forum (wêreld ekonomiese forum) en ’n lid van die Bilderberg Groep, waaroor daar relatief min bekend is (Rossouw 2020:86). Arnold Toynbee was die eerste persoon om in 1884 die uitdrukking Industriële Rewolusie te gebruik om die wetenskaplike ontwikkelinge van sy tyd te beskryf (Oliver 2020:2). Met die Vierde Industriële Rewolusie verwys Schwab (2016:1) na ’n opvolgende fase in industriële ontwikkeling wat universele implikasies inhou vir die mens. Schwab verwys na ’n opkomende tegnologiese rewolusie met onvoorsiene gevolge en implikasies vir alle lewe, arbeid en relasies. Volgens Schwab (2016:11) begin die vierde rewolusie aan die begin van die draai van die huidige eeu en bou voort op die ontwikkelinge van die digitale rewolusie (wat die Derde Industriële Rewolusie gekenmerk het vanaf die 1960’s) (Schwab 2016:11).
Die Vierde Industriële Rewolusie kan beskryf word as die saamvloei van tegnologieë (soos Kunsmatige Intelligensie [KI], Blokketting, gerekenariseerde prosessering, virtuele werklikheid, bio-tegnologie, robotika, die internet van dinge, en 3D drukwerk) wat lei tot die grensoorskryding tussen die fisieke, digitale en biologiese werklikhede (McGinnis 2020). Veldsman (2019:2) skryf die volgende kenmerke toe aan die saamvloei van tegnologieë:
- Digitalisering: tegnologie bied toegang tot informasie;
- Ongekende verbintenisse: inligting word nie net teen ’n ongekende tempo geskep nie, maar word gedeel en universeel beskikbaar gestel;
- Virtualisering: internet verbintenisse stel mense in staat om verbind te wees met mekaar sonder om fisies in mekaar se teenwoordigheid te wees;
- Outomatisering: die voltooiing van take en prosesse is nie meer afhanklik van die fisiese teenwoordigheid en intervensie van mense nie;
- Intelligensie: inligting word voortdurend geskep en stel mense in staat om vinniger ingeligte besluite te neem.
Die effek van die Vierde Industriële Rewolusie op die samelewing word deur Schwab (2016:3–7) opgesom met die volgende voorbeelde:
- Die potensiaal van ongekende finansiële vooruitgang;
- Verbeterde lewensomstandighede vir alle mense;
- Sosiale ongelykheid en stratifikasie;
- Hoë vlakke van kennis van tegnologie lei tot ’n hoë inkomste met die teendeel net so waar: lae kennis van tegnologie lei tot lae inkomste;
- Verbruikerspatrone sal deur tegnologie bepaal word;
- Die mens se verstaan van werk en ontspanning word bepaal deur tegnologie;
- Die interaksie tussen mense word tegnologies bepaal;
- ’n Afname in vlakke van barmhartigheid;
- Tegnologie het tot gevolg ’n laer vlak van betekenisvolle gesprekke tussen mense.
Teen hierdie agtergrond van die Vierde Industriële Rewolusie moet die gesprek oor digitale nalatenskap verstaan word. Die doel is egter nie om die effek van die Vierde Industriële Rewolusie te beoordeel nie, maar dit dien as agtergrond vir die verstaan van digitale nalatenskap. Met die opkomende Vyfde Industriële Rewolusie (Anil 2025:1) sal die tot stand kom van geïntegreerde biotegnologie ’n groot rol speel. Dit sal tot meer gesprekke oor die verstaan van die mens se plek in tegnologiese ontwikkeling lei.
2.2 Digitale menswetenskappe
Phillips, Schiefelbein-Guerrero en Kurlberg (2019:29) verwys na Digitale Menswetenskappe as die “groot tent”. Die tent dien as metafoor om te verwys na die netwerk van invloede wat die digitale era op die menswetenskappe uitoefen. Alle aspekte van menslike bestaan word deur die digitale tegnologie beïnvloed (Phillips e.a. 2019:31). Die term digitale menswetenskappe verwys na die studieveld wat bestaan uit die verweefdheid van die wyse waarop onder andere die Bybel in die samelewing ontvang word, visuele kultuurstudies, teologie, sosiologie en tegnologie en hoe die konsepte mekaar beïnvloed (Phillips e.a. 2019:30). Digitale menswetenskappe poog om onder andere vas te stel op welke wyse ’n kultuur die Bybel ontvang midde in die digitale era. Dit fokus ook op die ondersoek na die uitdrukkingsvorme van godsdiens binne ’n kultuur in digitale terme. In die verband is die navorsing van Hutchings (2015, 2016 en 2021) veral relevant vir die uitdrukking van die Christendom binne kulture in die digitale era. Hierdie invloed op digitale menswetenskappe word in twee golwe beskryf (Phillips e.a. 2019:32): ’n eerste golf was die fokus op die digitalisering projekte, vooruitgang in tegnologie en die herorganisering van infrastrukture. ’n Tweede golf het gefokus op die produksie en storing van kennis wat vanuit tegnologie geskep en in digitale vorm bestaan. Dit gaan dus oor die skep, stoor en interpretasie van kennis via tegnologie. Tegnologie word dus die medium en die objek in die bestudering van die menswetenskappe.
Die kreet dat die menslikheid in die menswetenskappe herstel moet word is deel van die projek (Phillips e.a. 2019:32). Die Vyfde Industriële Rewolusie gaan juis oor die harmonisering van die mens-masjien samewerking (Noble, Mende, Grewal en Parasuraman 2022:5). Die mens bestaan nie net midde in die tegnologie nie, maar bestaan as outonome wese met potensiaal (Phillips e.a. 2019:32). Hierdie kreet verteenwoordig wat Phillips e.a. (2019:32) die “Transformative Humanities” (transformerende menswetenskappe) noem. Menswees midde die tegnokrasie moet getransformeer word. Tegnologie kan nie geïgnoreer of weggewens word nie, maar die mens, ook die teoloog, moet leer om met tegnologie saam te leef.
In die verband is dit belangrik om kennis te neem van die Society 5.0-projek. Die Smart Society-navorsingsprojek is in 2016 deur die Japanse regering begin om te besin oor die ontwerp van ’n toekomstige samelewing met ’n mens-gesentreerde fokus (Akira 2016:1). Dit stem ooreen met die sentimente van die Vyfde Industriële Rewolusie om geïntegreerde biotegnologie te stimuleer.
Die Vierde Industriële Rewolusie het ’n groot impak op die samelewing gehad. Goede (2020:119) herinner lesers aan die gevolge van ’n oordrewe optimisme en afhanklikheid van tegnologie gedryf deur kapitalisme. Die kombinasie van ekonomie en tegnologie het vervreemding, sosiale ongelykheid en onrus tot gevolg (Goede 2020:119). Daar bestaan ’n illusie dat die kombinasie van ekonomie en tegnologie ’n ongekende voorspoed en universele eenheid en rykdom sal bring (Goede 2020:120). Schwab (2016:3–7) se voorspelling is dat die ongekende voorspoed as ’n illusie ontbloot sal word. Kapitalisme en tegnologie wat mekaar dryf lei tot die ontmensliking en die vernietiging van die natuur.
Schwab het reeds aangedui dat die Vierde Industriële Rewolusie tot ontmensliking en vervreemding gelei het. Daar is egter reeds pogings aangewend om die menslikheid te herstel. Society 5.0 en die Vyfde Industriële Rewolusie is as alternatiewe aangebied vir die effek van die Vierde Industriële Rewolusie.
Die Japanse regering het met die goedkeuring van die Wetenskap en Tegnologie Basiese Plan verskeie samelewings ontwikkelingsstadia herken. Die samelewings sluit die volgende in (Van der Merwe 2020):
- Society 1.0 (verwys na die vroeë jagter-versamelaars samelewings);
- Society 2.0 (verwys na die gevestigde landbou gemeenskappe);
- Society 3.0 (verwys na die geïndustrialiseerde samelewing); en
- Society 4.0 (verwys na die informasie samelewing).
Die nuutste ontwikkeling is die Society 5.0 fase. Hierdie fase word gekenmerk as die antroposentriese samelewing wat ’n balans wil handhaaf tussen ekonomiese ontwikkeling en sosiale uitdagings (Van der Merwe 2020). Society 5.0 fokus daarop om die mens midde die sosiale bestel te plaas. Society 5.0 wil dus die effek van die Vierde Industriële Rewolusie teenwerk om ’n volledige mens-gesentreerde samelewing te word (Goede 2020:123). Die mens behoort die middelpunt te wees. Tegnologie sal altyd bly bestaan in die sisteem maar behoort nie die middelpunt in te neem nie.
Society 5.0 beklemtoon die waardes wat die mens die middelpunt van die ontwikkeling in die samelewing sal maak. ’n Waarde gedrewe samelewing beklemtoon menslike harmonie met die omgewing en menslike welsyn (Kaihara 2023:1). Die gebalanseerde lewe word as die ideale samelewing voorgehou.
2.3 Digitale teologie en/of godsdiens
Daar is reeds sedert die middel 2000’s oor die saak van Digitale Teologie gepubliseer. Vergelyk in die verband die werke van veral Phillips e.a. (2019) en Phillips (2020). Die werke van Campbell en Tsuria (2022) en Campbell en Cheong (2023) fokus veral op die plek van godsdiens in die digitale wêreld, maar hulle spreek nie eksklusief die verhouding tussen tegnologie en teologie aan nie. Die Suid-Afrikaanse navorser, Cloete (2020 en 2019) se navorsing oor tegnologie spruit uit haar ondersoek na die plek van media in die onderwys en spesifiek in jeugbediening. Van den Berg (2020) se navorsing maak ʼn waardevolle bydrae aangesien dit ’n breë teoretiese oorsig gee van die interaksie tussen tegnologie en teologie.
Hierdie studie fokus op digitale nalatenskap. Alvorens ’n definisie gegee kan word is dit nodig om eers die studie te positioneer. Daar is reeds na die ingebedde aard van die studie verwys met die implikasie dat die huidige ondersoek eng gefokus is op digitale nalatenskap wat vanuit ’n teologiese perspektief beskryf word.
Dit is tog belangrik dat die vraag na wat teologie is eers beantwoord word. Teologie is gemoeid met God as dit wat van die hoogste belang is. Volgens Bultmann (1984a:50) is God die objek van die wetenskaplike aktiwiteit van teologie. Daarmee stel Pannenberg (1973:266; 299) dat die objek van teologisering is die werklikheid van God in sy openbaarmaking. Tog kan God nie net die objek bly nie. Die subjektiwiteit van geloof wat op God gerig is vereis dat God meer as objek word en die aard van geloof eers uitgeklaar moet word (Bultmann 1984a:54). Teologie gaan oor God, die goddelike boodskap en oor mense as die interpreteerders van die boodskap (Van Niekerk 2011:7). God is dus nie net die objek nie. God as lewende wese staan in ’n verhouding met sy skepping. Teologie is dus gemoeid met die verhouding tussen God, mens en skepping.
Teologie bly egter nie onaangeraak deur tegnologie nie. Phillips e.a. (2019:33) dui aan dat sommiges dit wel so mag beleef dat teologie verwyderd staan van die invloed van tegnologie. Digitale Teologie wil egter impliseer dat teologie in gesprek met tegnologie staan. Tegnologie is dus ook die voertuig waardeur teologie met die omliggende werklikheid skakel. Tegnologie word dus die mede subjek asook medium vir teologisering. Teologie bestudeer onder andere die effek van tegnologie op die kerkpraktyk (byvoorbeeld aanbiddingspraktyke) asook tegnologie wat soteriologiese status kry as die oplossing vir die mensdom se dilemma van armoede en onderdrukking. Tegelykertyd word tegnologie die hulpmiddel om teologie beoefening en teologisering (navorsing) te stimuleer.
Die verhouding tussen tegnologie en teologie is ambivalent. Daar is ’n tweestryd tussen die stemme wat sê dat tegnologie is ’n negatiewe en ’n positiewe invloed op teologie (Stahl 1999:20). Deel van die redes vir die ambivalensie is die feit dat dit nog te vroeg is om die volle effek van die tegnologie-gedrewe Vierde Industriële Rewolusie te beoordeel. Ons kan nou slegs die potensiële effekte voorsien (Oliver 2020:2).
Daar is dié soos Padgett (2005:577) wat argumenteer dat tegnologie godsdienstige idees vervang. Roy (2002:667) stel dit kategories dat tegnologie die mees kragtige godsdiens geword het. Vertroue op God is vervang met vertroue op tegnologie. Tegnologie word gelykgestel aan die transendente (Noble 1997:2).
Aan die positiewe kant het tegnologie die mens in staat gestel om meer omvangryk te kommunikeer, maar tegelykertyd dra tegnologie by tot die ontmensliking van die samelewing (Waters 2015:144). Tegnologiese ontwikkelinge op terreine soos die mediese, landbou en energiebenutting maak die lewe op aarde beter. Hierdie ambivalente verhouding tussen tegnologie en teologie vereis ’n verantwoordelike besinning oor die verhouding tussen tegnologie en teologie. Dit is die taak van Digitale Teologie om na te dink hoe die etiese raamwerk kan funksioneer.
Phillips e.a. (2019:33) wys daarop dat die definisies van Digitale Teologie nog vaag en omstrede is. Daarbenewens dui Phillips e.a. (2019:36) aan dat die definisies vir Digitale Teologie nog in hulle kinderskoene is in vergelyking met definisies vir die Digitale Menswetenskappe. Daar is dus nog ’n soeke na identiteit vir die term Digitale Teologie (Phillips e.a. 2019:40). In opkomende navorsing bestaan daar nog nie genoegsame konsensus oor definisies vir Digitale Teologie nie. Desnieteenstaande bied Phillips e.a. (2019:37–40) vier moontlike dimensies vir definisies van Digitale Teologie aan.
a. Die gebruik van tegnologie om onderrig in teologie aan te bied:
Onder hierdie definisie word tegnologie as modus vir die aflewering van teologiese inhoud gebruik. Cloete (2017:1) pleit dat tegnologie nie net as ’n gereedskapstel vir onderrig gebruik word nie, maar ook as die medium wat kultuur vorm. Sy (Cloete 2017:5) pleit dat teologie juis die uitdaging aangryp om tegnologie aan te wend in die onderrigproses. Wêreldwyd is daar ’n groeiende tendens om teologie onderrig in ’n hybriede vorm aan te bied (in persoon maar ook digitaal). Digitale teologie kan dus verwys na hierdie aktiwiteit van onderrig in digitale vorm.
b. Die gebruik van tegnologie om navorsing in teologie te fasiliteer:
Tegnologie vermeerder die moontlikhede van navorsing in teologie, net soos vir enige ander dissipline, om meer intens navorsing te doen. Weens die moontlikhede wat tegnologie bied, het die navorser in teologie toegang tot meer digitale inligting asook bied tegnologie verskeie maniere om die inligting te ontleed. Tegnologie bied dus toegang tot bronne en metodologieë vir navorsing, wat die transdissiplinariteit van navorsing verhoog. Die gevolg is dat akademiese teologiese instellings nie meer die alleenreg tot teologisering het nie. Tegnologie het dus ’n manier om inligting te demokratiseer.
c. Die digitale kultuur word die konteks waarbinne teologiseer word:
Die verhouding tussen die digitale kultuur en teologie maak wedersydse beïnvloeding moontlik. Teologie word die lens waardeur digitale kultuur ontleed word, maar digitale kultuur word ook die lens waardeur teologie ontleed word. Cloete (2017:1) se argument dat tegnologie die medium word wat kultuur vorm, is ook hier van toepassing. Teologie verskaf die beginsels wat deelname aan die digitale kultuur bepaal. Ter selfde tyd bied digitale kultuur die beginsels wat deelname aan teologie bepaal. Die wedersydse invloed van teologie en digitale kultuur op mekaar word die veld van navorsing vir Digitale Teologie. Digitale Teologie ondersoek dus die tradisionele teologiese dogmas en stel vas hoe die dogmas toegepas kan word in die huidige digitale kultuur. Byvoorbeeld, wat beteken eskatologie vir klimaatsverandering of het Kunsmatige Intelligensie die behoefte aan vergifnis en verlossing? Op hierdie wyse word digitale teologie ’n vorm van kontekstuele teologie.
d. Teologiese-etiese kritiek op die digitale kultuur:
Die klem onder hierdie dimensie van definisie is die etiese bydrae wat teologie tot die ontwikkelinge op alle tegnologiese terreine kan bied. Hiermee word nie beweer dat teologie die alleenreg tot etiese opinies het nie, maar word erken dat teologie ’n bydrae tot etiese oorwegings kan lewer. Verskeie terreine van tegnologiese ontwikkelinge kom volgens Phillips et al. (2019:40) reeds onder die teologiese loep (byvoorbeeld Kunsmatige Intelligensie, onbemande wapentuig, voertuie sonder menslike bestuurders, en mediese tegnologie). Daar bestaan ’n bewese behoefte aan profetiese teologies-etiese insette tot die ontwikkelinge in die digitale kultuur (Johns 2025:250).
Die toegespitse vraag binne digitale teologie is volgens Phillips e.a. (2019:39) of alles wat ons teologies sonder die internet kan doen ook aanlyn gedoen kan word. Hoe lyk aanlyn pastorale sorg, virtuele pelgrimstogte, watter etiek geld aanlyn? Dit is binne die derde en vierde dimensies van definisies van digitale teologie waarbinne hierdie navorsing oor digitale nalatenskap hier aangebied word.
2.4 Digitale nalatenskap
“Digital Afterlife” (Savin-Baden en Mason-Robbie 2020:11), of “media death” (Savin-Baden en Mason-Robbie 2020:12) of “digital immortality” (Heesen 2023:26) of “death online” (Hutchings 2017:90), of E-ritueel (Matthee en Wepener 2020:213) word hier bespreek onder die term digitale nalatenskap. Die terme word uitruilbaar gebruik aangesien die verskynsel ’n verskeidenheid uitdrukkingsvorme het. Die verskynsel is ook redelik nuut met min voltooide navorsing.
Die konsep digitale nalatenskap kan gedefinieer word as die voortsetting van ’n aktiewe of passiewe digitale teenwoordigheid na afsterwe (Savin-Baden en Mason-Robbie 2020:12). Matthee en Wepener (2020:217) verwys daarna dat daar die afgelope aantal dekades ’n liturgiese verskuiwing na die kuberruimte is. Die aanlyn “begraafplaas” word die ruimte waar virtueel gerou en onthou word (Matthee en Wepener 2020:217). Dit verwys na een of ander vorm van ’n digitale teenwoordigheid wat bedoel is om ad infinitum of dalk net vir ’n beperkte tydperk te bestaan. In meeste gevalle is daar geen aanname van die duurte van die digitale teenwoordigheid nie. Reader (2020:162) omskryf die verskynsel as enige digitale “voetspore” wat (on)intensioneel, nagelaat word na die afsterwe van ’n persoon. Hierdie “voetspore” kan verskeie vorme aanneem (byvoorbeeld grafstene of gedenkplate). Matthee en Wepener (2020:217–219) verwys na webbladsye met foto’s van gestorwenes asook webplatforme met herinneringe aan gestorwenes. In die konteks van hierdie studie verwys die “voetspore” spesifiek na digitale tekens wat nagelaat word. Hutchings (2013:3) verwys na hoe tegnologie die oorledene met vriende, familie en ’n internet gehoor kan verbind om inligting te deel en om so emosionele ondersteuning te bied.
Die feit dat die afgestorwenes nog ’n mate van teenwoordigheid in die wêreld van die lewendes behou, is nie ’n nuwe gedagte nie (Huchings 2013:12). Wat maak die digitale nalatenskap anders as enige ander teken van herinnering? So vra Reader (2020:163) of digitale nalatenskap nie dieselfde funksie vervul as bestaande tekens van herinnerings aan afgestorwenes nie. Oor eeue heen het mense aan geliefde gestorwenes briewe geskryf, blomme gebring, en/of offers aangebied en selfs onskuldige geselsies met hulle aangeknoop. By die Tradisionele Afrika Godsdienste word die siele van die gestorwenes gereken as deel van die wêreld van die lewendes, sodat daar sprake is van die “lewende dooies” (Nürnberger 2007:33). Wat egter nou anders is, is dat die digitale media die rouproses kan bemiddel (Hutchings 2013:17). Volgens Reader (2020:163) is dit die grootste verskil tussen digitale nalatenskap en ander vorme van herinnering: digitale nalatenskap eis ’n onmiddellike reaksie waar ander tekens meer tyd toelaat vir intense nabetragting. Digitale nalatenskap laat ook meer ruimte toe vir dinamiese interaksie (Reader 2020:162).
Savin-Baden en Mason-Robbie (2020:16–20) lys en bespreek verskeie voorbeelde van digitale nalatenskap en plaas dit onder die opskrif “The Death-Tech Industry”. Webblaaie soos DeadSocial, Eter9, Eternine, Daden en LifeNaut en die moontlikhede van digitale teenwoordigheid wat hierdie blaaie bied, word bespreek. Die konklusie waartoe Savin-Baden en Mason-Robbie (2020:19) kom, is dat dit blyk of daar meer “hype than substance” in die beriggewing oor hierdie dienste in die media verskyn.
Digitale nalatenskap kan vorme aanneem soos sosiale media profiele, e-pos adresse, digitale musiek of foto’s en ander inligting wat oor ’n persoon gestoor word (Reader 2020:162). Dit sluit ook die handleidings wat beskikbaar gestel word vir hoe om jou afsterwe, of die einde van jou aanlyn teenwoordigheid weens dood, op sosiale media (soos Facebook, Twitter (X), Instagram) te beplan. Meer ekstreme voorbeelde van digitale nalatenskap sluit in om ’n virtuele self te skep wat deur KI in staat sal wees om ’n teenwoordigheid en voortgesette deelname op sosiale media te hê selfs na die indiwidu se afsterwe. ’n Variasie van die virtuele self is ’n avatar wat namens die oorledene aktief bly via die video’s, foto’s en dokumente wat aanlyn gelaai is, en met ander persone digitaal sal bly kommunikeer. Die virtuele self kan ook deur middel van vooraf gelaaide algoritmes na afsterwe steeds interaktief in die digitale domein funksioneer.
Die verskynsel bied dus ruimte vir indiwidue om, terwyl hulle nog lewe, aanlyn verstellings te maak sodat sodra hulle sterf, daar steeds ’n aanlyn teenwoordigheid sal wees. Die alternatief is dat vriende en familie van ’n gestorwene na die afsterwe ’n aanlyn teenwoordigheid kan skep met ’n digitale ruimte waar herinneringe van die oorledene kan bly bestaan. Dit kan ’n verskeidenheid vorme aanneem insluitend ’n digitale teenwoordigheid deur foto’s, video’s en dokumente wat aanlyn beskikbaar is. Die prosesse kan ook KI inspan om ’n gegenereerde beeld van die oorledene aktief aan gesprekke te laat deelneem op grond van vooraf geprogrammeerde reaksies.
Daar word in hierdie studie gekies om na hierdie verskynsel eerder te verwys as digitale nalatenskap as Digital Afterlife, aangesien die uitdrukkingsvorme so uiteenlopend kan wees. Die konsep Afterlife (lewe na die dood) mag dalk ’n gelaaide term vir sommige godsdienste wees wat kan veroorsaak dat die verstaan van die konsep met vooroordele benader word. Nalatenskap suggereer dat dit wil verwys na dit wat agtergelaat word nadat die indiwidu afsterf, in hierdie geval is die nalatenskap digitaal van aard.
Met hierdie oorsig oor die verskynsel van digitale nalatenskap kan daar nou oorbeweeg word na ’n teologies-fenomenologiese waarderende gesprek van die konsep.
3. Teologiese beoordeling
Daar is positiewe sowel as negatiewe reaksies op die verskynsel van digitale nalatenskap (Savin-Baden en Mason-Robbie 2020:20). Ooglopend het die saak van digitale nalatenskap ’n effek op die emosies en die menslike vermoë (in hierdie geval dalk die onvermoë of onwilligheid) om te rou en te treur. Savin-Baden en Mason-Robbie (2020:20) dui aan dat daar nog te min navorsing gedoen is om die emosionele, psigologiese en spirituele impak van digitale nalatenskap volledig te verstaan.
Hierdie studie beoog ’n beskrywing vanuit ’n teologiese perspektief op die saak van digitale nalatenskap. Die benadering in die ondersoek is egter fenomenologies van aard met ’n teologiese perspektief. Fenomenologie het ten doel om die verskynsel self aan die woord te stel sonder enige vooroordele wat die gesprek beïnvloed. In dié verband verwys Krüger (1982:17) na die beginsel van epoche wat aandui dat vooroordele uitgesluit word. Fenomenologie wil nie fokus op teorieë oor die saak nie, maar wil die saak self aan die woord stel (Krüger 1982:18). Die gesprek oor digitale nalatenskap vind hier plaas binne ’n teologiese raamwerk sodat die perspektiewe vanuit verskillende godsdienstige tradisies hier buite rekening gelaat word. Die beskrywing in hierdie studie val uiteen in vier terreine: die beheptheid met onsterflikheid, die oorbeklemtoning van immanensie, die onvermoë om te rou, en die illusie van beheer.
3.1 Beheptheid met onsterflikheid
Die voortsetting van enige vorm van digitale teenwoordigheid laat die vermoede ontstaan dat daar ’n beheptheid met onsterflikheid bestaan. Die “beheptheid met onsterflikheid” kan ook geformuleer word as ’n vrees vir die dood.
Wanneer hy skryf oor die dood, dui die Britse teoloog en antropoloog Douglas J. Davies (2005:137), aan dat die vrees vir die dood ’n algemene menslike emosie is. Die Duitse filosoof, Ludwig Feuerbach (1908:32), het aangedui dat vrees die mees basiese uitdrukking van die gevoel van afhanklikheid is, wat ten grondslag van godsdienste lê. Die essensie van mens wees, volgens die Franse Middeleeuse filosoof, Blaise Pascal (1943:62), skuil in die feit dat die mens die dood meer vrees as die gevare wat in die lewe skuil. Die grootste vrees by die mens is die vrees vir die dood (Feuerbach 1908:41). Die dood bring ’n bewussyn van menslike beperkinge. Die antropoloog, Ernest Becker (1973:ix), identifiseer vrees as die grootste uitdaging vir die mensdom.
Die vrees vir die onbekende na die dood het die verbeelding van die mensdom van die vroegste tye af aangegryp. Brodziak en Jendrzejczyk (2024) dui aan dat daar verskillende wyses is waarop godsdienste die lewe na die dood konseptualiseer. Die verskille word sigbaar in die verskeidenheid praktyke om die sterflikheid van die mens te hanteer. Lewe na die dood as reïnkarnasie, as een word met die kosmiese energieveld of die voortbestaan in ’n hemelse, paradysagtige sfeer, is alles voorbeelde van hoe lewe na die dood in godsdienste voorgestel word.
Digitale nalatenskap laat die sterk vermoede ontstaan dat die menslike onmag teen en vrees vir die dood, lei tot desperate en radikale planne om die dood te systap. Dit lei tot die skep van ’n persepsie van die voortsetting van lewe na die dood. Die menslike skeppingsdrang om lewe te behou, word op so ’n wyse bevredig.
Deur digitale spore van teenwoordig wees te skep, omseil die mens die werklikheid van die ewige dood. Wanneer digitale nalatenskap dien om ’n uitnodiging tot interaksie met die afgestorwene te wees, ondersteun dit die illusie van die voortsetting van lewe ten spyte van die dood. Dit is egter anders as die oprig van grafstene in ’n begraafplaas of gedenkmale op die plek van afsterwe wat dien as herinneringstekens. Dink byvoorbeeld aan die talle tasbare wyses waarop naasbestaandes erkenning wil gee aan iemand wat op ’n spesifieke pad gesterf het (Hutchings 2017 en Beyers 2020).
Digitale nalatenskap verskil van hierdie tekens van herinnering in die volgende opsig: Digitale nalatenskap funksioneer eksklusief in die digitale sfeer en skep die illusie van die voortsetting van lewe. Gedenkmale en herinneringstekens aan afgestorwenes langs die pad, dien as herinnering aan die dood van ’n individu.
Die skep van die illusie van lewe, is ’n poging om die vrees vir die dood te bemiddel.
3.2 Oorbeklemtoon immanensie
Menslike eksistensie word tradisioneel uitgedruk in terme van ’n dualiteit van siel en liggaam. Die materiële bestaan word verstaan as deel van die aardse bestaan, en die bestaan van die siel word aan die geestelike sfeer toegeken.
Die Griekse filosoof, Parmenides1 (eerste helfte van die 5 de eeu BCE), het ’n monistiese verstaan van die werklikheid aangebied om uitdrukking aan die eenheid tussen mens en natuur te gee. Op grond hiervan, kan die oorsprong van alles wat bestaan, na ’n enkele oorsprong herlei word. Die verskeidenheid wat ons om ons waarneem is volgens Parmenides, egter slegs ’n illusie (Russell 2010:55). Alle materie is een, aangesien dit dieselfde oorsprong deel.
Hierteenoor stel die Griekse filosoof, Plato, ’n dualisme voor. In sy geskrif Timaeus, beskryf Plato die skepping. God het alles wat bestaan gemaak. Intelligensie is in die siel geplaas en die siel is in die menslike liggaam geplaas (Russell 2010:143). Die mens bestaan dus uit ’n tweeledige samestelling, siel en liggaam. Dit impliseer (implisiet of eksplisiet) die verbintenis met ’n geestelike sfeer. Plato het hierdie dualiteit bevestig deur daarop te wys dat die menslike liggaam bestaan uit materie en behoort tot hierdie aarde (immanensie). Die menslike siel is deel van die geestelike wêreld en behoort tot ’n ander dimensie (transendensie) (Russell 2010:134).
Hierop het die filosoof, Sokrates2, aangedui dat die liggaam is van geringer waarde as die siel. Die siel is van meerdere waarde en is daarom die moeite werd om meer aandag aan te gee (Russell 2010:134). Hierdie anti-materie standpunt het dit moontlik gemaak dat alles wat deur die sintuie ervaar word, as van minder waarde beskou is. Materie word as tydelik en van verbygaande aard beskou. Die siel is as ewig en van meer belang gereken.
Die verstaan van die dood is op hierdie Westerse dominante verstaan van die werklikheid gebaseer. Dood vind plaas in die fisiese, biologiese, materiële (immanente) werklikheid, maar ’n geestelike vorm van bestaan word voortgesit gebaseer op godsdienstige verstaan of werklikheidsverstaan in ’n geestelike sfeer. Die dood is dus nie die einde van alle bestaan nie.
Lewe sonder ’n aardse liggaam is dus moontlik. Dit plaas die saak van geeste, spoke en geestelike wesens, soos engele, op die tafel. Spoke en engele word geag as liminale wesens (Davies 2018:343 en Arnold en Walter 2018:352) wat tussen die geestelike (transendente) en materiële (immanente) werklikhede reis. Kommunikasie met hierdie liminale wesens word soms as ’n moontlikheid voorgehou. Plato se konsep van die metaxu funksioneer soos ’n brug tussen die immanente en transendente wat kommunikasie moontlik maak. Die metaxu is die sigbare uitdrukkingsvorm van die afwesigheid in die immanente werklikheid van die gestorwene. Sigbare uitdrukkingsvorme van die bewussyn van die geestelike sfeer, is draers van betekenis wat die twee wêrelde van lewe en dood verbind.
Met die skep van digitale nalatenskap is daar twee ambivalente standpunte. Deur die herinnering van die afgestorwene in die digitale domein te verewig, word daar vasgeklou aan die sensories gelaaide werklikheid. Die vasklou aan die gemaakte (digitale) werklikheid (wat niks anders as ’n illusie is) dien as ’n afleiding van die ware toedrag van sake. Die werklikheid van die fisiese afwesigheid in hierdie wêreld wat die dood teweeg bring, word geïgnoreer. Dit kan egter ook verstaan word dat die digitale verband hou met die geestelike sfeer, aangesien die digitale as virtuele werklikheid voorgehou kan word. Die feit dat die digitale egter sensories aangebied word, kan die verstaan van die vasbind van die afgestorwene in die sigbare werklikheid beklemtoon. Dit lei tot die oorbeklemtoning van die teenwoordig wees en teenwoordig bly in die immanente. Daarmee word die geestelike sfeer gering geskat of geïgnoreer. Digitale nalatenskap kan dus geïnterpreteer word as die oorbeklemtoning van die immanente.
3.3 Nuwe rou ritueel
Vanuit ’n psigologiese perspektief kan digitale nalatenskap beskou word as die menslike onvermoë om te rou en finaal afskeid van die gestorwenes te neem. Digitale nalatenskap skep die illusie dat afskeid van die dooies geneem is (Savin-Baden en Mason-Robbie 2020:20–23), terwyl ’n band met die dooies egter steeds gehandhaaf word.
Dit is egter ook moontlik om digitale nalatenskap te interpreteer as vervulling van dieselfde funksie as byvoorbeeld ’n grafsteen – ’n sigbare herinnering aan ’n gestorwene. Die onmiddellike en permanente toegang tot die digitale nalatenskap via ’n internet-toeganklike toestel funksioneer egter anders as sporadiese besoeke aan ’n grafsteen vir eerbetoon of emosionele kontak met die afgestorwene. Beide digitale nalatenskap asook ’n grafsteen of ’n besoek aan ’n nissie in ’n herinneringsmuur demonstreer die menslike onvermoë om finaal afskeid van die dooies te neem.
Digitale nalatenskap kan egter, meer waarskynlik, beskou word as ’n nuwe ritueel vir rou. Digitale nalatenskap hoef nie negatief beoordeel te word nie. Dit vervul dieselfde funksie as tradisionele rou patrone. In die opsig word dit ’n nuwe gekonstrueerde rou-ritueel. Matthee en Wepener (2020:216) verwys in hierdie verband na die liturgiese verskuiwing na die kuberruimte vir rituele vir die dood.
Rituele en mites gaan hand aan hand (Eliade 1963:19). Mites is die menslike poging om sin te maak van die werklikheid deur die skep van verhale wat die mens se gesitueerdheid in die wêreld en in verband met die geestelike sfeer wil verklaar. Normaalweg word ’n mite gekomplimenteer met ’n ritueel3. ’n Rite kan beskryf word as ’n “gedramatiseerde mite” (Eliade 1963:19). Rituele het dus ’n uitvoerende optrede en betekenis-handhawende aard. ’n Mite kan voortdurend verander omdat dit bestaan in die ervaring- en verbeeldingswêreld van die vertellers en hoorders daarvan. Elke verteller van ’n mite is ook die redigeerder van die mite, aangesien dit oorgelewer word met nuwe persoonlike klemtone. Die inhoud van die mite is ook dinamies en aanpasbaar. Sodra ’n mite nie meer geleef word nie, of nie meer die wêreld van die hoorder aanraak sodat hulle die tydlose impak ervaar nie, is dit ’n teken dat die mite die band met die rite versaak. So ’n mite eindig op as ’n legende of volksverhaal.
Rituele is die sporadiese herhaling van aksies gevul met dieselfde konstante godsdienstige betekenis. Rites se vorm is stabiel en relatief onveranderlik. Die betekenis van die rite kan met tyd verander alhoewel die rite bly bestaan. Sodra ’n rite kontak met die mite verloor, word die rite ’n gewone seremonie aangesien die oorspronklike betekenis en doel vergete geraak het. Die funksie van sulke rites in die samelewing is dan hoofsaaklik kultureel en nie meer geestelik nie.
Somtyds kan die band tussen rite en magie nie geïgnoreer word nie. Dit hang egter af van die subjektiewe perspektief van die persoon wat die rite meemaak. Die deelneem aan die rite kan die deelnemer vul met verwagting van iets magies wat kan gebeur. Byvoorbeeld, digitale nalatenskap skep die magiese illusie van die teenwoordig wees van die afgestorwene en betrokke wees in die lewens van naasbestaandes.
Namate sosiale omstandighede verander, kan rites verander of nuut geskep word. Dink byvoorbeeld aan hoe Christelike rituele, soos die nagmaal, gewysig is tydens die COVID-19-pandemie. Die vorm van die rite kan verander, terwyl die betekenis dieselfde bly.
Die mens is voortdurend op soek na alternatiewe maniere om deur handelinge uitdrukking aan geestelike betekenisse te gee. Dit is dus onafwendbaar dat rituele voortdurend geskep word. Digitale nalatenskap illustreer die vermoë van die mens om selfs in ’n tegnokratiese samelewing uitdrukking te gee aan die skep en die instandhouding van rituele met geestelike betekenis. Hutchings (2013:3) wys daarop hoe die deel van inligting deel van die rouproses kan wees. Om inligting oor afsterwe digitaal te deel, is deel van die rituele rou proses en help om emosionele ondersteuning aan die wat rou te bied. Die rituele kan dien as alternatief of aanvulling tot bestaande rou rituele. Die behoefte aan herinnering aan afgestorwenes (die betekenis van die rite) bly konstant, maar die vorm van die rite (hetsy ’n besoek aan ’n grafsteen of digitale nalatenskap) kan verander.
3.4 Illusie van beheer
Die uitdrukkingsvorme van digitale nalatenskap, skep die illusie dat lewe geskep en dood beheer kan word. Met die opkoms van KI gebeur dit in sekere kringe dat die mens vergoddelik word as ’n skeppende entiteit (Singler 2025:184). Deur die verewiging van die toekoms van die nagedagtenis van die afgestorwene in digitale formaat, oefen die mens die mag uit om beheer oor lewe en dood te neem en die herinnerings-lot van die afgestorwene te bestuur. Hierdie verskynsel sluit dus ’n poging om die vrees vir die dood te oorwin, in (soos wat vroeër reeds bespreek is). Dit neem ook die uitdrukking van die selfbestuur van die mens wat in beheer van lewe, dood en die toekoms is, of ten minste, die skyn daarvan.
Deur die benutting van tegnologie om die rou proses te bemiddel, skep die mens verder die illusie van beheer oor tegnologie. Reader (2020:169) dui egter daarop dat tegnologie menslike gedrag net soveel vorm en beïnvloed as wat die mens tegnologie vorm en beheer. Daar is dus ’n simbiotiese verwantskap tussen die mens en tegnologie. Nie een is in beheer nie, maar albei beïnvloed mekaar. Indien die mens wil voorgee dat hulle in beheer is van tegnologie, sonder invloed op hulleself, is dit slegs ’n illusie.
Oor menslike natuur en interaksie, sê Blaise Pascal (1943:32) dat die mens se lewe is niks anders as ’n voortdurende illusie nie. Mense vlei en mislei mekaar so graag. Niemand praat oor ander in hulle teenwoordigheid op dieselfde manier as wanneer hulle nie teenwoordig is nie.
Ons mislei onsself en ander vir die skyn van beheer. Die mens wil in beheer van lewe en dood en die werklikheid wees. Hierdie hubris (Singler 2025:184) by die mens is van die vroegste tye af geïdentifiseer as die mens se poging om God die alleenreg tot beskikking oor lewe en dood, te ontneem
Deur die illusie van voortgesette lewe digitaal te skep, bou die mens voort aan die illusie van beheer oor lewe en dood. Verder illustreer digitale nalatenskap die mens se onversadigbare skeppingsdrang.
4. Gevolgtrekking en aanbeveling
Digitale nalatenskap, beoordeel vanuit ’n teologies perspektief, identifiseer die mens se beheptheid met onsterflikheid, die oorbeklemtoning van immanensie, die behoefte aan nuwe rou rituele, en die skep en voortsetting van die illusie van beheer oor die lewe en dood.
Dit blyk uit hierdie beoordeling dat digitale nalatenskap die mens-gesentreerdheid van ons bestaan in ’n tegnokrasie beklemtoon. Dalk is die mens-gesentreerdheid die resultaat van die swaai van die pendulum te veel in die rigting van die ontmensliking waarvan Van Niekerk (2016:7) die Vierde Industriële Rewolusie beskuldig. Dit kan nie anders dat daar ’n reaksie op die ontmensliking kom nie, maar digitale nalatenskap is nie die her-sentrering van die mens te midde van ’n tegnokrasie nie, maar dit is eerder ’n omarming van die verweefdheid van die werklikheid van tegnologie en mens-wees. Met digitale nalatenskap val die klem op die mens, maar bemiddel deur tegnologie.
Dit ontketen die vraag, wat is waarlik menslik? Is dit slegs menslik om te lewe? Is die dood dan onmenslik? Transformeer die digitale die wêreld van die dood na slegs ’n digitale kunsmatige bestaan? Is die ganse menslike bestaan, lewe en sterwe nie eie aan mens-wees nie, met die aanvaarding dat lewe tydelik en van ’n verbygaande aard is? Die menslike dualiteit van liggaam en gees, skep die hoop van ’n anderste vorm van bestaan selfs na die dood van die liggaam. Daarom dat digitale nalatenskap so ’n natuurlike eietydse interpretasie en uitdrukking van die onsterflikheid van die mens is.
Dit noop die behoefte aan ’n besinning oor ’n verantwoordelike spiritualiteit. As die mens die behoefte het om die menslike lewe te vier, en ’n nagedagtenis aan menslike bestaan na die dood te skep, dan kan dit nie eindig in oppervlakkige digitale beelde nie. Om woorde en wyse raad in die digitale mond van ’n afgestorwene te lê, laat nie reg geskied aan die eerbied vir die lewe en dood nie. Eerbied vir die lewe en dood is noodsaaklik. Digitale beelde van die afgestorwene kan eerbiedig aangebied word as ’n herinnering aan die bestaan van die afgestorwene, maar nie as ’n plaasvervanging of illusie van die bestaan van die afgestorwene nie.
Digitale nalatenskap dwing die mens om te besin oor menslike beperkinge en sterflikheid. Eers met die aanvaarding van die dood, kan ware geluk begin. Dit is waarna Pascal verwys, soos vroeër vermeld. Die identiteit van menswees (Reader 2020:166), ’n antropologie vir ons eie tyd, is noodsaaklik. Die mens moet besin oor sterflikheid en tydelikheid.
Hierdie studie is slegs ’n teoretiese beoordeling van digitale nalatenskap. Meer kennis van die verskynsel is nodig om die effek van digitale nalatenskap op menslike bestaan te bepaal. Veral die moontlikhede wat ontstaan met die kombinasie van KI en digitale nalatenskap, open die horison vir verdere ontwikkeling en uitdrukkingsvorme van digitale nalatenskap aansienlik. Die effek van digitale nalatenskap op die mens is nog nie na behore ondersoek nie. Hierdie verkennende ondersoek open dus nuwe moontlikhede vir verdere navorsing. ’n Kwalitatiewe en empiriese ondersoek sou logies uit hierdie teoretiese beoordeling voortvloei.
Bibliografie
Akira, M. 2016. “Super Smart Society (Society 5.0)” mission area. https://www.jst.go.jp/mirai/en/program/super-smart/index.html.
Anil, A.M. 2025. Technology convergence is leading the way for the fifth industrial revolution. https://www.weforum.org/stories/2025/01/technology-convergence-is-leading-the-way-for-accelerated-innovation-in-emerging-technology-areas/.
Arnold, J.C. en T. Walter. 2018. Angels. In Moreman (red.) 2018.
Becker, E. 1973. The denial of death. New York: The Free Press.
Beyers, J. 2020. Perspectives from material religion and visual culture studies on South African roadside memorials. MA-verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Brodziak, A. en B. Jendrzejczyk. 2024. Integrating afterlife beliefs of Christianity, Hinduism, Buddhism, and Shintoism through the cyclic universe model: A multidisciplinary approach with practical implications for mental health and caregiving professions. QEIOS, 2024:1–15. https://doi.org/10.32388/WGQODE.2.
Bultmann, R. 1984a. Theology as science. In Bultmann (red.) 1984.
—. (red.). 1984b. New Testament and mythology: and other basic writings. Uitgesoek, geredigeer en vertaal deur S.M. Ogden. Londen: S.C.M. Press.
Burden, D. 2020. Building a digital immortal. In Savin-Baden en Mason-Robbie (reds.) 2020.
Campbell, H.A. en P.H. Cheong (reds.). 2023. Thinking tools on AI, religion and culture. Digital Religion Publications.
Campbell, H.A. en R. Tsuria (reds.). 2022. Digital religion: Understanding religious practice in digital media. Londen: Routledge.
Cloete, A. 2017. Technology and education: Opportunities and challenges. HTS Theological Studies, 73(4):1–7.
—. (red.) 2019. Interdisciplinary reflections on the interplay between: Religion, film and youth. Stellenbosch: Sun Press. https://doi.org/10.18820/9781928480211.
—. 2020. Living in a digital culture: The need for theological reflection. Ecumenical Review: World Council of Churches.
Davies, D.J. 2005. A brief history of death. Oxford: Blackwell Publishing.
—. 2018. Anthropology and death. In Moreman (red.) 2018.
Davies D. en N. Warne (reds.). 2013. Emotions and religious dynamics. Londen: Routledge. https://doi.org/10.4324/9781315579269.
Eliade, M. 1963. Myth and reality. New York: Harper & Row Publishers.
Feuerbach, L. 1908. Vorlesungen über das Wesen des Religion nebst Zusätzen und Anmerkungen. Stuttgart: Frommans Verlag.
Goede, M. 2020. Society 5.0: We and I. Publication of www.universityofgovernance.com Think Tank 3.0.
Heesen, J. 2023. Digital afterlife. Attempto, 59:26–9.
Hutchings, T. 2013. Death emotion and digital media. In Davies en Warne (reds.) 2013.
—. 2015. Digital humanities and the study of religion. In Svensson en Goldberg (reds.) 2015.
—. 2016. Creating church online. Londen: Routledge.
—. 2017. We are a united humanity: Death, emotion and digital media in the church of Sweden. Journal of Broadcasting & Electronic Media, 61(1):90–107.
Hutchings. T. en C. Clivaz (reds.). 2021. Digital humanities and Christianity: An introduction. Berlyn: De Gruyter.
Johns, M.D. 2025. Ethical issues in the study of religion and new media. In Campbell en Tsuria (reds.) 2022.
Kaihara, T. 2023. Making full use of AI and simulation technologies across different fields for a human-centered society. https://www.jst.go.jp/mirai/en/program/super-smart/JPMJMI23B1.html.
Krüger, J.S. 1982. Studying religion: A methodological introduction to science of religion. Pretoria: University of South Africa.
Matthee, N. en C. Wepener. 2020. The impact of emerging technologies and liturgical practices: A technological exploration. In Van den Berg (red.) 2020.
McGinnis, D. 2020. What is the Fourth Industrial Revolution? In The 360 Blog. https://www.salesforce.com/blog/2018/12/what-is-the-fourth-industrial-revolution-4IR.html.
Moreman, C. (red.). 2018. The Routledge companion to death and dying. Londen: Routledge.
Noble, D.F. 1997. The religion of technology: The divinity of man and the spirit of invention. New York: Alfred A Knopf, eBook.
Noble, S.M., M. Mende, D. Grewal, en A. Parasuraman. 2022. The Fifth Industrial Revolution: How harmonious human-machine collaboration is triggering a retail and service [r]evolution. Journal of Retailing, 98(2):199–208.
Nürnberger, K. 2007. The living dead and the living God: Christ and the ancestors in a changing Africa. Pietermaritzburg: Cluster Publications.
Oliver, W.H. 2020. Teaching theology in the Fourth Industrial Revolution. H.T.S. Teologiese Studies/ Theological Studies, 76(2):a5940. https://doi.org/10.4102/hts.v76i2.5940.
Padgett, A.G. 2005. God versus technology? Science, secularity and the theology of technology. Zygon, 40(3):577–84. http://dx.doi.org/10.1111/j.1467-9744.2005.00689.x.
Pannenberg, W. 1973. Wissenschaftstheorie und theology. Frankfurt am Main: Suhrkamp Verlag.
Pascal, B. 1943. Pensées. Vertaal deur W.F. Trotter. Londen: J.M. Dent & Sons.
Phillips, P. 2020. Defining digital theology. Cursor: Zeitschrift für explorative Theologie, Doi.10.21428/fb61f6aa.07b246a7.
Phillips, P., K. Schiefelbein-Guerrero en J. Kurlberg, 2019. Defining digital theology: digital humanities, digital religion and the particular work of the CODEC research centre and network. Open Theology, 5:29–43.
Reader, J. 2020. Philosophical investigations into digital afterlife. In Savin-Baden en Mason-Robbie (reds.) 2020.
Rossouw, J. 2020. The “Fourth Industrial Revolution”: A case of South African techno-messianism. In Van den Berg (red.) 2020.
Roy, R. 2002. Religion/technology, not theology/science, as the defining dichotomy. Zygon, 37(3):667–76. http://dx.doi.org/10.1111/1467-9744.00444.
Russell, B. 2010. History of western philosophy. Londen: Routledge.
Savin-Baden, M. en V. Mason-Robbie (reds.). 2020. Digital afterlife: death matters in a digital age. Londen: CRC Press. LLC ProQuest Ebook.
Savin-Baden, M. en V. Mason-Robbie. 2020. Perspectives on digital afterlife. In Savin-Baden en Mason-Robbie (reds.) 2020.
Schwab, K. 2016. The Fourth Industrial Revolution. Keulen/Geneve: World Economic Forum.
Segal, R.A. 1980. The myth-ritualist theory of religion. Journal for the Scientific Study of Religion, 19(2):173–85.
Singler, B. 2025. Artificial intelligence: An introduction. Londen: Routledge.
Stahl, W.A. 1999. God and the chip: Religion and the culture of technology. Waterloo: Wilfrid Laurier University Press.
Svensson, P. en D.T. Goldberg (reds.). 2015. Between humanities and the digital. Chicago: MIT Press.
Van den Berg, J.A. (red.). 2020. Engaging the Fourth Industrial Revolution – perspectives from theology, philosophy and education. Bloemfontein: SUN MeDIA.
Van der Merwe, A. 2020. Society 5.0: Humans in the digital world. Emerging Technologies. https://www.itweb.co.za/content/WnpNgq2KO9zvVrGd.
Van Niekerk, A.A. 2011. Understanding theology as understanding. Acta Theologica Supplementum, 14:110–24.
Veldsman, D.P. 2019. Embracing the eye of the apple: On anthropology, theology and technology. H.T.S. Teologiese Studies/ Theological Studies, 75(1):a5498. https://doi.org/10.4102/hts.v75i1.5498.
Waters, B. 2015. Is technology the new religion? Word & World, 35(2):143–50.
Eindnotas
1 Vergelyk Parmenides se enigste oorblywende geskrif, ’n gedig “Nature”, waarvan slegs 160 reëls behoue gebly het.
2 Vergelyk in sy geskrif bekend as Phaedo.
3 Daar bestaan verskeie standpunte binne die mite-ritueel teorie. Eliade (1963) wys op die verband tussen mite en rite, alhoewel sommige oortuig is dat daar geen verband of beperkte verband tussen mites en rites bestaan. Vergelyk in dié verband Segal (1980).
- Hierdie artikel se fokusprent is aangepas van Juan Salamanca en is verkry op Pexels.
| LitNet Akademies (ISSN 1995-5928) is geakkrediteer deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) en vorm deel van die Suid-Afrikaanse lys van goedgekeurde vaktydskrifte (South African list of approved journals). Hierdie artikel is portuurbeoordeel en kan kwalifiseer vir subsidie deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. |

