Tempest: Begin by die titel ...

  • 1

Begin by die titel. Dit verwys na die laaste werk wat Shakespeare (volgens kenners) alleen geskryf het. Daardie drama handel oor ’n koning wat ’n storm opwek as skerm waaragter/waardeur hy sy dogter kan terugplaas op die troon. Dylan skop ook hier ’n klankstorm op: daardie ongelooflik opgefokte rasperstem van hom, en ’n hele klompie snitte wat rumoeriger is as enigiets op Modern Times en Together through life.

Luister daarna na die titelsnit, “Tempest”, die CD se sleutelstuk. Dit is ’n eenvoudige folk-liedjie, baie in die styl van die folk-sangers van die jare vyftig, maar ingeklee met die instrumentasie van ’n moderne Dylan, volledig met viool en trekklavier. Dit vertel van die Titanic se ondergang – in wese dus oor die dood en die onvermydelikheid daarvan. Nie vreemd vir iemand wat vanjaar 71 geword het nie. Dit is ’n liedjie ontdaan van tipiese Dylan-spreuke (g’n poskaarte wat hier van die hangery verkoop word nie), maar daar is in sy dertien minute genoeg verwysings om Dylan-aanhangers baie lank te laat nadink en baie teorieë te laat ontwikkel. Dink net: laat-loopbaan se tema, musiek kon vroeg-loopbaan gewees het …

Klik hier om Tempest te koop by Kalahari.com

Tempest lewer min snitte op wat so onmiddellik die kol tref as wat die geval was met Modern Times, maar daar is tog ’n paar. “Duquesne Whistle” met sy bejaarde jagsgat-skoffel open die album. Hier kan mens ook die video kyk wat Dylan van die liedjie laat maak het, en wat jou iets gans anders vertel. Die liedjie handel oor die soeke na (en vind van) liefde. Die video wys dat jy liefde kan soek, maar jy sal net geweld vind. WTF?

Dan sus Dylan ons met ’n liefdesballade (“Soon after Midnight”) voordat hy ons met “Narrow Way” slaat: ’n lekker rock-liedjie wat een van die weggooistukke van Blonde on Blonde kon gewees het, en ja, sy het nie mooi gemaak met hom nie.

Verderaan kom “Pay in Blood”, vir my die album se beste snit. Op 71 ontwikkel mens seker ’n taamlik besoedelde siening van dít wat jy jare gelede as ideale sou uitgespel het. Die manier waarop hy steeds woorde kan uitspoeg sodat hulle nooit in jou kop ophou lui nie, is hier opvallend. Op ’n vreemde manier verduidelik hy hier die video van “Duquesne Whistle”.

Ek’s dol op die blues van “Early Roman Kings”, en die sluitingsnit, “Roll on John”, vir John Lennon, bring ’n yslike knop in die keel.

Tempest het nie so ’n onmiddellike trefkrag as Modern Times nie, maar dit het ander deugde. Ek weet ek gaan nog ure spandeer aan die ontsyfer van die liedjies, wat meer is as wat ek van die meeste hedendaagse uitreikings kan sê.

 

Dave Matthews Band – Away from the World

Klik hier om Away from the World te koop by Kalahari.com

Ja, Dave Matthews is 45. Dit beteken noodwendig dat hy nou ’n bietjie begin bedaar. Maar volpunte daarvoor. Enigiemand wat ’n snit soos “Gaucho” kan aanmekaarsit (en ek vermoed produksieleier Steve Lillywhite verdien hier heelwat van die krediet), kan maar oud word. Sowat van soniese pret kry mens min. So twee minute en veertig sekondes in dié snit in het ek besef dat dit nie gaan oor hoe die bure jou lawaai hanteer nie, maar hoe hulle onder die indruk van die Dave Matthews-band se uniekheid kom. En dis net een snit.

 

David Byrne & St Vincent – Love This Giant

Ek het hierdie album met vrees en bewing benader. Ek sukkel al jare lank om lief te raak vir Byrne se musiek (die laaste CD wat my plesier verskaf het, was Music for the Knee Plays). Annie Clark ken ek weer danksy haar werk saam met The Polyphonic Spree en Sufjan Stevens, asook ’n skitterende solo-album, Actor (2009). Sy maak musiek onder die naam St Vincent, ’n naam wat tegelyk verwys na die hospitaal waar Dylan Thomas dood is, en haar ouma se tweede naam. Love This Giant gaan meer vir Clark se loopbaan doen as vir Byrne s’n. Sy is ’n multi-instrumentalis wat haar deeglik op die album laat geld, en van die beste vindings is hare, byvoorbeeld die gebruik van koperblasers op “Who”, “Lazarus” en “The Forest Awakens”. Byrne se gebruik van koperblasers val minder op, en mens betrap jouself dat jy dankbaar is wanneer Clark die opperhand in die samewerkingskedule kry. (Tersyde: Wat op aarde het hulle laat besluit op die foto vir die omslag? Dit lyk of Clark se kakebeen gebreek het en haar gesig skeeftrek.)

 

Dead Can Dance – Anastasis

Klik hier om Anastasis te koop by Kalahari.com

Dis moeilik om te bepaal of hierdie album, die eerste wat Brendan Perry en Lisa Gerrard opgeneem het sedert Dead Can Dance se laaste album sestien jaar gelede, ’n doelbewuste poging is om ons te laat verlang na die dae toe Ivo Watts-Russell se 4AD-platemaatskappy nog op volle toere gevuur het. Feit is dat hulle dit regkry. Brendan Perry se musiek, met die kenmerkende globale vangnet wat hy gebruik, is so goed soos dit altyd was. “Children of the Sun”, waarmee die album open, dra die Perry-stempel van gehalte. En Gerrard se sangstem is so subliem en verruklik soos altyd, soos ons op “Kiko” en “Agape” vind. Vir die niebekeerdes: Kry die album in die hande, luister na “Return of the She-Kind”, en draai die klank hoog oop. Sorg dat jy iemand byderhand het wat jou van die plafon kan kom afskraap!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top